Sluitstuk deur Johann Rossouw: ’n Naglange gesprek

  • 0

Titel: Sluitstuk 
Skrywer: Johann Rossouw
Uitgewer: Umuzi – Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781415210031

Sluitstuk is die vertelling van ’n gesprek wat in die namiddag begin en tot die volgende oggend duur. Ingrid Reynders, ’n Nederlandse historikus, beplan ’n biografie oor Rudolf Eksteen, ’n prominente Afrikaanse skrywer, en kom na Markus Lourens, wat ’n kort maar intense verhouding met Rudolf gehad het, om by hom inligting oor die skrywer te kry. Uit hul gesprek word die onderlinge verhoudings tussen drie karakters geopenbaar: tussen Markus en Rudolf, tussen Irene en Rudolf en tussen Markus en Irene. Allerlei vrae kom na vore waarvoor antwoorde gesoek word: Hoe kan dit wees dat so ’n groot skrywer so ’n nare mens is? Waarom het Rudolf so hardvogtig teenoor Markus opgetree? Het hulle verhouding niks vir hom beteken nie? Het Markus tog belangrike lesse by Rudolf geleer, ondanks die feit dat hulle verhouding skipbreuk gely het? Het daar iets van waarde oorgebly? In die gesprek kom Markus tot groter insig, en ook word Irene se komplekse verhouding met Rudolf geopenbaar.

Markus en Rudolf – die heling van ’n breuk

In sy gespek met Irene vertel Markus wat tussen hom en Rudolf gebeur het. Hy het ’n verterende ambisie gehad om ’n skrywer te word, en daarom het hy ’n brief aan Rudolf geskryf met die hoop om hom te leer ken en as mentor te gebruik, met die implikasie dat hy in die voetstappe van die groot skrywer wil volg. Daar ontwikkel ’n hegte verhouding tussen hulle, maar wanneer hulle een naweek saam is, ontstaan ’n krisis. Dit blyk dat hulle seksuele voorkeure verskil – Rudolf het gesoek na ’n seksuele liefdesverhouding; Markus wou van hom leer hoe om ’n skrywer te word en het in hom ook ’n vaderfiguur gesien, ’n plaasvervanger vir sy eie onsimpatieke vader. Die naweek kom wel vreedsaam tot ’n einde, maar hulle bly hierna op ’n afstand van mekaar. Dan kom die eintlike krisis. In ’n verstrengeling van woede teenoor sy afwesige pa en die afwesige Rudolf, gaan Markus na Rudolf se huis om van sy opgekropte woede ontslae te raak. Rudolf se reaksie kom as ’n totale verrassing:

Die voordeur gaan half oop. Lank en regop troon hy bo my uit, sy hand rustend op die knop van die deur. “Goeiemiddag, kan ek u help?”

“Middag, Rudolf, ek is hier om met jou te praat.”

“Met my te praat? Verskoon my Meneer, maar ek weet nie wie u is nie.”

Hy maak die deur met een sekure beweging toe. (bl 143)

Vir Markus, wat nie die afstand tot Rudolf kon handhaaf nie, is dit ’n geweldige skok. Hoe kan ’n groot skrywer so kleinlik wees? Het hulle verhouding niks vir Rudolf beteken nie, dat hy hom so abrup die weg wys? Die gesprek met Irene bring antwoorde op hierdie vrae en lei tot versagting in Markus se houding.

Rudolf is nie so ’n ongevoelige persoon soos wat sy gedrag aanvanklik laat vermoed nie; hy is in werklikheid ’n deerniswekkende figuur. Hoewel hy ’n baie private persoon is en sy diepste gevoelens bedek, blyk dit tog dat hy, soos Markus, onder sy vader gely het. Wanneer Markus hom uitvra oor sy pa, ruk hy soos hy snik, sodat Markus sy hand op Rudolf s’n plaas (bl 115). Markus se woede teenoor Rudolf het nou in empatie verander. Ten slotte vra Rudolf verskoning aan Markus vir die pyn wat hy hom aangedoen het, en hy verduidelik waarom hy Markus so onbeskof behandel het toe Markus hom besoek het. Met sy groter ervaring en insig het Rudolf geweet dat hy die naïewe Markus moes beskerm teen die voortsetting van ’n verhouding wat vir Markus net skade sou meebring (bl 183). Rudolf was nie so ’n hardvogtige persoon soos wat Markus vir ’n lang tyd gedink het nie.

Tydens sy vertelling aan Irene kom Markus tot groter selfinsig. Hy was nie die onskuldige persoon wat deur Rudolf gemanipuleer en verwerp is, soos wat hy homself wysgemaak het nie. Hy was obsessief tot Rudolf aangetrokke, en dit het grotendeels om sy eie ambisie gegaan – om ’n skrywer soos Rudolf te word. Hy is taamlik arrogant in sy strewe om die groot skrywer na te boots en skaam hom by nabetragting oor sy grootheidswaan. Byna praat hy sy mond verby teenoor Irene: “Ek wou soos hy – Ek bedoel, ek wou eenvoudig meer van die man weet” (bl 22).

Sy selfgesentreerdheid is al hoe meer opmerklik. Met sy besoek aan ’n fisioterapeut, wat verstandige advies aan hom oor swem gee, is hy neerhalend en bly hy doodstil oor sy beoefening van askese: “Sy askese is sý geheime projek en hy gaan dit beslis nie besoedel deur dit met die fisioterapeutjie te bespreek nie” (ble 30–1). Wanneer hy in sy vertelling nadink oor wat gebeur het, erken hy: “Wat ’n arrogante ydeltuit was hy nie!” (bl 31). Eers heelwat later sou hy die belangrikheid daarvan insien om jouself te vergeet: “Om van homself te vergeet, om hom bloot aan die ritme oor te gee en een te word met dinge. Om geswem te word.” Die eintlike deurbraak sou kom as hy van selfontlediging leer (bl 32).

Soos wat die gesprek tussen Rudolf en Irene vorder, besef hy hoe hy in sy soeke gefouteer het en waarom hy nie vir Rudolf kon begryp nie. Vir hom was sy skryfwerk die hoogste prioriteit, maar Rudolf wou hom laat insien dat daar belangriker dinge in die lewe is: “Rudolf het my vermaan om eers van skryf te vergeet en by die werklikheid uit te kom, die blokkasies te verwyder” (bl 149). Markus het nie besef dat daar, agter sy ideaal om ’n skrywer te wees, ’n onderdrukte verlange na iets meer fundamenteels was nie. Hy moes leer “dat daar iets meer is, ’n groter samehang wat skuilgaan agter die voorhande” (bl 149). Die onthulling van hierdie groter samehang is wat aan sy skryfwerk waarde kan gee.

Markus moet vele verliese verwerk: die dubbele afskeid van Rudolf, wat hom nie in sy huis wou toelaat nie en wat uiteindelik op ’n verrassende manier sterf; maar ook van sy biologiese vader, die vader vir wie Rudolf as plaasvervanger moes dien. Markus se pa is vir hom verlore: Hy was altyd krities teenoor Markus en het die huis verlaat toe Markus nog klein was. Volgens Markus het hy net een ding van sy pa geleer: “Al wat my pa vir my gewys het, is wat ek nié wil wees nie” (bl 114). Rudolf reageer simpatiek oor die pa: “Maar het jy al die moontlikheid oorweeg dat jou en jou pa se verhouding vir hom ’n groter bron van spanning en hartseer as vir jou is?” (bl 114). Hy maan Markus om geduld met sy pa te hê en hom te help om sy gevoel van mislukking te verwerk. Dit is verstandige advies en toon Rudolf se insig en empatie.

Hy sien die verstrengeling van twee vaderfigure by Markus, en weet dat Markus ook met sy biologiese vader versoen moet raak as hy vrede wil vind. Dat Rudolf gelyk het, blyk uit die diepe verlange na sy vader wat nou uit Markus se onderbewuste na bo kom (ble 134–5). Hy besluit dan ook om sy pa te besoek, maar dit is te laat. In ’n sekere sin kan sy uitreik na die vader as ’n mislukking gesien word, omdat hy nie ’n laaste gesprek met sy pa kon voer nie; maar die belangrike punt is dat hy in sy gemoed vrede met die vader gemaak het en uitvoering gegee het aan sy verlange na hom.

Uiteindelik vind Markus wel versoening met beide vaderfigure. Hy gaan na die plaas van sy pa se swaer en besluit om teen ’n windpomp op te klim waar sy pa indertyd ’n “heldedaad” verrig het wat lank onthou is: Hy het hoog bo van die windpomp afgeduik om ’n krat Coca-Cola uit die water te haal. Markus wil sy pa naboots en klim tot bo-op die platform van die windpomp en “duisel by die vooruitsig van finale bevryding, my pa wat miskien tog iewers vir my wag as ek sy sprong nadoen” (bl 147). Maar voordat hy spring, kry hy ’n oorweldigende mistieke ervaring:

Ek kan nie beweeg nie. My blik word getrek van die betonrand na die heuwels in die weste. Die heuwels staan in vlamme, die grys, die groen, die bruin so helder dat ek nie langer daarna kan kyk nie. Ek maak weer my oë toe. Die stilte sypel my binne, deur elke vesel en elke been en elke holte. Daar is iets meer. Daar wag iéts agter daardie vlammende heuwels en ek moet gaan, agter dit aan. (bl 148)

Die feit dat hy sy biologiese vader wil naboots, dui aan dat hy sy pa nie langer verwerp en die verbintenis met hom ontken nie. Die mistieke ervaring op die windpomp kom ooreen met ’n belewenis van een van die karakters in Rudolf se roman Inwaarts die stilte (bl 148), en Markus besef dat hy die intense mistieke stilte ervaar het waaroor Rudolf in sy romans geskryf het en waartoe hy hom wou lei. Markus het nou vrede gemaak met die verlies van sy twee vaders en het sy band met albei erken.

Met die vertelling en die nadenke oor sy verhouding met Rudolf, word baie vrae beantwoord wat Markus gekwel het. Hy besef dat Rudolf nie die onsimpatieke mens is soos wat hy uit sy gedrag afgelei het nie; dat Rudolf wel baie vir hom omgegee het; en dat hy ’n ryke erfenis van Rudolf ontvang het deur alles wat hy by hom geleer het. Hiervan vertel hy vir Irene om haar te help met die biografie wat sy oor Rudolf wil skryf:

Verbluffend. En sy wil ’n biografie oor Rudolf skryf? Het sy dan geen gevoel vir hoe belangrik stilte in sy lewe en in sy werk was nie? Is sy net nog een van daardie mense vir wie stilte die afwesigheid van geraas beteken? [...] “Dis die basiese toestand van die kosmos,” sê hy. “Dis waaruit God geskep het. Dis wat die ruimtevaarders aantref. Maar dis ook in jou eie asem en in jou bewussyn. Dis egter iets wat jy net weet as jy jou doelbewus daarvoor oopstel.” (bl 23)

Om jouself oop te stel is van die grootste belang vir ’n skrywer – dit het Markus uit Rudolf se romans en uit die gesprekke met hom geleer:

“’n Ontvanklike, luisterende lewenshouding,” sê hy. “En as jy wil skryf, of juister, as die vorm waarin jy kies om die lewe te leef ’n skrywerslewe is, moet jy te alle tye oopstaan vir wat vir jou gegee word, sonder voor- of afkeur, en dankbaar daarvan gebruik maak om op te teken, te boekstaaf, te getuig oor dit wat onherroeplik van oomblik tot oomblik verlore gaan, maar tegelyk nooit ophou nie.” (bl 61)

’n Uiters belangrike invloed van Rudolf op Markus is dat hy hom na die Boeddhisme lei. Hy stuur vir hom ’n fotokopie van ’n inleiding tot die Boeddhisme en dit bring Markus in ’n “onverkende landskap” (bl 82) – die Boeddhistiese landskap van askese, stilte en meditasie. Wanneer hy meditasie beproef, vind hy dit aanvanklik ontstellend, soos iemand wat leer loop (ble 79–80), maar hy besef mettertyd dat die praktyk noodsaaklik is vir die konfrontasie van die pynlike verlede en om die afstand te verkry wat vir sy skryfwerk nodig is (bl 95).

Markus neem die besluit om na ’n Zen-tempel in Frankryk te gaan, na ’n Zen-meester wie se naam hy in ’n artikel van Rudolf gevind het (ble 151–2). Daar leer hy allerhande belangrike lewenslesse, onder andere dat sy worsteling wesentlik ’n worsteling met homself is, en dat hy sy ego moet aflê as hy die werklikheid beter wil leer ken (ble 163–4). Hy moet insien dat skryf nie die poort tot die werklikheid is nie, maar slegs “een van die uitlate van die werklikheid” (bl 158). Skryf is ’n ritueel wat deel is van ’n groter lewe van rituele, leer hy (bl 158), en dit is iets wat hy steeds onthou. Sy gesprek met Irene verloop dan ook soos ’n ritueel; selfs die maak van koffie word ’n ritueel (bl 169). Die geskenk wat Markus ten slotte van Rudolf ontvang, is ’n permanente herinnering aan Boeddha, en die waarde wat hy daaraan heg, bevestig dat die invloed van die Boeddhisme, waarheen Rudolf hom gelei het, altyd by Markus sal bly. In die verbintenis met Rudolf het hy veel verloor, maar ook veel van blywende waarde ontvang.

Die rol van Irene

Irene is meer as ’n passiewe luisteraar na die vertelling van Markus. Haar meelewing help hom om selfs sy intieme gedagtes en emosies te openbaar, en haar kommentaar prikkel hom tot nadenke. Hy moet dan ook uiteindelik erken watter belangrike rol sy in hul gesprek vervul het:

Om eerlik te wees, tot jou koms vanmiddag het ek gedink ek het hom uitgepluis. Maar soos ons gesprek vorder, besef ek ek begin nóú eers verstaan. Ek is aangewese op jou oor. (bl 149)

Vir haar is die gesprek net so belangrik as vir hom; sy word gekwel deur ’n dilemma wat ooreenkom met dié van Markus – hoe om die groot skrywer in haar denke te versoen met die immorele mens wat haar ouers se huwelik laat verbrokkel het en haar pa se dood veroorsaak het. Die gesprek tussen haar en Markus word ’n gesamentlike ontdekkingstog waarin albei tot die insig kom dat Rudolf wel in sy romans betekenisvolle insigte gekommunikeer het, maar dat hy deur innerlike beperkinge en onverwerkte pyn nie die idees in sy lewe kón uitleef wat in sy romans na vore kom nie:

Daar is geen kwessie nie dat Rudolf op sy eie baie van hierdie dinge ontdek en uitgeleef het, by uitstek in sy romans, maar die tragedie bly dat hy dit nooit in sy menseverhoudinge kon integreer nie. (bl 162)

Die feit dat hulle hul intieme gedagtes met mekaar kan deel en hul gemeenskaplike pyn ontdek, lei tot eerste tekens van ’n erotiese liefde. Die openlike gesprek, die ontdekking van hul gemeenskaplikheid en die ontwikkeling van liefde lewer ’n wins op wat help om die traumatiese verliese te balanseer.

Die verwerking van trauma

 
........
Sluitstuk handel primêr oor die verwerking van trauma – oor die verbrokkeling van lewensnarratiewe. Elke mens wat op soek is na sin in die lewe, omvorm sy ervarings tot ’n verhaal – so het die Franse filosoof Paul Ricoeur verduidelik; jy word as ’t ware die verteller / skrywer van jou lewe. 
........

Sluitstuk handel primêr oor die verwerking van trauma – oor die verbrokkeling van lewensnarratiewe. Elke mens wat op soek is na sin in die lewe, omvorm sy ervarings tot ’n verhaal – so het die Franse filosoof Paul Ricoeur verduidelik; jy word as ’t ware die verteller / skrywer van jou lewe. Alhoewel jy nie alles kan beheer wat met jou gebeur nie, kan jy kies hoe om jou ervarings te interpreteer. Uit die magdom inligting tot jou beskikking, onderskei jy tussen die essensiële en die onbenullige; jy ontdek verbande tussen verskillende gebeurtenisse en skep ’n intrige uit die gegewens; jy kry ’n insig in herhaalde patrone en standhoudende waardes. Dit alles bepaal hoe jy die verlede “lees” en hoe jy die toekoms beplan. Jou verhaal gee sin en samehang aan jou lewe.1

Wanneer ’n trauma jou tref, val die verhaal wat betekenis verskaf het, egter uitmekaar. Dit voel of jy alle beheer oor die lewe verloor het; die begrip wat jy gehad het, is verlore, en jy word gepynig deur ’n gevoel van verlies. Dit is wat met Markus sowel as Irene gebeur. Markus se lewe was gerig deur ’n bewondering vir Rudolf en ’n verlange om hom na te boots, maar dan stel Rudolf hom dubbeld teleur: deur sy growwe optrede en deur die manier waarop hy kies om te sterf. Boonop moet Markus die verlies van ’n biologiese vader verwerk, die vader wie se plek hy verlang het dat Rudolf sou inneem. Ook Irene het haar vader verloor, en Rudolf was in ’n groot mate die oorsaak van sy dood; maar toe sy met Rudolf se romans kennis maak, kon sy nie sy grootse kuns met sy onetiese optrede versoen nie. Daarom besluit sy om ’n biografie oor hom te skryf om tot groter begrip van die skrywer te kom. Die uitdaging vir ’n traumalyer is om die gebroke lewensverhaal te omskep tot ’n nuwe narratief wat die trauma wel inkorporeer, maar verlore insig en betekenis herwin. Dit wil Irene met haar biografie doen; ook Markus se vertelling aan Irene ontwikkel tot ’n nuwe narratief oor ’n traumatiese verlede.

Op die eerste bladsy van Sluitstuk dink Rudolf na oor sy traumatiese verlies. Hy besef wat nodig is om ’n trauma te verwerk: Jy moet die pyn en woede agterlaat en ’n nuwe narratief skep wat afsluiting bied. Sy rustige toon is egter ironies hier, want uit die latere gesprek met Irene blyk dit dat daar nog insigte is wat by hom ontbreek en emosies wat nie verwerk is nie, en dat hy Irene nodig het om tot ’n “sluitstuk” te kom. Soos wat hy dan ook later erken: “Die gesprek help my. Dis besig om vir my ’n sluitstuk te word, dit waarop ek al só lank wag” (bl 91). Die gesprek met ’n simpatieke en begrypende luisteraar het die konfrontasie en verwerking van die verlede moontlik gemaak, sodat die wonde letsels kan word (bl 23).

Fiksie of feite?

Die drie sentrale karakters in die roman het ’n duidelike verband met persone in die werklike lewe. Rudolf kom ooreen met Karel Schoeman, Markus met die skrywer, Johann Rossouw, en Irene met die Nederlandse historikus Ria Winters. Karel Schoeman is, soos Rudolf, ’n groot skrywer, wat bekend daarvoor is dat hy, soos Rudolf, ’n baie private persoon is en nie maklik intieme verhoudings aanknoop nie. Soos Schoeman, neem Rudolf sy eie lewe, hoewel die aard van sy einde in die roman gefiksionaliseer word. Die foto van Rudolf, wat in 1972 geneem is, kom ooreen met ’n foto wat van Karel Schoeman geneem is:

Dit was ’n swart-en-wit foto van ’n lang skraal man met teruggekamde steil, donker hare en ’n netjiese baard wat met gevoude arms teen ’n wit muur leun en strak na die kamera staar. (bl 21)

Die foto van Rudolf is in 1972 geneem, kort voor hy die eerste keer die Hertzogprys verower het. Ook Schoeman het in 1972 vir die eerste keer die Hertzogprys verower.

Daar is ook baie raakpunte tussen Markus en Johann Rossouw. Rossouw het ’n intense verhouding met Schoeman gehad wat baie ooreenkomste vertoon met die verhouding tussen Markus en Rudolf. Ek haal aan uit ’n openhartige onderhoud wat Rossouw met Murray la Vita gevoer het2:

Karel Schoeman het vir my binne die bestek van die twee-en-’n-half jaar van ons vriendskap alles geleer wat ek moes geleer het van die lewe, van kreatiwiteit en ook van die kontemplatiewe lewe.

Ek dink, en ek sê dit met groot piëteit, miskien het hy self nie altyd voldoen aan dit wat hy aan my oorgedra het nie. Maar dit maak nie saak nie; dit is wat ek toegeëien het wat saak maak.

Op ’n subtiele manier suggereer Rossouw dat die krisis tussen Rudolf en Markus, toe hulle die naweek saam was, met ’n ervaring van hom ooreenkom:

Ek gaan doelbewus vaag wees, ek gaan dit net só stel [...]. Ek werk ook hier met my leermeester wat almal weet ’n hiper-privaat mens was, en ek wil nie die vertroue wat daar was en die integriteit skend nie.

Ek dink al wat ek daaroor wil sê [...]. Dis eintlik baie eenvoudig: wat ék na verlang het en wat ék na gesoek het, en wat hý na verlang en gesoek het, was nie dieselfde nie. Dis al.

Dis ook bekend dat Rudolf se abrupte weiering om met Markus te praat, met ’n ervaring van Rossouw ooreenkom.

........
Rossouw het in sy roman die feite omvorm om by algemene waarhede te kom, by dinge wat “eintlik vir alle mense so werk” (bl 36): die aard en verwerking van trauma; die waarde van stilte en meditasie; die belang van selfontlediging; ’n luisterende lewenshouding; en rituele. Hy wil aan die leser ’n modus vivendi bied: Die beste manier om te lewe.
........

In die onderhoud noem Rossouw dat Schoeman een van sy twee groot leermeesters was. Die tweede een is kennelik die Zen-meester in Frankryk, want Rossouw is as Zen-monnik gewy nadat hy deur Schoeman aan dié weg bekend gestel is. Ook dit vorm ’n parallel met Markus se ervaring in die roman.

Die tyding van Schoeman se dood, en die manier waarop hy gesterf het, was vir Rossouw ’n geweldige skok. Ek haal weer aan uit die onderhoud:

En ek kry hierdie nuus. Dit was ongetwyfeld een van die heel grootste skokke van my hele lewe. Ek is gelukkig [...]. Ek is beslis ’n melancholiese en selfs ’n nostalgiese mens, maar ek is gelukkig nie tot depressie geneig nie. Maar ek het geen twyfel as dit nie was [...]. Ek is ’n swemmer en swem is ’n integrale deel van my menswees, my karakterkultivering en pogings daartoe, maar ook my kontemplatiwiteit en my kreatiwiteit. En dít tesame met stilgebed [...]. In daai twee-en-’n-half maande ná Karel gegaan het, het die intense beoefening van daardie twee aktiwiteite my gered van ’n groot depressie-episode. En die ander ding was ek het op 15 Mei 2017 sonder vreeslike planne of ’n vreeslike romanontwerp, voor my lessenaar gaan sit en die teks [van Sluitstuk] begin skryf.

Soos Markus, vind Rossouw troos in swem en stilgebed, maar van wesentlike belang was ook vir hom die skryf van Sluitstuk. Die skok wat die nuus veroorsaak het, en al die pyn wat dit opgeroep het, was die stimulus tot die skryf van sy roman, sowel as ’n middel tot die verwerking van sy trauma. Hy noem dan ook dat die skryf van die roman vir hom ’n sluitstuk was:

Ons praat oor die konsep sluitstuk.

“Jy kry die hoeksteen van ’n gebou en die sluitstuk is die laaste steen wat geplaas word en dan is die gebou voltooi.”

Die skryf van die roman is vir hom ’n sluitstuk.

Die manier waarop Rudolf sterf, en Markus se aandeel daaraan, is heel moontlik ’n fiktiewe transformasie van die skrywer se stryd om Schoeman se dood te aanvaar.

 Markus verkry berusting in Rudolf se dood en sy eie betrokkenheid daarby: “Dit het my lank geneem om in te sien dat hy my nie vir sy dood misbruik het nie, maar dat hy my eerder op sy manier met sy lewe vertrou het” (bl 184). Die aanvaarding bring afsluiting vir Markus; dit is ook ’n deel van die afsluiting van die roman en indirek kan dit daarop dui dat aanvaarding ’n essensiële element was van die sluitstuk wat die skryf van die roman vir die skrywer gebied het.

Die derde karakter, Irene, het ook ’n verband met ’n werklike persoon: Ria Winters, ’n Nederlandse historikus met ’n besondere belangstelling in Karel Schoeman. Sy het ’n historiese navraag aan Schoeman gestuur, en hy het hoflik geantwoord, maar min oor homself prysgegee. Eers later, toe sy begin lees aan sy romans, sou sy ’n verrassende ontdekking maak:

Op ’n dag bevind jy jou in ’n biblioteek voor twee rakke gevul deur meer as veertig boeke uit sy pen, wat jy later ontdek nie eens die helfte van sy oeuvre verteenwoordig nie. Jy begin sy boeke lees en met verbystering besef jy dat jou verre, wellewende korrespondent een van die grootste skrywers in die wêreldletterkunde en die geskiedskrywing is, en dat hy bowendien die literêre deel van sy oeuvre in daardie obskure klein taaltjie geskryf het.3

Vir haar was die tyding van Schoeman se dood, soos vir Rossouw, ’n verskriklike skok. Sy het Schoeman nooit ontmoet nie, maar die verlange het by haar ontstaan om sy boeke te herlees met die doel om meer van die mens agter die boek uit te vind, en te probeer begryp waarom hy sy lewe beëindig het. Hieruit vloei dan haar boek voort: Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer.4

Vir die skryf van die boek het sy Rossouw gevra om met hom oor Schoeman te gesels, en hy het ingestem. Ek haal weer aan uit Rossouw se artikel: 

Ek het ingestem om Winters te ontvang en een middag in my kantoor ’n aangename gesprek met haar gevoer oor my belewenis en indrukke van Schoeman – sonder om naastenby te besef watter diep eksistensiële kwessies vir haar op die spel was. Dít sou eers met die lees van haar boek, Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer, vir my duidelik word.

 Hierdie gespek word dan gefiksionaliseer in Rossouw se roman.

........
Die karakters kry fiktiewe name en die feitelike gegewens word so omvorm dat die leser nie duidelik die feite van die fiksie kan onderskei nie. Die leser word reeds vooraf gewaarsku deur die Franse motto: “Parce que c’était lui, Parce que c’était moi”, wat in Afrikaans lui: “Want dit was hy, want dit was ek.” Markus is Johann Rossouw, Markus is nie Johann Rossouw nie.
........

Uit die voorafgaande blyk dit dat Sluitstuk deels fiksie, deels outobiografie is. Die karakters kry fiktiewe name en die feitelike gegewens word so omvorm dat die leser nie duidelik die feite van die fiksie kan onderskei nie. Die leser word reeds vooraf gewaarsku deur die Franse motto: “Parce que c’était lui, Parce que c’était moi”, wat in Afrikaans lui: “Want dit was hy, want dit was ek.” Markus is Johann Rossouw, Markus is nie Johann Rossouw nie.

Die vraag kan gestel word: Waarom het Rossouw nie ’n outobiografie geskryf nie? Waarom die gebeure fiksionaliseer? Aristoteles het in sy Poetica geskryf oor die verskille tussen die historikus en die tragedieskrywer, en wat hy oor die tragedie gesê het, geld ook vir die roman. Hy het onder andere verduidelik dat die historikus belangstel in wat gebeur hét, die tragedieskrywer in wat kán gebeur; die historikus fokus op die besondere, die tragedieskrywer op die algemene. Rossouw het in sy roman die feite omvorm om by algemene waarhede te kom, by dinge wat “eintlik vir alle mense so werk” (bl 36): die aard en verwerking van trauma; die waarde van stilte en meditasie; die belang van selfontlediging; ’n luisterende lewenshouding; en rituele. Hy wil aan die leser ’n modus vivendi bied: Die beste manier om te lewe.

Die struktuur van die verhaal

Markus is die fokalisator van die roman, met ander woorde, alles word deur sy oë waargeneem; dit gaan in die eerste plek om die verwerking van sy trauma. Alhoewel Markus die sentrale karakter is en die verteller van wat gebeur het, word die derdepersoonsvorm gebruik wanneer na hom verwys word. Die rede is dat die verhaal terugskouend vertel word, wat afstand skep; dit handel nie net oor gebeurtenisse nie, maar ook oor Markus se interpretasie van wat gebeur het – oor sy selfbeskouing en die verwerking van sy trauma.

........
Sluitstuk bevat ’n vloeiende vertelling wat die leser se belangstelling tot die einde van die naglange gesprek behou.
........

Verskillende tegnieke word gebruik om die leser betrokke te hou by die verhaal. Afwisseling is kenmerkend van die struktuur: Die verhaal word afgewissel tussen die lees van Rudolf en Markus; Markus se nadink oor wat gebeur het; en Irene en Markus se kommentaar op wat vertel is. Spanning word gewek deur verskeie vooruitflitse, byvoorbeeld die herhaalde verwysings na die sluitstukke wat Markus van Rudolf ontvang het, sonder om die besonderhede te openbaar. Die raaisels word eers aan die einde opgeklaar en kom as ’n totale verrassing. Die ontwikkeling van Markus se erotiese belangstelling in Irene dra ook by tot die spanningslyn. Sluitstuk bevat ’n vloeiende vertelling wat die leser se belangstelling tot die einde van die naglange gesprek behou.

Eindnotas

1 Vir ’n uitvoeriger uiteensetting oor trauma en narratiewe identeit, sien Chris N van der Merwe en Pumla Goboda-Madikizela: Narrating our healing – perspectives on working through trauma, ble 1–23. Newcastle, Cambridge Scholars Publishing, 2007.

2 Die Burger, 23 Julie 2023.

3 Aanhaling uit Johann Rossouw se bespreking van Ria Winters se boek oor Schoeman (2020): Spiraal in spiraal – Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer, ’n LitNet Akademies-resensie-essay.

4 Pretoria, Protea Boekhuis, 2020.

Lees ook:

Sluitstuk deur Johann Rossouw: ’n resensie

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Gesprek tussen Johann Rossouw en Henning Pieterse oor Michel Houellebecq en Rossouw se vertaling van Houellebecq se nuwe roman, vernietig

Elders gesien: Vernietig deur Michel Houellebecq

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Zirk van den Berg se Landuit want jy wil mos – oor gemeenskap, ontheemding en tuiste

Ander boekbesprekings deur Chris van der Merwe:

Die onsigbare deur PJO Jonker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: 'n leeskringbespreking

Grenselose genade en Die heiligheid van hier: Chris van der Merwe en Cas Wepener ruil gedagtes uit

Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n interpretasie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top