Dwarsklappe

  • 3

My diepe oorpeinsing van die gemors waarin Afrikaanse boekresensies tans verkeer, was skaars op LitNet se webwerf of ek kry steun uit ’n heel onverwagte oord. (Dankie, Melody, vir die screenshot.) Jonathan “Huppelkind” Amid kla op Facebook oor ’n resensie wat Ilse de Korte op LitNet gelanseer het oor Kaap, die eksperimentele roman deur Hans Pienaar.

Ek het eers gedink Ilse de Korte is dalk ’n skuilnaam vir een of ander De Lange-dude, maar ’n paar foonoproepe later snap ek dat dit nie is nie. Ek lees haar resensie, en net daar, die absolute essensie van pronto, besluit ek dat die sardoniese blik, die satiriese sweem vir hierdie gesprek ’n bietjie gaan moet lala.

Om mee te begin, dis ’n resensie wat deur LitNet gewerf is. As dit ongevraag deur die resensent aangebied was, sou dit aangedui gewees het as ’n “lesersindruk”. Ilse de Korte val dus nie onder die Snotjantieties waarteen ek uitgevaar het nie.

Jonathan Amid se kontensie op Facebook is: “Is hierdie ’n pseudo-resensie, ’n kriptiese lesersindruk, ’n dwarsklap na die skrywer en sy uitgewer, ’n verklaring dat so ’n boek nie die leser se tyd werd is nie of bloot ’n stuk skryfwerk wat die plek inneem van ’n mening wat ten minste sou poog om iets van waarde of oor die roman self of oor die haalbaarheid van ’n skrywer se ambisie sou kon verklap? Daar word gereeld in sekere kringe oor die gehalte van resensies gekla, soms met reg en ander kere dalk nie. Maar vir iets wat as volwaardige resensie voorgehou word terwyl skrywers van ‘ernstige letterkunde’ in ons land al hoe minder blootstelling kry is hierdie vir my erg teleurstellend.”

Ek dink dit is LitNet wat ’n skrobbering verdien. Hulle moes die resensie aan Ilse de Korte teruggestuur het met die vraag waar die res van die resensie is. Ek haat hierdie resensies wat so kort is dat LitNet sommige van die paragrawe in groter druk moet dupliseer om dit substansieel te laat lyk. De Korte se resensie is nog korter as wat dit lyk.

Baie van die dinge wat Amid noem, is moontlik: pseudoresensie, ’n kriptiese indruk, ’n dwarsklap na die skrywer en sy uitgewer, en so baie meer.

Die vraag is net of die resensie geldig is. Soos dit tans daar staan, gee Ilse de Korte te kenne dat die einde ’n cop-out deur Pienaar is. Dit is hoe ek dit lees.

Hoe sou die deel van die resensie lyk wat ons nie gekry het nie? ’n Analise van hoekom die slot ’n cop-out is, ’n aanduiding van gemeenskaplikhede in die 33 perspektiewe wat deur die roman omvat word, ’n aanduiding hoekom dit as literêre procedé werk of nie, en ten slotte ’n evaluering van die boek self.

Ek glo nie enigiemand, of dit nou LitNet of die redakteur van ’n koerant se boekeblad is, kan aan Ilse de Korte voorskryf hoe sy oor die boek moet voel nie. Hulle kan wel verwag dat sy haar negatiewe reaksie sal motiveer.

Die essensie van ’n resensie is tog dat die resensent sy of haar reaksie op die boek gee en dit motiveer.

Ek sou dus nie sê dat Ilse de Korte se resensie ongeldig is nie, maar wel dat dit halfgebak is. Of selfs kwartgebak.

Daar is ’n ander blik op hierdie smash. llse de Korte is self ’n skrywer (van Die jaar toe Emma begin kook het), en sy was betrokke by die wonderlike Afrikamasutra-projek. Sy weet hoe waardeer ’n skrywer dit om ’n uitvoerige kritiese reaksie op sy/haar skryfwerk te kry.

Ek dink sy het Hans Pienaar met haar resensie liederlik in die steek gelaat, asook die groter broeder- en susterskap van die skrywerskorps.

Wat Jonathan Amid betref: Hy kan dit gerus ter harte neem dat dit veel meer effektief en wenslik sou gewees het as hy Ilse de Korte in die oë gekyk het, by wyse van spreke, en sy fulminasie onderaan haar resensie op LitNet geplaas het. Die arme Melody moes weer my voetwerk doen en laat weet dat De Korte nie vriende met Amid op Facebook is nie. Watse versekering het hy dan dat sy woorde haar sal bereik? Sy boodskap is tog seker aan haar adres gerig, en nie aan dié van sy talryke vriende nie.

  • 3

Kommentaar

  • Anne-Marie Mischke

    Dankie tog dat iemand dit uiteindelik aanroer: die probleem met "aangebode" resensies. Crito se argumente is heeltemal geldig. Nog 'n kwessie wat hy nie aanraak nie, is mense wat 'n appeltjie met 'n skrywer te skil het of, aan die ander kant, dik vriende met die skrywer is, en 'n resensie om persoonlike redes aanbied. So was daar jare gelede 'n nou gestorwe en baie goeie igter van wie 'n bekende resensent 'n groot bewonderaar was. Die resensent het oordadig positiewe resensies van die vriend se werk aangebied. In die ou dae by ten minste Rapport, het ons 'n staande reël gehad: geen aangebode resensies word aanvaar nie. Ons het voor die voet die resensente self uitgekies.

  • Malene Breytenbach

    Crito, wat agter sy/haar anonimiteit skuil, dink hy/sy het die reg om mense beledigende name soos snotjantietie en huppelkind te noem.

  • Jacques le Roux

    Jonathan Amid is die laaste persoon wat ’n ander resensent kan kritiseer.
    Anchen Conradie plaas ’n resensie van my boek, Eendagsblom, op Facebook in Junie 2021.
    Enkele dae later reageer Amid met sy "eie" resensie in Die Burger. Dié resensie toon verbasend baie ooreenkomste met Anchen s'n. Geen twee mense kan so dieselfde leeservaring hê nie. Selfs dieselfde feitelike flater word herhaal.
    "Huppelkind" was nie bereid om enige verduideliking of motivering vir sy negatiewe reaksie te verskaf nie.
    Skrywers behoort meganismes te hê wat hulle meer beskerming teen hierdie kwaadwillige optredes bied.
    Is dit te veel gevra van die resensent om ten minste sy eie mening oor die werk te vorm?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top