Skermgreep: Niggies – ’n TV-resensie

  • 0

Niggies wys Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Niggies
Met Janru Steenkamp en Beer Adriaanse
Regisseur: Jaco Bouwer

 1966 was ’n tussenin jaar vir die hoofkarakters in hierdie meesleurende moorddrama. Dit was nog ’n tyd van onskuld, gesinswaardes, dissipline, ’n lynregte grens tussen reg en verkeerd, die samesnoering van die Afrikaner, die behoud van morele waardes, en gesinsbande in ’n land wat gewerk het.

Maar eensklaps skuif die ratjies in die Afrikanermasjien en raak die spoor kwyt wanneer twee onskuldige 12-jarige dogtertjies wreedaardig verkrag en vermoor word. En van meet af aan is dit duidelik dat selfs nog erger dinge met hulle gebeur het. Daar word net nie sensasioneel daarop gefokus nie.

Ware misdaadverhale (veral in die Amerikaanse mark) is geneig om te verglans, te sensasionaliseer en vals note te slaan vir dramatiese effek. Selfs sommige versoete en versagtende plaaslike reekse doen dit, maar lok terselfdertyd kykers. Catch 22.

Jaco Bouwer, so uitstekend met Gaia (2021), trap ook in hierdie reeks elke liewe slaggat mis. Hy kyk met ’n skerp, kundige waarnemingsvermoë na die gate waarin die karakters swik en val.

........
Tekenend hiervan is die jong André Fourie, gespeel deur
Janru Steenkamp – ’n fenomenale debuut sonder enige akteursmaniërismes, wat gelykstaan aan Owen Cooper s’n in Adolesence.
........

Tekenend hiervan is die jong André Fourie, gespeel deur Janru Steenkamp – ’n fenomenale debuut sonder enige akteursmaniërismes, wat gelykstaan aan Owen Cooper s’n in Adolesence. Hy dra ’n skuldgevoel in elke skoot in sy eenvoudige kortbroekie met hom saam. Die reis van ’n “held” of hoofkarakter is selde met soveel eenvoudige en doeltreffende impak uitgebeeld.

Met geteisterde oë en oorblufte skok wat sy seunsagtige onskuld met elke toneel ondergrawe, kry hy ’n obsessie om die moordenaar(s) van die dogtertjies op te spoor. Maar in die proses dryf hy homself tot vernietiging.

........
Die kyker is selde bewus van spoggerige regie. Net ’n intense, skerp waarnemingsvermoë wat naatloos by die kultuur en styl inpas en die storie doodgewoon met buitengewone impak vertel. 
........

Met ’n doodgewone, eenvoudige regisseerstyl en Chris Lotz se meesterlike kinematografie wat nooit vol truuks raak nie, bekyk Bouwer hierdie ontgogelde mense byna ongemerk. Die kyker is selde bewus van spoggerige regie. Net ’n intense, skerp waarnemingsvermoë wat naatloos by die kultuur en styl inpas en die storie doodgewoon met buitengewone impak vertel. Elkeen se ware kleure kom na vore, en terselfdertyd lewer die reeks ook kommentaar op Afrikanerskap, en om iemand te soek om te blameer. Dit word natuurlik ook in die draaiboek beklemtoon.

’n Voorbeeld hiervan is die foutlose Albert Pretorius as die geteisterde Gustaf Fouché wat aanvanklik van die moorde verdink word. Miskien omdat hy gille gehoor het, maar dit afgemaak het as prettige swembadgeluide. Ook die wyse waarop hy afgetakel en verrinneweer word deur sommige lede van die gesinne wat die ergste deur die tragedie geraak is. Op dié manier word die tragedie vererger, want dit kring ook na ander onskuldige slagoffers uit en kwets hulle menswees net so hard.

........
[Albert] Pretorius se verwildering, hartseer, skok, verlatenheid en oorbluftheid slaan telkens die regte noot. Wat ’n uitstekende akteur!
........

Pretorius se verwildering, hartseer, skok, verlatenheid en oorbluftheid slaan telkens die regte noot. Wat ’n uitstekende akteur!

Ewe treffend is die stelinkleding, produksieontwerp en kunsregie. Die doodgewone huise, die klein goetertjies wat eie aan elke gesin is, en die dikwels bruin kleurskemas en skilderye teen die muur – alles is karakteriserend en lewer indirek kommentaar. Maar veral die simboliese betekenis van die meisietjies se verlate skoolrokkies wat teen die kaste hang, die afgetakelde landskap, die verroeste treinbrug, die dooie stasie en die plat, verskroeide natuur – al die beelde dra die dood met hulle saam.

Lotz se komposisie van die verlate fabriek wat soos ’n oopgebarste puisie aan die horison kleef, en die donker skaduweebevlekte deurgang na die swembad waar die drukdeure veronderstel is om na pret en plesier te lei, word nou poorte na die hel. Hierdie deurgang word gevoelvol en sprekend uitgebeeld sodat dit die skending van kinderonskuld voorspel.  

........
Afrikanerskap en die gemaklike tevredenheid en onskuld van gesinne (onder andere ’n egpaar wat uit Zambië verhuis het) word ook weergegee in die warm kombuise en eetkamers, die hart van die Afrikaanse gesin.
........

Afrikanerskap en die gemaklike tevredenheid en onskuld van gesinne (onder andere ’n egpaar wat uit Zambië verhuis het) word ook weergegee in die warm kombuise en eetkamers, die hart van die Afrikaanse gesin. Dit skakel pragtig in by die eenvoudige dog dienlike slaapkamers, gange en voortuine. En dan is daar André se fiets – verteenwoordigend van hoe stadig en moeisaam die ondersoek vorder. Soos André se voorwiel soms uitswaai of wankel, so ook die ondersoek.

Elke speler is nommerpas in sy of haar rol, en om oor elkeen te skryf sal bloot ’n lang lys name tot gevolg hê. Maar Erica Wessels, so treffend as die polisievrou Fanie in Donkerbos (2022) en die verwarde, neurotiese dogter in die rare A kind of madness (2025), skitter as die doodgewone ma wat kalm probeer bly. Die byna onopsigtelike wyse waarop sy haar arms vou, dialoog onderbeklemtoon of weggooi, of selfs haar mond trek, spreek boekdele. Sy is voorwaar een van Suid-Afrika se mees gewaardeerde akteurs.

Beer Adriaanse se skerp, rustelose, kwaai oë is sprekend van obsessie, terwyl Carel Nel, wat dikwels buitestanders, fratse of haweloses speel, gee briljant gestalte aan At van Wyk wat die ondersoek lei. Hy is tiperend, sonder om verkleinerend of stereotiep te wees, van kalm en nugtere reg en geregtigheid. Van die gereg wat sy moeisame pad loop. Sy bedaarde onrus (’n pragtige paradoks in sy spel) balanseer die rolprent van paniekbevange vrees en ’n koorsagtige gesoek na die waarheid, na introspektiewe bedaarde, nugtere denke.

Net ’n voetnota hier. Dit is natuurlik so dat slegs die beste akteurs in sulke belangrike rolle gebruik word, maar daar moet gewaak word teen oorblootstelling waar ’n mens na bekende akteurs kyk in plaas van na ’n karakter, soos die welkome, briljante nuweling Janru Steenkamp bewys. Maar dit net terloops. Daar is ’n groot akteurspoel waarin almal ’n kans moet kry. Maar in hierdie geval pas elke speler perfek in sy of haar rol.

Niggies en Nêrens, Noord-Kaap verander die Afrikaanse televisielandskap, nes Adolescence die Britse televisiebedryf verander het. Dit gee ’n mens weer respek vir die bedryf en elke talentvolle ratjie wat die reuse masjien laat werk.

Niggies is (tot episode 5 waarna ek kon kyk) uitmuntend.

Kyk die amptelike lokprent:

Lees ook:

Niggies: Die waremisdaadreeks is ’n eerste vir kykNET

Niggies op kykNET: ’n resensie

Skermgreep: Adolescence – ’n filmresensie

Adolescence: Réney Warrington se TV-indrukke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top