Sluitstuk
Johann Rossouw
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781415210031
Sluitstuk van Johann Rossouw is ’n boeiende teks om ’n verskeidenheid van redes. Dit is ’n teks wat herlees moet word om al die fyn skakeringe van die besinning wat daarin vervat is, en die nuanses van die emosionele belewenis wat beskryf word, met al die diepsinnige implikasies daarvan na waarde te kan skat.
’n Nederlandse navorser, Irene Reynders, wil ’n biografie skryf oor die grootste Afrikaanse skrywer, Rudolf Eksteen. Deur bemiddeling van Maria du Toit, op wie se plaas Eksteen sy laaste dae deurgebring het, nader Reynders die akademikus en Zen-priester Markus Lourens om ’n onderhoud met hom te voer oor die ontslape Eksteen. Sy is bewus daarvan dat Eksteen en Lourens vriende was en neem aan dat Lourens Eksteen goed geken het. Hierdie onderhoud ontwikkel in ’n gesprek wat deurnag duur en wat in die boek aaneenlopend sonder hoofstukindelings of enige ander onderbrekings weergegee word.
Die teks word van die begin af gekenmerk deur ’n sterk aanvoeling vir atmosfeer. Die donker buiteblad met ’n mansfiguur wat met sy rug na die kamera staan en deur ’n venster na buite kyk, skep dadelik ’n stemming van besinning en nadenke. Die motto voorin die boek is ’n aanhaling uit ’n essay van Michel Montaigne (15331592), een van die invloedrykste skrywers en filosowe van die Franse Renaissance. Nie net was Montaigne ’n beroemde essayis nie, maar hy word ook beskou as die vader van die skeptisisme. Die motto word in Frans gegee en beteken “Omdat dit hy was, omdat dit ek was” en die volle sin waaruit dit geneem is, lui: “As ek gedwing word om te sê waarom ek hom liefgehad het, voel ek dit kan slegs verduidelik word deur te antwoord: ‘Omdat dit hy was, omdat dit ek was.’”
Die eerste paragraaf in die teks bevestig dan dat dit gaan om ’n komplekse verhouding tussen die twee mans, Rudolf Eksteen, ’n groot en ervare skrywer, en Markus Lourens, ’n jong en ambisieuse aspirantskrywer vir wie die vriendskap met Eksteen lewensveranderend is. Die roman begin waar Eksteen reeds oorlede is. Markus maak reeds aan die begin van die verhaal melding van sy pyn en woede teenoor Eksteen, maar hy gee ook toe dat hy insig verwerf het en berusting gekry het oor wat tussen hulle gebeur het. Hy is steeds baie dankbaar oor wat hy van Eksteen geleer het en daar word deurgaans na hierdie aspek van die verhouding verwys. Hy verklaar dat wat verby is, afgesluit en afgehandel is, ook in sy gemoed, maar soos die verhaal ontwikkel, besef die leser dat hierdie berusting telkens opnuut weer verwerf moet word. Regdeur die teks word daar telkens melding gemaak van ’n “sluitstuk” wat die afhandeling van die ervaring vir Markus simboliseer en dit moet bevestig, en die sluitstuk word ’n soort leitmotiv wat die voortgang van die verhaal help dra.
Die atmosfeer waarin die gesprek gevoer word, sluit aan by die buiteblad en die motto. Dit gaan nie om klinkklare feite en vaste oortuigings nie, maar om ’n soeke na die betekenis van wat gebeur het, sowel vir Markus Lourens as vir Irene Reynders. Eksteen het ook indirek ’n bepalende invloed op Reynders se kinderlewe gehad en dit is die aanleiding tot die biografie wat sy wil skryf. In die verloop van die gesprek word besin en bespiegel oor en gesoek na verklarings en leidrade uit die verlede en die goeie en die problematiese word langs mekaar geplaas en gejukstaponeer. In die proses vertel beide gespreksgenote van belangrike momente uit hulle lewens sodat die gesprek eintlik ’n saamtrekpunt word van verskillende verhaallyne wat ’n wyer geskiedenis verteenwoordig.
Dit is ’n relatief formele gesprek waarin Markus Lourens hoofsaaklik aan die woord is. Die gesprek is by tye semi-filosofies, selfs voluit filosofies, met ’n akademiese aanslag in die uitvoerige besinnings in die antwoorde wat Lourens verskaf. Daar is ook ’n byna rituele aard aan die interaksie tussen die twee gespreksgenote. Alles verloop stemmig en formeel al spreek hulle mekaar later op die voornaam aan. Hierdie rituele inslag (selfs sigbaar in die manier waarop Lourens die proses van koffiemaak beskryf), asook die akademiese aanslag is oortuigend omdat Markus Lourens wat deurgaans die fokalisator is en uit wie se perspektief die gebeure en vertelling dus gegee word, ’n akademikus is. Hy is ook iemand wat “indagtig” lewe, wat ’n Zen-priester is en die Zen-leefwyse volg in alles wat hy doen. Soos wat hy inderdaad aanvanklik by Eksteen geleer het om te doen.
In die gesprek word die ontmoeting en verloop van die vriendskap tussen Lourens en Eksteen beskryf, maar dit is veel meer as ’n beskrywing. Lourens herroep alles in fyn detail en besin daaroor, hy probeer die verlede verstaan en verklaar vir die Nederlandse voornemende biograaf, maar ook vir homself. Dit is asof hy hierdie stuk lewensgeskiedenis al meer as een keer as afgehandel beskou het, maar nogtans telkens weer vind dat dit steeds nie afgehandel is nie. Dit is vir hom noodsaaklik om elke detail van die verloop van sy interaksies met Eksteen sistematies en noukeurig aan te stip, om elke situasie opnuut te weeg en te beoordeel. Hierdie soort terugskouende analise is nie net inhoudelik nie, maar ook inderdaad op sigself ’n verwerkingsmeganisme om naamlik die verloop van gebeure noukeurig na te gaan, te beskryf en van alle hoeke te beskou; om die kernaspekte te kan raakvat, dit te analiseer, om dit te kan verklaar en verstaan. ’n Mens vind dieselfde werkwyse dikwels by skrywers, veral by digters, onder meer by Joan Hambidge wat terugskouende analise as ’n verwerkingstrategie gebruik om die verlies van haar moeder en haar mentor te ontleed om dit te kan verwerk (vgl die gedigte in die bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels (2021)).
........
Die verhouding tussen die twee mans in Sluitstuk is dié van mentor en leerling, van ’n ervare leermeester en meesterskrywer aan die een kant en die entoesiastiese, selfs ietwat naïewe aspirantskrywer aan die ander kant.
........
Die verhouding tussen die twee mans in Sluitstuk is dié van mentor en leerling, van ’n ervare leermeester en meesterskrywer aan die een kant en die entoesiastiese, selfs ietwat naïewe aspirantskrywer aan die ander kant. Daar is ook ’n subtiele magspel in die vriendskap as die ouer skrywer herhaaldelik na die jongman se onervarenheid, sogenaamd te wyte aan sy Calvinistiese Afrikaanse herkoms, verwys. Hy is dus gesteld daarop om sy beeld as wêreldwyse en misterieuse man te bou en te bevestig. Hy ontsenu die jongman, maar die jonger skrywer is so beïndruk deur die meester dat hy elke woord indrink en die waarde daarvan inderdaad vir die res van sy lewe met hom meeneem. Die ouer skrywer trek nader en stoot weg en die jong skrywer laat hom manipuleer omdat sy bewondering vir die ouer man so groot en diep is. As daar egter deur die ouer man ’n grens oorskry word, is die vriendskap metterdaad op ’n einde. Maar al is die breuk finaal, duur die invloed van die ouer skrywer op die voornemende skrywer voort.
Hierdie teks kan beskryf word as “faksie” of “New Journalism” waarin feit en fiksie vermeng word. In sulke tekste word die werklikheid meer of minder aangepas, uitgebrei of verwring en dit word selfs beskryf as transformerende transkripsies van feite of literêre eksperimente wat die wêrelde van feit en fiksie vervleg, jukstaponeer of selfs teen mekaar afspeel. Die herkenbaarheid van sommige elemente verleen aan so ’n teks geloofwaardigheid en geldigheid, terwyl die fiksionaliserende aspek vir die skrywer die geleentheid skep om te improviseer en verbeeldingryke toevoegings te maak sodat bykomende betekenis gegenereer kan word (vgl die lemma “New Journalism” in Literêre terme en teorieë).
Selfs al sou die ingeligde leser van Afrikaans weet dat die werklike outeur Johann Rossouw en die bekende skrywer Karel Schoeman ’n kort maar intense mentor-leerling-vriendskap gehad het, sluit die roman ook af met ’n “In memoriam” van Karel Schoeman wat as ’n betekenisvolle aanduiding van die figure in die teks beskou kan word. Sluitstuk herinner ’n mens ook aan die genre van die sleutelroman waarin werklike persone en gebeure die basis vorm van die verhaal in ’n teks, maar waarin daar van ander name en veranderde omstandighede gebruik gemaak word as ’n verdoeselingstegniek. Iets van die werklikheid bly egter behoue en herkenbaar vir die ingeligde leser, te meer nog as die teks self ’n aanduiding daarvan gee soos hier die geval is (vgl die lemma “sleutelroman” in Literêre terme en teorieë).
........
Waar die grens tussen waarheid en fiksionalisering lê, weet net die skrywer self. Enersyds maak dit die leeservaring boeiend want die leser lees naspeurend en nadenkend, vasgevang in ’n eie bespiegeling oor watter bespiegelinge van die verteller op feite berus en wat oëverblindery is. Dit lei tot ’n spannende leesproses.
........
Hierdie aspek van Sluitstuk kan moontlik vir die ingeligde leser ’n dubbelsinnigheid skep in elke sin wat hy lees, want presies waar die grens tussen waarheid en fiksionalisering lê, weet net die skrywer self. Enersyds maak dit die leeservaring boeiend want die leser lees naspeurend en nadenkend, vasgevang in ’n eie bespiegeling oor watter bespiegelinge van die verteller op feite berus en wat oëverblindery is. Dit lei tot ’n spannende leesproses.
Die suggestie van ’n feitelike agtergrond word verder versterk as die boek Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer deur Ria Winters betrek word. In die inleidende gedeelte van ’n lang essayistiese resensie van Winters se boek skryf Rossouw eers oor Schoeman self. Hoe hy en sy seun op Schoeman se 74ste verjaarsdag vir hom ’n pakkie by sy hek gelaat het. Verder vertel hy hoe ’n skeidingsoomblik dit vir hom was toe hy die berig van Schoeman se afsterwe gekry het. Hy vertel hoeveel hy by Schoeman geleer het en hoe hy as voltooiing van die siklus van sy geestelike en intellektuele verhouding met Schoeman weer ses van Schoeman se romans herlees het en ’n lesingsreeks daaroor aangebied het (Rossouw 2020).
Rossouw beskryf hoe hy ingestem het om met Winters ’n gesprek te voer oor Schoeman. So kom hy te wete dat daar ná ’n aanvanklike gewoon historiese navraag ’n korrespondensie tussen Reynders en Schoeman ontwikkel het. Winters het eers ná die aanvanklike kontak besef dat Schoeman ’n bekende en beroemde skrywer is. Deur die korrespondensie help hy haar egter om perspektief op haar eie kreatiewe denke te verkry en die insigte en wysheid wat hy met haar deel, word vir haar, net soos vir die jong karakter in Sluitstuk, lewensveranderend. Dit gaan hier weer eens om ’n soort leermeester/mentor-en-leerling-verhouding. Winters sien haarself as ’n soort geesgenoot-in-opleiding. Die korrespondensie word abrupt van Schoeman se kant afgebreek en dan kry sy berig van sy dood. Sy voel ontredderd, “alleen agtergelaat” en selfs ’n bietjie veronreg. Schoeman verwys in ’n laaste essay na ’n korrespondensie met iemand in Nederland, maar noem nie Winters se naam nie.
Vir Winters was die verhouding met Schoeman ’n betrokke mentorskap teenoor ’n vakleerling of ’n geesgenoot-in-opleiding, maar dis onduidelik wat dit vir Schoeman was, ’n intellektuele oefening of anonieme afstandelike tydverdryf? Of net iets wat nie meer ter sake was in die afloop van sy eie lewensdrang nie? Hieruit ontstaan Winters se behoefte om meer te wete te kom van Schoeman en die wêrelde waarin hy geleef het. Sy wil probeer om hom as persoon beter te verstaan en veral om insig te kry in die rede vir sy unieke selfdood. Die resultaat van haar navorsing is die boek Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer.
Dit is bekend dat die werklike mens Schoeman ’n ontwykende figuur was. Selfs in sy outobiografie Die laaste Afrikaanse boek beskryf Schoeman slegs oënskynlik sy eie lewe, terwyl hy dit inderwaarheid verskuil. Dit is asof die werklike mens ongrypbaar bly en half buite die outobiografie bestaan, soos wat die seuntjie op die voorblad se voetjies buite die beeld is. Hierdie klein detail is betekenisvol omdat Schoeman klaarblyklik in die werklike lewe baie gesteld was op voete, maar op die voorblad van sy eie outobiografie sy voete laat afsny.
Die spel tussen feit en fiksie in Sluitstuk word dus met meer agtergrondkennis meer kompleks. Winters kom soek na inligting oor Schoeman en praat met Rossouw, waarna sy ’n boek oor Schoeman skryf. Reynders wil ’n biografie oor Eksteen skryf omdat hy ook in haar kinderlewe ’n lewensveranderende omwenteling, maar dan wel in ’n uiters negatiewe sin, veroorsaak het, en daarom kom voer sy ’n gesprek met Lourens. Met al hierdie bronne in gedagte raak die leser van Sluitstuk al dieper ingetrek. Is Rossouw se roman die weergawe van sy eie soeke na die ware Schoeman via die figure van Lourens en Eksteen? Is die boek op ’n manier ’n antwoord of teëpool of ’n gesprek met Winters se soeke en haar boek?
........
Uiteindelik is dit inderdaad die geval dat elemente en gebeure wat in die werklikheid naspeurbaar is – ’n enigmatiese figuur wat nogtans ’n groot invloed op mense kan hê, ’n verbreekte mentorskap, ’n onderhoud met iemand wat ’n groot skrywer geken het, die verloop van ’n verhouding met ’n groot skrywer en sy vreemde dood en die behoefte om boeke te skryf – ook voorkom in die basiese verhaallyn in Sluitstuk.
........
Uiteindelik is dit inderdaad die geval dat elemente en gebeure wat in die werklikheid naspeurbaar is – ’n enigmatiese figuur wat nogtans ’n groot invloed op mense kan hê, ’n verbreekte mentorskap, ’n onderhoud met iemand wat ’n groot skrywer geken het, die verloop van ’n verhouding met ’n groot skrywer en sy vreemde dood en die behoefte om boeke te skryf – ook voorkom in die basiese verhaallyn in Sluitstuk. Dit sou egter myns insiens gevaarlik en reduserend wees om sover te gaan as om te dink dat die ouer skrywer Eksteen bloot ’n figurant is vir Schoeman wat berekend die jong skrywer Markus Lourens as ’n figurant vir Johann Rossouw manipuleer as hy hom afwisselend prys en op sy plek sit, as hy met hom praat as ’n gelykwaardige soeker na waarheid of hom subtiel aan sy onervarenheid en jeugdige naïwiteit herinner.
Wat die leser voor hom of haar het, is ’n selfstandige teks wat as sodanig gelees kan word. Dit sou selfs in die eerste plek so gelees móés word om die uniekheid van hierdie teks as sodanig nie mis te kyk nie. In Sluitstuk word ’n enigmatiese spel uitgebeeld. Enersyds hou die ouer man die jonger een paternalisties op sy plek en andersyds bou hy die vriendskap deur van sy kant af afsprake te maak. Rudolf Eksteen raak by geleentheid van ’n ete diep ontroer, iets wat Markus Lourens mateloos aangryp en die band tussen hulle versterk. In die lig van die afloop van daardie dag soos dit in die teks beskryf word en wat ’n kernmoment in die verhaal is, kan Eksteen se optrede en vertoon van emosie geïnterpreteer word as berekend. Dit word ook duidelik dat in die optrede van die ouer man daar telkens ’n gespletenheid merkbaar is, ’n neiging om ander mense aan te trek, hulle te onderrig en van diepsinnige raad te bedien, en hulle dan ook weer af te stoot. Daar is in Eksteen gelyktydig ’n kilheid en bewustelike vervreemding, sowel as ’n uitreik na ander. Markus wil byvoorbeeld jare ná die breuk met sy mentorfiguur hulle kontak herstel, maar dan maak Rudolf Eksteen asof hy hom glad nie ken nie.
Dit sou ’n verlies wees as die lesers van Sluitstuk verdwaal in die naspeur van werklike en fiksionele aspekte van die roman. Al sou Schoeman as werklike persoon ’n skaduwee op die agtergrond in die leesproses van Sluitstuk wees en al sou ’n mens ’n vermoede kon hê dat Rossouw se selfondersoekende karakter iets van sy eie soeke weerspieël, is die karakter Markus in die roman oortuigend binne die romanwêreld. Die roman as roman moet slaag daarin dat die uitbeelding van sy karakters en gebeure die leser meevoer en oortuig. En dit gebeur hier wel. Daar is moontlik agterliggende feite, maar vir die leser gaan dit immers om die onmiddellikheid van die getransformeerde verhaalgegewe wat hy of sy lees.
.........
Die verhaal gaan ten diepste oor ’n karakter wat ’n uiters gekompliseerde verhouding vanuit ’n agternaperspektief analiseer en na waarde probeer skat. Die skrywer, die vroeëre aspirantskrywer wat nou inderdaad ’n skrywer is, vertel ’n verhaal oor die fyn spel van mag, die nuanses in emosie en die skakeringe in betekenis wat na vore kom as ’n blik vanuit die hede op die verlede gerig word.
........
Die verhaal gaan ten diepste oor ’n karakter wat ’n uiters gekompliseerde verhouding vanuit ’n agternaperspektief analiseer en na waarde probeer skat. Die skrywer, die vroeëre aspirantskrywer wat nou inderdaad ’n skrywer is, vertel ’n verhaal oor die fyn spel van mag, die nuanses in emosie en die skakeringe in betekenis wat na vore kom as ’n blik vanuit die hede op die verlede gerig word. Vir hom was daar in die verhouding met die ouer skrywer groot verryking en verdieping al was daar ook later woede en pyn. Die jonger man moes hom van die ouer man onttrek, maar hy behou sy bewondering vir die man as ’n groot skrywer, ’n werklike uitsonderlike kunstenaar. In die roman word die ongemaklike insigte in die karakter van die ouer man fyn deurweef met die blywende bewondering vir sy werk en sy onontkenbare genialiteit.
Die hoogtepunt van die komplekse verhouding tussen Lourens en Eksteen kom aan die einde van die roman wanneer Eksteen die jonger man vra om hom te kom besoek terwyl hy baie siek is. Hy rig ’n versoek aan Markus wat soos dit dan blyk ’n bykans ondraaglike etiese las op hom lê, maar hy skryf ook ’n versoenende en waarderende brief aan Lourens en stuur aan hom ’n geskenk as sluitstuk. Weer eens is dit terselfdertyd handelinge van uitreik en vervreemding. Die roman het hiermee ’n treffende en skokkende slot wat die leser bybly en laat nadink. Op ’n manier sou hierdie insident ’n sterker slot kon uitmaak as die geskenk van die skildery wat later genoem word. Maar wat die leser uiteindelik moet en kan interpreteer, is dit wat hier in die teks voor hom of haar staan.
As ’n mens die roman sou reduseer tot ’n spel met feite en die leeservaring daartoe beperk, sou jy die roman ontneem van sy vermoë om as ’n kunswerk op sigself te betower en te boei, om potensiële of werklike gebeure te transformeer tot ’n verrykende leeservaring. Kennis van die werklikheid behoort nie afbreuk te doen aan die fiksionele romanwêreld en veral aan die teks as kreatiewe teks as sodanig nie. In die roman word die drade heg vasgehou, die teks boei en voer mee, die voortstuwende tempo is verhaalmatig sterk en werk op na ’n klimaktiese slot. Die interpretasie van so ’n werk is uitdagend en inderdaad ’n proses wat Rossouw in die titel van sy essay oor Ria Winters se boek beskryf as ’n “[s]piraal in spiraal”. En dit is dan letterkunde en nie geskiedskrywing nie.
Bronnelys
Hambidge, Joan. 2021a. Konfessies, kaarte en konterfeitsels. Pretoria: Imprimatvr.
Literêre terme en teorieë. www.literaryterminology.com
Rossouw, Johann. 2020. Spiraal in spiraal – Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer, ’n LitNet Akademies-resensie-essay. https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-reise-met-schoeman-in-die-voetspore-van-die-skrywer-deur-ria-winters/
Lees ook:
Verdeelde stand / Divided stance deur Celesté Fritze: ’n resensie
’n Onderhoud met Heilna du Plooy oor haar jongste digbundel, Getye van tyd
Kommentaar
Baie geluk aan Johann Rossouw met hierdie uitsonderlike stuk werk!
En baie dankie aan die resensent vir die deeglike en uiters bekwame resensie.