’n Onderhoud met Heilna du Plooy oor haar jongste digbundel, Getye van tyd

  • 2

Heilna du Plooy, voormalige hoogleraar in Afikaanse letterkunde aan die NWU, se jongste digbundel getiteld Getye van tyd word deur Imprimatvr Uitgewers uitgegee.

Getye van tyd word só op die agterblad beskryf: “Heilna du Plooy se vierde digbundel word onderlê deur ’n sterk bewuswees van die weerloosheid van die waardevolle. Voortgang en verandering, behoud en verlies neem telkens konkrete gestalte aan teen die agtergrond van die getye van die see, die jaargetye en die getye in die menslike lewe. Soos beelde op doek word die digterlike woord aangewend om te besin, te verklaar en te behou. Deurleefde ervarings neem in dié verse skerp maar dikwels ook bewoë gestalte aan. Die immer bewegende see, onsigbare winde en ontwykende seemeeu word metafore van alles wat verander en wat duur. Die bundel sluit af met ’n aantal vertalings van gedigte uit ander letterkundes waarin groot historiese veranderinge en klein menslike lotgevalle neerslag gevind het.”

Ek het die voorreg gehad om met Heilna ’n onderhoud te voer oor Getye van tyd.

Heilna, jy en jou man, Dries du Plooy, woon in Jeffreysbaai in ’n huis met ’n onbelemmerde 180% see-uitsig. Die see se oorweldigende aanwesigheid (“II Golf”, 29) figureer dus baie sterk in jou digbundel. Die eerste strofe van jou gedig getiteld “Verblyf” (na NP van Wyk Louw) lui: Ons het weggegaan en ons bewoon / ’n windvervulde huis reg langs die see / ons vensters kyk nou elke dag / met wye oë na oop einders (12). Jou openingsgedig “Seetaal” lui: daar moet oerwoorde wees / om oor die see te praat / woorde wat van baie ver af droom / soos lang riviere wat oor kontinente stroom (11). Waarom fassineer die see jou juis so dat jy nie net langs dit woon nie, maar boonop daaroor moes dig?

Ons het vir meer as 30 jaar lank elke jaar in Jeffreysbaai kom vakansie hou. Die see was vir my altyd mooi en natuurlik ook boeiend. Maar om langs die see te woon, maak van die see ’n volgehoue aanwesigheid. Dit laat jou oor die see as verskynsel, as ’n werklikheid, dink eerder as om dit net as iets moois of lekkers te sien. Die see is inderdaad mooi maar ’n duisend ander attribute kan ook daaraan toegedig word, soos veranderlikheid, kleur, tekstuur en atmosfeer. Vir my gaan dit nie net oor hoe die see lyk nie, maar wat die see kan beteken. Die see is vir my ’n metafoor van die elementale omdat die see en water, soos wind, van die mees basiese dinge is waarvan mens weet. Die plek waar ons woon, het vir my die geleentheid gebied om bestek te neem, meer nog omdat kort nadat ons hierheen getrek het, die Covid-pandemie uitgebreek het en ons tydens die inperking huisgebonde was met baie tyd om te dink. Buitendien leef ons in ’n tyd en ’n land wat mens dikwels bekommerd maak, en daarom is die verhouding tussen veranderlikheid en stabiliteit iets wat my boei. In hierdie gemoedstemming is die see in sy absolute veranderlikheid vir my ’n metafoor van duur en ironies genoeg van stabiliteit.

Jy en Dries is albei afgetree ná suksesvolle en uitdagende beroepe. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer begin jy sekerlik oor jou eie sterflikheid peins. Jy dig op bladsy 33: As mens jou voorstel / dat met jou sterwe / jou enkele lewe / jou een liggaam, oplos / in die wemeling / van lig op water, / dan word die dood vir jou / ’n sterbelaaide ver verskiet. Dis vir my so treffend. Watter verwagting of troos bring die see vir jou by die gedagte aan jóú sterflikheid?

Iets wat vir my verruklik is, is die weerkaatsings van lig op water. As mens lank genoeg daarna kyk, voel dit asof jy deel daarvan kan word. Dit is die visuele beeld, maar ’n mens leef vir ’n baie kort tyd in vergelyking met die “leeftyd” van die aarde self en dus ook van die see. En die verskynsel van lig op die water sal voortgaan lank nadat almal van ons wat nou hier is, weg is. Hierdie gedig is nie noodwendig ’n diepsinnige besinning oor lewe en dood nie, maar eerder die weergawe van ’n momentele ervaring.

Op die agterblad staan: “Heilna du Plooy se vierde digbundel word onderlê deur ’n sterk bewuswees van die weerloosheid van die weerlose.” Dis asof jy die heeltyd dieper kyk as die oppervlak en na die geheime daaragter soek. In “Aanleiding” dig jy: om ’n eb en vloed / onder en agter / die alledaagse / te vermoed (14) en in “Die man met die Harris Tweed-baadjie” (26): [] Afkerig van enige lofgesang / gee hy toe hy bly skryf “om ’n vonk / van die ewigheid vas te vang”. Waarom is dit vir jou belangrik om hierdie ondefinieerbare “iets”, hierdie wete wat oop en bloot dog vir die meeste verskuil is, in woord of beeld te probeer vasvang?

Dit is seker so dat ek een van daardie mense is wat aanvoel dat daar meer op die aarde en tussen mense is as wat die blote oog op die oppervlak waarneem. Dis nie altyd gemaklik nie, bygesê, want die pragmatiese ouens vind sulke mense nogal hinderlik as hulle iets sommerso vinnig wil afhandel. Maar aan die ander kant is dit wat die lewe vir my fassinerend maak. Die skakerings en nuanses is tog interessanter as reguit lyne en groot vlakke soliede kleur. As jy die kompleksiteite en variasies en suggesties eers begin raaksien, kan jy dit nooit weer miskyk nie.

.....
As mens ook wil skilder, is die eerste ding wat jy moet doen om te leer kyk, werklik kyk en raaksien. Ek dink dit geld vir die poësie ook – almal sien die wêreld, maar dit is die een wat ’n alternatiewe aspek raaksien, wat in menseverhoudinge die ongewone of onverwagte opmerk en wat dan natuurlik aan die waarneming gestalte wil gee, wat aan die skryf raak.
.....

As mens ook wil skilder, is die eerste ding wat jy moet doen om te leer kyk, werklik kyk en raaksien. Ek dink dit geld vir die poësie ook – almal sien die wêreld, maar dit is die een wat ’n alternatiewe aspek raaksien, wat in menseverhoudinge die ongewone of onverwagte opmerk en wat dan natuurlik aan die waarneming gestalte wil gee, wat aan die skryf raak. Of aan die skilder gaan, nie om ’n fotografiese beeld te kan weergee nie, maar om juis daardie unieke skakering van kleur of lyn vas te vang. 

Jy skryf en dig nie net nie; jy skilder ook. Hierdie woord- én visueel-ingesteldheid bring ’n veelvlakkige, intuïtiewe dimensie na jou digkuns. As voorbeeld in “Verblyf”: deurskynend, alles onder hierdie son / al ons liefdes en lestels ligter en yler / in safier en toermalyn / akwamaryn en mosagaat; / die vlekke en strepe bollende skuim / soos moeite, verdriet wit uitgemeet / met die swart en blou skaduwee / van elke naggrou stormsee. Wat kom vir jou eerste wanneer jy geïnspireer voel om te dig, die beeld of die woord, en hoekom?

Ek is nie seker nie. Ek dink ek is wel vaardiger met die pen as met die kwas. En dit het al gebeur dat as ek iets nie tot my bevrediging geskilder kry nie, ek wat ek sien in woorde probeer vasvang. Maar goeie waarneming is vir skryf en skilder albei belangrik en nodig. ’n Mens is nooit verveeld as jy geleer het om goed te kyk nie. Daar is altyd om jou lyne en vorms en vlakke en kurwes en lig en skadu waarna jy kan kyk en wat jy kan bedink as jy lank moet wag op ’n plek. Dan word die wag kort. Dat skilder en skryf mekaar egter aanvul en stimuleer, is ook waar. Daar is ook tegniese aspekte waarin die twee mediums mekaar eggo: Jy moet in albei leer selekteer, jy moet ’n fokus vind en jy moet leer om die verhoudinge tussen elemente te benut wanneer jy verskillende sake kombineer. Want ten slotte gaan dit om die pogings om die werklikheid te transformeer tot ’n formaat wat dalk langer as ’n oomblik kan voortduur.

Getye van tyd deur Heilna du Plooy. Beskikbaar: Impimatvr Uitgewers

Sekerlik die mees aangrypende reël in jou bundel (vir my) is te vind in die gedig “Die gesig van skuld” (54) en bestaan uit twee vrae: Hoe on-weet ’n mens iets? Hoe laat jy ’n wete verdwyn? Wat, dink jy, is die antwoorde op hierdie oerkwelvrae wat vele gefolterde siele hulself al moes afvra?

Dit is omdat daar juis nie antwoorde op die vrae is nie dat dit gevra moet word. Die poësie vra meer dikwels as wat dit antwoorde gee. Daar is in die meeste gedigte (van alle digters) ’n onbeantwoorde vraag verskuil. Ek het nou ’n bietjie navorsing gedoen oor die verwerking van trauma in die poësie vir ’n artikel en hierdie onderliggende vraagstelling is die hele tyd daar. Wat ek uit hierdie gedigte van ander digters agtergekom het, is dat wat onbeantwoordbaar is – daardie trauma waarvoor daar kwalik woorde te vinde is – iets is waarmee hulle leer saamleef. Die skryf, hetsy van poësie of prosa, bied ’n soort verligting (letterlik ’n proses van ligter word), maar die wete dat smart hanteer moet word as iets voortgaande, as iets wat deel van die lewe van daardie persoon word, vind ek oral. In ’n ander gedig in Getye van tyd noem ek dit “die kuns van die onvoltooide”, en dit geld ook vir hierdie gedig.  

Jeffreysbaai se wind is legendaries. Daar is dié wat selfs reken die wind word hier gebore. Ek is só bly dat jy dié asemrige natuurverskynsel se effek so treffend beskryf op bl. 65:

  1 Oranje see

Die wind se groot ateljee,
is die ooptes ver oor die see.
Daar stoot hy wolkbanke rond asof hy treine rangeer,
klits hy die water op tot deinings wat oopbreuk en skeur.
En dan spieël hy sy werk – ydeltuit – ewe verwaand
in die gewillige, ook maar ydele oseaan.

 

Wat beteken die wind vir jou persoonlik?

Oor die wind is veel te sê. In die eerste plek, op ’n heel praktiese vlak, moet jy in Jeffreysbaai met die wind vrede maak anders sal dit met jou sleg gaan hier. Aanvanklik het ek vir vriende in Potchefstroom gesê die wind is nie so erg nie, want die wind kan altyd net van een kant af waai en dan is die ander kant van die huis beskut. Maar met verloop van tyd het ek agtergekom dat die wind hier uit alle rigtings gelyktydig kan waai. Hoe weet ek nie, maar dit gebeur wel dat ek om die huis loop en dat by elke hoek die wind my opnuut tref.

Op ’n ernstiger noot, die wind is vir my belangrik. Dit word vir my ’n simbool van juis dít wat mens nie kan sien nie, maar wat ongelooflik sterk is. My bewustheid van die wind kom ook ’n lang pad – daar is in verskeie vorige bundels ook al gedigte oor die wind. Wind is bewegende lug, en lug is altyd om ons. Soos water die voorvereiste vir alle lewe is, is wind en lug die mees basiese aanwesigheid om ’n mens. Dis altyd daar en as sodanig kan dit ’n beeld word van ’n mistieke aanwesigheid ook, van daardie dinge wat ons nie verstaan nie, wat ons glo daar kan wees, maar wat ons nie kan sien nie.

Tydens Getye van tyd se bekendstelling op Jeffreysbaai het die digter-skrywer Carina Stander opgemerk dat daar ’n subtiele stilte, ’n kalmte in jou werk is. Wat my ook opgeval het, is jou as digter se oplettendheid, die waarneem as getuie wat eenkant staan maar steeds veral ruimtelik en sintuiglik teenwoordig en eerlik is. Dit wil vir my voorkom of jy in jou rol as toehoorder en aanskouer kies om die lig eerder as die donkerte te verwoord. Hoe sien jy jou rol as waarnemer en interpreteerder?

Dit is eintlik vir my ’n baie interressante vraag, en ek moes bietjie dink. Ek besef dat ek nogal dikwels in my lewe ’n toeskouer was. My man is ’n teoloog, en ons was vir 17 jaar lank in ’n gemeente voordat hy professor in Kerkreg geword het. In so ’n gemeente weet die dominee se vrou baie dinge waaroor sy nie praat nie. Sy moet leer om ’n goeie en nie-betrokke toeskouer te wees, ook ’n fyn waarnemer om situasies te peil, want as mense hulle swaarkry privaat wil hou, is dit hulle reg. En dit word ’n manier van lewe. Dit is waarskynlik een kant van die saak.

’n Ander aspek sou kon wees dat ek regtig nie daarvan hou om die hele tyd met myself besig te wees nie. ’n Mens relativeer jou eie belewenisse as jy na buite kyk. Jy sal mos verveeld raak met jouself.

.....
Jy moet jouself so totaal in iets in-dink, jouself daarin indompel om die regte woorde vir die spesifiekheid daarvan te vind. Dan maal jy dalk so lank oor ’n gedagte of ’n saak voordat dit ’n gedig word dat jy hopelik langs die pad van pretensie en voorafingesteldhede ontslae raak.
.....

Dan is dit sekerlik ook so dat skilder mens leer om rondom jouself te kyk. Daar is soveel wonderlike dinge om jou wat betekenisvol is of kan wees, en dit is interessanter as jou eie binnetoedinkery. Dit is ook so dat ek dink dat die poësie eerlikheid vereis. Jy moet jouself so totaal in iets in-dink, jouself daarin indompel om die regte woorde vir die spesifiekheid daarvan te vind. Dan maal jy dalk so lank oor ’n gedagte of ’n saak voordat dit ’n gedig word dat jy hopelik langs die pad van pretensie en voorafingesteldhede ontslae raak.

Wat ek ook besef, is dat ek skryf om juis uit die donkerte uit te kom. Daar word dikwels van prosaskrywers gesê dat hulle eintlik altyd dieselfde een boek oor en oor skryf omdat ’n bepaalde tematiek (problematiek?) hulle nie wil verlaat nie. Dalk geld dit vir ’n digter ook, dat sekere temas mens bly boei en sekere prosesse vir jou belangrik bly, dat daar dinge is wat jy moet besweer. My eerste bundel se titel was immers Die donker is nooit leeg nie, want selfs in Rembrandt se “Nagwag” is die donkerste plekke vol skakerings van dowwe lig wat betekenisvol en noodsaaklik is vir die skildery as geheel.

Heilna, baie dankie vir jou insiggewende antwoorde.

Getye van tyd is hier beskikbaar. (978-0-6397-4612-8)

 Lees ook:

Getye van tyd op Jeffreysbaai bekendgestel

Heilna du Plooy: Daardie lang reis

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top