Nostalgie

  • 0

Foto’s van horlosie en klavier: Pixabay

1.

In ’n wonderlike opstel oor musiek waarmee band twee van Oor simboliese ellende (2005) ingelei word, wys Bernard Stiegler op hoe ons verhouding met musiek die afgelope 300 jaar verander het.

Voor die koms van die fonogram en ander latere musiekopnametegnologieë:

– het mense slegs per uitsondering musiek gehoor, en dan feitlik altyd in ’n liturgiese konteks, byvoorbeeld in die kerk of by ’n koninklike seremonie

– kon van die opgevoede publiek verwag word dat hulle musieknote kon lees en een of ander musiekinstrument kon bespeel, wat hulle gehelp het om musiek met groter insig aan te hoor.

Na die koms van musikale-opname-tegnologieë het die toedrag van sake soos volg verander:

– Musiek word byna daagliks gehoor, feitlik nooit meer in ’n liturgiese konteks nie, en stilte is die uitsondering.

– Van die opgevoede publiek, wat veel groter geword het, kan verwag word om bekend te wees met ’n sekere repertorium van musiek, sowel klassiek as populêr, en kan die meeste mense wat aan musiek blootgestel is, nie note lees of ’n musiekinstrument bespeel nie.

Laasgenoemde feit beteken onder meer dat ofskoon die meeste mense musiek miskien vandag met minder insig luister, die bekendheid met ’n sekere repertorium en met die individuele assosiasies wat elkeen van ons met daardie musiek het, musiek ook integraal gemaak het tot ons prosesse van herinnering en onthou.

2.

Namate musiek veral vanaf die 1960’s op ’n ongekende skaal toenemend ’n kommersiële bedryf geword het, en soveel meer soorte musikante en musiekstyle blootstelling aan die luisterende publiek verkry het, het die musiek van die verlede, die musiek van mý verlede, ’n verdere dimensie tot ons prosesse van herinnering en onthou toegevoeg: Wanneer ek na die musiek uit mý verlede luister, word ek teruggevoer na daardie deel van my verlede toe ek die musiek die eerste maal gehoor het, of toe die musiek te midde van ’n spesifieke emosionele ervaring dit was waarna ek geluister het.

In my eie lewe kan ek vandag tussen drie kategorieë musiek onderskei: liturgiese musiek, ou musiek en nuwe musiek.

Liturgiese musiek is dit wat ek week na week en jaar na jaar in die Ortodokse Kerk hoor en sing – op Sondae, op feesdae, tydens Heilige Week. Omdat hierdie liturgiese musiek deel is van ’n lewende tradisie van 2 000 jaar, laat dit die gebeure wat in die tradisie gedenk word, voel asof dit pas gister gebeur het, sodat dit nie onherwinbare gebeure is waaroor ek nostalgies kan raak nie. Bowendien begelei die liturgiese musiek my deur daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse siklusse, spirale wat my keer op keer die tydlose gebeure laat herleef, bykans asof ek ’n eerstehandse getuie daarvan is. Dít is die genialiteit van liturgie.

Liturgiese musiek en ou musiek het iets gemeen, naamlik die herhaalbaarheid daarvan, maar dit is tegelyk nie dieselfde soort herhaalbaarheid nie – die herhaling van liturgiese musiek geskied volgens die voorskrifte van die tradisie, en omdat dit dus niks met my persoonlike voorkeure te make het nie, voer die herhaling van liturgiese musiek my ekstaties buite en verby myself, en word ek deel van ’n misterieuse, skone, groter geheel.

Die herhaling van ou musiek, daarenteen, is uit en uit ’n saak van persoonlike voorkeur – ek skakel dit aan wanneer ek dit wil hoor, en gevolglik voer dit my nie verby myself nie, maar dompel dit my in myself en in my herinneringe en verlangens, wat nietemin ’n eiesoortige ekstase besit omdat dit my buite myself in hierdie tyd voer na ’n ander self in ’n vroeëre tyd, ’n tyd wat onherroeplik verlore is, en slegs by wyse van herinneringe herroep en herleef kan word. (Ekstase en ekstaties is afgelei van die Griekse woord ekstasis, “om buite jouself te tree”.)

Op sy beurt is alle nuwe musiek potensieel herhaalbaar – nie net omdat dit met een of ander opnametegnologie aan my beskikbaar gestel word nie, maar ook omdat dit in beginsel in so ’n mate weerklank by my sal vind dat ek dit weer wil luister.

3.

Liturgiese musiek besit ’n eiesoortige gerusstellendheid – telkens wanneer ek keer op keer en weer en weer vir ’n diens aanmeld, wag die vertroostende bekendheid van die liturgiese musiek my reeds in, ofskoon selfs die goddelike liturgie van die Heilige Johannes Chrysostomos, wat gewoonlik op Sondae gedoen word, elke keer ánders voel en ánder gewaarwordinge en insigte meebring.

Ou musiek besit ook ’n eiesoortige gerusstellendheid: Aangesien die herhaling van ou musiek deur weer daarna te luister gewaarborg is om my ou assosiasies daarmee op te roep, is dit vertroostend om te weet dat wanneer ek ’n sekere emosionele toestand wil versterk, ek dit kan doen deur weer na hierdie of daardie ou musiek te luister. Ek kan byvoorbeeld, wanneer ek daarna voel, nostalgies raak met behulp van ou musiek.

4.

In feitlik enige besinning oor nostalgie word die oorsprong van die woord vermeld. Die woord is ’n samestelling van die Griekse woorde nóstos (“tuiskoms”) en álgos (“verlange”) en beteken dus “verlange na die tuiskoms en die huis”. Voorts word dan vermeld dat nostalgie sy verskyning die eerste maal maak in die 17de eeu, en wel as mediese toestand, naamlik ’n sieklike verlange na die huis waaraan Switserse huursoldate tydens oorloë weg van die huis gely het.

Iemand wat aan die verlange na die huis ly, kan haar toestand natuurlik genees deur huis toe te gaan – so leer byvoorbeeld Homeros se Odusseia en die Gelykenis van die Verlore Seun ons. Vermoedelik sou dit ook die geval wees wanneer daardie Switserse soldate huis toe gaan.

Dog wat later in die moderniteit kenmerkend van nostalgie word, is dat dit nie soseer, of nie slegs, die verlange na die huis is nie, maar dat dit toenemend die verlange na ’n tyd word, ’n tyd wat altyd in die verlede lê, en wat dikwels saamhang met smake, reuke, plekke en, ja, musiek. So onthou ek byvoorbeeld hoe ek in die aanloop van my 20-jaar-matriekreünie die adjunkhoof van my alma mater gaan spreek het vir toestemming om die geleentheid by die skool te hou en ná die afspraak ’n draai op die terrein gestap het. Met elke tree het herinneringe my verswelg.

Hoekom sou nostalgie in die moderniteit verander van die verlange na ’n plek (die huis) na die verlange na ’n tyd?

5.

Die antwoord word verskaf deur Stephen Kern in sy geskiedenis van die filosofie, kuns en wetenskap van Wes-Europa tussen 1880 en 1918, The culture of time and space: 1880–1918 (2003). Kern maak die insiggewende opmerking dat sedert industralisering tussen 1800 en 1850 begin het, modernisering ’n outokatalitiese proses is, oftewel ’n proses waarvan die voltrekking die proses bly versnel. Anders gestel, een manier om modernisering te omskryf is as ’n proses van immer versnellende verandering. Omdat geen mens onbeperkte verandering kan hanteer nie – soos ons almal in hierdie jaar van die pandemie gesien het – raak die behoefte aan stabiele oriëntasiepunte groter. In ’n wêreld wat toenemend afskeid neem van die liturgiese Christendom met sy rykdom oriëntasiepunte, word die verlede – mý verlede – die groot bron van oriëntasiepunte. Soos een van die letterkundige meesters van die nostalgie, Marcel Proust, skryf, is die enigste ware paradyse die verlore paradyse. Ons kan dit soos volg saamvat: Versnellende verandering lei tot verdiepende verlies, wat dit wat ek verloor het, onweerstaanbaar paradyslik maak, en my reddeloos daarna laat verlang – modernisering maak ons almal al hoe meer nostalgies.

6.

Die belewenis van hierdie verskynsel is as ’n gegewe verbind aan ’n ander proses van onkeerbare verandering, ’n biologiese proses wat so oud soos die mens self is, naamlik veroudering. Veroudering het in die eietydse moderniteit ’n spesifieke dubbelsinnige betekenis verkry, wat heeltemal nuut skyn te wees: Danksy die dramatiese vooruitgang in mediese kennis die afgelope dekades, is dit makliker om langer jeugdig te bly, maar terselfdertyd word ons lewens, en dus ons fase van bejaardheid, ook al hoe langer.

Na my ervaring word hierdie dinge eers vanaf jou laat veertigs verstaanbaar. In jou laat veertigs is jy deesdae allesbehalwe oud, maar jy is vir seker nie meer jonk nie – aangesien ’n belangrike kenmerk daarvan om jonk te wees, die moontlikheid is om beslissende lewenskeuses nog te verander, welke moontlikheid teen jou laat veertigs vir praktiese doeleindes nie meer bestaan nie. Teen jou laat veertigs is die groot keuses van jou lewe gemaak – jou standpunt oor geloof, jou beroep, jou lewensmaat, of jy ’n gesin het of nie, en so meer.

Maar ofskoon ’n mens teen jou laat veertigs nie meer jonk is nie, ofskoon die groot keuses van jou lewe gemaak is, vrywaar dit jou hoegenaamd nie teen die onverbiddelike immer versnellende veranderinge en verdiepende verlies van modernisering nie.

Maar ofskoon ’n mens teen jou laat veertigs nie meer jonk is nie, ofskoon die groot keuses van jou lewe gemaak is, vrywaar dit jou hoegenaamd nie teen die onverbiddelike immer versnellende veranderinge en verdiepende verlies van modernisering nie. Inteendeel, die spanning tussen die betreklike stabiliteit van jou laat veertigs en die hiperveranderlikheid van ons wêreld maak die verliese wat jy ly, soveel pynliker, en bygevolg die potensiaal vir nostalgie nog groter. As ’n mens ’n vriendskap, ’n liefdesverhouding, ’n werk of ’n oortuiging op 25 verloor, kan jy jouself oortuig dat dit deel van jou groeiproses is; as dit in jou laat veertigs gebeur, word jou toekomsverwagting onherroeplik afgeskaal, en is die trauma soveel groter – met ’n gepaardgaande groter potensiaal vir nostalgie.

7.

Dit is min of meer konvensionele wysheid dat ’n teken van bejaardheid ’n verlaagde verdraagsaamheid jeens verandering is. Maar om nie meer jonk te wees nie, beteken nog nie dat jy oud is nie, en dit beteken ook nie dat jy nie meer verandering kan hanteer nie. Aangesien jy egter in alle opsigte nie meer so soepel is nie, en dus verskillende liggaamlike en geestelike oefeninge moet doen om soepel te bly, word hierdie oefeninge na my ervaring noodsaaklik om verandering te hanteer – des te meer as jou skeppendheid ’n bykomende bron van verandering is.

Een so ’n geestelike oefening wat gedoen kan word om ’n proses van versnellende verandering geestelik te hanteer, is om afgesien van deelname aan die liturgie ook na ou musiek te luister. Dit is nie noodwendig omdat jy te midde van so ’n proses na die verlore verlede verlang nie (en bowendien is so ’n proses dikwels en selfs merendeels gemik op iets nuuts waarna jy uitsien), maar dit is wel so dat om in so ’n proses na ou musiek te luister, ’n tyd in jou lewe toe dinge stabieler gevoel het, naamlik jou kinder- en tienerjare, as’t ware heraktiveer word as stabiliserende krag te midde van die onstabiliteit wat versnellende verandering meebring. So het dit al gebeur dat ek al weke of maande lank daagliks na ’n sekere gunsteling uit my versameling ou musiek geluister het, sê maar The Church se Starfish (1988), The Waterboys se This is the sea (1985), Bruce Springsteen se Born in the USA (1985) of U2 se The Joshua tree (1987). Op die oomblik is dit 2019 se Superluxe Edition van Alphaville se Forever young (1984), waarvan die rou, donker vroeë demoweergawe van die latere weergawe wat almal van my geslag ken, ’n hoogtepunt is.

8.

Seker een van die invloedrykste eietydse besinnings oor nostalgie is The future of nostalgia (2001), geskryf deur ‘n Russies-Joodse Amerikaner, Svetlana Boym (1959–2015), wat in haar tienerjare saam met haar ouers die Sowjetunie vir die VSA verruil het. So ’n lewenspad is genoeg om enigiemand in permanente nostalgie te dompel, maar ... hoe verlang enige regdenkende mens terug na die totalitêre staat van jou jeug? Dit is ook die vraag van my tydgenote van voormalige Oosbloklande, of van my geslag Afrikaners.

Boym se vernuftige antwoord hierop is die skerpsinnige onderskeid wat sy tref tussen herstellende en besinnende nostalgie (restorative and reflexive nostalgia). Herstellende nostalgie gaan van die standpunt uit dat die verlede beter was, en dat die oplossing vir die probleme van die hede is om die verlede te herstel – dit hou nie rekening met Proust se insig dat juis die verlies van die verlede veroorsaak dat ons die verlede in ’n paradyslike lig beskou nie, en dit begogel mense keer op keer in vernietigende moderne politieke bewegings. So was dit die geval met Nazisme; so is dit vandag die geval met regse populisme.

9.

Besinnende nostalgie, daarenteen, is selfbewus, en bewus daarvan dat die verlede juis weens die verlies daarvan aantrekliker lyk as wat dit was. Besinnende nostalgie wil dus nie die verlede herstel nie, maar wil dit slegs in herinnering roep om anders na die hede te kyk, en soms om die verlede in die lig van nuwe ontwikkelinge in die hede te herwaardeer.

Dit bring ons by ’n belangrike verskil tussen herstellende en besinnende nostalgie: Herstellende nostalgie is vir my ’n siekte, terwyl besinnende nostalgie ’n kuur is.

Dit bring ons by ’n belangrike verskil tussen herstellende en besinnende nostalgie: Herstellende nostalgie is vir my ’n siekte, terwyl besinnende nostalgie ’n kuur is. Herstellende nostalgie is ’n siekte omdat die poging om die verlede te herstel van meet af gedoem is, en namate die poging misluk, verhewig die verlange na die verlede, tot ’n mens naderhand slegs in die verlede leef, oftewel nêrens. Besinnende nostalgie is ’n kuur omdat die bewuste vertroeteling van die bewuste skyn van eertydse stabiliteit sussend is, die snelle pas van verandering effens draagliker maak – dog dis raadsaam om te onthou dat om besinnende nostalgie so in te span, hoogstens simptomatiese verligting bring. Dit kan die proses van snelle verandering draaglik maak tot tyd en wyl die proses deurgevoer is, of dit kan die veeleisende hede tydelik draagliker maak tot tyd en wyl die eise van die hede weer afneem.

Wat besinnende nostalgie egter nie kan doen nie, is om die verliese van die verlede ongedaan te maak. Want dit is, soos die titel van die tweede album van een van Afrikaans se groot eietydse meesters van besinnende nostalgie, Gert Vlok Nel, sê: Onherroeplik.

Lees ook op LitNet en LitNet Akademies:

LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie

LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf

De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei?

Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se "Cooler as ekke"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top