
Mickey 17 (Skermgreep: YouTube)
- Leon van Nierop skryf ’n gereelde filmrubriek vir LitNet.
Mickey 17
Met Robert Pattinson en Toni Collette
Regisseur: Bong Joon-ho
........
Jy moet jouself volkome oorgee aan die Suid-Koreaanse filmmaker se dol brein en siening van lewe op ’n ysplaneet, of jy moet betyds die hasepad kies.
........
Alfred Hitchcock het gesê ’n rolprentstel is die grootste speelpark wat ’n regisseur maar kan kry. Bong Joon-ho is soos ’n varkie in die speelparkmodder in Mickey 17, gebaseer op die roman Mickey7. As jy gedink het sy Okja (2017) of Parasite (2019) is raar, mag hierdie rondbaljaar in die rolprent-speelgoedwinkel jou heeltemal onverhoeds betrap. Want geen lokprent, geen resensie, geen tongtelegram (word of mouth) kan jou hoegenaamd hierop voorberei nie.
Dit vra jou om na jou eie waansin te gaan soek en die regisseur iewers op die idee-besmette pad te ontmoet.
Feit is: Kykers moet hulleself onvoorwaardelik aan hierdie vreemde, buitengewone, eksplosiewe traak-my-hier-traak-my-daar-fliek oorgee, of glad nie daarna gaan kyk nie. Maar moenie dit beveg as jy eers in die teater sit nie. Spring kop eerste in ’n poel vol gloeiende rotse in, stamp jou kop telkemale fle Kykers moet hulleself onvoorwaardelik a an hierdie vreemde, buitengewone, eksplosiewe traak-my-hier-traak-my-daar-fliek oorgee, of glad nie daarna gaan kyk nie. nters en ry dan op die brandende branders.
Daar het nie meer oorspronklikheid in die moderne rolprentbedryf oorgebly nie, waar die een rolprent net soos die ander lyk, soos die Marvel-superheldreekse bewys. Jy weet na drie minute hoe die film gaan eindig.
........
Bong Joon-ho gee vrye teuels aan sy vraatsugtige verbeelding (soms te veel wanneer sy begroting so massief is soos hier) en tart jou sintuie met melancholiese absurditeite. Want sodra jy dink jy kan dit nie meer hou nie, of jy glo nie wat aan jou opgedis word nie, tref ’n nuwe brander van kreatiewe vuur jou.
........
Bong Joon-ho gee vrye teuels aan sy vraatsugtige verbeelding (soms te veel wanneer sy begroting so massief is soos hier) en tart jou sintuie met melancholiese absurditeite. Want sodra jy dink jy kan dit nie meer hou nie, of jy glo nie wat aan jou opgedis word nie, tref ’n nuwe brander van kreatiewe vuur jou.
Dit gaan oor ’n jong man, Mickey 17, gebaseer op Mickey7 in die roman, wat al 16 keer gesterf het. Hier filosofeer die regisseur se breinkaperjolle reeds oor ’n nuttelose aardse bestaan. So baie mense wil graag hemel toe gaan, maar is, o, so bang om te sterf. Mickey het al 16 keer gesterf. Dié jafel (intelligent en vol avontuur gespeel deur Robert Pattinson, met en sonder) vlug na ’n ysplaneet saam met ’n goeie vriend om van geldleners te ontsnap.
In ruil vir verblyf op ’n nuwe planeet, moet veral Pattinson telkens sterf, net om hergebore te word, of soos ’n koerant herdruk te word, met al sy herinneringe steeds in sy brein, en dieselfde sexy lyf. Maar hoe voel dit om te sterf? Joon-ho is te besig met sy drinker-pelle, die rare kreature van die planeet, om hom genoegsaam aan hierdie onbeantwoorde vraag te steur. Maar dit is klaarblyklik pynlik, tot jy jou oorgee aan die onafwendbaarheid daarvan, met die hoop dat jy in jou volgende lewe nie weer dieselfde paadjie gaan loop nie.
Maar Mickey 17 het ’n eksperiment geword. Iemand op wie teenmiddels en gifstowwe, soos die inentingskure teen Covid, getoets word. Hy oorleef nie een van die eksperimente nie. Op die planeet word hy dan uitgestuur om uit te vind of mense die atmosfeer buite in die ys kan oorleef, en die monsters wat daar woon kan verdryf.
Dit is hier waar die trein op een wiel om die draai gaan. Die gruwelkreature kan net uit Bong Joon-ho se verruklike brein kom. Dit is ’n kruis tussen ’n ietermagô en ’n reuse-oorkruiper. Net Alien is erger. Die ma het derduisende kleintjies, en almal sak op Mickey toe wanneer hy dit buite die koepel waag. Maar die grieselwurm-gedoentes vreet hom nie op nie. Om die waarheid te sê, hulle bevriend hom terwyl hy hulle soebat om hom op te vreet want hy is sappig en lekker.
........
Mickey 17 is mal. Jy beland in ’n voedselverwerker van idees, komplotte, dood teenoor lewe en geliefde troetelmonsters wat jou hart mag steel. Maar weet net: Jy sal nie ’n oomblik verveeld wees nie.
........
’n Lekker kontras vind in die koepel en buite tussen die monsters plaas. Hier heers ’n selfsugtige, magsmal demagoog, met ’n vonkel in die oog gespeel deur Mark Ruffalo. Bong Joon-ho het al erken dat hy hom uitgebeeld het as ’n kruis tussen Jeff Bezos, Elon Musk en veral Donald Trump – ’n egoïs met ’n dun vel en ’n swak selfbeeld wat deur sy vrou (Toni Collette geniet die rol net te veel!) gemanipuleer word. Hy neem waansinnige besluite. En uiteindelik is die boodskap: Hoekom moet die monsterlarwes wat die planeet beset, vernietig word? Hulle was dan eerste hier! Dis hulle plek!
Dadelik herken ’n mens eggo’s van Trump wat Groenland en Kanada wil annekseer, alhoewel die draaiboek natuurlik voor Trump se absurde voornemens geskryf is. Want hoe meer planete die diktator kan beset en hoe meer hy die oorspronklike kreature wat hier woon kan uitwis, hoe beter vir sy ego.
Kan daar nóg ’n kinkel in hierdie storiekabel ingeskryf word? O ja. Die planeetbesetters of koloniste neem aan dat die sewentiende Mickey opgevreet is en skep dan ’n agtiende een. Maar dan keer Mickey 17 uit die dood terug en ontmoet ’n manliker, wreder weergawe van homself, Mickey 18. En albei raak op dieselfde meisie verlief.
Die film is te lank en raak dikwels die kluts te onbedaarlik kwyt, selfs vir die skepper van Parasite. Mens raak oorbluf. Maar onthou weer eens: Jy moet jouself volkome oorgee aan die Suid-Koreaanse filmmaker se dol brein en siening van lewe op ’n ysplaneet, of jy moet betyds die hasepad kies. Moet dus nie dat hierdie resensie jou aanmoedig om alles te los en te gaan kyk nie. Jy mag bedroë daarvan afkom en ’n sluipmoordaanval op ’n resensent beplan wat jou hiernatoe gelok het.
Verdwyn net in die oordaad en die selftevredenheid van Joon-ho wat met jou kop en persepsies en gewaarwordinge smokkel. Sien enigiets daarin wat tans met Amerika verkeerd is, en jy sal dit in die subteks vind. Mickey 17 is mal. Jy beland in ’n voedselverwerker van idees, komplotte, dood teenoor lewe en geliefde troetelmonsters wat jou hart mag steel. Maar weet net: Jy sal nie ’n oomblik verveeld wees nie. Wel soms die duiwel in raak.
........
Hoe voel dit om dood te gaan? Nie eers Pattinson as Mickey 17 kan daardie vraag beantwoord nie, en beslis nie Bong Joon-ho nie, wie se aandag te dikwels van hierdie vraag afgetrek word.
........
Hoe voel dit om dood te gaan? Nie eers Pattinson as Mickey 17 kan daardie vraag beantwoord nie, en beslis nie Bong Joon-ho nie, wie se aandag te dikwels van hierdie vraag afgetrek word. Geniet net die waansinnige oormaat wat aan sy vorige monsterfliek, Okja (2017) en selfs Snowpiercer (2015), herinner. Dit vat jou vir ’n spin en skiet jou dan met ’n vuurpyl in jou agterstewe die donker ruimte in.
Nou ontstaan die vraag: Moet ’n mens nie hierdie visionêre regisseur Suid-Afrika toe nooi en hom vra om by ’n verslane verkeerslig in ’n slaggat ’n draaiboek op te tower nie? Hy hoef nie veel skryfwerk te doen nie. Ons lewensmoeë, suf Suid-Afrikaners sal dit vir hom doen. As hy dink Mickey 17 is absurd, kom ’n bietjie hiernatoe.
Lees ook: