Skermgreep: 28 years later – ’n filmresensie

  • 0

 

Skermgreep: YouTube

  • Leon van Nierop skryf ’n gereelde filmrubriek vir LitNet.

28 years later
In teaters
Met Aaron Taylor Johnson en Jodie Comer
Regisseur: Danny Boyle

Die zombies het Suid-Afrika en die res van die wêreld gulsig en sonder skroom, enige tafelmaniere of verskoning verorber. Die buitelandse verspreiders was slim, want hierdie gewelddadige (maar knap) rolprent is vinnig in die uitreikdrukgang ingestoot voor die groot bomme, soos Jurassic World: rebirth, Superman, F1 en Smurfs net na die Danny Boyle-bloedbad op die silwerdoek losgebars het en bakhand vir geld uit jou beursie gaan staan het. En pasop, hulle byt sommer ook die hand wat hulle voed...

Die reeks (franchise) soek na nog bloeddorstige geld, veral wanneer die loketsukses van hierdie derde film in die trilogie bestudeer word. Dit beteken: Indien ’n mens betyds voor die gierige tande, wat jare laas geborsel is, probeer vlug en wegkom, sal jy darem met jou flieklewe daarvan afkom om weer ’n kaartjie te koop.

Eers het die onverwagte sukses van die vraatsugtige 28 days later ons in 2002 met ’n uitklophou getref. Dit was ’n postapokaliptiese, uitbundige viering van die dood. ’n Kriewelrige, kru kinderpartytjie lyke as ballonne. ’n Bloederige drama-komedie wat Squid game en The last of us na die woke, lammerige Snow White met ’n blosende, grootmond Rachel Zegler sal laat lyk.

Hier het ’n virus, veel erger as die Covid-ramp, deur Brittanje versprei en mense in moorddadige zombies verander wat al wat menslike wese met vleis aan die bene is, voor ontbyt verorber het. Hier kom smaakkliere en ’n bietjie ekstra Tabasco nie ter sprake nie. Net gewelddadige, gruwelbehepte wellus.

Wat gebeur met die gelukkige (?) siele wat hierdie plaag en aanslae van geweldenaars oorleef? Hulle moet nuwe planne beraam om betyds uit die pad te kom. En die zombies raak ook deesdae ontwerper-grieselgeeste. Van die maer derm wat gereeld op sosiale media pryk, tot die gespierde en welbedeelde boelie in beheer van die zombies. Zombies as filmsterre. Nou ja. Nou het jy alles gesien.

Die vraag ontstaan ook: Kan die zombievirus gekeer word wanneer alle infrastruktuur vernietig is en die meeste medici en hospitaalpersoneel as voorgereg opgedien is? Of het hulle carte blanche om sonder aansien des persoons voor die voet te vreet? Behalwe natuurlik as die “persone” goedbetaalde rolprentsterre is.

......
Dié reeks kon ad infinitum so aangekarring het terwyl mense heerlik aan bloed-en-springmielies “gevreet” het, darem met meer sout op as wat die stomme slagoffers op die doek kon bied. Maar toe besluit Danny Boyle om 28 years later vanjaar uit te reik en uit ’n ander oogpunt te benader, met nuwe tegnologie.
......

Cillian Murphy van Oppenheimer-faam het sy talente in die eerste aanslag in 2002 blootgestel. Die moordfees waarin menslike stofsuiers bloed slurpend opgesuig het, was so onverwags gewild en opspraakwekkend dat ’n vervolg vinniger aangevra is as wat Trump deesdae tariefverhogings kan instel. Een van die klassieke tonele uit hierdie reeks rolprente, veral die eerste hoofstuk, is ’n absoluut verlate Londen wat glo weke geneem het om te “ontmens”. En dit was voor Covid.

28 weeks later (2007), dié slag met Juan Carlos Fresnadillo as regisseur, het gevolg en die pandemie gulsig geëksploiteer of misbruik nadat 28 weke se moordfeesaanslae in Dolby Stereo afgespeel het. Maar in plaas van die situasie te  verbeter, is meer wankelrige tafels met mensvleis daarop voorberei. Ses maande nadat die grieselrige kannibalistiese virus toegeslaan het, moes die weermag ’n klein groepie Londenaars teen die afgryslike massas beskerm. Nodeloos om te sê, dit was nie suksesvol nie, want daar moes plek gemaak word vir smulpaapvervolge.

Dié reeks kon ad infinitum so aangekarring het terwyl mense heerlik aan bloed-en-springmielies “gevreet” het, darem met meer sout op as wat die stomme slagoffers op die doek kon bied.

Maar toe besluit Danny Boyle om 28 years later vanjaar uit te reik en uit ’n ander oogpunt te benader, met nuwe tegnologie. As die storie te veel dieselfde geraak het, gebruik hy 18 spesiaal ontwerpte selfone om aan die opgewarmde storie ’n meer naturalistiese, growwe en realistiese voorkoms te gee en sodoende die skok-effek te vermenigvuldig.

Boyle, moet ’n mens teësinnig toegee, het daarin geslaag om dit meer “aanskoulik” te maak. Ook deur van die wêreld se top akteurs, soos Jodie Comer en Aaron Taylor Johnson, te gebruik. Nou is daar is lollipops vir zombiebekke om die twee talentvolle akteurs as vlugtelinge en zombie-aas te gebruik. Hulle tree saam met die bekwame jongeling Rocco Haynes op, asook die formidabele Ralph Fiennes.

Hier volg die storie.

Die seun (Haynes as jong Jimmy) se ma is siek en hy moet vanaf ’n skilderagtige eiland in Skotland oor ’n soort waterbrug saam met die gespierde Taylor Johnson met wapperende haarlokke hardloop om by dr Fiennes uit te kom! Net betyds voor die gety die brug bedek.

Erg is hul ontsteltenis as hulle die getraumatiseerde en oorblufte dokter aantref onder ’n monument en pilare wat uit menslike kopbene bestaan. Dit vorm een van die treffendste en grieselrigste, dog effektiefste tonele van die jaar. Hier help die produksie-ontwerper om die subteks uit te lig. Elke kopbeen verteenwoordig ’n mens. En waar teatergangers (en ek het hulle al in teaters aanskou) jubelend reageer op elke wese wat bloedspattend uit die weg geruim word, verander die kopbene eensklaps in mense. Elke kopbeen is ’n onskuldige lewe wat deur die virus of die zombies geneem is.

Hoe gerieflik vir die storie dat die hele Britse vasteland afgesper is van ’n eiland waarop daar nog mense is. Maar in die proses het ’n mate van beskawing darem nog ingetree. Tussen die zombiekaperjolle en grusame gille wat met “whoop-whoops!” van die gehoor begroet word, het ons darem nog simpatie met die enkele gesigte waaruit daar nog nie ’n hap geneem is nie. Dit bring ’n mate van menslikheid teweeg as die akteurs so ylings hardloop.

.......
Vir my was dit egter bedenklik, maar ook merkwaardig, om foto’s op sosiale media te sien waarin 18 selfoonkameras, wat in halfmane gerangskik is, agter tierende zombies aanjaag asof ons na Ben Hur in die pandemie kyk. Tegnies is dit uitmuntend. Maar versadigingspunt word gou bereik, en hier word nie net na die zombies verwys nie.
.......

Vir my was dit egter bedenklik, maar ook merkwaardig, om foto’s op sosiale media te sien waarin 18 selfoonkameras, wat in halfmane gerangskik is, agter tierende zombies aanjaag asof ons na Ben Hur in die pandemie kyk. Tegnies is dit uitmuntend. Maar versadigingspunt word gou bereik, en hier word nie net na die zombies verwys nie.

Wat die rolprent wel regkry, is om te verduidelik hoe ragfyn die beskawing is, en dat die mens, in werklikheid, steeds ’n dier is. Die dinosourusse het 165 miljoen jaar lank regeer. Ons is glo ’n katspoegie van 200 000 jaar op die planeet in menslike gedaante, en kyk waar is ons nou. Volgens die buitelandse pers sou ’n reeksmoordenaar gesê het: “One death is a tragedy, a million a statistic.” Dit som hierdie rolprent presies op.

Ter slotsom. Die kyker staan verbysterd oor die gemaklikheid en dikwels vrolikheid waarmee die dood uitgebeeld word en menseslagtings gevier word, met die uitsonderings van die kopbeenstandbeeld. Een reuse tree vir rolprenttegnologie. Een tree terug vir die respek vir menselewens.

Kyk die lokprent hier:

 
Lees ook:

The watchers: ’n filmresensie

Talk to me: ’n filmresensie

Skermgreep: Civil war

Skermgreep: Sinners – ’n filmresensie

Skermgreep: Mickey 17 – ’n filmresensie

Skermgreep: The brutalist – ’n filmresensie                       

Oppenheimer: ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top