
Foto van Deborah en haar broers: verskaf
............
Die lewe is raar en verstommend. Vol toorkuns, naaldekokervlerk en spinnerak. Onverwagse toevallighede. Synchronicity. Serendipity. Straatmusiek.
..............
Die lewe is raar en verstommend. Vol toorkuns, naaldekokervlerk en spinnerak. Onverwagse toevallighede. Synchronicity. Serendipity. Straatmusiek.
Nou die dag vra Naomi dat ek my rubriek vroeër stuur dié maand. Laasnag lê ek en besluit: Ek gaan oor my broers skryf. Ons s’n was ’n gekompliseerde verhouding, of ’n afwesigheid daarvan, binne ’n gesin met ’n windskeef, topswaar dinamika: my ma.
Vanoggend toe ek wakker word en my rekenaar oopslaan, is daar ’n e-pos van Louise Holm (van die Hartbeespoortdam-Holms). Ek het voelers na haar uitgesteek oor ’n manuskrip. (Ja, NB, probeer my gerus voorspring, dis ’n vry land.) Toe skryf sy terug en skielik sien ek my broers, ’n identiese tweeling wat albei in hul vyftigs oorlede is, glashelder voor my:
Nee, ons het nog nooit in persoon ontmoet nie (Wiebke is my niggie). Ek vermoed wel dat die wedersydse lees van mekaar se woorde tog tel as een of ander vorm van kennismaking. Marike se laaste dans was my ontmoeting met jou – nogal op jou broers se aandrang:
Ek was een naweek op pad na Lee toe vir ’n kuiertjie, toe ek met die verbyry die tweeling op die rand van die gieteryvloer sien sit. Ek trap rem. “Ahooi!” groet ek. “Lekker, lekker, Lewies!” eggo hulle en nooi my met ’n swaai van die arm vir ’n bier. Hendrik en Johannes was in volle Blues Brothers mode: identiese donkerbrille, elk met ’n Black Label Quart tussen die bene, besig om ’n joint te bounce.
Gewoonlik was dié twee manne van min woorde, maar ek het nog skaars gevra hoe dit gaan, of Hendrik trek los: “Nooit, daar is fokken drama, my ma is DE MOER in!” Die tweeling kyk na mekaar en grinnik breed. Johannes skud sy kop in beaming: “Yes, sy is totally UPSET!” “Hoe so?” vra ek. “Deborah het ’n boek geskryf!” lag Hendrik. “Deborah?” Hulle moes seker die verwarring op my gesig gelees het, want voor ek kon vra wie dit is, kom die antwoord gelyk uit hulle monde: “Sussie.” “Julle het twéé sussies ...?” vra ek verbaas. “Yes, yes, en sy het ’n boek geskryf – Marike se laaste dans.” “OK, en dit het jou ma de moer in gemaak ’cos why?”
Twee pare gedonkerbrilde oë rig hulle op my en hulle monde word ernstig. “Heavy stuff, family type shit, my ma reken dit was uncool om daaroor te skryf,” lig Johannes my in. “Soos ...?” dip ek my tone in die poel van erns – ek ken hulle nie so nie, en probeer lig trap. “Nooit, sal nie reg wees om jou te sê nie, dis Deborah se storie, lees die boek,” verduidelik Hendrik. “Uhu, jy sal check wat gebeur het, heavy shit jy weet, lees die boek,” beaam Johannes. “Joint?”
Ek is gebore toe hulle een jaar en nege maande oud was. Hulle was die mooiste, mooiste seuntjies, en vrek stout en woelig. Hulle het laat begin praat. Hulle het deur geluide en gebare met mekaar gekommunikeer. ’n Taal wat ek uitgepluis het, want dié soort ding is my kos. Ek het ouer as hulle gevoel, meestal. Kyk, om ’n identiese tweeling te wees is amper soos ’n soort gestremdheid. As jy nie gedwing word om alleen te funksioneer nie, gáán jy nooit nie. Hulle was ’n eenheid. My ouers het hulle met moeite uit mekaar geken, maar ek kon hulle glo op ’n afstand, van agter, eien. Ek het toe nog nooit die woord “aura” gehoor nie, maar dis wat ek gesien het. Hulle was vir my individue. Hulle het gesukkel met emosionele goed, en baie daarvan het ek vir hulle probeer verduidelik. “Vravreborah” het hulle vir mekaar gesê, dikwels gelyk, met twee pare ronde, donker oë soos lukwartpitte op my gerig.
..........
Toe hulle skool toe is, het hulle besef dis uncool om op te sien na ’n suster, veral ’n jonger een. Toe het hulle onttrek van my en ek is uitgestoot uit die drieling. Dit was traumaties.
...........
Toe hulle skool toe is, het hulle besef dis uncool om op te sien na ’n suster, veral ’n jonger een. Toe het hulle onttrek van my en ek is uitgestoot uit die drieling. Dit was traumaties. Ek was ongeneeslik leergierig, en kon lank voor hulle lees. Ek het hulle leesboeke uit hul tasse gesteel en gememoriseer. Wanneer hulle by die kombuistafel staan en stadig, sukkelend die woorde uitspel vir my ma, kan ek my nie bedwing nie, tjip in en voltooi die sin. Toe begin hulle hul skoolboeke wegsteek en ek mag nie by wees wanneer hulle huiswerk doen nie.
Ek is die volgende jaar ook skool toe. Met groot leedvermaak het hulle my vertel hulle kan al vas skryf. Ek het dit ook geoefen en toe ek verklaar dat ek ook vas kan skryf, kom die uitklophou: Maar kan jy die datum vas skryf? Terug na die tekenbord.
Op hoërskool het hulle my totaal geïgnoreer. Soos in kyk dwarsdeur haar, reageer nie as sy praat nie; speel haar dood, sy bestaan nie. Eintlik was hulle in hul hoërskooljare konstant woedend vir die hele wêreld. Hulle het dikwels gehuil van magtelose woede. ’n Tante het eenkeer kom kuier en gesê: “Ag nee sies, sulke groot seuns wat huil!” Daarna het hulle geweier om enige familie te sien. Hulle was klein en tingerig, korter as ek. My ma se verduideliking was dat hulle bedreig voel deur my, dat ek in hul nek asemhaal. Dat ek hulle moet laat wen, dan sal hulle van my hou.
In matriek het hulle opgeskiet en lyf gekry. Hunks geword. Al die meisies wou met my vriende wees om naby hulle te wees. Min het hulle geweet ek is nooit naby hulle toegelaat nie. Groot was my verbasing – daardie uitdrukking van jy kon my met ’n veer omtik – toe ’n seun wat in hulle skool is, eendag vir my sê: “Al waaroor jou broers ooit praat is oor jou.”
’n Ander vriendin van hulle sê ook nou die dag vir my: “Oor een ding van jou het jou broers altyd gespog.” Ek sit regopper, in afwagting: “Dat jy ’n legkaart onderstebo en agterstevoor kan bou.”
Ons ontmoetings was later min. Ek onthou een duidelik. Ek verlaat my man. Ek gaan plaas toe, waar hulle almal gewoon het. My ouers is gelukkig oorsee. Die kinders sit in ’n ander vertrek en TV kyk, ek maak ’n groot vuur in die herd en sit daarin en staar. Ek hoor ’n voertuig. My broers kom in. Hulle was steeds ongemaklik met emosionele goed en het mekaar se sinne voltooi. Of eintlik was Johannes meestal die segsman. Hy kom sit voor my, trek my stewel uit en hou my voet in sy hande vas. Hy sê: “Die oulady was altyd op jou case. Ek weet nie hoekom nie. Vir ons het sy uitgelos, maar sy was forever op jou case. Daar was niks wat ons kon doen nie. Ons is jammer. Soek jy ’n zamalek?” Dis wat hulle Black Labels genoem het.
Rus sag, my cool blues broers. Ons is veterane van dieselfde slagveld. Dieselfde oulady.


Kommentaar
Om meegesleur te word in die klein maalstroom van woorde wat jou summier deel maak van 'n ander se battle, te voel hoe die verteller se emosies gesjabloneer (eerder gekloon?) word op jou psige, dis die magiese waarheid van taal en vertel.
Wat ‘n mooi huldeblyk - roerend.