Nee kyk, moet my wuftheid nie onderskat nie. Ek ken van op eiers dans.
Dis net dat ek myself soms nie kan keer nie. As ek die gedagte kry, jy weet. Dan sê ek hom. Soos nou.
Ek hou nie van die manier waarop die boek van Faf du Plessis hanteer is nie. Baie berigte oor die insidente en dinge wat Du Plessis in Faf: through fire aanraak. Een lang bespreking in Rapport deur Tinus van Staden, Rapport se sportredakteur. Gaan Boeke24 dit nog resenseer?
Daai berigte oor die knoeiery met die bal en Du Plessis se negatiewe gevoelens oor David Warner het gesorg dat ek Faf: through fire vinniger aanskaf as wat ek in ieder geval sou gedoen het. Ek is mal oor krieket. In alle vorme.
Ek het die boek oor ’n reënerige naweek gelees. Die woorde verorber, om dit sagkens te stel. Ek het die boek allesbehalwe kwaadskiks gelees.
En toe weer Tinus van Staden se bespreking gelees.
Sommer met sy eerste paragraaf het ek besef dat ek skielik ’n krieketpuris geword het. Sal die man waaragtig gaan staan en sê dis goed dat Faf du Plessis nie ’n boek oor krieket wou skryf nie. “Telkaarte in prosavorm verpak, bemark en verkwansel as outobiografie is ongelukkig volop onder sportsterre, maar soos Du Plessis tereg sê – as jy oor krieket wil lees, besoek eerder cricinfo.com."
Ek weet nie waar Du Plessis hierdie woorde gebesig het nie, maar dit is beslis nie in Faf: through fire nie. En as hy dit gesê het, behoort hy hom te skaam, en Tinus van Staden ook vir sy vergoeliking daarvan. ’n Sportheld soos Faf du Plessis kry een kans om oor sy hele loopbaan te skryf, en dan is hy dit aan die nageslagte verskuldig om ruim voorsiening in die boek te maak vir statistieke en inligting uit Wisden en Cricinfo.
Terwyl die spook van AB de Villiers van bladsy tot bladsy deur Faf: through fire wandel, sou dit Du Plessis betaam het om die heel besonderse statistieksegment agterin AB: die outobiografie as riglyn te gebruik. En ’n knap resensent sou dit onmiddellik raaksien – asook die indeks daarna. (Die resensent braak gal oor die AB-boek, maar mens kan tog ook leer uit ’n boek waarvan die statistiekdeel die belangrikste is?)
Die afwesigheid van hierdie dinge maak die boek ’n bitter groot verspeelde kans.
Oor die boek se inhoud is Van Staden se resensie deeglik, ofskoon mens dit maklik sou kon beskuldig van presies die eienskap waarvan hy die boek kwytskeld – hagiografie. Presies hoe Van Staden meen Faf du Plessis sou ’n hagiografie oor Faf du Plessis skryf, weet net hy. Wat waar is, is dat die boek bewondering afdwing oor die manier waarop Du Plessis eerlik is oor sy foute. Ek voel net so positief oor die boek as Van Staden; ek dink net dit kon soveel beter gewees het, en dan sou mens al die lofsange kon aanhef: toegang tot sowel die held se binnelewe as die glorie van sy buitelewe.
Marco Botha was die joernalis wat Du Plessis bygestaan het om sy gedagtes stylvol op papier te kry, maar ek is verbaas dat Van Staden nie ook die invloed van Owen Eastwood uitlig in sy resensie nie. Eastwood was die Proteas se “external performance coach” en het baie goed-geartikuleerde idees oor leierskap binne sportkonteks. Dit lees mens in sy inleiding tot Faf: through fire, en daardie menings word dikwels deur Du Plessis geëggo.
Miskien lê ek té veel klem daarop, maar ek kry beslis die indruk dat Eastwood ’n baie belangrike rol gespeel het in die manier waarop Du Plessis in statuur gegroei en as mens en sportman ontwikkel het. ’n Resensent kan tog nie ongevoelig vir idiolek wees nie. Die voorwoord resoneer dwarsdeur die boek.
Nou goed, manne. Dis al. Laat ek hoor hoekom ’n vrou nie oor krieket mag praat nie.


Kommentaar
Skryf vir ons 'n bietjie wat jy dink van die onbeholpe resensies van Chris Karsten se nuwe boek in Rapport en Vrye Weekblad asseblief.