Paasnaweek en die derde vlaag

  • 0

 

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

..........

Dit kos net een siek persoon.

...........

Vir my as kind was een van die lekkerste tydverdrywe om in die somer op ’n Sondagmiddag by die N2 te gaan karre tel.

Al die naweekgangers wat van Hermanus en ander kusdorpe terugkom Kaap toe, moes immers daar verby. Teen 15h00, weet ons al, begin die verkeer saamdrom van die verkeersligte by die Gordonsbaai / Sir Lowryspas-dorp-afdraai tot verby Steenbrasdam se ingang, en dit het verkeer selfs tot in Grabouw beïnvloed. Dan kon ons rustig tel terwyl die karre verbykruie. Langnaweke was daar gewoonlik selfs meer mense wat verbykom.

Verlede jaar was die paaie uiteraard doodstil. Ons was toe nog midde-in die streng grendeltyd, toe mense hul huise kon verlaat net om kos te koop of dokter of bank toe te gaan.

Toe kom hierdie jaar.

Ek sien Paasmaandag video’s van die verkeer by Sir Lowryspas en by Houwhoekpas. Grabouw lê tussen die twee passe. Dis nie ’n oordrywing om te sê dat duisende karre hier verbygekom het nie. Selfs op Dinsdagoggend was daar nog stadige verkeer, van mense wat eerder nie die Maandagmiddagverkeer wou aandurf nie. Dis asof almal wat nie verlede jaar hulle tyd by die see kon deurbring nie, nou wou inhaal.

..........

Gewoonlik is Paasnaweek mos maar die laaste hoera voor die winter in alle erns begin.

Hierdie naweek het al daai volgepakte karre my ’n knop op die maag gegee.

..........

Gewoonlik is Paasnaweek mos maar die laaste hoera voor die winter in alle erns begin.

Hierdie naweek het al daai volgepakte karre my ’n knop op die maag gegee.

Die tweede vlaag, so word algemeen gereken, is ’n stewige hupstoot gegee deur die Rage-partytjies wat gehou is, ten spyte van al die versekerings dat Covid-protokolle gehandhaaf word.

Strandvakansies is eintlik maar net Rage-partytjies op kleiner skaal. Drank word gedrink, braaie word gehou, en mense geniet hulself. Wie dink in elk geval aan masker opsit as jy ná ’n lekker swem by die huis aankom en begin kuier? Of terwyl jy sit en hengel, en ’n vriend wat jy lanklaas gesien het, kom met uitgestrekte hand na jou aangestap, bly om jou te sien? Wie gaan nie daai hand vat, en dalk selfs ’n drukkie en ’n kloppie op die skouer gee nie?

En na die naweek spat almal uitmekaar, terug na hul normale lewens toe, bruingebrand en ontspanne.

Dit kos net een siek persoon. Dis so maklik om jou die scenario in te dink. Een persoon wat, kom ons sê maar, in ’n restaurant in Hermanus oor een ander persoon leun. Daai tweede persoon soen sy vrou en kinders goeienag. Die vrou gaan drink tee by haar vriendinne. Na die naweek gaan elkeen terug na hulle eie dorpe. Die kinders kom Dinsdag by die skool aan en speel met hul maatjies. Die maatjies gaan huis toe en steek hulle ouers aan. Die ouers gaan na hulle werke toe.

En siedaar, die derde vlaag is op ons.

Teen die spoed waarteen inentings plaasvind, vrees ek dat ons kan regmaak vir ’n vierde vlaag ook.

Die VSA het op 3 April vier miljoen vaksiene in een enkele dag toegedien, en hulle is steeds bekommerd dat hulle nie vinnig genoeg inent om die vierdie vlaag by hulle te keer nie. Ons? Ons Minister van Gesondheid spog op 4 April met 269 102 vaksiene wat toegedien is sedert die eerste besending op 1 Februarie met groot gebaar ontvang is.

Toegegee, die nuwe variant het dinge vertraag, maar steeds word mense nie vinnig genoeg vaksiene toegedien nie. Vriende in die mediese veld vertel my dat hulle op drie verskillende webwerwe moet registreer voordat hulle in aanmerking kom vir die vaksiene. Wat gaan gebeur wanneer dit kom by die algemene publiek, van wie baie geen toegang tot elektroniese registrasies het nie? Die President se versekering dat hulle op ander maniere gehelp gaan word, is nie juis gerusstellend nie. Ons gesondheid in die hande van Suid-Afrikaanse staatsamptenare?

Wat kan skeefloop?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top