
Jim Caviezel as Tim Ballard (Foto: Skermgreep, YouTube)
........
Wat hierdie rolprent so veelbesproke maak, is dat dit fliekgangers en resensente in twee kampe verdeel het en tot ’n vurige debat aanleiding gegee het.
........
Met Jim Caviezel en Bill Camp
Regisseur: Alejandro Monteverde
Wat hierdie rolprent so veelbesproke maak, is dat dit fliekgangers en resensente in twee kampe verdeel het en tot ’n vurige debat aanleiding gegee het. Soveel dat nydige resensies ironies genoeg verder daartoe bygedra het dat Sound of freedom ’n onverwagse loketsukses was en steeds miljoene fliekgangers lok.
Dit doen ’n striemende aanval op die sluikhandel in kinders, maar ook regerings wat, so beweer die rolprent, nie betyds optree teen perverte nie. In die subteks vra die film: Word sulke magtige, skatryk booswigte nie onbewustelik beskerm nie?
Sound of freedom het besluit om die saak hardhandig te hanteer en soveel geraas te maak dat selfs Jericho se mure dawerend ineengestort het.
Aanvanklik is dit duidelik dat die held, Tim Ballard, se dapperheid geen perke ken nie. Dit word gevestig kort na die begin van die rolprent wat die ware verhaal van die heldhaftige pedofieljagter vertel. Hy het bedank uit die Departement van Binnelandse Veiligheid om hom voltyds op die opsporing van hierdie bose smokkelnetwerke toe te spits.
Die meeste inligting word byna soos in ’n dokumentêr woord vir woord aan die kyker oorgedra.
Wanneer Ballard se verhaal begin, verneem ons dat die dapper maar vermoeide man reeds 288 kindermolesteerders aangekeer het gedurende die 12 jaar waarin hy hulle jag. (Terloops, twee miljoen kinders word glo jaarliks ontvoer en seksueel misbruik.)
Hy praat teen die einde self oor sy ervarings wanneer hy getuienis voor die Amerikaanse Kongres lewer. En dit is interessant om die werklike Ballard en die akteur Jim Caviezel se vertolking van hom te vergelyk.
Ons gaan dan saam met Ballard op sy hellevaart om sélf te ervaar wat hy daagliks meemaak. Dit word natuurlik ook ’n huldeblyk aan die goeie werk wat hy doen.
........
Is hierdie vertelling in die oortreffende trap nie dalk die beste manier om die publiek, wat dikwels slegs prentjies kyk, se aandag sodanig te kaap dat hulle gedwing word om emosioneel betrokke te raak nie? Selfs opgesweep en woedend te reageer?
........
Die boodskap word dikwels oordonderend uitgebasuin, terwyl ’n subtieler aanslag dalk beter sou gewerk het. Maar dan ontstaan die vraag: Is hierdie vertelling in die oortreffende trap nie dalk die beste manier om die publiek, wat dikwels slegs prentjies kyk, se aandag sodanig te kaap dat hulle gedwing word om emosioneel betrokke te raak nie? Selfs opgesweep en woedend te reageer?
Wys die regisseur werklik effektief dat Tim Ballard ’n besonderse, maar tog doodgewone man is wat sy doel ten alle koste wil bereik? Of word dit ’n bietjie verglans? Hy verander in ’n soort Christus-figuur in Jim Caviezel se spel, juis die akteur wat Christus in The passion of the Christ vertolk het.
........
Aan die ander kant: Moet ’n boodskap nie soms uitgeskree word nie, in plaas van om dit te fluister?
........
Aan die ander kant: Moet ’n boodskap nie soms uitgeskree word nie, in plaas van om dit te fluister?
Ballard se onstuitbaarheid en dapperheid is natuurlik bewonderenswaardig. Maar die oordramatiese polsende musiek, die koorsagtigheid waarmee die rolprent geregisseer is en die manipulerende regie kelder ongelukkig soms die boodskap. Verander hom in ’n soort Avenger met superkragte.
Dit is wat resensente en party fliekgangers in twee kampe verdeel het.
Kinderonskuld word treffend in skrynende beelde uitgebeeld, en gejukstaponeer met die perversie van bleeksielpedofiele. Dit is juis hierdie tegniek, musiek, beligting, kamerahoeke, klank, produksieontwerp en koorsige spel wat van die rolprent so ’n loketsukses gemaak het. Dit bereik uiteindelik ’n naelbytklimaks wanneer Ballard na ’n kind in Colombia gaan soek. Hier word hy eintlik die Rambo van die oerwoud, veral in die regisseur, Alejandro Monteverde, se hande.
’n Verteller gee ook saaklike inligting op dramatiese wyse, veral aan die begin, wat miskien in ’n ander vorm oorgedra kon gewees het. Dit verander die openingstonele amper in ’n dokumentêr. Dit pla ook wanneer Ballard se vrou in ’n kort toneel, waar ons haar skaars leer ken, sê: “Bedank, en gaan red die kinders.” Snelskrif wat na die volgende toneel lei. Sy moes tog seker ’n sterker rol in sy lewe gespeel het as net dit.
Aan die ander kant: Só word die kyker direk en opswepend betrek. Eintlik reeds van die begin af, waar die kamera deur ’n venster met vierkantige ruitjies (wat gevaar en latere gevangenskap suggereer) inzoem op ’n dogtertjie wat in silhoeëtvorm ’n ritme met haar skoentjies skep. Dit word ’n hoofpyn wat dwarsdeur die rolprent weerklink – amper ’n soort leitmotif wat waarsku dat haar geluk van korte duur sal wees
Sy is een van vele slagoffers, en kry hier ’n menslike gesig. Sy is nie bloot net nog ’n naam of statistiek nie.
........
So word Sound of freedom ’n woeste, emosionele ervaring wat kykers wakker skud en ’n aanslag op hul emosies maak. Tog is hierdie tegniek soms geneig om spykers hardhandig in die brein in te kap.
........
Hierna volg tonele oor die afgryslike genot wat oortreders in agterkamers uit perverse televisiebeelde kry. So word Sound of freedom ’n woeste, emosionele ervaring wat kykers wakker skud en ’n aanslag op hul emosies maak. Tog is hierdie tegniek soms geneig om spykers hardhandig in die brein in te kap.
Maar is dit noodwendig die beste manier om dit te doen? Het dit nie juis baie mense van hierdie rolprentweergawe van die dapper Ballard se goeie werk vervreem nie?
Diegene wat destyds onder die gevreesde ses-van-die-bestes-rottanghoue op skool deurgeloop het, sal weet. Na die vierde hou raak die vel dikwels verlam of verdoof, en het die laaste houe nie noodwendig dieselfde impak indien dit herhaaldelik op dieselfde plek geplant word nie. Dit is wat hiér gebeur. Die kyker raak suf en later oorbluf van visuele hou op klankhou op emosionele hou.
Vandaar die kritiek dat die rolprent oordadig bombasties raak. Die filmmakers het egter hul styl verdedig deur te verduidelik dat die gruwel van sluikhandel net op hierdie manier onder die aandag van die publiek gebring kon word. ’n Woeste huldeblykopera in plaas van ’n nugtere, saaklike en dalk meer treffende vertelling.
Dit het veroorsaak dat Sound of freedom Tom Cruise se narsistiese (dog vermaaklike!) ode aan homself, Mission Impossible – dead reckoning part 1, onttroon het as die week se grootste geldmaker toe dit uitgereik is. Die wêreld se gewildste superster se flankering met fraai gevaar is gekaap deur ’n hardebaard stelling wat nie doekies omdraai nie en stewige sosiale kommentaar lewer.
Sou dit andersins egter dieselfde uitwerking gehad het? Of het mense nodig om aan hul nekvelle rondgeruk te word?
........
Wat ook buitengewoon is, is die bemarkingstrategie waar sakemanne en die publiek aangemoedig is om geld in die projek te belê totdat daar genoeg fondse was om dit te vervaardig.
........
Wat ook buitengewoon is, is die bemarkingstrategie waar sakemanne en die publiek aangemoedig is om geld in die projek te belê totdat daar genoeg fondse was om dit te vervaardig. Geen ateljee of stromingsnetwerk wou destyds daaraan raak nie. Slegs een rolprentmaatskappy, Angel Ateljees, het Sound of freedom ondersteun. Verder word mense gedurende die slottitels aangemoedig om kaartjies vir vriende te koop sodat ook hulle die rolprent kan ervaar. Moontlik die eerste keer dat hierdie tegniek ooit gebruik is. En dit het gewerk.
Wat ook in Sound of freedom se guns tel, is dat dit die enigste ander rolprent was, veral in die Barbenheimer-era, wat mense opnuut laat terugkeer het teaters toe en sodoende ’n bewuswording van ’n gruwelprobleem daargestel het.
Heilig die doel in hierdie geval die middel?
Aan die einde van die belydenis, terwyl die titels rol, verdedig Caviezel die goeie motiewe van Sound of freedom vurig en moedig hy fliekgangers aan om vriende te oortuig om ook hierna te gaan kyk. Hulle kan selfs ’n kode skandeer om ekstra kaartjies te koop.
Ná die titels klaar gerol het, is die kyker steeds voos geskok en vermoeid. Hy/sy is so gebombardeer deur die hewige tegnieke om die noodsaaklike boodskap tuis te bring dat die goeie werk wat die rolprent doen, dalk in die oormaat verdrink.
........
Om soms te oordramatiseer of nie te oordramatiseer nie. Dit is die vraag.
........
Jim Caviezel lewer geteisterde, emosionele spel. Hy raak egter te veel van ’n blinkgepoetste Superman, en te min die doodgewone vegter wat ’n bomenslike taak verrig het en honderde kinders gered het. En ja, hy is beslis ’n bewonderenswaardige held. Maar die rolprent beitel net te hard aan sy beeld, veral in die ontstellende, soms oordramatiese Colombia-tonele waar kinders uit die sluikhandel bevry word.
Natuurlik moet ons weet wat gebeur het. Besef hoe onverskrokke en dapper Ballard is. Maar dit wil in ’n aksiecliché verander wat die goeie boodskap ondermyn soos uitgespel in uitroeptekendialoog – “What if is was your daughter?” en “God’s children are not for sale.”
Gravel Road Distribution, die verspreiders van Sound of freedom in Suid-Afrika, het onlangs die volgende verklaring uitgereik: “Die pay-it-forward-veldtog (waarin mense vir ander kaartjies koop) ... was prysenswaardig. Meer as 21 000 Suid-Afrikaners het reeds gratis kaartjies gekry om vertonings by te woon. En het op hulle beurt weer aan ander mense, wat nie kaartjies kon bekostig nie, die geleentheid gebied om die film te ervaar. Die doel is om ’n bewustheid te skep van die euwel van die sluikhandel in kinders.”
Om soms te oordramatiseer of nie te oordramatiseer nie. Dit is die vraag.

