Die Academy of Science of South Africa (ASSAf) het onlangs twee openbare webinare aangebied waar gekyk is na die regering se hantering van ivermektien, asook die etiek van inperking en die manier waarop inentings hanteer word.
In die eerste webinaar het die regulerende liggaam wat medisyne in Suid-Afrika registreer, bekend as die South African Health Products Regulatory Authority (Saphra), nogal deurgeloop onder kritiek, en in die tweede is gekyk na die etiek rondom inperking en inentings.
Ivermektien onder die loep
Op 12 April 2021 het drie kenners, Vinny Naidoo, dekaan van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, Tamara Kredo. ’n senior spesialiswetenskaplike verbonde aan die Suid-Afrikaanse Cochrane-sentrum, en Donrich Thaldar, ’n hoogleraar in die regte aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, gekyk na die gebruik van ivermektien, die inligting wat daaroor beskikbaar is en veral die manier waarop Saphra die kwessie hanteer het.
Naidoo het afgeskop deur vlugtig te vertel hoe ivermektien parasiete doodmaak en hoekom dit so gewild is in die veeartsenybedryf. Ivermektien is ’n generiese naam vir die aktiewe bestanddeel vir ’n groot aantal plaagdoders.
Die middels maak dit onmoontlik vir die parasiete se selle om met mekaar te kommunikeer, en uiteindelik beteken dit dat die diertjies van die honger sterf. (Lees ook Marianne Lomberg se toeganklike beskrywing hier.)
Dié reeks plaagdoders is later ook vir menslike gebruik aangepas en word in sommige lande gebruik teen siektes soos rivierblindheid en olifantsiekte, wat deur parasiete veroorsaak word. In 2015 is ’n deel van die Nobelprys vir Medisyne aan William C Campbell and Satoshi Ōmura gegee vir hulle werk in die behandeling van rondewurm en parasiete.
Teen lae dosisse, soos voorgeskryf vir die behandeling van parasiete, is ivermektien wat vir mense veraardig word, dus veilig.
Die probleem, sê Naidoo, is dat dit nooit sonder mediese toesig gebruik moet word nie, want nie alle volwassenes se bloedbreinversperrings het die vermoë om die aktiewe bestanddele teen te werk nie; dieselfde geld vir sekere honderasse. Die inneem van sekere medisynes kan die bloedbreinversperring beskadig – selfs die inneem van groot hoeveelhede sitrusvrugte, byvoorbeeld die drink van lemoensap, kan die versperring se effektiwiteit verlaag. Wanneer dit gebeur, kan iemand se sentrale senustelsel erg beskadig word. (Sien ook Marianne Lomberg se beskrywing van die bloedbrein.)
Ivermektien wat in hoër dosisse ingeneem word as wat voorgeskryf is, kan ook die bloedbreinversperring aantas.
Naidoo sê voorts dat die aanvanklike toetse wat in laboratoriums onderneem is om te kyk of ivermektien moontlik teen ’n virus ingespan kan word, gewerk het met konsentrasies wat veel hoër is as die veilige dosis wat vir mense voorgeskryf word. Teen die konsentrasies wat mense veilig kan drink, is ivermektien gewoon nie effektief teen ’n virus nie.
...
Teen die konsentrasies wat mense veilig kan drink, is ivermektien gewoon nie effektief teen ’n virus nie.
...
Sommige Suid-Afrikaners probeer tans om ivermektien voorkomend te gebruik deur dit gereeld te drink. Dit veroorsaak ’n opbou van die middel in die liggaam, wat ook skade aan die sentrale senustelsel tot gevolg kan hê.
Daar is reeds studies gedoen om die veilige, daaglikse inname van ivermektien op mense te bepaal wat dit oor ’n lang tydperk gebruik. Dit lyk tans of 10 mikrogram per kilogram veilig is. (’n Mikrogram is 1 g gedeel deur 1 miljoen.) ’n Gesonde persoon van 60 kg sou dus waarskynlik vir ’n geruime tyd 600 mikrogram ivermektien per dag kon drink, maar teen daardie konsentrasies is ivermektien nie in staat om voorkomend teen virusse op te tree nie.
Ivermektien, entstowwe en die wetenskap – ’n veearts verduidelik
Cochrane-navorsing en die infodemie
Daar is verskeie YouTube-video’s waar mense sogenaamde Cochrane-ondersoeke gedoen het om te bewys hoe goed ivermektien werk. Van daardie ondersoekers het selfs hulle regering genader met hulle “bewyse” – en het dan op YouTube verklaar dat die regerings van die wêreld nie wil luister nie.
Tamara Kredo. ’n senior spesialiswetenskaplike verbonde aan die Suid-Afrikaanse Cochrane-sentrum, het verduidelik hoe verkeerd dit is om ’n klomp onbetroubare data in kolomme te gooi en dan te probeer bewys dat ivermektien werk.
’n Cochrane-ondersoek versamel nie vals data nie. ’n Cochrane-ondersoek kyk juis na die metodologie wat gebruik is om data te versamel en besluit dan watter studies se data sinvol sal wees om te gebruik.
Die probleem is dat daar tans ontsettend baie data beskikbaar is, want danksy die epidemie het verskeie instansies na strooihalms gegryp om middels te kry wat werk. Dít, die pogings wat aangewend is, word nie veroordeel nie. Die probleem is dat daar dan voorlopige data versprei word om ander ondersoekers te help en daardie voorlopige data beland dan in die hande van mense wat dit misbruik.
Om data op die internet te kry, is soos om te probeer water drink uit ’n brandkraan wat groot oopgedraai is, sê Tamara. Dit is oorweldigend. Teen 15 Februarie 2021 was reeds 100 000 artikels oor COVID-19 op PubMed gelaai.
...
Om data op die internet te kry, is soos om te probeer water drink uit ’n brandkraan wat groot oopgedraai is, sê Tamara.
...
Baie van studies het hulle data bekendgemaak voor dit deur ewekniebeoordeling is. Dié gebruik staan in Engels bekend as “pre-prints” – juis om vooraf inligting met ander navorsers te mag deel. In tye van nood is dit uitstekend, maar al sulke publikasies word voorafgegaan deur duidelike waarskuwings wat sê dat die data en die bevindings nog nie onweerlegbaar waar bewys is nie. Dit kan dus nie gebruik word in besluitneming oor die goedkeur van medisyne nie.
Wanneer bewysgebaseerde besluite oor medisyne geneem moet word, is daar hiërargieë om te bepaal watter data moontlik die beste resultate sal gee.
Die probleem is dat die breë publiek dít nie verstaan nie.
Die geval van hidroksichlorokien (HCQ), ’n antimalariamiddel wat in die handel bekend staan as chlorokien (chloroquine), wys hoe gevaarlik aannames op klein studies kan wees wanneer ’n geweldige populistiese ondersteuning daarvoor ontstaan.
Ons weet vandag dat HCQ nie effektief is in die behandeling of voorkoming van COVID-19 nie.
Kredo het ’n tydlyn opgestel om te wys hoe hierdie middel gewild geword het voor dit as oneffektief bewys is. Al die datums is uit 2020:
- 3 Maart: Die joernaal van die Zheijing-universiteit publiseer ’n studie waar COVID-19-pasiënte met HCQ behandel is en sê “meer navorsing is nodig”.
- 13 Maart: Todaro (’n dokter) en Rigano (nie ’n dokter nie) publiseer ’n Google-dokument wat nie deur ewekniebeoordeling is nie – en later verwyder is.
- 16 Maart en 18 Maart: Rigano praat op Fox News.
- 16 Elon Musk stuur ’n twiet: “Maybe worth considering chloroquine for C19.”
- 19 Maart: Trump sê die FDA (die VSA se Food and Drug Administraion) sal HCQ “fast-track”.
- 20 Maart: ’n Franse studie op ses pasiënte verklaar dat al ses wat HCQ én asitromisien gedrink het, geen virale lading meer het nie. (Asitromisien is ’n baie sterk antibiotikum.)
- 21 Maart: Trump sê HCQ is ’n “game changer”.
- 22 Maart: Indië oorweeg die wydverspreide uitrol van HCQ.
- 23 Maart: Spesialiste in die VSA vra dat mense wat afhanklik is van HCQ vir ander siektes, nie van hulle medisyne ontneem moet word nie.
- 24 Maart: Een sterfte van ’n pasiënt wat chlorokienfosfaat gebruik het.
- 28 Maart: Die FDA keur noodgebruik van HCQ goed vir pasiënte met erge COVID-19.
- 3 April: Die vereniging wat die Franse studie van 20 Maart gepubliseer het, sê daardie studie voldoen nie aan hulle vereistes nie en hulle trek dit terug.
- 17 Mei: Trump sê hy drink HCQ.
- 22 Mei: Lancet waarsku dat pasiënte wat met HCQ behandel word, dikwels negatiewe reaksies toon.
- 23 Mei: Frankryk trek die gebruik HCQ terug.
- 4 Junie: ’n Groot studie (Recovery) verklaar dat HCQ nie effektief is nie.
- 4 Junie: Lancet trek hulle artikel terug.
- 15 Junie: Die FDA trek die gebruik van HCQ terug.
- 4 Julie: ’n Tweede groot studie (Solidarity) hou op om HCQ aan pasiënte te gee.
- 3 Augustus: Trump sê “Hydroxy has tremendous support.”
- 15 October: Die Solidarity-studie verklaar dat HCQ geen voordeel inhou vir pasiënte met erge COVID-19 nie.
- Ook in Oktober (datum onseker): Peru verwyder HCQ van hulle behandelingsriglyne.
Ivermektien het weens die populêre aansprake verskeie studies opgelewer. Teen 8 April 2021 is 2 818 studies by die Wêreldgesondheidsorganisasie geregistreer en 1 429 van hulle het pasiënte gewerf.
Min van hierdie studies het resultate gepubliseer. Vir Suid-Afrikaners is dit van belang dat nóg die Universiteit van die Vrystaat, nóg Stellenbosch-universiteit enige data gepubliseer het; daardie virale WhatsApp van die “silver bullet” ten spyt.
Kredo, ’n ware Cochrane-ondersoeker, sê dat van al die studies wat gepubliseer is, daar steeds net een studie is wat voldoen aan die vereistes om ernstig genoeg opgeneem te word, en daardie studie het dit duidelik gemaak dat ivermektien geen beduidende invloed het op pasiënte se simptome nie. (LitNet het met Jeremy Nel oor hierdie studie gesels.)
Kredo sê een van die redes waarom verskeie instansies wat aanvanklik vir toetse op ivermektien geregistreer het, nooit formele data gepubliseer het nie, is dat dit eties al hoe moeiliker raak om toetse te doen op ’n middel waarvan die bewyse internasionaal toon dat dit nie werk nie.
Volgens haar berus die besluit om ’n sekere middel te aanvaar op hierdie gronde:
- die voordele wat dit inhou
- die nadele daaraan verbonde
- die koste
- die beskikbaarheid daarvan op ’n billike basis aan ’n breë publiek
- die lewensvatbaarheid van so ’n projek
- die dosis en die tydperk waaroor so ’n middel geneem moet word.
As iemand wat in die Cochrane-instituut werk, vra sy dat mense baie versigtig moet wees met die inligting wat op die internet versprei word, want daar is enorme hoeveelhede informasie én disinformasie oor ivermektien.
Haar opsomming, gebaseer op die navorsing van data, is:
- Ivermektien se voordele in die behandeling van COVID-19-simptome is glad nie beter as die plasebo nie.
- Ivermektien se vermoë om uiters siek mense van die dood te red, is nog nie deur genoegsame data bevestig nie.
- Ivermektien se vermoë om te keer dat mense die virus kry, is ook nog nie deur data bevestig nie.
Die voordele van ivermektien weeg dus nie swaarder as die moontlike skade wat die verkeerde gebruik daarvan kan aanrig nie.
COVID-19: Verdraaide feite wat so vinnig soos ’n virus versprei
Ivermektien en die hofsake met Saphra
Die derde spreker was Donrich Thaldar, ’n hoogleraar in die regte aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy was striemend in sy ondersoek na die manier waarop Saphra die ivermektiensage hanteer het.
...
Hy voer aan dat Saphra die publiek in die steek gelaat het.
...
Een van sy hoofargumente was dat die publiek geloofwaardigheid by ’n staatsinstelling soek. Hy voer aan dat Saphra die publiek in die steek gelaat het.
Hy het begin deur Saphra se boodskappe oor die middel se effektiwiteit op hulle webruimte te ondersoek:
- Desember 2020: Ivermektien is nie geskik vir menslike gebruik nie en daar is geen bewyse dat ivermektien effektief of veilig is in die behandeling van COVID-19
- Januarie 2021: Die bewyse dat ivermektien gebruik kan word vir die behandeling van COVID-19 is onduidelik.
- Maart 2021: Wetenskaplikes is onseker of ivermektien werk in die behandeling van COVID-19.
Toe het Thaldar gekyk na wat Saphra oor registrasie sê:
- Tot Februarie 2021 het hulle volstaan daarby dat dit nie geregistreer is vir menslike gebruik nie.
- Op 16 Februarie 2021 sê Saphra dat daar geen aansoek is vir die registrasie van ivermektien nie.
- Maar op 14 Maart 2021 is hulle bewus van “’n medisyne” wat in die finale stadiums van registrasie is en dat dit binne dae goedgekeur behoort te word.
- Op 16 Maart is daardie enkele medisynes goedgekeur en nou mag dokters ’n geregistreerde apteker vra om ’n middel wat ivermektien bevat, vir ’n pasiënt voor te berei. Daar is steeds streng voorwaardes aan verbonde: Die dokter moet aansoek doen vir die behandeling en moet terug rapporteer oor die pasiënt se toestand.
Die probleem is dat Soolantra®, die middel wat op 16 Maart 2021 deur Saphra goedgekeur is, ’n gesigroom is wat vir ’n baie bepaalde velirritasie, bekend as rosacea, gebruik kan word. ’n Mikroskopiese miet wat in die vel woon, veroorsaak moontlik die irritasie, daarom is ivermektien, ’n plaagdoder gerig op parasiete, waarskynlik ’n goeie aktiewe bestanddeel om te gebruik.
Dus, omdat daar een gesigroom goedgekeur is, mag dokters nou, met die hulp van ’n apteker om die medisyne te meng, ivermektien aan pasiënte gee om in te neem.
Thaldar sê dat enkele dae voor Saphra skielik “bewus geword” het van Soolantra®, het die regsverteenwoordigers van die partye wat Saphra wou dwing om ivermektien toe te laat, ’n baie redelike en intelligente vraag aan die hof gestel, naamlik: Gee vir ons kriteria waarvolgens ons aansoeke kan bring vir die gebruik van ivermektien; die kriteria moet nasionaal dieselfde wees en moet objektief meetbaar wees.
Volgens hom is dit ’n “brilliant strategic litigation move”, maar Saphra gee toe nie gehoor aan daardie versoek nie. Hulle keur ’n gesigroom goed wat ivermektien bevat en betaal die ander party R1,8 miljoen in hofkostes.
Nou is dit vir die mediese dokter en die apteker nodig om hulle diskresie te gebruik wanneer ivermektien toegedien word.
Daarna, sê Thaldar, publiseer Saphra op 29 Maart 2021 op hulle webruimte: “SAPHRA has not authorised ivermectin for the treatment of COVID-19.” Dit ten spyte daarvan dat die hofbevel van enkele dae tevore lees: “SAPHRA is enabling the use of ivermectin for the purpose of treating or preventing COVID-19 at the discretion and responsibility of the prescribing clinician.”
Hy eindig sy praatjie deur te sê die gewone bevolking sal vertroue in die regeringsinstansies begin toon slegs as laasgenoemde konsekwente, duidelike boodskappe sou uitstuur en leierskap aan die dag sou lê.
Reguit met Robinson: ’n Tweede Zoom-gesprek met Helmuth Reuter
Leierskap, en die etiek van besluite
Op 4 Mei het ASSAf ’n tweede seminaar oor die pandemie gehou. Dié keer was die spreker Keymanthri Moodley, ’n buitengewone professor in die Departement Geneeskunde aan Stellenbosch-universiteit en die direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg.
Haar praatjie het gehandel oor pandemie-etiek. Hoe het ons gevaar? Sy het eers na Suid-Afrika gekyk, maar ook na die res van die wêreld.
Die etiek van inperking en die opheffing van sekere vryhede
Die koms van die pandemie het ’n enorme impak op openbare vryheid gehad, hier in Suid-Afrika, maar ook in ander lande.
Moodley het ’n artikel daaroor geskryf, wat afgelaai kan word.
In die gesprek het sy verduidelik hoe besluite oor mense se vryheid vanuit ’n gemeenskapsgesondheidsperspektief geneem is. Deur hierdie lens kan ’n mens die waarde sien van inperking, want dit keer dat die virus vinnig versprei, maar dan moet die besluitnemers ook die ekonomie in gedagte hou. Wanneer dienslewering van basiese dinge nie meer kan plaasvind nie, skep dit sy eie probleme wat uiteindelik tot groter gesondheidsprobleme kan lei. Ook die gebrek aan inkomste weens die opskort van ekonomiese aktiwiteite het ’n beduidende impak op gemeenskapsgesondheid.
Dit is dus ’n voortdurende stryd in haar wêreld: Meer drakonies, of minder so?
Ons hoef net te kyk na Indië om te sien wat groot religieuse byeenkomste aan die aantal sterftes doen, maar ook in Suid-Afrika was dit duidelik dat Kersfees die tweede golf tot gevolg gehad het.
As dit van haar sou afhang, het sy Kersfees gekanselleer, sê sy. Die regering was in Oktober reeds bewus van die nuwe variant, maar moes die sosiale en ekonomiese impak van groter inperking oor die Kersseisoen teen die gesondheidsrisiko opweeg.
Ons weet wat gebeur het: Die tweede golf het die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel oorrompel. Dit was veel erger as wat enigeen verwag het.
Oor die Paasfees-periode het Cyril Ramaphosa ware leierskap getoon, voel sy. Verskeie geloofsgemeenskappe vier tradisioneel in daardie tyd groot feeste wat dikwels met reusebyeenkomste gepaardgaan. Ramaphosa het moeite gedoen om geestelike leiers te woord te staan én om die land se burgers op die hoogte te hou van die gebeure. Die gevreeste derde golf het ons nie getref nie.
In Indië het godsdiensbyeenkomste voortgegaan en die gevolge is katastrofies.
Die etiese kwessies begin moeiliker word wanneer ons na die verkiesings kyk wat binnekort gaan plaasvind. Sy bepleit ’n baie duidelike beleid van geen politieke saamtrekke nie. Maar is dit reg? Is dit eties?
Die etiek van entstofverkryging
Oor entstowwe was Moodley minder vleiend teenoor die regering. Sy beskou die aankoop van AstraZeneca, die opskorting daarvan, en die gevolglike verkoop daarvan aan ander Afrikalande as eties verdag – al was die argument dat daardie lande nie oor die “Suid-Afrikaanse variant” bekommerd hoef te wees nie.
Oor die uitrol van Johnson & Johnson se inenting, wat toe tydelik opgeskort is en hervat is, het sy minder kritiek, want die waarskynlikheid dat iemand weens die inenting sou sterf is oneindig kleiner as die waarskynlikheid dat hulle sonder ’n inenting sou sterf. Tog het Johnson & Johnson ook etiese kwessies tot gevolg gehad – die mediese personeel wat daarmee ingeënt is, moes bereid wees om deel te wees van ’n toetslopie op ’n entstof waarvan die langertermyngevolge nie bekend was nie. Deur nie ingeënt te word nie, was die risiko egter veel hoër vir gesondheidswerkers.
Tog, sê Moodley, is dit nie goed genoeg om onsself op die skouer te klop dat sommige Suid-Afrikaners reeds ingeënt is nie. Die vraag moet globaal gevra word: Kon ons dit anders gedoen het?
Dié vraag moet gevra word aan ons regering, maar ook aan die wêreldleiers, die Wêreldgesondheidsorganisasie en selfs die navorsers wat die toetse gedoen het.
Duisende Suid-Afrikaners het vrywillig deelgeneem aan die AstraZeneca-toetse, met ’n verstaan dat dit die middel makliker aan ander Suid-Afrikaners sou beskikbaar stel. Uiteindelik het Suid-Afrika twee keer meer per inenting betaal as wat die VK daarvoor betaal het.
Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn
Hoekom het die wetenskaplikes wat die studies gedoen het, nie groter seggenskap beding nie? Hoekom het die regering nie vroeër begin onderhandel nie?
Maar kyk verder na die globale situasie: Waarom koop lande soos Kanada en die VK meer entstowwe aan as wat daar mense in hulle lande is, terwyl groot dele van Afrika nog nie ’n enkele entstof kan bekom nie?
COVID-19 het dalk vir ons gewys dat ons globaal nuut moet dink oor organisasies soos die Wêreldgesondheidsorganisasie. Moet hulle nie meer tande kry nie? Sou dit nie eties korrek gewees het as alle entstowwe deur een sentrale organisasie uitgedeel is aan alle lande volgens die risikoprofiel nie?
...
Sou dit nie eties korrek gewees het as alle entstowwe deur een sentrale organisasie uitgedeel is aan alle lande volgens die risikoprofiel nie?
...
Daar is selfs enorme vrae oor Indië, die wêreld se heel grootste vervaardiger van entstowwe, wat tans enorme hoeveelhede COVID-19-entstof na ryk lande uitvoer, terwyl hul eie gesondheidstelsel in duie stort weens COVID-19.
Dit lei weer na ’n ander vraag: Hoekom kon Indië ’n leier word op die gebied van entstofvervaardiging, maar nie Suid-Afrika nie? Sou ons dit kon doen as ons die patente kry – of dalk systap? (Dit wil voorkom asof die VSA wel die patente aan derdewêreldlande mag gee, aldus die New York Times.)
Die antwoord op die eerste vraag is dat Indië baie jare gelede groot geld in die vervaardiging van talle entstowwe belê het. In Afrika het dit nooit gebeur nie. Slegs Senegal het al pogings aangewend om entstowwe op groot skaal te vervaardig.
Moodley sê daar is ook etiese en ander kwessies om in ag te neem. Om entstowwe te maak is nie dieselfde as om ’n pil te maak nie – dit is sensitiewe biologiese materiaal waarmee gewerk word. ’n Mens kan nie regtig ’n “generiese” weergawe van ’n entstof maak nie.
Reis en byeenkomste
Ons weet nie hoekom Afrika nog nie so ernstig deurgeloop het onder Covid soos verwag is nie, maar aanvanklik was Indië se bevolking ook skynbaar minder vatbaar vir die virus. Daardie mite is nou deeglik weerlê.
Wat sou dan gebeur as die variant wat tans in Indië amok maak, na Afrika kom? (Dit is reeds in Uganda en Kenia bespeur, en een geval word in Kaapstad ondersoek.)
...
Moodley sê sy pleit vir baie strenger kontroles by ons lughawens en op vliegtuie.
...
Moodley sê sy pleit vir baie strenger kontroles by ons lughawens en op vliegtuie. Uit die aard van die saak hou niemand daarvan om van hulle regte ontneem te word nie, en sy moet die ekonomiese impak van enige besluite in ag neem. Tog voel sy dat die regering strenger moet optree om nuwe variante te probeer keer. (Die EFF vra ook vir strenger beheer.)
Uiteindelik sal paspoorte en visums waarskynlik aan inentings gekoppel word – slegs mense wat op datum is met hul inentings sal na ander lande mag reis. Dit is nie vreemd nie, want geelkoorsinspuitings is byvoorbeeld lank reeds nodig vir sommige lande. Tog is hier ook etiese kwessies, want nou gaan die ryk lande weer voorkeur kry. Waarom moet Afrikane gestraf word omdat hulle nie inentings kan bekom nie?
Veel meer plaaslik is daar ’n ander kwessie wat haar bekommer: Mense se geestesgesondheid word aangetas deur inperking en ouer mense vereensaam. Hierdie kwessies moet aangespreek word.
Die balans wat die regering, en raadgewers soos sy self, moet handhaaf, is om die gesondheidstelsel te beskerm teen COVID-19 sonder om die ander probleme te verwaarloos.
Die toekoms mag nie dieselfde wees nie
Moodley het teen die einde van haar praatjie meer filosofies geraak. Sy sê mense vra dikwels wanneer ons weer kan terugkeer na dit wat ons geken het vóór COVID-19. Dalk is dit die verkeerde vraag. Dalk is die regte vraag eerder: Hoe kan ons nooit weer teruggaan soontoe nie?
...
Covid het aan ons ’n geleentheid gebied om ’n nuwe toekoms te skep. Ons moet dit omarm.
...
Arundhati Roy, die skrywer en omgewingsaktivis, het gesê: “Nothing could be worse than a return to normality.” Roy sê Covid het aan ons ’n geleentheid gebied om ’n nuwe toekoms te skep. Ons moet dit omarm.
Maar wat moet verander? vra Moodley.
Sy wys daarop dat George Floyd se dood Amerika net so hard geskud het as Covid. Die stelsel daar móét eenvoudig verander.
Maar wat van Suid-Afrika? Cyril Ramaphosa wys gereeld daarop dat gendergeweld ’n ewe ernstige probleem in Suid-Afrika is. Soos geweld teen swart mense in die VSA, is gendergeweld in Suid-Afrika ’n pandemie wat saam met Covid verwoesting saai.
Wat moet ons doen? Dit moet ons almal se toekomsvraag word.
Hulpbronne in die staat se gesondheidsektore is uiters beperk. In die staatsdiens gebeur dit al lankal dat mediese personeel mense volgens prioriteite moet behandel, want daar is nie genoeg vir almal nie. Is dit reg? Moet ons aanhou terugkeer daarheen?
’n Ander omgewingsaktivis, Greta Thunberg, wys gedurig daarop dat ons intergenerasioneel moet begin dink. Die vraag wat Thunberg vra, is nie bloot wat ons vir hierdie generasie kan doen nie, maar wat ons vir ons kleinkinders se generasie moet doen.
Lees ook:
COVID-19: Jeremy Nel on vaccines, returning to normal and ivermectin
Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie
Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide
Kommentaar
Uiters interessant.
Interesting.