Skermgreep: Sinners – ’n filmresensie

  • 0

Skermgreep: Sinners, YouTube

Sinners (in teaters)
Met Michael B Jordan en Jack O’Connell
Regisseur: Ryan Coogler

Vampierrolprente se slagtande is in die moderne tyd lankal getrek.

Maar dink aan hoe dit begin het. Rolprentverwerkings van Dracula se avonture het die karakter aanvanklik op stylvolle wyse ’n nuwe beeld en kragdadigheid gegee met die klassieke Nosferatu: Eine Symphonie des Grauens (1922) deur die visionêre FW Murnau.

Sy styl is moontlik beïnvloed deur die vader van Duitse rolprent-ekspressionisme Robert Wiene se The cabinet of dr Caligari (1920), waar die werklikheid verwring is en donkerte, geheimsinnigheid, neurose en ’n skewe siening van die wêreld visueel treffend vergestalt is.

Vampiere is sedertdien in tientalle variasies aangebied, waarvan die mees onlangse Robert Eggers se Nosferatu (2024) was. Die meeste ander films het meestal bloot oppervlakkig met vampiere geflankeer, soos die TV-reeks True blood (2008) en vele ander nabootsings, onder andere die lamlendige Twilight (2008).

Daardie kraakgeluid wat jy hoor, is Bram Stoker wat in sy graf omdraai.

Nou takel die superster-regisseur Ryan Coogler hierdie kreature en verleen ’n simboliese kwaliteit aan hulle in Sinners. Die vampiere is nie sommer net daar om ’n lieflike, geromantiseerde bloeddorstigheid aan die rolprent te verleen nie. Hulle kan as metafore gesien word vir hoe die katoenboere en rassiste swart mense as moderne slawe in die vroeg dertigs gebruik het en hulle verneder en bloedig uitgebuit het.

Daarom word dié rolprent in twee verdeel. Dit begin met tweelingbroers, albei gespeel deur Michael B Jordan, wat na die Diep Suide van Amerika ry waar hulle sien hoe hul familie, vriende en volksgenote ly en uitgebuit word, en besluit om iets daaraan te doen. Sinners begin amper as ’n misdaadrolprent soos in die James Cagney-era (White heat, 1949), maar verander dan vinnig.

........
In Sinners is die selfbewuste flambojansie van die waagmoedige Ryan Coogler merkbaar in die uitdagende glanspersoonlikhede van sy protagoniste en selfs die musikante. Maar veral ook in die broers se vermetele waagmoed, asook kwinkslae wat gehore vermaak en meevoer.
........

In Sinners is die selfbewuste flambojansie van die waagmoedige Ryan Coogler merkbaar in die uitdagende glanspersoonlikhede van sy protagoniste en selfs die musikante. Maar veral ook in die broers se vermetele waagmoed, asook kwinkslae wat gehore vermaak en meevoer. Coogler hou sy voorgenome gehoor met elke skoot in gedagte.

Halfpad deur verander Sinners in ’n Gotiese, verwronge musiekblyspel met sy verleidelike Blues-ritme en word ons meegevoer deur sensuele klanke en danse. Hier hoef die moderne slawe vir ’n wonderlike aand nie vooroor te buig en hul vingers flenters te pluk aan katoenplante nie, maar kan hulle uiting gee aan rebellie en opstand op die maat van musiek.

Slawerny is dalk in 1865 afgeskaf, maar dit herrys in ’n ander gedaante in Coogler se Suide, en die broers kom in opstand.

Natuurlik ry die regisseur die vampierclichés bloots. Simbole soos knoffel, kruise waarmee harte deurboor word en die vernietigende krag van die son word mildelik gekarnuffel en selfs in nuwe gedaante herskep wanneer die kreature eers later toeslaan. So verander die laaste halfuur in ’n stylvolle vermenging van genres.

Aanvanklik lyk dit na ’n baster-Western- en misdaaddrama, maar verander dan in ’n soort vampierrolprent waarin hordes bloedsuiers die dansers en die tweelingbroers aanval, en die regisseur vier fees!

Coogler was nog altyd vreesloos. Sy bekroonde Fruitvale station (2013) het reeds gewys waar sy hart lê toe hy ’n tragedie in strak terme uitgebeeld het. ’n Jong man, Oscar Grant 111, is onskuldig doodgeskiet. Dit het wêreldopspraak verwek toe ’n polisie-offisier Grant geskiet het nadat ’n konfrontasie op die stasie uitgebreek het.

Daarna het Coogler die bokswêreld betree met die ikonies-uitbundige heldeverering van die bokser Adonis Johnson in die eerste Creed-rolprent. Dit het Coogler bekend gemaak. Maar dit was sy huldeblyk aan heldemoed en ’n onblusbare vegtersgees in Black Panther: Wakanda forever (2022) wat hom werklik na die voorgestoeltes van bobaas-regisseurs in Hollywood gepromoveer het. Dit was visueel oorweldigend.

Toe maak hy Sinners. Dit was (en is steeds) ’n loketsensasie wat ook met IMAX-kameras geskiet is. Wat hierdie rolprent so ’n verbluffende ervaring maak, is omdat dit so oorspronklik is. Net die beligting, kostuums, gevegsekwensies, klank en blitsige dog ritmiese redigering maak hiervan iets besonders. Dis ’n fees vir die oë en sintuie.

Die charismatiese en gespierde Michael B Jordan vertolk die rolle van Smoke en Stack wat vir Al Capone in Chicago gewerk het. Hier maak die twee genoeg geld om onafhanklik te raak (ook met kaste vol Ierse bier!) deur ’n bymekaarkomplek, genoem ’n juke-joint, vir mense te skep waar hulle kan dans en ontspan.

Hier steek nog ’n tema, rassisme, sy kop uit wanneer die broers ’n ou saagmeule by ’n rassis koop. Maar die Ku Klux Klan hou hulle dop en plaas struikelblokke in hul pad.

Gedurende ’n groot dans daag drie musikante op, wat vampiere blyk te wees, en open die deur sodat hulle bloedsuiende vriende kan instorm en hulle kan help om verwoesting te saai. Juis in hierdie eksplisiete en moorddadige tonele wys Coogler dat hy meestal in beheer is, sodat die bloedbad darem nie in ’n orgastiese Jason Statham-viering van dood en geweld ontaard nie. Maar hier en daar oorskry dit daardie grense

Eers is die danse ’n ekstatiese, sensuele viering van die Blues waar die verleidelike, lewegewende ritme ’n stewige kontras vorm met die latere verwoestende aanval van die vampiere.

Elke stukkie gereedskap wat film bied, word hier aangewend om ’n oorspronklike verhaal te skep waarin selfs vampierclichés ’n nuwe baadjie aantrek. Dit is oorweldigend, veral in IMAX-teaters, waar die gehoor meer as ooit tot in die hart van die dier beweeg. Dit word ’n ekstatiese epos oor die oorwinning oor rassisme, geweld, opstand, dapperheid, ’n vegtersgees en die viering van broederskap, en dit gaan selfs verder.

........
Elke stukkie gereedskap wat film bied, word hier aangewend om ’n oorspronklike verhaal te skep waarin selfs vampierclichés ’n nuwe baadjie aantrek. Dit is oorweldigend, veral in IMAX-teaters, waar die gehoor meer as ooit tot in die hart van die dier beweeg.
........

Die tonele waar die son uiteindelik opkom verleen ’n vreemde romantiese kwaliteit aan die drama, wanneer die natuur die vegters help om die vampiere uiteindelik te oorwin. Hier ontspoor Sinners soms en raak verlief op sy eie verwronge skoonheid en uitbundige gevegte voordat dit weer ’n regsomkeer maak.

Waar die vampierrolprente van ’n eeu gelede skewe kamerahoeke (Dutch tilts), skaduwees, verwronge beelde en misvormde gruwels geskep het, word hierdie beelde nou vreemd-mooi en boos-hipnotiserend in Coogler se aanslag. En raak die fliek, met sy geobsedeerde kamera wat soms dreig om buite beheer te raak en flambojante beligting, amper te groot vir die skerm.

Maar dit is die aard van Coogler se siening. Dis groter as die lewe self en ekstaties verheerlikend. Hy herskep vermaak vir ’n moderne era.

Sinners is dus ’n baldadige eksperiment wat die rolprentbedryf, sat van superheld-orgies, bitter nodig het. Dit verdwerg ander soortgelyke films oor die verleidelike fassinering met vampiere wat ons deesdae sien. Dit raak hier en daar die kluts kwyt, maar beland dan gelukkig weer op die spoor, al gaan dit dikwels op slegs een wiel om die draai.

Daar is drie eindes te veel en is spesiaal vir bewonderaars tussen die slottitels geplaas. Maar teen daardie tyd is die gehoor reeds op hul voete en moedig ’n tweede hoofstuk aan in hierdie eksplosiewe storie. Dis groter as die lewe self, maar bevredig die film se volgelinge in elke opsig.

Anders, hipnotiserend, oordadig, bitterlik wreed, maar nuut en anders.

Kyk die lokprent hier:

Lees ook:

Skermgreep: Niggies – ’n TV-resensie

Skermgreep: Adolescence – ’n TV-resensie

Skermgreep: Mickey 17 – ’n filmresensie

Skermgreep: The brutalist – ’n filmresensie                       

Skermgreep: A real pain – ’n filmresensie

Skermgreep: Civil war

Skermgreep: Conclave – ’n filmresensie

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top