Skermgreep: Conclave – ’n filmresensie

  • 0

Foto: YouTube

  • Leon van Nierop skryf gereelde filmrubrieke vir LitNet.

Met Ralph Fiennes en Stanley Tucci
Regisseur: Edward Berger
In teaters

Hierdie rolprent gooi die geslote deure van die Vatikaan, en spesifiek die Sistynse Kapel, wawyd oop en bied die kyker toegang tot ’n geheime wêreld waarin ’n geslote vergadering in ’n groot ruimte gehou word wat nou kloustrofobies voel.

Die pous het gesterf, en ’n nuwe een moet gekies word. Dit skyn op die oog af ’n eenvoudige besluit te wees. Maar hierdie een is polities gedrewe, en is ook op nuwe maniere anders. Want ’n progressiewe kardinaal, uitmuntend gespeel deur Ralph Fiennes, moet die vergadering en oorgang van mag met groot omsigtigheid en kundigheid bestuur.

Van hier af beland hierdie uitsonderlike rolprent, somber, maar ook met slim kinkels en selfs ’n donker dwarsklap van onverwagse humor, in skaakmatposisie. Elke kardinaal of geestelike is een van die stukke in ’n magtige heilige skaakspel wat beheer word deur watter kleur rook uit die Vatikaanstad se skoorsteen peul: wit (’n nuwe pouse is verkies) of swart (geen kandidaat het die paal gehaal nie).

........
Van hier af beland hierdie uitsonderlike rolprent, somber, maar ook met slim kinkels en selfs ’n donker dwarsklap van onverwagse humor, in skaakmatposisie.
........

Daar is al speels deur buitelandse resensente na die rolprent verwys as ’n geestelike nabootsing van die hofdrama Twelve angry men, waar een dapper jurielid die res van die jurie van ’n veroordeelde se onskuld moet oortuig.

In hierdie geval moet een vasbeslote, eerlike en vasberade biskop met eervolle bedoelings ’n hele “gemeente” oorhaal om die regte pous te kies. Maar talle sit daar in hul rooi klede wat ou, vermoeide liggame verberg, en stywe, regop rûe met hul eie, soms bose motiewe – terwyl agter strak hande oor kindermolestering in die Katolieke Kerk, aborsie, gayhuwelike en voorhuwelikse seks in mekaar se ore gefluister word.

Dis teen hierdie onverbiddelike tafereel dat kardinaal Lawrence (Fiennes) sy saak moet stel. Hy moet die stoere manne beïnvloed om die korrekte naam op hul stempapiertjies te skryf.

Sommige kandidate wil die kerk weer terugneem na onvergeeflike konserwatisme, en wil enige aanduiding van liberale denke vernietig. “Kyk net wat doen die Moslems aan ons! Roei ons uit!” kners een van die kardinale. Maar daar is ander meer gematigdes wat verandering voorstaan. Ook vasbeslote en streng. “Ons moet verander!” is die boodskap wat telkens deurskemer. Maar ten koste waarvan ...?

Maar dan spreek kardinaal Lawrence hierdie wyse woorde wat aanvanklik na ’n teenstelling klink. Dit tref die meeste kardinale en geestelikes soos ’n nat vis deur die gesig. Hy voer aan dat die stemmers se grootste bate twyfel moet wees. Onsekerheid. Want dit veronderstel dat hulle oorgehaal kan word om hulle stemme te verander. Elke gesig sit egter daar met dodelike erns, en dit is duidelik dat hulle reeds besluit het vir wie hulle gaan stem en in watter rigting die kerk moet beweeg. ’n Rigting wat hulle pas.

Maar soos in enige goeie wie-het-dit-gedoen in die Agatha Christie-tradisie loop sommige verdagte kardinale met vroom gesigte rond, maar verberg afskuwelike geheime. En wil hulle hulself bevoordeel met die uitslag van die stemmery. Hier is geen twyfel of weifeling nie. Reg is reg, verkeerd is verkeerd. Hulle glo nie aan twyfel nie.

Lawrence kom voor ’n groteske muur te staan, hoofsaaklik versinnebeeld deur Michelangelo se skilderye teen die mure en in die koepeldak, en ’n non, briljant gespeel deur Isabella Rossellini. Mens merk dat daardie bekommerde oë nooit toegelaat is om te sien nie, maar tog alles raaksien, alhoewel sy as vrou geen seggenskap het en niks mag sê nie.

Die kyker sien Rossellini se ma, Ingrid Bergman, in haar gesig. En dit is nogal ontsenuend, want hulle lyk sprekend na mekaar. Sy loop met haastige, aggressiewe treë op haar gefrustreerde weg van stilte van een plek na ’n ander. Kyk, sien raak, maar sê niks. Haar nonnekleed wapperend om haar.

Daar is elektrisiteit in Edward Berger se regie. Waar hierdie rolprent ’n statiese, formele reeks besprekings kon gewees het waarin die biskoppe mekaar aangevat het en dieselfde vooroordele en waarskuwende aanmanings kon geuiter het, is daar ’n dubbelsinnigheid in die atmosfeer; is dit volkome film sonder ’n spoor van romanmatigheid (dit is op ’n roman gebaseer), of ’n verhoog- of radio-aanslag.

.......
Die dubbelsinnigheid wat deursypel, word later meer pertinent uitgespel. So tuimel die een geraamte na die ander uit die biskoppe se kaste. Kraak die geraamtes vol vooroordeel en stroefheid en versugtings en seksualiteit deur die stilte.
.......

Die dubbelsinnigheid wat deursypel, word later meer pertinent uitgespel. So tuimel die een geraamte na die ander uit die biskoppe se kaste. Kraak die geraamtes vol vooroordeel en stroefheid en versugtings en seksualiteit deur die stilte.

Berger verfilm die film soos ’n skaakspel. Rooi figure glip woordeloos van een ruimte na ’n ander. Daar is altyd ’n paartjie wat onderlangs kyk en neuroties bespreek. Rooi en wit oorheers die rolprent. Die rooi van verraad en bloed van vooroordeel wat in hierdie woorde-oorlog kan vloei. Die wit is ’n toonbeeld van geestelike suiwerheid. Dit wat die kerk veronderstel is om te wees. Skoon gewas van korrupsie, en onbevooroordeeld.

Daar is onvergeetlike beelde, soms uit hoë posisies verfilm, waar die biskoppe in perfekte formasie soos ’n muur vol stene langs mekaar gepak sit, penne (wapens?) so gereed soos swaarde in die hand. Dan weer biskoppe wat onder wit sambrele oor ’n plein sweef en saamsmelt soos ’n tsunami van kerklike konserwatisme wat die enkele figuur van Lawrence bedrieg. Die krag lê hier in die meerderheid, die menigte, die bevooroordeeldes en bevoordeeldes.

Die toekoms van die pousdom en die Katolieke Kerk hang swaar in elke toneel wat amper vierkantig en reghoekig verfilm is. Alles is meedoënloos presies op sy plek. Daar is nie ’n haartjie of ’n mantel of ’n hand uit posisie nie. Hierdie is ’n menslike masjien wat voortstoom na dieselfde blinde toekoms wat al vir eeue in hierdie formidabele sale en gange heers.

........
Moenie wag dat dit later gestroom kan word nie. Hierdie stiltes moet in ’n teater beleef word.
........

Maar dié slag gaan iets verander, veral wanneer die penne griffel en name op papiertjies geskryf word. Ook die formaliteite en tradisies word streng en korrek uitgebeeld, veral die wyse waarop die stempapiertjies aangegee en gepos word. Die dramatiese effek van elke papiertjie wat deur ’n gleuf val, is formidabel. Dit vervul die kyker met vrees, ontsag en ’n gevoel van onsekerheid.

Maar hierdie rolprent verander alles onherroeplik.

Al sien jy net een rolprent vanjaar, beleef die geslote vergadering van Conclave wat die toekoms van die Katolieke Kerk kan besmet of verander of ’n revolusie teweeg gaan bring. Moenie wag dat dit later gestroom kan word nie. Hierdie stiltes moet in ’n teater beleef word, en dit sal nie meer lank vertoon word gedurende die Kersdrukte nie.

Weet ook: Hier kom Oscars.

Kyk die lokprent:

Lees ook:

The substance: Demi Moore is in da house!

Skermgreep: Die KinoBravo-filmfees 2024 in Rusland – 'n oorsig

Skermgreep: kykNET Silwerskermfees 2024 – ’n blik op die pas afgelope fees

Het die Oscars nog bestaansreg?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top