Skermgreep: The brutalist – ’n filmresensie                       

  • 2

Skermgreep: YouTube

  • Leon van Nierop skryf ’n gereelde filmrubriek vir LitNet.

The brutalist
In teaters
Met Adrien Brody, Felicity Jones en Guy Pearce
Regisseur: Brady Corbet

Wanneer ’n Joods-Poolse argitek-emigrant net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog na Amerika emigreer (sy gesin emigreer later), volg die kamera hom obsessief tussendeur ’n warboel emigrante op pad na die Amerikaanse Droom. Hulle vlug ook van Nazisme en die naderende Wêreldoorlog. Maar wanneer die argitek opkyk terwyl die oorlaaide boot by die Amerikaanse Vryheidstandbeeld verbyvaar, sien hy dit onderstebo.

Reeds hier is daar  verskeie metafore wat op subteks dui. Die warboel waarin die oorblufte argitek, Lászlo Tóth, hom bevind, speel hom later uit wanneer sy emosies holderstebolder deurmekaar raak wanneer hy by ’n miljardêr gaan werk wat hom opdrag gee om ’n soort monument te ontwerp en te bou, en wel in die brutal-styl. Die onderstebo Vryheidstandbeeld waarsku dat sy droom omgekeer en uiteindelik vernietig gaan word.

Niks is in Amerika soos dit voorgehou word nie. Die werklikheid is baie wreder sonder tierlantyntjies om daardie droom wat voorgehou word, te versier.

Gou raak die argitek soos ’n vlieg in ’n spinnerak vasgespin in die wrede, selfsugtige Amerikaanse kapitalistiese sisteem en die selfsug waarmee oligarge hul “onderlinge” behandel. Want Tóth word verneder, verskreeu, onuitvoerbare opdragte gegee, en gekritiseer, en uiteindelik loop hy onder ’n brutaliteit deur wat nie hier verklap kan word nie. Hierdie gebeurtenis som die hele rolprent in een toneel op. Wees gewaarsku, dit is skokkend.

Boonop raak Tóth verslaaf aan dwelms om die spanning te hanteer. Natuurlik word temas soos geldverslawing van sommige miljardêrs wat hul werkers soos kraalmis behandel, ook aangeraak, maar waarsku ook dat die Amerikaanse Droom met ’n  dikwels onbetaalbare wrede prys gepaard gaan.

Die keerpunt vind plaas wanneer Tóth se vrou, ’n pragtig onderspeelde Felicity Jones as Erzsébet, opdaag. Sy is die buitestander, nes die kyker, en sien die misbruik van mag, die gruwel van kapitalisme,  die onderdrukking van ’n skeppende talent, en die impak van selfsug (en ander elemente wat nie hier verklap kan word nie). Sy probeer tot haar man se redding kom deur dit te openbaar.

........
Selde tevore in ’n rolprent wat deels op die waarheid gegrond is, is Amerika so brutaal ontmasker vir sy gierigheid, verwaandheid, selftevredenheid en die misbruik van die werkersklas.
........

Intussen gaan die monument in Tóth se styl voort, maar die miljardêr gryp weer eens in en onderdruk die skeppingsvermoë en visie van ’n groot talent. Selde tevore in ’n rolprent wat deels op die waarheid gegrond is, is Amerika so brutaal ontmasker vir sy gierigheid, verwaandheid, selftevredenheid en die misbruik van die werkersklas. Dit is ook ’n aanval op jaloesie en nydigheid.

En kyk ’n mens na wat tans in Amerika gebeur, is hier ook ’n tydige waarskuwing.

Adrien Brody lewer aanvanklik ’n bedaarde, skugter vertolking, tot sy karakter gewelddadig onderdruk word en aan dwelms verslaaf raak. Dis alleenlik wanneer sy vrou in die prentjie kom dat sy spel nog verder verdiep wanneer hy in twee geskeur word.

Guy Pearce is grusaam effektief as die miserabele miljardêr wat met ’n kapokhaantjiehouding en erge  verwaandheid teenoor die immigrantefamilie optree en uiteindelik tot vernietigende aksie oorgaan. Maar dit is veral Felicity Jones wat uiteindelik bewys dat haar karakter van staal gemaak is en wat die moed het om daadwerklik op te tree. Hierdie onderskatte aktrise verdien lof, al is dit net vir hierdie sielsopenbarende toneel.

Die rolprent is natuurlik uitstekend deur kritici ontvang en spog met tien Oscar-benoemings. Maar argitekte in Amerika het volgens The Guardian met ’n artikel deur Oliver Wainwright sterk daarteen te velde getrek as sou dit op die veelbewoë lewe van die argitek Marcel Breuer gebaseer gewees het, maar dat hy verkeerd uitgebeeld is. Ook dat dit modernisme nie verstaan het nie en dit vervlak het.

Daar word ook kritiek deur argitekte gelewer dat Corbet se weergawe van die brutalist-beweging nie akkuraat is nie, en ook dat hy die Balhaus-emigrasie-beweging en argitektuur misken.

.........
Soos There will be blood (2007) sal hierdie rolprent uiteindelik uitstaan as ’n baken in die Amerikaanse rolprentbedryf wat deesdae, veral met superheldfilms, al hoe meer vervlak.
........

Dit beteken egter nie dat voornemende kykers die rolprent moet vermy nie. Onthou, dit is ’n regisseur se reg om ’n tema (selfs wat op die waarheid gegrond is) na goeddunke en met artistieke vryheid te interpreteer, en sekere temas uit te bou, te ontwikkel, selfs ’n bietjie te verdraai, en ander weg te laat. Maar natuurlik is dit ook die kyker se reg om dit te kritiseer en beswaar daarteen te maak.

Die rolprent is 3½ uur lank met ’n pouse. Maar dit mag jou nie afskrik nie. Soos There will be blood (2007) sal hierdie rolprent uiteindelik uitstaan as ’n baken in die Amerikaanse rolprentbedryf wat deesdae, veral met superheldfilms, al hoe meer vervlak.

’n Bobaas film.

* Bron: The Guardian. Artikel deur Oliver Wrainwright oor die kritiek van argitekte.

Lees ook:

  • 2

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Ek dink die film is hopeloos te lank. Daardie danstoneel op die brug - simbool van liminaliteit - is so teatraal en geyk hanteer. Ja, dit ontmasker Amerika unsw.
    Maar 'n groot rolprent moet as verhaal oortuig. En die verhaal word vertel deur die kamera. Oomblikke is daar. Helaas te lank. Ek kyk weer na David Lean se epiese films. Dr Zhivago. Wat verhul word en simbole soos die die sonneblomblare wat val. Zuri wat kyk. 'n Regisseur mag interpreteer, maar kyk na Bela Tárr. Lank en aangrypend.

  • Van Nierop geeft een goede bespreking van de tekening van de Amerikaanse samenleving in de film, maar heeft geen oog voor de enorme betekenis van de Joodse identiteit van alle hoofdfiguren. Tóth gaat niet voor, maar NA de Tweede Wereldoorlog naar de Verenigde Staten. Hij is voor de rest van zijn leven getekend door zijn verblijf in een concentratiekamp.
    Haar overeenkomstige oorlogservaring maakt Tóths nicht tijdelijk sprakeloos. Zij emigreert uit de VS naar Israël, volgens haar het enige land waar zij veilig is. Tóths vrouw sluit zich, om uiteenlopende redenen, bij dit idee aan. In de slotscène is Tóth zelf sprakeloos geworden maar legt hetzelfde nichtje de architectenwereld in Venetië uit, hoe alle eigenaardigheden van Tóths meesterlijke monument een verklaring vinden in zijn herinnering aan het concentratiekamp. Hij is dus architect om als Jood uitdrukking te geven aan zijn oorlogstrauma.
    Het thema Israël is van het grootste belang, ook met het oog op de actualiteit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top