
Skermgreep: YouTube
Civil war
Op Showmax
Met Kirsten Dunst en Nick Offerman
Regisseur: Alex Garland
Amper, stampertjies amper, was die beswaarde kommentaar van Amerikaners nadat hierdie hardekoejawel en turksvy die Amerikaanse rolprentbedryf getref het. “Amper het dit werklikheid geword.”
Die film is bes moontlik geïnspireer deur Donald Trump wat aanvanklik geweier het om Joe Biden as die nuwe president van Amerika te erken. Op 6 Januarie 2020 is die Withuis deur Trump-ondersteuners bestorm. Dit is in die pers as ’n poging tot ’n staatsgreep bestempel. Selfs die FBI het dit as terrorisme beskryf, waarmee geïmpliseer is dat Trump se ondersteuners die parlement wou ontwrig en die regering gewelddadig wou oorneem.
........
Die rolprent verbeel hom ’n distopiese toekoms waarin Kalifornië en Texas wegbreek van die Amerikaanse federasie met Florida moontlik kort op hul hakke.
........
Civil war kan moontlik ’n vreesagtige voorspelling wees van wat kón gebeur het indien die sogenaamde staatsgreep van 2020 wel deurgevoer sou gewees het. Die rolprent verbeel hom ’n distopiese toekoms waarin Kalifornië en Texas wegbreek van die Amerikaanse federasie met Florida moontlik kort op hul hakke. ’n Onthutsende toneel is die Amerikaanse vlag met slegs twee sterre van state op wat ylings in die bloedbesaaide wind wapper.
’n Bloedige burgeroorlog breek uit. Maar in plaas daarvan om die geweld en gevegte te misbruik as net nog ’n skiet-skop-en-doodbloei-aksiedrama, besin die regisseur, Alex Garland, oor wat kon gebeur het indien broer teen broer opgestaan het en die land in totale chaos gedompel het. Hy bekyk die stryd vanuit ’n nuwe invalshoek.
Ja, daar is tonele van gewelddadige oorname – oomblikke waar broer broer doodskiet. Maar Garland stuur ’n rebelse groep klipharde persfotograwe, wat na hulleself verwys as ”oorlogsoldate met ’n kamera”, na Washington, DC om ’n onderhoud met die gehate nuwe president te gaan voer. Daar is veertien maande laas behoorlik met hom gepraat.
Op pad soontoe is daar ontstellende en selfs bloedstollende tonele wat herinner aan die destydse Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) voordat al die state verenig het, en veral swart mense, draadsitters en rebelle voor die voet afgemaai is.
Jesse Plemons tree in die moderne weergawe byvoorbeeld in so ’n skoktoneel op waar almal wat as die vyande van die nuwe president beskou word, voor die voet doodgeskiet word sonder ’n sweempie emosie. Selfs die persmense word geskiet. Persvryheid word ’n finale nekslag toegedien.
Waar die regisseur die kyker tot stilstand dwing en laat nadink, is deur die aksie skielik klank- en kleurloos te maak deur ’n kamerasluiter soos ’n geweerskoot te laat klink wat die aksie vasvang en vir ’n paar sekondes op die silwerskerm vries. Hier kom die kyker onder die indruk van die sinlose en bevooroordeelde geweld wat uitgebreek het. Dit herinner inderdaad aan tonele uit die 1861-burgeroorlog, veral soos op skilderye verewig.
.......
Verlate stadslandskappe lê hier uitgestrek met lyke wat rondgestrooi is en ’n enkele fotograaf wat ook skiet, maar dié slag met ’n kamera wat beelde verewig om dalk ’n Pultizer-prys te kan wen ... Of het die fotograaf ander motiewe?
.......
Verlate stadslandskappe lê hier uitgestrek met lyke wat rondgestrooi is en ’n enkele fotograaf wat ook skiet, maar dié slag met ’n kamera wat beelde verewig om dalk ’n Pultizer-prys te kan wen ... Of het die fotograaf ander motiewe?
Kirsten Dunst as Lee lewer seker haar beste vertolking ooit. Sy is die gesig wat die magtelose en absurde stryd aanskou en bekyk, die ontnugterde gesig met styf teruggebinde hare wat met ’n stroewe gesig die gebeure waarneem en haarself dan dwing om die beelde op kamera vas te lê. Dit word op die kyker se gemoed afgeëts soos ’n fotoletsel.
Om haar menslikheid te beklemtoon, wat sy nie op die “slagveld” durf wys nie, is daar ’n beeld redelik naby aan die begin van die rolprent waar sy met haar hande oor haar gesig in ’n bad lê en onthou hoe sy ’n foto moes neem van ’n swart man wat vol petrol gegooi is nadat ’n motorband om hom geplaas is en hy aan die brand gesteek is. En rondom hom die chaos van ander wat vir hul lewens vlug.
Die regisseur was slim om ’n jong groentjiefotograaf saam met die hardebaarde na die frontlinies te stuur om die gewelddadigheid gade te slaan en te verewig. Ook om spore in hierdie stryd te probeer trap en dalk bekendheid daarmee te verwerf as fotograaf wat die beste foto kan neem.
Cailee Spaeny is uitstekend in die rol van Jessie, ’n jong fotograaf wat haar joernalistieke onskuld of voortvarendheid vir ewig verloor wanneer sy midde-in die stryd gegooi word en tussen haar lewe en ’n goeie foto moet kies.
Die vraag word ook gevra: Jaag hierdie joernaliste bloot agter vanjaar se volgende nuusgebeurtenis aan, of word hier in beeld ’n uitroepteken agter ’n banale gebeurtenis geplaas wat die geskiedenis verander het? Boekstutte tussen vryheid en chaos?
Dit uit die joernalistieke oogpunt van joernaliste wat “geskryf het vir wat van die New York Times oorgebly het”, maar tog word elkeen se motiewe deeglik oorweeg en uitgebeeld.
Die jong Jessie se verstarde gesig, dikwels vol trane, skep ’n stewige kontras met Lee se stroewe gelaat wat toesien hoe haar land en mense uitmekaargeskeur en vernietig word. ’n Joernalis durf nie emosie wys of kant kies nie, maar moet bloot die storie vertel. En tog ...
Hierdie rit deur die hel kon net sowel ’n vaart op die mitiese rivier Styx gewees het. Want saam ry (vaar) ’n persmotor deur ’n land wat gewerk het, waar demokrasie geseëvier het, maar wat nou deur ’n despoot en sy volgelinge in ’n doodsveld vol korrupsie en geweld omskep is.
Deurgaans gaan dit oor die uiteindelike doel van die reis: om by die president van die beleërde Withuis uit te kom en ’n onderhoud met hom te voer. Maar sal die pers, en die enkele soldate wat moontlik deur die diktator se linies breek, net ’n onderhoud voer? Of steek daar meer agter hierdie reis waar die joernaliste te naby die son vlieg?
........
Moenie verwag dat Civil war ’n sensasiebeluste geskiet en bevryding van rebelle teen die despote uitbeeld nie. Dis ’n dapper, onbevreeste kyk na ’n land waarin beheer verloor is.
........
Die skokkende stiltonele soos deur die lens van ’n perskamera verewig, die stilte wat dawerend volg op die klik (skoot) van ’n kamera, asook die aksies wat verewig word, steriliseer die gebeure opnuut. Daar is nie ’n sweempie sensasionalisering nie. Net die kyker wat opnuut bewus gemaak word van die gruwels van ’n burgeroorlog. En van pers-etiek.
Ironies vir ons in Suid-Afrika wat na die res van Afrika kyk en dikwels sien hoe diktators en staatsgrepe dieselfde uitwerking op mense nader aan ons het. Dalk is daar ook vir ons ’n les in?
Moenie verwag dat Civil war ’n sensasiebeluste geskiet en bevryding van rebelle teen die despote uitbeeld nie. Dis ’n dapper, onbevreeste kyk na ’n land waarin beheer verloor is.
Dis egter die laaste potente skote van hierdie onthutsende rolprent wat vra: “Wat nou?” wat jou lank sal laat nadink.
Nou op Showmax.
Kyk die lokprent hier:
Lees ook:
Im Westen nichts Neues is ’n historiese film oor dit wat vandag weer gebeur
Om dit te kan sien: All the light we cannot see draai op Netflix