
Hierdie plakkaat word ingevolge die sogenaamde “fair use”-klousule van die VSA by die artikel gepubliseer omdat daar oor ’n film verslag gedoen word.
Die grootste donkerperd vir 2025 se Oscars
Deesdae is dit nie net Hollywood wat vrouens versmoor en verpletter met belaglike skoonheidstandaarde en die obsessie met jeug en gewig nie, maar die hele samelewing. Dis in skole, korporatiewe werksplekke en selfs in ’n veilige spasie soos jou eie huis.
Veronderstel nou jy kan ’n inspuiting kry wat jou vir sewe dae soos jou jonger self laat lyk? Jy is 20 met die verstand van ’n 50-jarige. Aanloklik, né?! In The substance ontaard die aantreklikheid van jeug en skoonheid egter in ’n gruwelike nagmerrie van bloed-en-neon en ander skouspelagtige effekte – waaronder Demi Moore se geel jas ’n treffende metafoor is vir die distopiese wêreld waarin haar karakter haar bevind.
Demi Moore speel Elisabeth Sparkle wat op 50 haar werk as die aanbieder van ’n fiksheidsprogram op televisie verloor. Die baas van die program, heerlik en grotesk vertolk deur Dennis Quaid, se naam is Harvey. In die toneel waarin hy Elisabeth die trekpas gee, wurg hy prawns, met dop en kop, in sy keelgat af en Elisabeth kry nie ’n enkele spreekbeurt nie. Die regisseur, Coralie Fargeat, speel hier lekker met die ironie! Eerstens is daar die walglike naam Harvey. Tweedens is Demi Moore die ewebeeld van 50, maar sy het so pas haar 62ste verjaarsdag gevier. Slim.
Verpletter oor haar afdanking, hoor Elisabeth van ’n geheimsinnige produk genaamd The substance wat ’n jonger weergawe van haarself skep, sodat sy nog in die vermaakbedryf kan werk en relevant kan bly. Die produk kom egter met baie streng reëls: Sy moet haar jonger self net een keer aktiveer, en sy en haar lewende alter ego moet elke sewe dae sonder uitsondering wissel. Dis ’n morsige en wrede geboorte aan ’n tweede Elisabeth met die naam Sue (Margaret Qualley). ’n Baie belangrike reël is dat Elisabeth en Sue uiteraard ook één persoon is met dieselfde bewussyn en verstandhouding oor die gebruik van die produk. Hulle moet mekaar die 7-dae-verskyning gun. Dinge loop egter lelik skeef namate Sue al hoe meer beskikbaar moet wees vir optredes, en die film beweeg vinnig na die gruwelterritorium wanneer die newe-effekte van die produk se misbruik die kyker in die gesig tref.
.........
In essensie val The substance in die subgenre van “body horror” soos vervolmaak deur die meester, David Cronenberg.
.........
In essensie val The substance in die subgenre van “body horror” soos vervolmaak deur die meester, David Cronenberg. Fargeat neem haar slimheid na nog ’n interessante dimensie met kopknikke – “homages” soos die Engelse sal sê – na klassieke gruwelfilms. Die filmateljee se lang tapyt herinner aan die patrone en rooi-oranje kleure van The shining se tapyt; die spuit van bloed is ’n direkte verbintenis met Brain de Palma se Carrie; en dan is Elisabeth se totale verval gelykstaande aan Ellen Burstyn se karakter in Requiem for a dream. The substance se derde hoofstuk is ook ’n soort verromantisering van Cronenberg se The brood. Dié tegniek is veral effektief, want midde die totale disoriëntasie van die film bring Fargeat iets wat bekend is aan die kyker. Fargeat se perspektief as ’n vroulike regisseur en haar genuanseerde ondersoek van vroulike identiteit voeg ’n unieke stem tot die gesprek toe. The substance is minder soos ’n herhaling en meer soos ’n kontemporêre verklaring oor ’n ou tema.
Een van die film se opvallendste kenmerke is hoe Fargeat atmosfeer skep. Sy gebruik ’n minimalistiese, dog hoogs gestileerde benadering om ’n kliniese en steriele estetika te skep. Die ruimtes is onheilspellend stylvol en vang die glansryke maar verstikkende wêreld waarin Moore se karakter leef, vas. Kinematograaf David Ungaro verdien lof vir sy gebruik van beligting. Hy kombineer sterk beligting met ongewone hoeke om die kyker te disoriënteer en die protagoniste se groeiende gevoel van gevangenskap oor te dra.
........
Moore dra die interne konflik en bekruipende gruwel van die verhaal se uitgangspunt meesterlik oor namate sy die gevolge van haar besluite in die gesig staar. Haar ingehoue, genuanseerde vertolking anker die film en maak haar karakter se ontbinding geloofwaardig en ontstellend.
........
Demi Moore se vertolking is ’n uitstaande aspek van die film. Sy vertolk haar karakter met ’n yskoue afwesigheid, wat haar terselfdertyd fassinerend en moeilik maak om te peil. Hierdie keuse sluit aan by die tema van oppervlakkigheid, aangesien haar karakter die koue, berekende persona beliggaam wat mens met die hoof van ’n multimiljarddollar-skoonheidsmaatskappy kan assosieer. Moore dra die interne konflik en bekruipende gruwel van die verhaal se uitgangspunt meesterlik oor namate sy die gevolge van haar besluite in die gesig staar. Haar ingehoue, genuanseerde vertolking anker die film en maak haar karakter se ontbinding geloofwaardig en ontstellend. Dit is seker die eerste keer dat Moore die kans gegun word om te wys wat in haar steek. Haar oomblikke van waansin is absoluut meesterlik. Daar is veral een toneel waarin sy haarself met rooi lipstiffie in ’n spieël vermorsel sonder om ’n woord te uiter. RILLINGS. Kom ons hoop die Academy neem kennis van haar vertolking. Dit mag dalk slim van haar span wees om haar veldtog met goudgeel rokke en jasse te besaai!
Die draaiboek weef komplekse sielkundige temas in wat vrae vra oor die essensie van self. Fargeat maak dit duidelik dat die karakters se transformasies nie net fisiek is nie, maar ook sielkundig. Namate hulle beheer oor hul liggame en verstand verloor, delf die film in die ontstellende gevolge van pogings om onrealistiese ideale te bereik. Hierdie subteks is ’n skerp herinnering aan die werklike gevolge van die skoonheidsbedryf se invloed op selfwaarde, veral in die era van sosiale media.
Die film se pas is by tye doelbewus stadig, wat vir sommige kykers onaantreklik mag wees. Maar Fargeat bou juis die spanning op deur die gebruik van uitgebreide sekwensies en nabyskote wat op die karakters se uitdrukkings fokus en die ongemak versterk.
The substance bied aan die kyker meer as net bloed en derms en verskrikking. Dit verskaf ’n donker, satiriese kykie na die vermaaklikheidsbedryf en die uiterstes waartoe mense vir fisieke volmaaktheid gaan. Hoewel dit nie ’n tradisionele gruwelfilm is nie, sal die sielkundige diepte daarvan en die ontstellende beeldmateriaal waarskynlik lank by mens spook. Groot waarskuwing, wel: Kyk op eie risiko!
Kyk die lokprent: