Spiraal in spiraal – Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer, ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 23

Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer
Ria Winters
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310631
E-ISBN: 9781485311393

En ek onthou ineens. Niks is toevallig nie. Niks wat begin het, hou ooit op nie. Alles is onverbreeklik één. Insigte wat hy my as sy leerling geleer het.

***

Dinsdagmiddag 9 Julie 2013 kort ná een, ’n stralende wintersdag op die Bloemfonteinse hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat, waar ek sedert Januarie 2012 verbonde is aan die Departement Filosofie na drie jaar wat ek en my gesin deurgebring het in die kosmopolitiese, kultuurryke Melbourne, Australië.

Ons vertrek vroeg in 2009 uit Suid-Afrika is voorafgegaan deur ’n reeks intens traumatiese gebeure, wat my persoonlik met die gevoel laat dat te midde van ’n vervallende staat ek ook dit verloor het waarin ek gedink het ek geborge was – my gemeenskap, die Afrikaners. Vanweë hierdie traumatiese agtergrond van ons vertrek weet ek en my vrou nie of ons vertrek ook ’n finale afskeid van Suid-Afrika is nie.

As mense vra of ons emigreer, antwoord ons dat ons nie weet nie – ewe min as wat ’n mens op ’n eerste afspraak met ’n nuwe beminde ’n liefdesverklaring of ’n huweliksaanbod kan maak, ewe min kan jy by voorbaat weet of jy emigreer na ’n land wat jy nie ken nie; eers, besluit ons, eers as ons die nuwe land behoorlik ken, eers dan sal ons weet of ons geëmigreer het, of die afskeid en vertrek finaal was.

Weens verdere traumatiese omstandighede buite ons beheer, moet ek my gesin tydelik agterlaat en alleen na Australië vertrek. Onderweg doen ek by vriende in een van die Arabiese Emirate aan, ’n omgewing wat by my ’n oorweldigende gevoel van plekloosheid, van tuisteloosheid laat. Met verdere ironie val my aankoms in die nuwe land op 26 Januarie – Australiëdag, die dag waarop Australië die aankoms van die Eerste Vloot te Sydney Cove in 1788 vier, die dag waarop die Britse kolonisasie van Australië ’n aanvang neem.

As ’n Afrikaner wat lewenslank tot ons republikeinse tradisie verbind is, ontgaan ook hierdie ironie my nie.

Tydens die drie jaar in Australië oorweeg ek dit nooit ernstig om weer besoek in Suid-Afrika af te lê nie. Einde 2010 kom kuier my 75-jarige moeder vir ’n maand lank by ons. In die sowat twee jaar sedert ek haar laas gesien het, het sy sigbaar, selfs dramaties verouder. Vir die eerste keer word dit vir my ’n werklikheid dat ek haar miskien nie weer sal sien nie, en op die ingewing van die oomblik en in ’n poging om iets te bewaar van wat toenemend lyk na wat ek onherroeplik verloor het, pak ek ’n onderneming aan wat ek nooit voorheen eers aan sou dink nie, wat nog te sê ernstig sou oorweeg: Ek voer naamlik in die loop van drie opeenvolgende dae met haar onderhoude oor haar lewe en die tyd waarin sy geleef het. Ek benader haar asof ek niks van haar weet nie, en vra soveel moontlik in op wat sy my vertel. Die opnames van die onderhoude beloop uiteindelik meer as twaalf ure, en ek verwerf onverwagse nuwe insigte in die land van my herkoms, in die lewens van my grootouers en my ouers, in die wêreld wat ek steeds saam met my dra, in myself.

Enkele maande later maak ek soos gebruiklik een Saterdagoggend die huis skoon en bad ek daarna saam met my vier-en-’n-halfjarige seun. Danksy ons gesin se liefde vir die Afrikaanse taal, ons verbintenis tot skoonheid en dus ook skone omgang met taal, hoor ons seun feitlik nooit tuis ’n sin met ’n Engelse woord nie. In sy kleuterskool vorder hy fluks met Engels, en leer dit selfs tot ons groot pret met ’n volmaakte Australiese aksent praat.

Daardie oggend in die bad vra hy my: “Pappa, wat is farm in Afrikaans?”

Ek kry ’n beklemming en besef ineens dat ongeag ons gesin se verbintenis tot die Afrikaanse taal, en tot die wêreld wat ons steeds saam met ons dra en ook aan my seun oordra, ’n toekoms van onverbiddelike en onomkeerbare kulturele assimilasie op hom wag, ’n assimilasieproses wat rééds vir my in die ouderdom van veertig onmoontlik is. Hý mag miskien toegang kry, maar ék sal vir altyd buite bly, en die prys waarteen hy toegang sal kry, sal die verlies wees van die wêreld wat ons aan hom oordra, van toenemend onverbiddelike vervreemding tussen my en hom namate hy ’n wêreld betree waartoe ek nooit werklik toegang sal verwerf nie, en namate hy my agterlaat in die wêreld waaruit ek kom.

’n Paar weke later neem sake nogmaals ’n onverwagse en voorheen haas volkome onvoorsienbare wending: Ek word gevra om aansoek te doen vir ’n filosofiepos aan die Universiteit van die Vrystaat, destyds ’n feitlik unieke voorbeeld in die wêreld van ’n dapper eksperiment om met ’n tweetalige taalbeleid diegene wat nog altyd aan die instelling tuis gevoel het, nog steeds daar tuis te laat voel, en om diegene wat nooit voorheen daar tuis gevoel het nie, nou wel tuis te laat voel; ’n laboratorium waarin ’n groot eksperiment om mekaar saam anders te maak, in volle swang is. En waar ek in my moedertaal sal kan doseer in ’n omgewing groter as die van my moedertaal of van die gemeenskap waarin ek gebore is.

Hierdie nuwe moontlikheid lei daartoe dat die verlange na Suid-Afrika wat ek my tot in daardie stadium nie kon veroorloof nie, toenemend onmiskenbaar en uiteindelik onkeerbaar word – meer bepaald so wanneer ek op my een-en-veertigste verjaardag op die 27ste Oktober 2011 kort voor een die oggend in Melbourne verneem dat my aansoek vir die pos suksesvol was.

Op Nuwejaarsaand 2012 land ons na ’n totale vlugtyd van 27 uur via Doebai in Johannesburg. Ons seun het enkele ure tevore uiteindelik bo die Demokratiese Republiek van die Kongo aan die slaap geraak en met ons landing is dit ’n saak van onmoontlikheid om hom wakker te maak. Ons het dus geen keuse nie – my vrou moet hom dra, en ek moet ons handbagasie van altesaam 42 kilogram dra. Uitgeput van die lang reis en van die gepaardgaande emosie by die besef dat ons destydse vertrek nie ook ’n finale afskeid was nie, betree ons die gangetjie tussen die vliegtuigdeur en die lughawegebou, waar ’n glimlaggende swartman met ’n rolstoel ons te hulp snel. Dankbaar laai my vrou ons seun in die rolstoel, verlig my bagasielas, en weet ons ineens: Ons is tuis.

In die daaropvolgende agtien maande in die Vrystaat stel ek proefondervindelik oorstelp vas dat ’n mens wat sy tuiste verloor het, dit kan herwin. Miskien was my tuiskoms in die Vrystaat so maklik, vermoed ek later, omdat my moeder uit Jan Kempdorp en my vader uit Jagersfontein my grootgemaak het met ’n landelike wêreldbeskouing. Bowendien stel ek finaal vas dat ondanks die vreugde wat ek kon put uit verblywe in stede soos Johannesburg, Lyon en Melbourne, ek per slot van rekening nie werklik stedelik is nie, maar provinsiaal.

Ek is tuis.

***

En dan breek 9 Julie 2013 aan. Die jaarlikse kunstefees is op die kampus aan die gang, en ek moet my weg so vinnig moontlik deur die besige kampusverkeer vind, onderweg na ’n rondleiding wat my vriend die Roesmeester, aldus die kunstenaar Jan van der Merwe, my by die Oliewenhuis-kunsmuseum van sy terugskouende uitstalling gaan gee. Jan wat hom onderskei het deur sy unieke aanslag om alledaagse voorwerpe aan ’n proses van versnelde roes te onderwerp en so ’n unieke beeld op die temas van verganklikheid, verlies, veroudering, die verlede en herinnering te bied.

Skielik, onderweg na die wagtende Roesmeester, voer die stroom verkeer my stadig verby ’n toneel wat ek ook nooit verwag het om te sien nie: My eertydse leermeester, hy wat verganklikheid, verlies, veroudering, die verlede en herinnering soos niemand anders nie in sy werk behandel het, Karel Schoeman, en wat ek die laaste keer vyftien jaar tevore gesien het nadat hy sy afskeid en vertrek van my geneem het, leun wagtend teen ’n motor – hy wat nooit leer bestuur het nie, hy wat ooglopend skokkend in die afgelope vyftien jaar verouder het, nie meer die lang skraal regop figuur wat ek onthou nie, maar ’n man met gesonke skouers, ’n man met hare langer as destyds uitgegroei, ’n man uit wie vermoeidheid straal.

En ek onthou ineens. Niks is toevallig nie. Niks wat begin het, hou ooit op nie. Alles is onverbreeklik één. Insigte wat hy my as sy leerling geleer het.

***

Daarmee neem ’n nuwe proses ’n aanvang – nadat ek die vorige vyftien jaar niks van hom wou lees of aan hom wou dink nie, begin ek weer oor hom dink, oor wat hy my geleer het.

Op volkome onvoorsiene wyse begin allerlei verbande met hom manifesteer. Ek ontdek dat ’n kollegai werksaam op dieselfde gang as ek nie slegs in gereelde verbinding met hom is nie, maar ook een van die gedigte wat hy destyds in die Engelse vertaling aan my gestuur het, naamlik Kavafis se Ithaka, uit die oorspronklike Grieks in Afrikaans vertaal het:

As jy die reis na Ithaka aanpak,
Hoop dan dat dit lank mag duur:
Vol wedervaringe, vol belewenisse.
Die Siklope en die Laistrigone,
Die tierende Poseidon hoef jy nie te vrees nie.
Sulke struikelblokke sal jy nooit op jou reis ervaar
As jou denke vleuels kry,

As dit nie jou liggaam en siel raak nie.
Die Siklope en die Laistrigone,
Die woeste Poseidon sal jy nie teëkom
As jy hulle nie in jou eie gees dra nie,
As jou gees hulle nie op jou weg plaas nie.

Hoop dan dat die reis lank mag wees,
Dat daar vele someraande mag kom
Waarop jy met matelose dank en blydskap
Onbekende hawens sal binnevaar;
Dat jy mag vertoef in Fenisiese handelstede
Om die mooiste dinge aan te skaf:
Perlemoen, koraal, amber en ebbehout,
En alle soorte opwindende parfuums,
Soveel opwindende parfuums as wat jy kan kry;
Dat jy alle stede in Egipte mag aandoen
Om te leer, en meer te leer van dié wat weet.

Bly altyd dink aan Ithaka.
Om daar aan te kom is jou doel;
Maar moenie oorhaastig reis nie.
Dit is beter dat dit baie jare duur,
Beter as jy eers as ’n ou man by die eiland vasmeer,
Verryk deur wat jy onderweg verwerf het.
Maar moenie verwag dat Ithaka jou met rykdom sal beloon nie.

Ithaka het jou die wonderlikste reis geskenk.
Was dit nie vir haar nie, het jy nooit vertrek nie.
Maar sy het niks meer om jou te bied nie.

En vind jy dit teleurstellend – Ithaka het jou nie bedrieg nie.
Jy het wys geword, jy het veel ervaar.
En weet wat sulke Ithaka’s beteken.

’n Bietjie meer as ’n jaar tevore was die eerste filosofiese voordrag wat ek na ons terugkeer uit Australië gelewer het, ’n voordrag getiteld Odusseus na Ithaka, ’n soort filosofiese teenhanger van my roman Verwoerdburg (Kaapstad: Umuzi, 2014), waarin die oermotief van Homeros se Odusseia herhaal word, naamlik dié van ’n man wat na ’n lang reis uiteindelik tuiskom en die ontdekking maak dat nóg hy, nóg sy huis meer dieselfde is — ’n motief wat tradisioneel in die filosofie en die letterkunde voorgestel word as ’n spiraalbeweging, byvoorbeeld in TS Elliot se Ash Wednesday, wat Karen Armstrong op aangrypende wyse as interteks gebruik in haar tweede bundel mémoires (The Spiral Staircase, Londen: HarperCollins, 2004), en waarin die herhaling van dieselfde sikliese beweging een is van nie soseer ’n sirkel nie as van ’n spiraal, namate die herhaling van die siklusse jou insig, en bowenal jou selfinsig, laat toeneem.

Soos wat ek die Afrikaanse vertaling van Kavafis se gesprek met Homeros se Odusseia in die komende weke lees en herlees, begin ek verwonderd vir die eerste maal iets verstaan van hierdie enorme insig wat Schoeman my destyds probeer leer het.

Ook in daardie tyd stel my vrou en ’n besoekende skrywersvriend uit ’n ander stad onafhanklik van mekaar op opeenvolgende dae aan my voor dat ek na my afgetakelde ou leermeester moet uitreik. “Soos jy hom destyds nodig had, so het hy jou dalk nou nodig,” verklaar my skrywersvriend, en dus laai ek en my seun op Schoeman se vier-en-sewentigste verjaardag, en die dag voor my drie-en-veertigste verjaardag, vir hom ’n geskenkpakkie af by die hek van die aftreeoord waar hy enkele kilometer van ons huis woon. Twee dae later ontvang ek van hom ’n hoflike e-pos van bedanking, waaruit ek nietemin die afleiding maak dat hy nie nouer persoonlike kontak verlang nie.

Daarmee voel ek aan iets is voltooi, en dat dit wat meer as vyftien jaar gelede as ’n intense vriendskap begin het, voortaan in ’n ander vorm sal voortgaan, dat my terugkeer na my ou leermeester nie na die persoon sal wees nie, maar na dit wat hy my destyds oor die lewe, oor skryfwerk, oor stilte en oor die mistiek geleer het – asook na sy werk wat destyds in my twintigs so ’n onuitwisbare indruk op my gelaat het.

So begin ek weer die ses groot romans lees wat hy tussen 1983 (’n Ander land, Kaapstad: Human & Rousseau) en  1998 (Hierdie lewe, Kaapstad: Human & Rousseau) publiseer. Ook in hierdie opsig begin ek vir die eerste keer verstaan – nie slegs watter ongeëwenaarde prestasie sy werk en veral hierdie ses romans in die wêreldletterkunde verteenwoordig nie, maar ook en veral wat hy daarmee wou sê.

Mettertyd groei die besef aan dat die voltooiing van my vakleerlingskap onder sy leiding die vorm sal moet aanneem van ’n reeks lesings oor die ses groot romans, wat ek uiteindelik tydens die Vrystaatse Literatuurfees van 2016 sou aanbied onder die titel ’n Stem, n stemming: Karel Schoeman tussen tradisie en moderniteit, en sou herhaal tydens die Stellenbosse Woordfees van Maart 2017.

En toe kom 2 Mei 2017. Om vyf voor nege die oggend bereik die nuus van Schoeman se laaste afskeid en vertrek op 1 Mei 2017 my. Instinktief weet ek dat dit in my eie lewe ’n waterskeiding is, dat niks hierna ooit weer dieselfde sal wees nie, dat dit wat ek van hom ontvang het, nou myne is om so goed doenlik op my manier voort te sit.

***

Dit sou sedertdien blyk dat ek maar een van vele is wat op ’n unieke manier deur Schoeman as leerling aanvaar en op ’n spiraalreis geneem is, ’n reis wat uiteindelik via die reis saam met hom – in sy beroemde woorde – “inwaarts gaan”.

Hierdie ontdekking sou ek onder meer maak toe ek laat in April 2018, kort voor die eerste herdenking van Schoeman se sterfte, danksy die bemiddeling deur sy vertroueling van die laaste jare van sy lewe, Jackie Steyn van die plaas Onze Rust, in verbinding geplaas is met ’n Nederlandse geskiedkundige, kunstenaar en bibliotekaresse, Ria Winters, wat op besoek aan Bloemfontein was en my graag wou ontmoet om oor Schoeman te gesels.

Ek het ingestem om Winters te ontvang en een middag in my kantoor ’n aangename gesprek met haar gevoer oor my belewenis en indrukke van Schoeman – sonder om naastenby te besef watter diep eksistensiële kwessies vir haar op die spel was. Dít sou eers met die lees van haar boek, Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer vir my duidelik word.

In die gesprek sou dit blyk dat Winters self ’n korrespondent van Schoeman in die laaste jare voor sy dood was, en dat hul briefwisseling sy ontstaan in haas komieklike, bykans surreële omstandighede had – Winters was naamlik in 2014 besig met navorsing oor ’n voorbeeld van die beroemde uitgestorwe voëlspesie, die dodo, wat in die sewentiende eeu uit Mauritius via die Kaap na Nederland verskeep is. ’n Kennis wat met Schoeman se geskiedskrywing bekend is, James C Armstrong, het haar na Schoeman verwys. Toe sy aan Schoeman skryf, was hy gou om haar in te lig dat hy haar nie kan help nie, aangesien al sy navorsingsmateriaal reeds aan die Universiteit Stellenbosch geskenk is. Desondanks het daar tog ’n korrespondensie per e-pos tussen hulle ontstaan, wat kennelik intens en vir Winters lewensveranderend was. So neem sy in die openingshoofstuk van haar boek, “Aankoms” bestek van hierdie ingrypende verandering op:

’n Man wat ek nie geken het nie, en tog ook. Of beter gestel: wat ek sou wóú ken. In die weke ná 1 Mei 2017 was daar by my ’n groeiende gewaarwording van die betekenis van ons kontak. Hy het my onwillekeurig insig gegee in my eie kreatiewe denkwyse en in die vermoë om van ’n bloot rasionele ingesteldheid na ’n meer intuïtiewe, sensitiewe benadering om te skakel. ’n Keerpunt. Ek het my skilder- en skryfwerk gestaak en gewag op wat hierdie onderbreking my gaan bring. (12)

Rofweg twintig jaar tevore het Schoeman aan my ’n aanhaling uit Kafka se Zürau-aforismes (no.109) gestuur: “You do not need to leave your room. Remain sitting at your table and listen. Do not even listen, simply wait, be quiet, still and solitary. The world will freely offer itself to you to be unmasked, it has no choice, it will roll in ecstasy at your feet.”

Uit bogenoemde wagtyd, skryf Winters, “het [daar] ’n verlange ontstaan om hom beter te verstaan (wáárom het hy gedoen wat hy gedoen het?) ...” (12)

Hier moet ons eers ’n stappie terugtree om die konteks van Winters se poging om Schoeman en sy motiverings te verstaan, in oënskou te neem.

Stel jou voor jy werk dekades lank in ’n wêreldstad in ’n suksesvolle, vooruitstrewende en hoogs kultuurryke land. Jy wil oor ’n betreklik obskure onderwerp navorsing doen, en so beland jy in kontak met ’n persoon in ’n verre land, ’n land wat al vir bykans vier eeue net nie kan koers kry nie. Van die persoon weet jy net mooi niks nie, en van sy land amper ewe min, wat nog te sê van die klein taaltjie wat hy praat en waarin hy merendeels skryf. Die persoon is op skrif besonder hoflik, fokus op waaroor julle korrespondeer, maar gee nie veel oor homself prys nie. Jy kom op ’n manier agter dat hy self ook boeke geskryf het, en jy wil iets in een van sy boeke naslaan. Op ’n dag bevind jy jou in ’n biblioteek voor twee rakke gevul deur meer as veertig boeke uit sy pen, wat jy later ontdek nie eens die helfte van sy œuvre verteenwoordig nie. Jy begin sy boeke lees en met verbystering besef jy dat jou verre, wellewende korrespondent een van die grootste skrywers in die wêreldletterkunde en die geskiedskrywing is, en dat hy bowendien die literêre deel van sy œuvre in daardie obskure klein taaltjie geskryf het.

Terwyl jy nog aan hierdie verbysterende gegewens probeer gewoond raak, en dikwels op bykans daaglikse basis met hom korrespondeer, ontvang jy op 1 Mei 2017 ’n “laatste berig”.

En dan niks nie.

Radeloos onderneem jy uiteindelik ’n soektog op die internet en ontdek tot jou skok en afgryse dat hierdie man wat in jou sesde lewensdekade jou leermeester geword en vir jou die wêreld ontsluit het soos jy nooit geweet het moontlik kan wees nie, buiten ’n vae, aanvanklik onverstaanbare verwysing na ’n “laatste berig” homself op ’n helder Vrystaatse herfsmiddag in ’n wit bed uit hierdie lewe gehelp het. In ’n gedig van Rilke, waarvan Schoeman in 1994 verklaar het dat dit sy lewe verander het, en waarvan hy eens die eerste versreël vir jou aangehaal het, vind jy na sy dood iets terug van wat vermoedelik op daardie helder Vrystaatse herfsmiddag iets van sy stemming in daardie wit bed sou kon weergee.

Hier haal ek die gedig aan in die Nederlandse vertaling van Menno Wigman, uit die bundeltjie Wie nu alleen is: Twintig liefdesgedichten, wat Schoeman op 24 Augustus 1998 vir my gegee het:

Heer: het is tijd. De zomer was zo rijk.
Leg nu uw schaduw op de zonnewijzers
en laat de winden op de velden vrij.

Beveel de laatste vruchten rijp te zijn;
verleen ze nog twee zuidelijker dagen,
bereid ze tot volkomenheid en jaag
een laatste zoetheid in die zware wijn.

Wie nu geen huis heeft, bouwt er geen meer.
Wie nu alleen is, zal het lang nog blijven,
zal waken, lezen, lange brieven schrijven
en rusteloos door lege lanen dwalen
als de bladeren op de herftswind drijven.

***

Dit is die aanloop tot en die konteks waarbinne Ria Winters haar soektog na wie Schoeman was en “wáárom ... hy gedoen het wat hy gedoen het” (12), loods. Haar soektog pak sy op ’n merkwaardige wyse aan, waarmee sy ook die deurlopendste motief in Schoeman se literêre werk herhaal, naamlik die reismotief – namate sy besef dat die Europese plekke wat hom ten diepste gevorm het ook die plekke is wat haar ten diepste gevorm het, besluit sy ná sy heengaan om te reis na die plekke in Ierland en Skotland wat hom gevorm het; in te vra op sy geliefkoosde stad waar sy self al dertig jaar lank werk, Amsterdam; en uiteindelik na die stad waarheen Schoeman telkens en herhalend soos in ’n stygende spiraalbeweging van groeiende insig teruggekeer het, naamlik Bloemfontein.

Daarby eindig dit egter nie – ofskoon sy al hierdie plekke (buiten Bloemfontein) reeds geken het, besoek sy hierdie plekke nou terwyl sy die reisbeskrywings sowel as romans wat hy in en oor hierdie plekke geskryf het, sorgvuldig lees. Dit word verder verweef met tersaaklike aanhalings uit haar en Schoeman se korrespondensie, en met verwysings na van sy latere geskiedkundige en outobiografiese boeke, veral maar nie uitsluitlik nie sy “outobiografiese aantekeninge”, Die laaste Afrikaanse boek (2002), asook drie publikasies wat na sy dood in 2017 verskyn het – Afskeid van Europa, Slot van die dag en Die laaste reis (almal by Protea Boekhuis).

Sodoende ontwikkel Winters ’n rekonstruksie van die mens agter die boeke, en begin sy ’n antwoord gee nie net op die vraag “waarom hy gedoen het wat hy gedoen het” nie, maar veral op die vraag wat soveel Schoeman-lesers wie se lewens hy onherroeplik verander het, vra: Wíé was die mens agter die boeke?

Dat Winters alles moontlik gedoen het om haar soos ’n skrywer in haar karakter in te verbeel, spreek ook uit die feit dat sy die moeite gedoen het om die bovermelde obskure taaltjie van haar onderwerp aan te leer – én haar boek in hierdie taaltjie te skryf. Soos Chris Chameleon destyds op sy deurbraakalbum met sy toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte, “Ek herhaal jou” herhaal Winters ook vir Schoeman – nie slegs deur letterlik in sy voetspore te reis nie, nie slegs deur in Afrikaans te skryf nie, maar ook deur hóé sy skryf: Die moeite wat sy telkens doen om soos Schoeman die plekke wat sy besoek filmies vir die leser te beskryf, die aandag wat sy soos Schoeman in haar beskrywings aan veral die lig, die lug en die landskap te skenk, en ook deur die wyse waarop sy soms sinne of paragrawe in ’n Schoemaniaanse sleutel skryf, sodat haar stem sy stem eggo, en sy stemming ook haar stemming word.

Winters pak haar reise aan in die volgorde waarin Schoeman telkens oorspronklik in daardie plekke en lande gewoon het, te wete Ierland, Amsterdam, Skotland en Suid-Afrika, meer bepaald Bloemfontein.

Hierdie kleurvolle, melancholiese skilderye deur Winters oriënteer dan ook die leser visueel ten opsigte van die verkenningstog waarop sy jou neem.

Pas hierna verskaf sy nog ’n sleutel tot Schoeman se lewe en van haar herhaling van hom, naamlik ’n chronologiese lys van die plekke waar Schoeman gewoon het, telkens aangedui deur die betrokke jaartalle. Ofskoon sy skryf dat hierdie “jaartalle bloot [is] om die leser ’n idee oor die plek en tyd te gee” (17), staan ’n herhalende motief onmiddellik in die lys uit: Nadat Schoeman tussen die ouderdomme van drie en vyf in Bloemfontein gewoon en vervolgens sy skoolopleiding in die Paarl deurloop het – dit wil sê toe die keuse van woonplek nog vír hom gemaak is – het hy onderskeidelik as student tussen 1957 en 1961, toe ná Ierland vanaf 1964 tot 1966, weer ná sy Europese verblywe vanaf 1978 tot 1982, en oplaas die laaste nege jaar van sy lewe vanaf 2008 tot 2017, in Bloemfontein gewoon, oftewel toe die keuse van woonplek telkens deur hóm gemaak is. Anders gestel, Bloemfontein was die plek waarvandaan Schoeman altyd uitgereis het, en waarheen hy altyd, en oplaas vir die laaste skof, teruggekeer het. (By nabetragting kan die leser van sy eerste grootse roman uit die jare waarin hy sy kruin as romansier bereik het, ’n Ander land, dus vandag konstateer dat dié roman oor ’n Europeër wat oplaas in die Bloemfontein van die 1880s tuiskom, ontstaan het uit ’n ervaring van tuiskoms van die skrywer self ná sy Europese uitreise.)

In die hoofstuk, “Ierland: Die legende” vat Winters Schoeman se spoor na die klooster in ’n uithoek van Ierland wat destyds nog die gees van die ou Ierse legendes geadem het, en waar heelwat Iere nog Gallies gepraat het. Winters spoor ook van die mans op wat destyds saam met Schoeman in die novisiaat was. Dit is bekend dat Schoeman in daardie betreklik kort tyd die besonder moeilik Galliese taal aangeleer het, maar Winters ontdek iets wat na my wete tot dusver onbekend was, naamlik dat Schoeman in 1965 ’n kortverhaal in Gallies in ’n gesiene Ierse literêre tydskrif gepubliseer het, dit wil sê in dieselfde jaar waarin hy in Afrikaans debuteer met die twee novelles gepubliseer as Veldslag (Kaapstad: Human & Rousseau). Bowendien kon Winters daarin slaag om ’n Engelse vertaling van die kortverhaal te bekom, waarin Schoeman se kenmerkende literêre styl volgens haar reeds sigbaar is. Dit is een ding om in jou moedertaal ’n styl te ontwikkel, maar dit is ’n ongekende prestasie om dit in ’n taal so anders as jou moedertaal ook te doen.

Deur ook te gesels met van Schoeman se destydse tydgenote, lewer Winters belangrike toevoegings tot Schoeman se eie weergawe van sy kloosterervaring en sy latere geloofsverlies – hoewel dit gesê moet word dat dié verlies skynbaar betreklik was, want Schoeman skryf in Slot van die dag hoe hy nog soms in Nederlands met God praat, terwyl ’n ikoon van Christus ook bo sy lessenaar gehang het. Die blywendste aspek van sy vorming danksy sy kloosterjare, bevind Winters, is die askese wat hy daarmee aangeleer het, en waarsonder dit moeilik is om jou in te dink hy sy enorme werksywer tot reg teen die einde sou kon handhaaf.

Die ander belangrike aspek wat Winters van sy Ierse verblyf uitlig, is die wyse waarop die bykans mitologiese omgewing waarin hy hom bevind het, tesame met die wêreld wat vir hom in die ou Galliese lettere oopgegaan het, sekerlik ’n blywende invloed op sy literêre verbeelding had. En die Afrikaanse literêre skat is op unieke wyse aangevul deur Schoeman se vier publikasies van vertalings uit die Iersii, waarin verlange en verlies ook belangrike temas is soos, wil ’n mens opmerk, slegs die wilde Kelte en hulle Ierse erfgename dit beliggaam.

Die volgende hoofstuk, “Amsterdam, die mooiste” behandel Schoeman se verblyf van 1968 tot 1973 daar. Hoewel dit gewis vir die leser ’n verdere belangrike sleutel tot Schoeman se ontwikkeling as mens en as skrywer bied, moet ek erken dat die gedeeltes waar Winters probeer terugkeer na Amsterdam soos dit in Schoeman se tyd was, nie op my dieselfde impak as die res van die boek had nie. Ek dink dit moet toegeskryf word aan die feit dat die perspektief van afstand en buitestaanderskap wat Winters met betrekking tot die ander plekke geniet, natuurlik nie vir haar moontlik is ná meer as dertig jaar van werk in Amsterdam nie. Nietemin het twee aspekte van hierdie hoofstuk vir my uitgestaan.

Die eerste is Winters se skerpsinnige kritiese oorweging van die opspraakwekkende 2017-uitstalling in die Rijksmuseum getiteld Goede Hoop, waarin gepoog is om in te gaan op Nederland se geskiedenis met sekerlik haar mees berugte voormalige kolonie, Suid-Afrika. Winters besoek die uitstalling nog in die maand van Schoeman se heengaan, sekerlik nog in rou en moontlik in die verwagting dat die uitstalling haar sal help om die meester en die geskiedenis waaruit hy kom, beter te verstaan. Uiteraard beskaam die hoop, en het sy ook die moed van haar oortuiging om openlik te verklaar dat Nederland nog nie in die reine gekom het met haar koloniale verlede nie – en dit skaars twintig jaar nadat meer as een Nederlander my in die 1990s wou vertel dat hulle geskiedenis met Suid-Afrika “anders as ander” koloniale geskiedenisse sou wees omdat Nederland “nie bedoel of beplan het” om Suid-Afrika te koloniseer nie. By die lees van Winters se verslag van die uitstalling wonder ’n mens of “onbedoelde” kolonisering nie op sy manier nog erger en skadeliker as bedoelde kolonisering is nie.

Die ander klein, dog betekenisvolle detail in hierdie hoofstuk, is Winters se ontdekking dat Schoeman wat sy beskryf as sy mees persoonlike roman, Op ’n eiland (1971, Kaapstad: Human & Rousseau) gedeeltelik geskep het uit die ervaring van ’n maandlange besoek aan die Griekse eiland, Paros “en meer spesifiek nog: die gehug Piso Livádi.” (103) Hierop is haar kommentaar:

Toe ek hierdie detail lees, het ek dit skielik met ’n skok herken; ek het van die papier opgekyk, my oë gesluit en rillings oor my rug gevoel, want Piso Livádi was die plek waar ek op my een-en-twintigste verjaardag ’n maand lank Ierse vriende wat sommer ’n lawwe hippielewe gelei het, besoek het en die eerste skok van my vader se skielike afsterwe verwerk het. (103-4)

So ontdek Winters algaande op haar reis in Schoeman se voetspore toenemend hoe onverbreeklik één alles is, hoe alles saamhang, hoe niks toevallig is nie.

Hiervandaan neem haar reis haar in die langste hoofstuk van die boek, “Skotland, die koninkryk” na die land waar Schoeman volgens sy eie erkenning die gelukkigste van sy lewe was, en meer spesifiek die stad, Glasgow.

Een van die groot raaisels van Schoeman se lewe is waarom hy die plek waar hy op sy gelukkigste was, uiteindelik in die veelbewoë jaar 1976 vir Suid-Afrika verruil het. Onteenseglik het die verlange na sy geboorteland ’n rol in sy besluit gespeel, soos hy ook skryf in van sy boeke en e-posse waaruit Winters aanhaal, maar ’n mens kan nie help om te wonder of Schoeman dalk tog in Glasgow die liefdesverhouding beleef het wat hom andersins skynbaar lewenslank ontglip het nie, en of die verbrokkeling van so ’n moontlike verhouding ’n rol in sy besluit om terug te keer kon gespeel het.

Winters bespiegel nie reguit hieroor nie, maar sy wys deur fyn speurwerk uit dat Schoeman in Skotland vir hom ’n andersins buitengewoon besige sosiale lewe gelei het, waartydens besoeke aan vriende vir sommer ’n paar dae op ’n keer nie vreemd was nie. Sy besoek die dorpie Callander en gaan soek na die landhuis op ’n eiendom van meer as 1200 hektaar destyds skynbaar in die besit van vriende van Schoeman, en merk in een van die mooiste sinne van haar boek met verwysing na Schoeman se eindelose verkenningstogte, veral te voet, op: “Dis die moeite wat ’n mens moet doen om ’n land te verstaan, die interaksie tussen mens en grond, wat die kerwe in die siel en die geheue vorm.” (135)

Sy slaag nie daarin om die eiendom op te spoor nie, maar herwin iets van die stemming wanneer sy en haar Ierse eggenoot, Brendan, wat ’n besonder geduldige en lankmoedige reisgenoot blyk te wees, beland in ’n taamlik weggesteekte nabygeleë hotel. Haar beskrywing van wat sy en Brendan in die hotelsitkamer beleef, kon net sowel deur Schoeman geskryf gewees het, want so sterk is sy waarneembare invloed op haar skryfwerk hier. Ek haal slegs enkele sinne daarvan aan:

Terwyl Brendan doenig is met die verkyker, betrag ek die ander mense — ’n stuk of tien — in die ruim sitkamer. Hulle is almal bejaard. Een vrou van ’n egpaar is besig met ’n blokkiesraaisel; die man kyk afsydig buitentoe. ’n Ander egpaar, baie netjies aangetrek, drink swygend tee uit hulle porseleinkoppies. ’n Vrou wat alleen sit, raak aan die slaap. (140)

Op haar verdere reis in Schoeman se voetspore deur Skotland, beweeg sy en Brendan al dieper die binneland in, al dieper die noorde in, waar die wêreld al hoe ruwer en ongerepter is, en sy die leser met die indruk laat dat iets van die ou Keltiese gees en van die Skotse tradisie uit die Middeleeue nog voortleef.

Opmerklik tussen dit alles deur is haar verwysings daarna dat Schoeman, bo en behalwe die wonderlike romans van wat ’n mens seker sy middelfase kan noem, en waarvan Die hemeltuin (1979, Kaapstad: Human & Rousseau) vir my die hoogtepunt is, asook in die reisbeskrywing Koninkryk in die Noorde (1977, Kaapstad: Human & Rousseau) nooit weer veel oor Skotland te sê had nie, en dat hy ook eintlik die onderwerp in korrespondensie met haar vermy het – skynbaar omdat dit hom te weemoedig gestem het om dit te onthou, en dalk weens wat hy ook al dalk eens daar had en toe verloor het.

In die voorlaaste hoofstuk, “Suid-Afrika, die paradys” neem haar reis haar uiteindelik na Suid-Afrika, en meer bepaald na Bloemfontein.

Die hoofstuk open met ’n absoluut kostelike beskrywing, wat eweneens iets sê van die besondere vriendskap wat tussen haar en Schoeman bestaan het:

Ek staan in die middel van ’n lang, reguit teerpad en kyk om my heen. Daar is geen mens, geen motor, geen niks nie. Die hemel is vaalblou van die hitte en die weivelde wat aan weerskante oopvou, is liggeel, goud, byna oker. Die horison is deur die trillende dynserigheid bykans uitgevee, maar ek kan in die verte, aan die pad se einde, die lang uitgestrekte berge van ligpers en silwer duidelik sien. Daar is geen geluid, geen reuk, geen wind nie. Ek draai om, kyk en wonder. Hoekom is hierdie land so leeg? ... So bly ek nog ’n tydjie rondkyk en wonder waarom Karel Schoeman my op hierdie skakel in Google Maps streetview neergesit het ... Van hierdie skakel na die teerpad het hy, nadat ek hom ’n bietjie afgetrokke laat weet dis regtig ’n groot leegte, uitgelê dat dit die omgewing is waar sy grootouers eens gebly het, die Kimberley-streek. (179)

En dan vervolg sy met ’n besinning wat dit duidelik maak dat hierdie Nederlandse vrou, nes die Nederlander Versluis in ’n Ander land en die onbenoemde Nederlander in Verkenning (1996) ’n verkenningstog na hierdie land toe aangepak het wat haar onherroeplik sou verander:

Hierdie onvrugbare aarde is vir my ’n baie anderste land as die een wat ek vyftien jaar gelede besoek het toe ek na die Kruger Nasionale Park en die Kaappunt Natuurreservaat gegaan het. Die virtuele besoek, wat Schoeman my op streetview laat onderneem het, was my eerste kennismaking met die Suid-Afrika van die stilte, van die leegheid en die uitgestrektheid. Dit is sý Suid-Afrika. (180)

Winters berig vervolgens oor ’n tweede besoek aan Suid-Afrika vyf jaar tevore – kennelik geskied dit nog voor haar kennismaking met Schoeman, en opvallend is dat dit hierdie keer bemiddel word deur die koloniale erfenis van die land, en wel in die vorm van ’n besoek aan ’n Engelssprekende natuurskilder en haar Britse vader in Durban, gevolg deur ’n besoek aan Kaapstad, waar sy onder meer VOC-dokumente in die Wes-Kaapse Argiefbewaarplek raadpleeg, en die Kasteel en die Kompanjiestuin besoek.

Dit is duidelik dat die besoek aan Durban haar nie werklik nader bring aan die werklikhede van die eietydse SA nie, buiten dat dit haar herinner aan die Britse koloniale nalatenskap, wat nog in ’n sekere mate voortbestaan in Durban. Winters het die moed van haar oortuiging om met verfrissende eerlikheid as Nederlander op besoek aan die Kasteel nie die koloniale nalatenskap van SA slegs tot die Britte te beperk nie, maar ook die Nederlandse deel daarvan te erken. So beskryf sy dit op besoek aan die Kasteel:

Ek klim op met die massiewe houttrap en kyk sylangs op na die bolig. Ek sien Hollandse wolke en ’n windmeul skitter agter blink vernis. Waarom voel dit vir my vreemder om ’n skildery met ’n Hollandse landskap op hierdie plek te sien hang as ’n Indonesiese toneel in Amsterdam se ou VOC-huis? Dis meer konfronterend hier, dis die gevoel van inmeng. Indringing, ja, maar as ek in die VOC-raadsaal in die Bushuis in Amsterdam staan en ek kyk na Andries Beeckman se skildery “Kasteel van Batavia”, vind ek dit mooi en eksoties. Dis in wese ’n paradoks, besef ek, maar wat kan jy daaraan doen? Jy reis deur die lande en deur die tyd en jy konfronteer jouself met die dade van voorgeslagte. Jy kan net daaroor nadink, twyfel wat jou posisie ten opsigte van hierdie verlede is, die historiese bronne uitpluis, jou inlewe, so goed moontlik verklarings opstel en probeer vrede maak daarmee. Hierdie fort voel baie ongemaklik. (188)

Wanneer sy in die Kompanjiestuin rondstap voel sy beter, “want ek sien die Kaapse bevolking het die tuin heeltemal opgeëis as piekniek en slentergebied.” (188-9) Dit is die Kompanjiestuin, waardeur Schoeman feitlik daagliks gestap het tydens die sestien jaar (1982-1998) wat hy by die Suid-Afrikaanse biblioteek werksaam was, en waar sy omgang met die historiese versamelings van die biblioteek van onskatbare waarde vir sy ontwikkeling as romansier en geskiedkundige was.

Hierna, in ’n onderafdeling getiteld Die verdieping, doen Winters verslag van haar reis na Suid-Afrika gedurende April 2018, oftewel amper ’n jaar ná Schoeman se oorlye. Die verdieping waarom dit hiervandaan in die boek gaan, is nie slegs ’n verdieping van haar begrip vir die Suid-Afrika wat Schoeman gevorm het, asook haar insig in Schoeman self nie, maar ook ’n verdieping van haar selfinsig namate sy ’n argetipiese tema in Schoeman se groot latere romans herhaal, naamlik dat die reis die binneland in ook die andersmakende reis inwaarts word.

Sy berig oor hoe die betekenis van die Afrikaanse taal vir haar toeneem, verrassend omdat dit haar ook aan haar grootwordwêreld en die van haar grootouers herinner – hoe roerend is dit nie om te lees dat ’n Nederlander in haar verdiepende kennis van die Afrikaanse taal ook dieper in haar herkoms inreis nie. En dit verdiep ook haar verbintenis met Schoeman:

As ek Afrikaans lees, kry my persoonlike verlede weer lewe, en keer ek terug na my grootouers, hul beeste, die appelboom, die skoenlappers en waterput.

Op hierdie manier het Karel Schoeman se poëtiese gebruik van die Afrikaanse taal ’n direkte verband met my innerlike, met die inhoud van my breinselle wat die herinneringe van vroeër na vore laat kom. (194)

Winters is nie naïef oor wat dit van die leser verg om Schoeman te probeer verstaan nie, ook nie oor die beperkte mate waartoe dit moontlik is nie, en eweneens ook nie geflous deur hoe Schoeman soms in sy outobiografiese werke doelbewus vaag skryf nie:

Wie die mens agter die skrywer, Karel Schoeman, wil ken, of beter gesê, wie hierdie illusie koester, moet dan ook moeite doen. Jy moet al sy boeke lees, jy moet verder kyk, dieper tuur, jou intellek inspan, jou innerlike laat praat. In die niefiksiewerke, soos die outobiografiese Merksteen en Die laaste Afrikaanse boek, moet jy as leser besef dat die skrywer nie alles verklap nie. Daar is gedeeltes wat ontwykend gestel is en selfs detail wat die oplettende leser op ’n dwaalspoor bring. Schoeman teken aan dat “wat in die stiltes tussen die versigtig uitgesoekte woorde en die wit tussen die behoedsaam saamgestelde reëls vir die aandagtige leser sigbaar word, is in elk geval uiteindelik meer insiggewend as wat die eksplisiteit van ’n reeks kompulsiewe en krampagtige onthullings sou kan wees.” Jy moet die fiksie en niefiksie eintlik langs mekaar lees. (196)

Met bostaande aanhaling spel Winters uit wat sy reeds vroeër in haar boek subtiel aanroer, naamlik dat Schoeman se boeke in hoë mate niks anders is nie as boekstawings van sy reise – uitwaarts sowel as inwaarts. Anders gestel, vir die geduldige leser van Schoeman word soveel meer onthul wanneer die boeke aan die hand van die skrywer se lewensreis verstaan word, en wanneer die skrywer se lewensreis weer aan die hand van sy boeke ondersoek word. Alles onverbreeklik één.

Dit is vanaf Winters se aankoms in Bloemfontein wat haar boek ’n besonder persoonlike en soms geweldig ontroerende toonaard verkry. Wanneer sy en Brendan vir die eerste maal in persoon kennismaak met ander korrespondente van Schoeman, wat hy per e-pos aan hulle voorgestel het – “die onderwyser Oscar en sy vrou Elise” – berig sy:

Uit hul benadering, oor hoe hulle oor die land praat en hoe hulle die geleentheid aangryp om ons die stad te wys, besef ek onmiddellik ons is nou in ’n baie ander deel van Suid-Afrika as Durban, Kaapstad en Johannesburg. Dit lyk vir my of hierdie mense platter op die aarde is, hulle spog daaroor en is trots daarop. Hierdie besoek aan Bloemfontein beteken vir my ’n stukkie verdere verstaan van die Suid-Afrikaanse maatskaplike kompleksiteit. (203)

Daardie aand maak sy en Brendan hulle eerste braai mee, en met antropologiese insig skryf sy hieroor; en die diep onderdompeling in die Suid-Afrikaanse werklikheid van Schoeman wat sy deur hierdie ritueel beleef, oorweldig haar emosioneel:

Ek het al van ’n braai gehoor, maar nooit besef dat die opbou van die vuurmaakhout ’n spesifieke kennis vereis en dat daar soveel vleis bykom nie. Onder die Suid-Afrikaners is seker nie baie vegetariërs nie, besluit ek. Boerewors ken ons in Nederland wel – maar nie sulke dikkes nie – en ons eet vir die eerste keer springbokvleis. Die koeksisters is ’n belewenis, maar ek kan nie te veel daarvan eet nie. Ons gesels, drink wyn en bier en lag. Karel Schoeman kyk vanuit die hemel neer, en ek gaan sit op die toilet en huil. (203)

Vervolgens gaan loop sy Schoeman se Bloemfonteinse spore na deur besoeke aan plekke soos die Vrouemonument, die biblioteek waar hy werksaam was toe hy sy eerste geskiedkundige werk geskryf het (Bloemfontein: die ontstaan van n stad 1846-1946, Kaapstad: Human & Rousseau, 1981), die Wesleyaanse kerk in Waaihoek waar die ANC gestig is en oplaas die Steyns se geskiedkundige twee plase, Onze Rust en Leeuwberg, waar Schoeman deurlopend sedert 1982 tot kort voor sy dood ’n geliefde gas was.

Sy kyk, sy neem waar, sy oordink, sy besin, en sy verkry moeisaam en soms pynlik insig in wie Schoeman was en “waarom hy gedoen het wat hy gedoen het”. Dit bring haar uiteindelik in die slotparagraaf van hierdie hoofstuk met wat myns insiens die heel beste gepubliseerde insig tot nog toe in Karel Schoeman bied:

Ek het Slot [van die dag, die boek waarin hy oor sy aftakeling en naderende, selfgekose einde skryf] intussen gelees, dwarsdeur, van agter na voor, stukkies hier, stukkies daar, twee, drie keer, en bespeur daarin die gegewe dat Schoeman se laaste jare geen paradys was nie. Ek het die “waarom” gevind, maar het tog die gevoel daar mis iets in Slot. Want ek verstaan steeds nie waarom hy gedoen het wat hy gedoen het nie. Miskien is ek te veel in ontkenning deur my eie kunsmatige lewe dat ek die diepliggende rede nie kan sien nie. Blind soos Oedipus, maar ook anders. Ek moet dieper tuur. As ek baie diep kyk, in die donkerste uithoek van my bewussyn waar ek baie min durf kyk, sien ek die alleenheid waarin ’n mens kan verkeer as daar geen metgesel, geen nabye bloedverwante, geen ouers, geen kinders, geen broers, geen susters is nie. Wat as die land waarin jy grootgemaak is, onherkenbaar verander het? En wat as die een moeder [Europa] onoorbrugbaar verlore is in die verlede, en die ander moeder [Suid-Afrika], die land van stil vlaktes en lila berge – miskien eens op ’n tyd die paradys – ook? En as die geloof wat jy eens gehad het, verkrummel het? Wat as jy jou kosbaarste dinge reeds oorgegee het aan papier en ink en daar geen woorde meer oorbly nie? Dan bly daar niks anders oor as die bed nie. Die wit bed onder die landskapfoto van die Vrystaat. (221-2)

Schoeman skryf in Die laaste reis oor sy terugkeer na Bloemfontein ná sy laaste aardse uitreis, naamlik deur Lesotho, kort voor sy selfgekose einde:

En toe my woning, deur Mamohau in my afwesigheid aan die kant gemaak, en die wit bed wat op my wag aan die einde van die reis, en ek moes dink aan Van Wyk Louw: “’n laaste kuil van stilte tussen riet.” (46)

Oplaas, in die slothoofstuk, “Vertrek” voltooi Winters ’n siklus in die stygende spiraal van haar inwaartse reis met Schoeman deur ’n besoek saam met Brendan aan Zürich, ’n bestemming wat sy bloot lukraak gekies het – of so het sy aanvanklik gedink – en waar hulle aandoen in daardie noodlottige eerste week van Mei 2017.

Oorbluffend vir Winters sowel as vir die leser besef sy op ’n staptog wat haar verby die universiteitsgeboue neem dat sy staan en kyk na die gebou waar die persoon wat sekerlik die grootste invloed had op Schoeman se eie wêreldbeskouing en insig in die skeppende proses, onder meer deur sy begrip sinchronisiteit, naamlik Carl Gustav Jung, eens werksaam was.

Met soortgelyke ontoevallige toevalligheid beland sy in die klooster van Sint Gall, sowat dertig kilometer buite Zürich en in die agste eeu betrek deur Ierse (!) monnike. Sy verwonder haar aan ’n uitstalling van die manuskripte wat hulle nagelaat het, maar dan:

Gewoonlik sou ek die beeltenisse entoesiasties afgeneem en vir Karel Schoeman aangestuur het. Maar daar was iets wat my daarvan weerhou het, ’n onbestemde gevoel van nutteloosheid, ’n afwesigheid van ’n gevoel, die ontbreek van ’n ontvanger. (224)

Vervolgens, en vir my as leser geweldig roerend – omdat ek ook die voorreg had om haas vyf-en-twintig jaar gelede my eie reis met Schoeman aan te pak, en oorweldig word wanneer ek in hierdie paragraaf soveel van my eie reis herken, en opnuut bevestiging vind dat ons hier te make had met ’n weergalose gids op die reis van die siel – skryf sy:

Terug in die woonstel het ek die volgende oggend voor die oop venster gestaan en luister na die swaar gebeier van die klokke van een van die katedrale in die middestad. Die lae en diep klanke het oor die dakke gedreun en die geruis van die reën en die trem se gekletter wat elke tien minute net voor die woonstel die opdraande uitklim, oordonder. Ek het daar gestaan, voor die koue venster in my naghemp, met niks anders as ’n uitsig op die grys lug en die dak van die oorkantste gebou nie, en ’n oorweldigende droefheid het oor my gespoel wat ek nie kon verstaan nie. Om dié oomblik te bewaar, het ek met my slimfoon ’n opname van die gebeier gemaak. Daardie tydstip was rondom die dag wat Karel Schoeman gesterf het, maar dit het ek eers ’n paar weke later besef. Onbewus het my hart, voor die oop venster, omhoog vir die grys hemel, oor Karel Schoeman gerou. Die klokke het vir hom geklink. Nóg veel later het ek ’n sin in Schoeman se outobiografie aangetref wat sê: “Zürich is nou agter jou.” Die implikasie van dié uitspraak was dat Schoeman self sy leermeester Jung – en daarmee die simboliese betekenis van Zürich – op ’n bepaalde oomblik in sy lewe moes agterlaat. Zürich blyk vir my nou ook die punt van my vertrek, die punt wat my lewe in ’n vóór en ná verdeel. Ek moes die askeet-skrywer agterlaat en afskeid neem van ons korrespondensie en van die reise waarop hy my virtueel vergesel het. (224-5, my beklemtoning)

Einde ten laaste sluit Winters haar boek soos volg af:

My tog is nog nie ten einde nie. Om eerlik te wees het my fassinasie met Schoeman se wêreld grootliks toegeneem. Daar is baie gapings in sy verhale. Gedurende die skryf van dié boek het ek meer en meer besef watter besondere mens hy was en ook uitgevind watter see van ontdekkings daar nog in sy werk lê. Die koers is bepaal. Is dit die ware kringloop van die lewe en dood, dat jy leer, absorbeer, herleef en hergebruik wat die Ander agtergelaat het? Vir my is hierdie vertrek bitter, maar met die hoop vir ’n aanloop tot iets nuuts. (227)

***

Eers ’n paar dae nadat ek Winters se boek voltooi het, het ek besef waarom dit vir haar gaan. Die boek is nie net ’n treurwerk nie, nie net ’n reisverslag nie, nie net ’n opgaaf van ’n eerste poging om te verstaan wie Karel Schoeman was en waaroor sy werk ten diepste handel nie, maar die eerste tree, meen ek, in die rigting van wat moes kom, naamlik die werk van ’n persoon met die nodige gevoeligheid, afstand en verbintenis om die lewensreis van Karel Schoeman te boekstaaf.

Daardie persoon, dink ek, is Ria Winters, en daardie tog wat sy met hierdie onvergeetlike boek aangepak het, moet haar vermoedelik daartoe lei om Karel Schoeman se biografie te skryf, die sluitstuk wat die kroon op hierdie lewe sal span.

Vir my as leser bied dít vertroosting en verligting wat ek maar slegs by benadering kan verwoord.

i Ek verwys na die klassikus, Prof. Louise Cilliers, en bedank haar hiermee vir haar goedgunstige toestemming om haar ongepubliseerde vertaling van hierdie gedig in druk te mag aanhaal.

ii Uit die Iers. Middeleeuse gedigte vertaal deur Karel Schoeman (1970); Helde van die rooi tak (1973); Gode, helde en konings, middeleeuse verhale (1975), en Finn en sy mense, die avonture van die fianna van Ierland (1976, almal uitgegee deur Human & Rousseau, Kaapstad).

  • 23

Kommentaar

  • Avatar
    Herman Meulemans

    Het essay van Johann Rossouw over Ria Winters’ "Reise met Schoeman" grijpt mij naar de keel.
    Het essay, dat ik heb gelezen, is adembenemend mooi. Het toont aan hoe fijnzinnig en erudiet Karel Schoeman is. De man die graag flaneerde in Amsterdam en Wenen en zich op het einde van zijn leven niet meer thuis voelde in Zuid-Afrika.
    Winters’ boek, dat ik niet heb gelezen, moet ook adembenemend mooi zijn, omdat het in het levenspad van Schoeman het levenspad van Odysseus herkent, de eeuwige reiziger of migrant die nergens thuis is en altijd onderweg.
    Het is alsof het essay van Rossouw me de kleuren in het werk van Karel Schoeman beter doet zien.

  • Johann, kyk iemand na Schoeman se geskiedskrywing / historiografie? Miskien 'n aankomende proefskrif?

    Nog 'n vraag: Het hy dalk vir 'n tyd in Cradock gewoon?

  • Avatar
    Johann H Claassen

    Karel is dood. Lank lewe Karel! Uitstekende resensie wat mens lus maak vir die boek.

  • Avatar
    Martha Pretorius

    Pragtig Johann Rossouw! Dankie vir die roerende en emosionele huldeblyk, dis duidelik 'n moetlees boek.

  • Avatar
    Johann Rossouw

    Louwrens, is nie self bewus van of iemand na Schoeman se geskiedskrywing kyk nie. Nee, ek het nog nooit in Cradock gewoon nie. Groete.

  • Ek is nog besig met Ria Winters se boek, is 'n groot bewonderaar van Schoeman en lees Rossouw se skrywes in dagblaaie Beeld en Burger.
    Die artikel ontlok 'n kolk van emosies in my en ek waardeer dat ek kan deel in u kennis en vermoens. Baie dankie.

  • Die resensie van Johann Rossouw is omvattend en vang die misterie van Karel Schoeman en dit wat hy rondom homself geskep het, deur onder andere ook met ’n Nederlandse skrywer en historikus vir meer as drie jaar te korrespondeer, sonder dat hulle mekaar ontmoet het, op aangrypende wyse vas. Vir my was hierdie boek een van die meer vervullende leeservarings vir ’n lang tyd gewees. Winters slaag daarin om saam met Schoeman die pad op verskillende reise te stap en dit dan te koppel aan wat hy in sy boeke oor sy ervarings vasvang. Sy doen dit op so ’n wyse dat mens jouself daarin inleef. Dit wat Winters uitstekend in slaag is om haarself, en die leser, op konkrete wyse in te laat, en bloot te stel, aan hoe Schoeman sy reise en verblyf in verskillende omgewings en stede beleef het. Vir enige liefhebber van Karel Schoeman maak hierdie boek die deur so op ’n skrefie oop op wie Schoeman as skrywer en as mens was.
    As kind, waarvan beide my ouers Nederlanders was, wat in 1948 na Suid-Afrika geëmigreer het is daar ook koppelvlakke met beide Schoeman en die skrywer. Daar is Schoeman wie se moeder, wat ’n Nederlander was, en met hom Nederlandse gepraat, ervarings wat ek as kind ook gehad het. Ek het ook soos Schoeman in die Vrystaat groot geword, iets wat mens ook telkens in baie van sy boeke kon eien en waardeer. Dan woon die skrywer, Winters, nogal in Amersfoort waar my eie Ouma gewoon het! Winters het deur net baie Afrikaans te lees die taal bykans ten volle onder die knie gekry soveel so dat sy die boek in Afrikaans geskryf het! Daar was egter heelwat hulp met redigering om haar “Nederlandse” Afrikaans in korrekte Afrikaans te kry, nogtans wil dit gedoen wees.
    ’n Uitstaande boek, en soos Rossouw aandui, kan dit, of moet dit, slegs gesien word as die begin van ’n meer omvattende “lewensreis” oor die lewe van Karel Schoeman.

  • Johann, dankie ... en eintlik was die vraag of Karel Schoeman vir 'n tyd op Cradock gewoon het. Ek sal die agtergrond vir die vraag via persoonlike e-pos verduidelik.

  • Baie dankie vir ’n wonderlike bespreking van Karel Schoeman as persoon en skrywer en die insiggewende resensie van Ria Winters se boek. Ek was nog altyd ’n groot liefhebber van Schoeman se werk (AL sy werk) en waardeer hierdie artikel ten seerste.

  • Avatar
    Clinton V du Plessis

    Louwrens

    Jammer as ek sommer hier (namens Johann) antwoord. Ja, Karel Schoeman het vir 'n rukkie op Cradock gewoon, huis gekoop, weer verkoop, in die plaaslike koerant 'n paar ontwikkelaars aan die strot gegryp in 'n lesersbrief.

  • Dankie Clinton. Interessant. So, my geheue van 'n familielid se vertelling is nie so vrot soos ek gevrees het nie. Het jy kopie van daardie brief?

  • Avatar
    Clinton V du Plessis

    Louwrens, ongelukkig nie, maar ek is seker as ek die koerant nader sal dit in hul argiewe te vinde wees, ek moet ’n poging aanwend.

  • Avatar
    Carel Boshoff

    Uitstekende behandeling, meer as 'n resensie, danksy die mate waartoe jou eie lewe ook met die verhaal vervleg is. Ek sien uit na Winters se boek. Dankie Johann!

  • Met die lees van hierdie artikel het ek toenemend hoendervel gekry. Uitstekend! Ek herleef my ontmoetings met Schoeman, ons korrespondensie en al sy boeke wat ek kon lees.

  • Avatar
    Gerald Groenewald

    Na aanleiding van Louwrens se vraag (2020-07-23): daar bestaan 'n paar artikels oor Schoeman se historiografie, maar is almal maar m.i. taamlik oppervlakkig en 'eng'. Daar bestaan bitter min SA historici wat al sy historiese werke gelees het, om maar te swyg oor sy hele oeuvre.

    Karel Schoeman het in die laat tagtigerjare 'n huis in Cradock besit (terloopse verwysings daarna is in "Die Laaste Afrikaanse Boek") maar het slegs met vakansies en so daar vertoef want hy was steeds indertyd in Kaapstad gesetel. Dit was in die tyd toe hy navorsing oor Olive Schreiner gedoen het.

  • Avatar
    Gerald Groenewald

    Inderdaad. Ook Giliomee se hoofstuk in "Sluiswagter by die Dam van Stemme" en Gerrit Schutte, "African Historical Review" 44/2 (2012); laasgenoemde is seker die beste van die lot.

  • Avatar
    Gerald Groenewald

    O ja, jy mag dalk ook Dan Sleigh se kommentaar op Schoeman se historiese vaardighede in "Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans" 24/2 (2017) interessant vind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top