
Talk to me (2022): Alle beelde en foto’s beskikbaar op IMDb.
Talk to me (2022)
Met: Hamish Phillips, Sophie Wilde en Kit Erhart-Bruce
Regisseurs: Danny Philippou en Michael Philippou
Koeler as koel. Dit is al manier om hierdie nuwe modegier te beskryf. Want net soos met die Halloween-, Exorcist- en The Nun-reekse gaan hierdie een beslis ook ’n opvolg kry. En nóg een en nóg een. Maar soos die jongste The Exorcist: Believer bewys het, is daar niks so vermoeiend soos ’n swak nabootsing van ’n klassieke oorspronklike nie. Daarom geniet die kyker hierdie gruwelrolprent deur die Philippou-tweeling terwyl dit daar is en voordat sukkel-oor-die-bultjie-vervolge die eerste rolprent se trefkrag aantas.
Dit is ’n slim konsep wat net uit die breine van ’n YouTube-tweeling kon gekom het. Want die regisseurs is bekend vir hul aktiewe lewe op sosiale media, die gewelddadige, komkommerkoel video’s wat hulle maak (soos hul reeks RackaRacka), en die bohaai wat hul miljoene volgelinge daaroor opskop.
Die nuwe riller-era behoort aan die jonges, en die tweeling gaan dit op elke denkbare manier ontgin.
Die gruwelstorie is oorspronklik. Tieners (rillers se gunstelingslagoffers) ontdek ’n gebalsemde hand wat al tevore aan ander ongelukkiges behoort het. Wanneer iemand daaraan raak, maak hy of sy ’n duiwelswêreld oop. Die paspoort tot toegang tot die hel se kolehok is die frase “Talk to me.”

Alexandra Jensen in Talk to me (2022). Foto: IMDb
Sodra iemand dit sê, nogal soos Candyman se herhaling van die satan se naam, gee hulle ’n entiteit toegang tot hul siele. Vir ’n rukkie sit hulle verstar in ’n stoel met wydgesperde oë terwyl hul vriende voortgaan met hulle drankgevulde makieties. Hierdie oomblikke is eintlik die mees vreesaanjaendes, want die fliekganger raak betrokke by die geïsoleerde slagoffer wat van die duiwel besete raak, maar net verstom voor hom of haar kan uitstaar alvorens hy of sy uit die koma kom.
Maar wat hierna volg (en ’n mens wil nie verklap wat gebeur nie), is die kloppende duiwelshart van die rolprent. Want sodra jy begin ontspan en sug: “Ag, dit was nie so erg nie”, word die slagoffer aangehits om nog ’n sin te prewe, en dan bars die hel éérs los. Die nuwe aanhitsing van die duiwel is uniek. So erg dat deurwinterde grillerfoendies in die teater waarin ek die rolprent gesien het, gegil het: “Nee! Nee! Nee!” ná die tweede frase.
........
Daar moet onthou word dat daar eintlik niks oorspronkliks in rillers oorgebly het nie. Regisseurs herontwerp maar net skoktegnieke, soos Alfred Hitchcock bewys het met Psycho.
........
Hierna begin die voorspelbare tonele waar iemand van die duiwel besete raak en The Exorcist se paadjie loop. Maar steeds teister daardie tonele die fliekganger vanweë die regisseurs se vermetelheid. Hulle kasty die gehoor met alternatiewe weergawes van hierdie scenario wat net erger en erger raak.
Daar moet onthou word dat daar eintlik niks oorspronkliks in rillers oorgebly het nie. Regisseurs herontwerp maar net skoktegnieke, soos Alfred Hitchcock bewys het met Psycho. Dis die nuwe invalshoek en die ommeswaai van geykte skokoomblikke wat die rolprente na sukses dryf.

Sophie Wilde vertolk die rol van Mia. Foto: IMDb
In hierdie geval ken die regisseurs rillers uit hul koppe. Hulle is bewus van al die slaggate en verwagtings wat geskep word. Maar hulle omseil dit dikwels vernuftig om skok op skok op skok te stapel. Ongelukkig eindig dit gedurende die laaste tien minute of wat soos die kyker verwag het.
........
Dit is egter die grieselrige reis na die eindbestemming wat Talk to me een van die suksesvolste skokfilms van die afgelope paar jaar gemaak het.
........
Dit is egter die grieselrige reis na die eindbestemming wat Talk to me een van die suksesvolste skokfilms van die afgelope paar jaar gemaak het. En soos met Jamie Lee Curtis in Halloween en Sigourney Weaver in die eerste Alien berus ’n groot deel van die sukses by ’n dapper heldin wat deur ’n gesaghebbende aktrise, Sophie Wilde, gespeel word. Hierdie stewige vertolkings bewys dat die entiteit gretig wag op sterk persoonlikhede om in alle erns te tart, te intimideer en dan te infiltreer.

Otis Dhanji in Talk to me (2022). Foto: IMDb
Sophie Wilde is reeds wyd aangeprys vir haar vertolking van Mia, die meisie wat kontak met haar oorlede ma probeer maak. Want anders as ander meisietjies wat gil en skree wanneer hulle in flieks aangeval word, bly sy verbysterd sit. Is bewus van die verandering wat in haar plaasgevind het en veg daarteen.
En dan is daar natuurlik die porseleinhand wat uitgestrek wag op die volgende groet. Natuurlik is daar weer dom tieners wat dit bloot vir hoogskopplesier aanwend, en soos ’n dwelmreis iets anders wil ervaar as die gewone gogga-maak-vir-baba-bang elektriese-skokstok-plesierritte. Hulle betaal almal duur hiervoor.
Daarom wag ’n mens nou op die reeks nuttelose vervolge wat gaan kom. Maar niks sal weer by veral die eerste helfte van Talk to me kom nie. Daardie tinteling wat deur rillervrate se gemoedere ruk wanneer die eerste skokke onverwags toeslaan, kan nooit nageboots word nie.

Talk to me (2022). Foto: IMDb
Maar aan die anderkant: Die Philippou-broers skyn so oorspronklik en slim te wees dat hulle dalk gaan bewys dat hulle steeds in kontak met hul innerlike tiener is. Hulle weet waarna die nuwe geslag soek, maar met ’n tintelende variasie.
Talk to me het feitlik ongemerk vanaf die silwerdoeklys verdwyn. Dit sal weldra iewers op ’n stromingsnetwerk verskyn indien nuwe kykers daaraan wil deelneem. Maar dit is ongelukkig die soort ervaring wat jy in ’n viermuurteater moet ervaar. Want om saam met mederillerverslaafdes aan hierdie fees deel te neem, en saam met hulle te skrik, gebeur net een maal ’n jaar.
Hierdie fliek mag jou slapelose nagte gee. En twee keer laat dink voordat jy enigiemand se uitgestrekte hand in joune neem om hulle te groet.
Lees ook:

