Skermgreep: Adolescence – ’n TV-resensie

  • 0

Skermgreep: YouTube

Adolescence
Met Owen Cooper en Stephen Graham
Regisseur: Philip Barantini

Die woord “grensverskuiwend” het nou al ’n cliché geword omdat dit so dikwels oorgebruik en misbruik word wanneer ’n teaterstuk of rolprent buite die gewone patroon beweeg. Dikwels suggereer dit vernuwing of eksperimentering. Dis soos staande toejuigings (ovasies) by die première van teaterstukke waar “grensverskuiwend” ook so maklik gebruik word.

Vergeet grense wat tuimel. Philip Barantini het met die meesterlike Adolescence die voorkoms van die erg omgeploegde en misbruikte televisielandskap met daadwerklike krag omgedolwe. Wee die regisseur of draaiboekskrywer wat hierna poog om ’n televisiedrama oor jeugmisdaad te skryf en te verfilm.

........
Vergeet grense wat tuimel. Philip Barantini het met die meesterlike Adolescence die voorkoms van die erg omgeploegde en misbruikte televisielandskap met daadwerklike krag omgedolwe.
........

Nabootsings sal daar by die dosyne wees, maar selde een met dieselfde realistiese uitklophou-impak. Die kamera word ’n karakter wat soos ’n skalpel die vernislagie en versagting van deursneemisdaaddramas afkrap. Dit kerf selfs ’n paar slagare oop. Want dit dring tot in die diepste van menswees, sielewroeging, ouerskap en moorddadige woede in.

Kortliks gaan die 4-episode-reeks oor ’n 13-jarige seun (fenomenaal gespeel deur die 15-jarige nuweling Owen Cooper) wat op ’n aanklag van moord gearresteer word. Dit wys veral wat voor, tydens en na sy skokkende arrestasie gebeur.

Barantini gebruik geen snelskrif hier deur die gemaklike roete van redigering te kies nie. Die nuanses en karakterisering lê eintlik tussen die storie-“beats”, dus die oomblikke waar die verhaal of intrige in 'n ander rigting beweeg, of selfs hoogtepunte bereik. Hier skemer dikwels die onverwagse weerloosheid van sommige karakters deur. Alfred Hitchcock het mos gesê: “Film is life with the boring bits cut out.” Mens wonder wat hierdie ou meester oor hierdie enkelskootkragtoer sou gesê het waar elke episode in slegs een immer waarnemende kameraskoot geskiet is.

Die “vervelige stukke”, dws die tonele waar die seun se vingerafdrukke geneem word, waar foto’s van hom geneem word en hy wag om ondervra te word terwyl chaos rondom hom plaasvind, word sonder skroom geopenbaar. En dit is wat die episodes (en Cooper se geniale spel) so vernuftig maak. Die kyker, televisiegemaklik en bedorwe omdat alles altyd versnel word of met ’n teelepel gevoer word (Shonda Rhimes), word gedwing om selfs die kleinste maniërisme en reaksies van die karakters waar te neem en die aandag subtiel daarop te vestig.

........
Die kyker, televisiegemaklik en bedorwe omdat alles altyd versnel word of met ’n teelepel gevoer word (Shonda Rhimes), word gedwing om selfs die kleinste maniërisme en reaksies van die karakters waar te neem en die aandag subtiel daarop te vestig.
........

Praat van subteks tussen storie-“beats” of -slae. Hier merk ons hoe ’n pa nie alleen verbysterd en ontnugter reageer nie, maar terselfdertyd skuldig en tot gekwordens toe naar voel oor wat gebeur het sonder dat hy te veel dialoog het. Die kamera wys ook aan die begin hoe brutaal intimiderend so ’n arrestasie is, en hoe ’n slagoffer (sommige is dikwels onskuldig) geboelie word om bekentenisse af te lê. Dink aan die Amanda Knox-geval in Italië.

Nog meer sielsopenbarend is episode 3, waar ’n kliniese sielkundige, ewe briljant gespeel deur ’n onvoorspelbare Erin Doherty, die kordaat klein moordenaar ondervra. Die wyse waarop sy warm sjokolade en ’n toebroodjie gebruik om inligting uit jong Jamie Miller te kry, is meesterlik. Let wel,  dis ’n halwe toebroodjie (terwyl Jamie gewoond is om heel toebroodjies te kry) waarin ’n magspel uitspeel. Die sielkundige gee voor dat sy al die kaarte in haar hand het, insluitend haar uitdrukkinglose gesig, maar eintlik lok sy Jamie uit om sy ware kleure te wys.

En dan eers tref die skok haar ...

Jamie hou nie van gesagsfigure nie – ’n tema wat in latere gesprekke met sy pa uitkom. Hy kan onverwags in moorddadige woede uitbars (sy pa het ook daardie tendens in episode 4) en is ongemaklik met reëls. Alles is visuele leidrade oor hoekom Jamie die dogtertjie doodgemaak het deur haar herhaaldelik met ’n mes te steek. Dit lewer ook kommentaar op die alfaman, die tropleier, die voortvarende adolessent wat altyd skotvry bly net omdat hy, wel, nog ’n adolessent is. “Hy gaan net deur ’n fase.”

Hmmm.

........
Kykers raak later amper seesiek van die beweeglike en vlieënde kamera ... want jy beweeg sáám met die karakters. Jy kyk op dié manier in hul onbewaakte oomblikke dwarsdeur hulle, veral wanneer hulle momenteel stil en weerloos is.
........

Kykers raak later amper seesiek van die beweeglike en vlieënde kamera, seker steadicams en hommels, wat meedoënloos agter, voor en bo-oor karakters en die moordtoneel en dorpie vlieg. Hierdie koorsigheid veroorsaak soms paniek by die kyker, want jy beweeg sáám met die karakters. Jy kyk op dié manier in hul onbewaakte oomblikke dwarsdeur hulle, veral wanneer hulle momenteel stil en weerloos is.

Hier is geen musikale voorskrywerigheid of onnodige inzoem of lae skote nie. Net meestal ooghoogte skote (natuurlik nie altyd nie) waar die kamera nie net vir die kyker wys wat die regisseur graag wil hê hulle moet sien nie, en dit sluit gerieflike redigering in, maar wat die gruwelreis tussen die karakters oopvlek en visueel ondersoek. Die gehoor word hul eie redigeerders wat self besluit waarop om te fokus en hoe om dit te interpreteer.

Sonder om iets te verklap: Wanneer die kamera aan die einde van episode 4 uiteindelik tot ruste kom, is die emosie rou en eg. Dit kom uit Stephen Graham as Eddie se derms. Hy staan emosioneel nakend in sy seun se kamer. Hy kan nêrens wegkruip nie, nog minder kan hy manipuleer of vals emosies weerspieël. Hy is net. Hy en die ironiese simbool van Jamie se onskuld, ’n beertjie.

........
Die reeks het televisie hiermee in ’n kunsvorm verander wanneer ’n verantwoordelike, insiggewende en televisiegeletterde regisseur in beheer van ’n produksie kom en vrye teuels kry. 
........

Adolescence is ’n televisiemeesterstuk. Diegene wat lui televisiekykers is wat gewoond is om bederf of voorgesê te word, mag paniekerig begin raak of onttrekkingsimptome kry. Maar een ding staan soos ’n paal bo water: Die reeks het televisie hiermee in ’n kunsvorm verander wanneer ’n verantwoordelike, insiggewende en televisiegeletterde regisseur in beheer van ’n produksie kom en vrye teuels kry. 

Dit verdien nou ’n staande toejuiging.

Kyk die lokprent hier:

Lees ook:

Adolescence: Réney Warrington se TV-indrukke

Skermgreep: Mickey 17 – ’n filmresensie

Skermgreep: The brutalist – ’n filmresensie                       

Skermgreep: A real pain – ’n filmresensie

Skermgreep: Conclave – ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top