Skermgreep: A real pain – ’n filmresensie

  • 0

Skermgreep: YouTube

A real pain (in teaters
Met Jesse Eisenberg en Kieran Culkin
Regisseur: Jesse Eisenberg

“’n Toer na die Auschwitz-konsentrasiekamp, middagete ingesluit.” Hierdie advertensie het die neurotiese Jesse Eisenberg, self van Joodse afkoms, se aandag eendag getrek terwyl hy, te angsbevange om sy huis te verlaat, ’n koerant gelees het.

So besluit die klein genie toe om ’n donkerkomedie te skryf oor ’n toer waarby twee uiteenlopende neefs aansluit om hulde aan hul oorlede Joodse tante se huis en nalatenskap in Poland te bring. Hierdie vrou is self in ’n konsentrasiekamp aangehou en het dit oorleef. Eisenberg se tante was terloops 106 jaar oud ten tyde van haar dood en hy het as kind dikwels by haar gaan kuier en na haar stories geluister waarvan sommige sekerlik hul pad na die draaiboek gevind het.

........
Wat hierdie grieselswart-komedie nog meer merkwaardig maak, is die kookwater-kombinasie van twee akteurs wat ’n melancholiese, maar ook koel-komiese broederskap vorm soos jy dalk nog nooit in ’n rolprent teëgekom het nie.
........

Wat hierdie grieselswart-komedie nog meer merkwaardig maak, is die kookwater-kombinasie van twee akteurs wat ’n melancholiese, maar ook koel-komiese broederskap vorm soos jy dalk nog nooit in ’n rolprent teëgekom het nie. Eisenberg is in sy persoonlike lewe obsessief-kompulsief, hiperaktief en neuroties, terwyl Kieran Culkin van Succession-faam, Eisenberg (die regisseur, vervaardiger, draaiboekskrywer en hoofakteur) se neef speel en die perfekte teenpool vorm. Culkin is self bipolêr en ly aan aandag-afleibaarheidsindroom. Gooi die twee saam op ’n toer na ’n konsentrasiekamp en ’n woord-handgranaat ontplof terwyl stroewe standbeelde op pad na die kamp toekyk.

Plaas hulle saam in potente tonele waaraan die twee nooit eers gerepeteer het nie (“ek het net die kamera laat rol om te kyk wat gebeur,” sê Eisenberg), en jy kry ’n atoombom-kombinasie wat die film elke paar minute laat sidder. Om ’n donker-“komedie” oor die besoek aan ’n konsentrasiekamp te skryf, is reeds bitter gevaarlik, maar Eisenberg se uitsonderlike draaiboek en respekvolle, gebalanseerde regie is so briljant dat hy Culkin as Benji soos ’n bloedige duimspyker gebruik wat hy telkens op die gehoor se geheue afdruk.

Resensente het al na die rolprent as ’n “breinkortsluiting” verwys. Met ander woorde, geen resensie of juigende woordryke akademiese ontleding kan reg daaraan laat geskied nie. Dit is die soort film waaraan jy jouself moet oorgee en nooit moet beveg nie.

Die suur drup mildelik oor die dialoog, net om skielik van donker na ekstreme komedie na hartseer nabetragting te verander. En dan lei Chopin se musiek weer tot introspeksie, of onderstreep die ironie woordeloos. Die titel sinspeel – anders as die slenguitdrukking “jy is ’n regte pyn, man!” – op ware diepe smart en seerkry waarvan die karakters moontlik self nooit eers bewus was nie, maar nou mee gekonfronteer word wanneer hulle die konsentrasiekamp besoek. En daardie pyn is werklik.

Hulle verdwaal in die proses in hul eie innerlike slagveld.

.........
Die dialoog is soos ’n gloeiende elektriese draad waar die woorde soos vonke heen en weer spring. Die kontras tussen die neefs en die wyse waarop hulle met mekaar kommunikeer is so oorbluffend natuurlik en oortuigend dat ’n mens nie kan dink dat daardie woorde in ’n draaiboek geskryf is nie.
........

Die dialoog is soos ’n gloeiende elektriese draad waar die woorde soos vonke heen en weer spring. Die kontras tussen die neefs en die wyse waarop hulle met mekaar kommunikeer is so oorbluffend natuurlik en oortuigend dat ’n mens nie kan dink dat daardie woorde in ’n draaiboek geskryf is nie. Dit klink asof dit spontaan uit hul gefolterde siele kom waar angs agter suurkomiese woorde skuil.

Dikwels lag mense om ware pyn weg te steek, of oorreageer hulle en irriteer ander om smart te probeer hanteer of verwerk. En dit is presies wat hier plaasvind. Voeg daarby die feit dat die klein toergroepie op dieselfde treinspoor konsentrasiekamp-museum toe ry wat hul voorsaat (en miljoene ander gevangenes) na hul dood vervoer het, en die rolprent skud van ironie en paradokse.

Maar waar die balans werklik inkom, is wanneer die groepie, saam met ’n bedaarde toerleier, die ewe manjifieke Will Sharpe, by die kamp/museum aankom en die neefs by die verkeerde stasie afklim. Die toerleier laat hierdie mense toe, ten spyte van die feit dat hulle ongerief veroorsaak, om deur hul eie emosies te werk. Hy verskaf gedurende die toer net die nodigste, onsensasionele inligting (en middagete!) waar dit gepas is. Want daar breek stil oomblikke aan wanneer die ontsetting van die konsentrasiekamp die kyker vierkantig tussen die oë tref, veral wanneer hierdie twee half-kranksinnige neefs deur die museum van die dood loop en hul siele elk ’n knak kry.

Aanvanklik het Culkin as Benji ’n irritasiewaarde, maar dan word dit duidelik dat hy woorde soos koeëls gebruik wat hy ook op homself rig. En word verduidelik dat hy ’n ruk gelede selfdood probeer pleeg het omdat sy bestaan vir hom te nutteloos en swaar geword het. Tot hy tussen die brandoonde en selle deurloop waar soveel Jode op hul dood gewag het. Hierdie tonele lê reg langs The zone of interest (2023) wat die anderkant van die grusame konsentrasiekamp-muntstuk wys.

A real pain tref jou telkens in die maag en skop jou wind uit. Daarna lag jy, staar in verstomming na die uitlatings waarmee Benji wegkom, en raak oorbluf deur Eisenberg as David se reaksie daarop.

Dit is moeilik om in woorde te probeer omskryf hoe hierdie dialoog soos ’n tennisbal deur die karakters heen en weer geslaan word en kort-kort die net tref of iemand in die oog tref. Hierdie dialoog wemel van onderspeelde subteks.

Die twee akteurs se personas kan ook nie van die karakters losgemaak word nie, want dit is duidelik dat baie private en persoonlike neurose, vrese, angs en pyn van Culkin en Eisenberg agter die komiese of neurotiese uitlatings skuil. Dit raak by tye amper Woody Allen op batterysuur.

’n Meesterlike rolprent waarvoor Kieran Culkin reeds verskeie pryse gewen het en moontlik ’n Oscar gaan kry.

Weet net, jy gaan hoegenaamd nie voorbereid wees op wat jy gaan sien nie. Jou reaksie mag onvoorspelbaar wees – geen resensent kan dit voorspel nie. Jy sal soms luidkeels wil reageer en protesteer, andersins in ootmoed luister na wat gesê word. Maar jy sal dit nooit vergeet nie.

Uitsonderlik.

Lees ook:

Skermgreep: Civil war

Skermgreep: Conclave – ’n filmresensie

The substance: Demi Moore is in da house!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top