Resensie oor ’n resensie oor ’n resensie in 33 fragmente*

  • 0

Foto: Flora Mipsum op Unsplash

(Rol tot aan die einde van die artikel om die agtergrond en aanloop tot hierdie skrywe te lees. Die LitNet-redaksie)


Resensie oor ’n resensie oor ’n resensie in 33 fragmente*

* geskryf met die oog op Rapport se resensente-kompetisie. Dis R30,000!


Om ’n fragment te probeer wees, is ’n mission. Almal probeer jou die hele tyd aanmekaar sit, saam met ander fragmente. Terwyl julle nie meer bymekaar pas nie. Dis nie net ’n tjip hier en ’n tjip daar nie, dis die growwe rante wat geslyt raak. Deur die lewe self. Dis nie ’n gebarste lippie wat jy sien nie, dis die oopgekloofde been.

Maar hier sit ons nou, want ’n LitNet-resensent weet van beter. Bymekaar geskraap met ’n Sasolburg-telefoongids. Is daar nog so iets? En met kinderboeke wat sy as “foefies” beskryf. Ek en die ander fragmente sit en kners op ons tande, inmekaargeprop soos factory rejects agterop ’n bakkie op pad na Zimbabwe.

Gelukkig weet ons dis nie gou voor ons weer uitmekaar spat nie. Alles breek in hierdie nuwe Suid-Afrika. En breek op en breek af, of breek uit en breek in. Dis een groot breekdans. Sommige van ons gaan dit maak tot onder die yskas in, of kry die kat om te speel met ons, of steek iemand in die toon en beland in die vullisblik, ’n hemel van uitskot ... 

Maar voor dit word ons eers besmeer met wondergom, wondersement, wonderhars; met handelsname soos Sticky Fingers. The Big Stick. Gumbuya Rainbow Gum. Never let me go, Kashuo. Hou my vas, korporaal. Haak-en-steek-blues. Maar waar is dit alles nou? Bernoldus Niemand lê in ’n sloot, sy kop getrap soos Siembamba morsdood.

............
Ons wil almal ’n lekker boek hê om te lees met min karakters wat jou meesleur in ’n nuwe wêreld in. Net nie sci-fi nie. Maar dis die ding. Is daar nie net te veel van ons nie?
.............

Ons wil almal ’n lekker boek hê om te lees met min karakters wat jou meesleur in ’n nuwe wêreld in. Net nie sci-fi nie. Maar dis die ding. Is daar nie net te veel van ons nie? Ons fragmente, stukke uit jou lewe wat jy moet weglaat: die huiswerker onder jou voete, die bedelaar by jou hek, die nuusvoer in jou bed, die geraamte onder die vloer, die pistool by die pille ... En dan is jy nog nie eens by die huis uit nie.

Ek praat met die verhaal hieroor, die een wat die skrywer ’n karakter gemaak het. Maar hy wil niks weet nie. Sy ego gloei soos ’n gloeilamp in ’n afgebreekte stuk kwarts. Die resensent sê hy is nogal verbasend interessant. En dit nadat sy veertig dae en veertig nagte in die res van die boek rondgedwaal het. Uitgeput en deur die mis en haar mond val steeds oop as sy hom sien. 

Hy beweer dit bewys die skrywer het iets reg gedoen. Hoekom het hy my dan nie ook in die boek gesit nie? vra ek gebelg. Dink hy ek hou nie ook van resensente nie? Man, sê hy, jy het obviously nie die resensie behoorlik gelees nie. Ek het nie, erken ek. Dit was te gou verby.

Maar ek is nie klaar met jou nie, sê ek vir die verhaal. Ek stem saam met die resensent, jy is te metafiksioneel. Dis darem old hat. Raak die man vies vir my. Liewer metafiksioneel en uit die mode as mikrokorporeel en viraal soos Covid-26. Buitendien, daar is so baie fake news, jy moet jouself die hele tyd identifiseer, jouself die hele tyd beskryf. En wie sê ek is ’n man?

Die resensent skryf van Die verlore juwele van Nabooti ... Ja-nee, alles raak weg. As jy maar weer sien, kom maak ’n allenige oorbel ogies vir jou asof jy stukkend gedrink in ’n singles bar is. Maar ek gee haar ’n koue skouer. Ek wag vir Vladimir, sê ek. Vladimir Poetin? vra jy. Nee, man. Hy gee ’n ander betekenis aan metafiksioneel. Haal jou “meta” met ’n tang uit en dan is jy net fiksioneel. 

Nee, Vladimir Nabokov. Pale Fire. Na wie die resensent obviously moes verwys het as na kinderboeke. Nou bevorder sy plagiaat. Pluk en Plak-giaat. In daai boek moet jy ook so rondblaai om te verstaan wat aangaan. Hy dui selfs die bladsynommers aan. Dis nou ’n Olimpiese Spele van fragmente, terwyl Kaap maar speletjies op Bloubergstrand is. Dis ’n voorbeeld vir alle skrywers. Hy het £700,000 in vandag se geld gekry toe hy die Nobelprys gewen het.

Maar ek dink ek weet hoekom sy Kaap met kinderboeke vergelyk en nie Pale Fire nie. Dis natuurlik moontlik dat sy dit nog nie gelees het nie, maar my hart gaan uit na haar. Want my hele hart is ’n fragment. Ek sou wat wou gee om weer kinderboeke aan my kinders en niggies en nefies te lees, want die een sit in Düsseldorf, nog een in Pittsburgh, en die res in die tronk in Thailand. Ons is nie meer ’n familie nie, net ’n klomp Anglo-Boere in flardes.

Die resensent sê daar is nie ’n einde nie, sy moet haar eie opmaak. Dis mos nie die waarheid nie! Daar is dan een. (Leidraad: kyk in die minibustaxi.) En sy sien pienk olifante en praat van 33 verwysings. Waar? Of is sy dalk die onbetroubare resensent? Dis ’n lekker een. Die skrywer het die onbetroubare skrywer geskep, die onbetroubare verteller is om elke hoek en draai en nou het ons die onbetroubare resensent. Let’s party!

Die werklike skrywer, Hans Pienaar, is ook nie ’n ou om mee oorlog toe te gaan nie. Hy gee te kenne daar is 33 karakters. Sy dink ook daar is hordes. Terwyl daar net vyf is. OK, dan. Vyf hoofkarakters en 13 byspelers. En ’n klomp antropomorfe, ens. “Ens”? Soos in “ants”? OK, OK, 148 miere. 

Fees van die onbetroubares! Wat is ’n threesome in Afrikaans? Driewiel? Driehoekiekoekie? Oorstootdrie? Die resensent het aan die Kama Sutra gewerk, maar ek weet nie, iets sê vir my ons moenie verder op hierdie paadjie loop nie. Three is a crowd en two’s company. Wat as die onbetroubare resensent en die onbetroubare skrywer mekaar vind?

..............
’n Mens moet tog verstaan: mense wil weer lekker lees. Nie stukkies Facebook of WhatsApp of die fyndruk of halwe artikels voor die paywall opdoem nie.
..................

’n Mens moet tog verstaan: mense wil weer lekker lees. Nie stukkies Facebook of WhatsApp of die fyndruk of halwe artikels voor die paywall opdoem nie. Mense wil gom by skrywers hê, leesgom. Hulle kry dit nie meer by die kerk nie, en die Bybel ... Daar is nou vir jou ’n klomp fragmente.

Hier trek ek nou eers by 17. 

Hier kom ’n jafel nou aan met ’n pen vol onuitwisbare ink. Hei, wat doen jy nou? Hy skryf hier dwarsoor my: “Die Fragment.” Dis ek, ja, maar moet jy dit so uitspel? Ek is nog die hele tyd besig om te duck en dive hierso en nou wil jy dit uitbasuin aan die wêreld.

Nee, sê hy, jou ander naam is Ostrakon, uit die Griekse tye wat die oorsprong van die woord “ostraseer” is. Hiermee kry jy mos nou wat jou toekom, jou impotensiaal word ’n signatuur van jou eintlike bystandsbestaan, altyd-gereed as dispositief vir verwerping. Deur jouself te laat ostraseer, skep jy ’n simulakrum tot die sewende orde van onheelhuidigheid. Of is dit nou onheelhuidiglikheid. Wag net daar. Hang bal. En die jafel haal ’n Moleskine uit sy sak en skryf sy onuitwisbare wysheid neer.

Wie’s jy, vra ek. Ek, sê hy terwyl hy hard probeer om die belangrike toon uit sy stem te hou, is die Perspektief. Julle het my nodig in hierdie polemiek. Ha, sê ek vir hom, met sulke taal? Aan die ander kant, gaan voort Mr Conversation Killer, en raak ontslae van die polemiek vir ons. 

Ek sal nie omgee nie, want almal vertrou op Crito, hulle is nog steeds te lui om die boek self te lees. Pleks daarvan dat Crito gou-gou self so maak, Kaap lees en wys hoe die resensent lesers moontlik mislei, skryf hy ’n ellelange ding wat niemand kan of wil klaarmaak nie en sê die onbetroubare resensent het die onbetroubare skrywer in ’n dubbele Nelson. Vir wat is hy so kuis? Ken hy dan nie sy Kama Sutra nie? 

Die Perspektief sit sy voet neer. Bly by die punt. Dit bly darem te dik vir ’n daalder, dat almal, die skrywer, die resensent, die resensent van die resensent praat van fragmente, terwyl die subtitel duidelik sê “perspektiewe”. Wat almal stories op hul eie is. Ek meen, present company excluded, maar... En hy hou sy handjie sodat ek sy sin self moet klaarmaak ... Daar is geen vergelyking nie.

My mond gaan oop en toe, die vermetele ... Maar toe sien ek skielik die venster van opportunisme. Dis hy, nie ek nie! Laat hom hierdie gesprek oorneem sodat ek kan laat spat. En hy's natuurlik reg, die hele wêreld is vol perspektiewe, dis soos ’n klomp paparazzi behang met kameras by die Cannes-filmfees.

...........
Daar sê hy dit nou self: nou met sosiale media kan mense vir die eerste keer sien hoeveel perspektiewe daar is. Dit behoort ’n triomf vir ons soort te wees. Vryheid, gelykheid en broederskap maar die grootste hiervan is gelykheid, almal moet ’n kans kry.
.............

Daar sê hy dit nou self: nou met sosiale media kan mense vir die eerste keer sien hoeveel perspektiewe daar is. Dit behoort ’n triomf vir ons soort te wees. Vryheid, gelykheid en broederskap maar die grootste hiervan is gelykheid, almal moet ’n kans kry. Maar wat nou gebeur is dat almal donkerbrille moet aanskaf, want die vlamme van misverstand staan te hoog, daar is so baie. En ons is almal individue, dwarstrekkers, cool cats wat verby mekaar vaar op die see in die nag, soos JM Coetzee dit so mooi gestel het. 

Dis die ene Ray-Ban of Oakley of Steve McQueen Persol. Fake soms, maar hoe gaan jy weet so op ’n afstand, die afstand van een jag na ’n ander jag. En kom krap die karakter genaamd die verhaal alles deurmekaar. Want hy het ook ’n donkerbril op en smokkel homself in onder ons. Hy het ons boek gekaap! Die finale bewys is die onbetroubare resensent se ode aan sy interessantheid. En hoe sy ons verpes. 

Ja, maar dit is julle skuld, sê ek versigtig. Kon julle julself nie inhou nie? Jy moet jou plek ken. Elke ding op sy tyd. Die kollig kan almal nie gelyk bedien nie, net een kol op ’n slag. Dis tog lekkerder om die kat in die donker agter die verhooggordyn te knyp. Dis mos die hele doel van ’n donkerbril. En wie het sonlig nodig as jy die dark web in jou kop het?

Fragment, ek kan sien dis bokant jou vuurmaakplek. Vra jou af: wat is dit presies wat die verhaal wil insmokkel? Ek moes my skouers ophaal. Wat inderdaad? Nou is die Perspektief ongeduldig. Die saadjie. Watter saadjie? Van homself, natuurlik. Van hom as kaper, kapeling, kapenaar, wat sy eie ding doen. Hy begin dan by daai joernalis wat praat van die vryheidstryd kaap en dit Kaap toe vat. O, ek sien, sê ek. Ja, hy spel dit uit iewers. 

Nou kom jy by. En dit, sal jy saamstem, kan ons nie toelaat nie. Maar hoe gaan jy hom keer, vra ek, die boek is uit, die saadjie is gesaai. Aha, sê die Perspektief, maar gaan hy water kry? Ons is gelukkig tot dusver, niemand het nog die saadjie van onafhanklikheid besprinkel nie, niemand het nog eens op hom gepie nie. Maar ons sal moet spring.

Wat wil jy doen, vra ek, my hart in my keel. Wel, ons kon hom nie toegooi met perspektiewe nie, dit werk nie, so ons moet terug na Square One. En waar is Square One? Ek dag dan dis die Kaapse saadjie? Hy kyk my meewarig aan. Kyk, dis nou waar jou graad jou red. As jy jouself in ’n hoek geverf het, dan val jy terug op wat jy geleer het: om terug te val op Foucault. En Foucault het teruggeval op die panoptikon. Wat is die panoptikon? vra ek, ’n donkerbril-brand? Die Perspektief wys sy vinger na my, geesdriftig. Wraggies, Fragment, jy is nie so dom as wat jy lyk nie. Dis ’n goeie analogie. Ons is onderworpe aan die Era van die Donkerbril, en ons moet terug na die Era van die Panoptikon – wat alles kan sien, alles deur een bril, skoon en eerlik, vanuit een perspektief. Soos die Ray-Ban op Seepunt se promenade sonder lense. Soos Lech Wałęsa gesê het, die verbruikerswese gaan die aarde nog red. Dis waarom ek hierdie inisiatief aan die gang gesit het: as ons almal dieselfde lyk, kan ons ons laat verenig in ’n enkelheid: die Perspektief. 

En waar pas ek in? Ek wil nie inpas nie, onthou? Nee, ek gaan nie iets verwag wat jy nie kan doen nie, sê die Perspektief. Maar dan moet jy saamspeel. Jy en jou soort moet julself verwyder, julself ostraseer na jul eie groepsgebied. Dis waarom ek jou gemerk het.

Wag ’n bietjie, sê ek. Kom ons probeer eers ’n ander perspektief. Wat jy wil doen is soos Operation Murambatsvina in Zimbabwe, toe al die gefragmenteerdes van die strate verwyder is. Waarheen moet ons gaan? Hier is baie plakkerskampe, sê hy. Daar kan julle lekker plak.

Maar hoor jy dan nie, ons wil nie aan mekaar plak nie.

Toe spring die Perspektief na vore soos ’n zoemlens en tol my om vir ’n dubbele Nelson. Ek reik na agter tussen sy bene en kap. “Eina, bliksem,” sê hy, jy het my gesny, en daar is inderdaad ’n kraak dwarsoor sy oog, sy enigste een. Hy steier rond en voel-voel na my en ek onthou die storie uit die Odesseia, van Odusseus wat onderaan die skape geklou het om van die Sikloop te ontsnap ... Maar daar is geen skape nie. Daar gryp hy my nou en vir ’n oomblik dink ek hy wil my opvreet, soos Polifemos. Snotjantietie, skree ek vir hom. Wat noem jy my? skree hy en hou my in die lug sodat hy my beter verby die kraak kan sien. Jou bolip is vol snot, gil ek en wys. Hy vryf met die kant van sy hand oor sy neus, maar kan nie so lekker sien nie, en dan laat val hy my soos hy na sy sakdoek soek – hy kan nie onthou in watter sak nie.

Ek val my te pletter op die vloer. Eenkant toe spat ’n stuk van my met die letters “Fr” daarop. Daai kant toe is dit die een met “ag” op; “men” staan daar op ’n derde groot stuk, en dan val die stukkie met die “t” op sy toon. Ons hol laat dit klap, so tol-tol en skuif-skuif. “Frikkadel” skree my een nasaat baldadig, “ag-en-tagtig” volg sy broer, “menasie-spinasie” kom dit van agter. Die Perspektief staan met net die “t”-stukkie in sy hande. Dié kan net ’n “tjie-tjie-tjie” uitkry, maar dis genoeg. Wie die laaste lag ... *

* kry twee eksemplare van Kaap.

Lees ook:

Kaap deur Hans Pienaar: ’n resensie in 33 verwysings

Dwarsklappe

Ilse de Korte oor Crito se "Dwarsklappe": Wanneer die gebrek aan hekwagters en anonimiteit die oop gesprek bedreig

Crito antwoord kritici

’n Snotjantietie met ’n pan in die hand

Die eerste Crito-prys vir Lesersindrukke word aangekondig

Waar is die syfers?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top