Unieke, ontsenuende reeks: Perfume, ’n resensie

  • 0

Hierdie resensie bespreek volwasse temas.

Perfume (2018), IMDb

Parfum (2018), op Netflix onder die Engelse titel Perfume
Duits, met Engelse onderskrifte
Regisseur: Philipp Kadelbach
Skrywers: Eva Kranenburg, Patrick Süskind
Hoofakteurs: Friederike Becht en August Diehl

Hierdie unieke en ontsenuende reeks waarin alles onderbeklemtoon word, vra: Indien Patrick Süskind, wat die veelbesproke roman Das Parfum: die Geschichte eines Mördes geskryf het, ’n alternatiewe weergawe moes uitgedink het – selfs ’n vervolg – sou dit só gelyk het?

Perfume filosofeer oor wat gebeur wanneer hierdie donker roman ’n groep verdwaalde siele aanhits om eksperimente met reuksintuie en parfuum byna 40 jaar na die verskyning daarvan verder te voer. Elkeen het ’n skroef los, daarom het hulle reeds op skool van die roman kennis geneem. Hulle was nuuskierig oor waartoe die mens in staat is, veral as sy reuksintuie sterker as gewone mense s’n raak.

Die storie word opnuut ontlont wanneer ’n meisie wat deel van die groepie was, vermoor word. In ’n senutergende toneel, wat die aard van die reeks reeds vroeg vestig, daag ’n kind op met ’n string hare in die hand. Dit is bloedig en baie duidelik van ’n skedel afgesny. Watter leidrade bied dit?

.....
Die afstand tussen die lede van die ondersoekspan, elkeen soos ’n soldaat of skadufiguur teenoor mekaar geplaas, veroorsaak van die begin af ’n visuele spanning. Dit is ’n motief wat deurgaans in die reeks gebruik word.
.....

Die afstand tussen die lede van die ondersoekspan, elkeen soos ’n soldaat of skadufiguur teenoor mekaar geplaas, veroorsaak van die begin af ’n visuele spanning. Dit is ’n motief wat deurgaans in die reeks gebruik word.

Wat vir die polisie raaiselagtig is, is dat die slagoffer se oksel- en pubiese hare met mediese presiesheid verwyder is. Wie het dit gedoen? En hoekom? Waarvoor word dit aangewend? Om die beste en mees sensuele parfuum ooit te skep?

Een van die ondersoekbeamptes word boonop bloots deur persoonlike probleme gery. Haar demone en begeertes dans daagliks saam met haar, wat haar eintlik die ideale slagoffer vir die moordenaar(s?) maak. Sy raak behep met die onderwerp van haar ondersoek, en is self seksueel by ’n lid van die ondersoekspan betrokke. Sy raak gedurende haar ondersoek ook behep met die betekenis van reuke.

Toneel uit Perfume (2018), IMDb

 Die ondersoekspan en die vriende vorm dan twee sirkels wat dikwels oorvleuel, en in daardie oorvleueling lê onverwagse raakpunte wat die reeks ontgin.

Perfume moenie nie verwar word met ’n gelyknamige rolprent wat Süskind se roman visuele gestalte gegee het nie: Perfume: the story of a murderer (2006). Dit het nie dieselfde magnetiese bose sjarme nie. Want dié slag word beheptheid met reuke en moord uit verskeie invalshoeke en oogpunte beskou en geïnterpreteer.

.....
Die ondersoekspan en die vriende vorm dan twee sirkels wat dikwels oorvleuel, en in daardie oorvleueling lê onverwagse raakpunte wat die reeks ontgin.
.....

Wat die reeks egter kniehalter, is ’n byna narsistiese aanslag waar elke beeld, elke karakter, elke gebeurtenis, elke raampie puntenerig en noukeurig vertroetel word. Natuurlik verwag die kyker nie ’n vinnige tempo nie, maar in hierdie geval swik die reeks vanaf episode 2 en 3 tog daaronder. Dit verander in ’n selfbewuste e-pos oor moord, donker stiltes en ’n tydsame ontwikkeling en ontginning van temas. Dit is eers gedurende die vierde episode dat die reeks weer fokus kry.

Netflix het ’n ooraanbod aan sensuele Spaanse reekse waarin seks ’n toonaangewende rol speel, veral in sensuele gedaante soos in Elite. Daarom is dit verblydend dat Duitse televisie ’n kans gegun word om hul produkte aan ’n breër kykerspubliek bekend te stel. In Perfume ruik die kyker nie noodwendig die bedwelmende geure wat die roman (en rolprent) gekenmerk het nie, maar werk steeds verlammend op die kyker van hierdie kil reeks in.

Die lang pad van Perfume na die silwerdoek en nou TV-skerm is aan baie welbekend. Die verhaal het regisseurs soos Roman Polanski, Steven Spielberg en selfs Stanley Kubrick om die regte laat bie, maar Eva Kranenburg het na 15 jaar se volharding daarin geslaag om dit na die televisieskerm te verplaas. Haar reeks is meer film as televisie en lyk vreemd ontuis op die klein skerm. Dit benodig ’n wyedoek om behoorlik onder die hipnotiese invloed daarvan te kom.

.....
Interessant hoeveel aandag aan produksieontwerp gegee word wat die karakters se persoonlikhede weerspieël. Dit word tot in die fynste besonderhede uitgebeeld.
.....

Die reeks is donker en neerdrukkend. Somber skote van verlate landskappe, eensame motors en geïsoleerde karakters skep en meng beelde soos ’n parfuummengsel. Donker huise sonder persoonlikheid val ook op. Dit weerspieël eensaamheid, vervreemding, verlatenheid en emosionele isolasie. Wrede geweld onderbreek dan onverwags die uitgestrekte landskappe, die spokerige swembad en ontmensde kantore van die polisie. Interessant hoeveel aandag aan produksieontwerp gegee word wat die karakters se persoonlikhede weerspieël. Dit word tot in die fynste besonderhede uitgebeeld.

Friederike Becht vertolk die rol van Nadja Simon (IMDb)

Selfs ’n kasteel wat herinner aan Gotiese romans en Edgar Allan Poe-verhale, domineer die landskap en fassineer die kamera. Die kyker hou dikwels asem op oor wat aan die einde van ’n pad wag. Of watter bekentenisse gemaak gaan word terwyl die parfumeur (gespeel deur August Diehl), ’n lid van die destydse skoolgroep, met sy uitdrukkinglose gesig filosofeer oor die bestanddele van sy mengsels. Hy ontwerp elke parfuummengsel noukeurig om by die verbruiker te pas. Sou dit ’n belydenis wees wat sy skuld aan die moorde bevestig wanneer hy deur Nadja Simon (Friederike Becht) ondervra word?

Ook hoe hy die bestanddele vind, koester en meng om die volmaakte parfuum te skep. Hy balsem sy verbruiker amper. Hierdie tonele in episode 4 is uniek, sensueel, maar tog ook skrikwekkend.

Reuke laat die onderbewuste skielik ontwaak, verduidelik die reeks. Veral in ’n toneel waarin daar geëksperimenteer word wanneer mans vroue se bra’s besnuffel en keuses na aanleiding van geure gemaak moet word.

En soos ’n lewende grafkelder staan die laboratorium waar die parfuum geskep word en reuke in bottels vasgevang word. Pyn en plesier word vermeng, veral wanneer vroue eintlik vir ure gemartel word om hul geure met die parfumeur te deel.

Die musiek is onderspeel en onderstreep die atmosfeer in ’n mineursleutel. Dit sluit aan by die spokerige, siellose karakters wat deur die verhaal sweef. Dit is asof hulle tussen die hemel en die hel gevange gehou word, veral in reusagtig leë vertrekke. Die terugflitse na die verlede word egter, in kontras met die somber hede, byna oorbelig wanneer die kleure mens amper verblind.

Stadig maar seker hipnotiseer hierdie reeks jou tot by ’n onverwagse en ontstellende ontknoping.

Perfume, grieselrig, dikwels te stadig en verwronge, smokkel met die kyker se emosies en gewaarwordinge. Dis televisie wat jou vir ure na ’n eerste kennismaking steeds sal teister. Dis beslis nie almal se bottel parfuum nie.

Verlatenheid” sou ’n baie mooi naam vir een van hierdie parfuummengsels gewees het. “Moordenaarsparfuum” is dalk ’n beter beskrywing.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top