Regsalmanak: 100 stories uit ons regserfenis
Gustaf Pienaar
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309390
Gustaf Pienaar vertel vir Naomi Meyer van sy boek Regsalmanak – die oorsprong en geskiedenis daarvan, en ook wat die titel beteken. Hy vertel ook van homself, die skrywende regsgeleerde.
Gustaf, baie geluk met die verskyning van Regsalmanak. Dis 'n voorreg om jou oor die boek uit te vra, want hierdie boek se titel is dieselfde as jou LitNet-rubriek s'n. Kom ons begin heel voor: Waar kom die titel vandaan? En die verskillende "hoofstukke" in die boek, die verskillende afdelings?
Dankie vir die vriendelike woorde, Naomi.
Waar die titel vandaan kom? Danksy ’n inspirerende geskiedenisonderwyseres op hoërskool – die onvergeetlike Timmie Lanser – het ek ’n groot liefde vir geskiedenis ontwikkel. Dit is wat ek by voorkeur lees. Die wordingsgeskiedenis van ons regstelsel interesseer my dus ook baie.
Wanneer ek vir jongmense vra wat hul ervaring van geskiedenis as skoolvak is, hoor ek dikwels die klagte: die ritse en ritse datums verveel hul verskriklik.
Maar datums is belangrik, want dit gee konteks.
Bykans elke hofsaak wat al in die hofverslae – selfs verslae uit die 19de eeu – gerapporteer is, kan op een of ander wyse aan ’n datum gekoppel word: die datum van ’n voorval (’n moord; die sluiting van ’n huwelik; die aangaan van ’n kontrak); die datum waarop die saak voor ’n geregshof geargumenteer is; of die datum waarop die hof ’n dikwels lotsbeslissende uitspraak gelewer het.
As ek met my neus in die hofverslae sit en ek kom op iets af wat om een of ander rede vir “die volk” oorvertel behoort te word, soek ek – ek kan dit nie meer keer nie! – na ’n relevante datum. Iemand het eendag gesê ’n dominee kan oor élke versie in die ganse Bybel ’n preek lewer. Dit wil ek nog sien (gedagtig aan die ellelange Ou Testamentiese geslagsregisters!), maar my uitdaging is om uiteindelik ’n verskeidenheid vertelbare stories uit ons regskiedenis vir elke dag van die jaar te vind. (Gelukkig is die aantal dae in die jaar aansienlik minder as die aantal versies in die Bybel ... Maar op ’n ernstiger noot ...) Uitsprake uit byvoorbeeld die vroeë dae ná Uniewording moet in ’n bepaalde konteks gesien word. Dit was die era van die eerste hoofregter, lord De Villiers, wat nie geskroom het om Engelsregtelike beginsels in te voer nie.
So ook die era daarná, van hoofregter Innes, wat betyds – en op ’n voortreflike wyse – wal gegooi het teen die rigting wat De Villiers ingeslaan het.
Ek sou ook uitsprake uit die apartheidsera kon noem: die dapper weerstand wat die Appèlhof in die polities-gelaaide 1950’s gevoer het teen die parlement se ongrondwetlike manewales om die bruin stemreg af te skaf.
Maar gedenk ook die soms werklik diepgaande en rigtinggewende uitsprake uit daardie era van die Steyns, Rumpffs, Rabies – noem maar op.
En dan, oplaas, natuurlik ook uitsprake van die Konstitusionele Hof onder die nuwe grondwetlike bedeling, wat immers aspekte van ons regslandskap onherroeplik verander het.
Om te herhaal: datums gee dus konteks – ook wat ons regserfenis betref.
’n Mens sou weliswaar ’n boek soos hierdie tematies kon aanpak met stories oor die verskillende vertakkinge van die reg: strafreg, deliktereg, kontraktereg, administratief- en staatsreg, en dies meer.
Ek het egter gereken ’n datumgekoppelde benadering mag dalk ’n ongewone, vars invalshoek wees.
Het sy die gesig van ’n moordenaar? Die storie van Daisy de Melker
Soveel dae, soveel misdade - vra enige Suid-Afrikaner! Maar die gedagte om op elke dag deur die regswêreld se kalender/almanak te blaai, is uniek! Ek onthou sommer vinnig 'n paar van jou rubrieke wat op LitNet verslind is: oor Daisy de Melker, Oscar Pistorius. Daar was so baie van jou lekker rubrieke. Watter van hulle bly jou by – en watter van hulle het hierdie boek gehaal?
Ek het nog nie gaan tel nie, maar ek reken oor die jare heen het daar goed meer as 200 Regsalmanak-stories op LitNet verskyn. Die bundel is dus ’n keur uit daardie versameling. Daar is ’n hele klompie stories wat ek ook bitter graag sou wou ingesluit het, maar wat vanweë die handhawing van ’n balans en vanselfsprekende ruimtebeperkings nie die paal gehaal het nie.
Onder die stories wat wel ingesluit is, is daar tog ’n paar van my gunstelinge: “Die swaaiende Austin Mini-stasiewa”; “Straataf in sy tronkpajamas”; “Vuurwerke voor in die Jaguar”; “Eensame nursies”; “Shapi die stout olifantjie”; “Die halsstarrige Cadillac” – om ’n paar te noem.
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Het daar nuwe navorsing aan die lig gekom tussen die verskyning van die rubriek en die verskyning van die stukke in die boek? Moes jy herskryf?
Ja, baie van die stories in die boek was al ’n paar jaar gelede geskryf. Ek moes dus gaan seker maak of dit nog die geldende reg is. Indien nie, moes dit bygewerk word, met ’n opgaaf van redes vir die veranderinge, want ook dít kan interessant wees. Hier dink ek aan die Juniemaand-storie “Verbreekte troubeloftes: Van Guggenheim tot Bridges”.
Ek het ook agtergekom dat ek hier en daar aspekte van die reg helderder moes probeer stel, en dan moes ek ook – en ek bely – plek-plek foute regstel, soos dat ek ’n uitspraak voorheen nie sekuur genoeg gelees het nie, of die regsposisie verkeerd verstaan het.
Ek hoop dis nou beter.
Vertel my van jou agtergrond, Gustaf. Jou werk, jou studie, jou passies in die lewe. (Ek weet jy versamel onder andere bekende mense se handtekeninge.)
Ek kom uit ’n liefdevolle huis met ouers en grootouers – en later skoonouers - wat sovéél vir my beteken het. Hulle is almal al oorlede, maar ’n seëning is dat daar nie – wat my betref – met enigeen van hulle “onafgehandelde sake” was wat my op my oudag pla nie.
Albei my ouers was onderwysers wat hul beroep met onverdeelde trou beoefen het. Die begrip “staak” was nie deel van hul woordeskat nie. Albei was lief vir musiek en het my aangemoedig om klavierlesse te neem. Ek is besonder bly dat ek ook musiekteorie geneem het, sodat ek vandag darem ten minste ’n Beethoven-sonata se bladmusiek kan volg – eerder as om dit self te probeer speel.
Ek was in net twee skole in my lewe: die Brits Laerskool en die Heidelbergse Hoër Volkskool (in Gauteng.) Ná ’n jaar by die Leërgimnasium op die destydse Voortrekkerhoogte het ek regte gaan studeer aan die Randse Afrikaanse Universiteit RAU, nou UJ). Dit was in RAU se beginjaar, nou net mooi 50 jaar gelede (1968). Die ervaring om in sovele opsigte van nuuts af te bou aan ’n univeristeit se studentelewe is van my kosbaarste herinneringe.
Nadat ek die BIuris-graad verwerf het, het ek ses maande lank gaan aankla in Johannesburg. Die staatsdiens het my gevang en ek het ’n uitnodiging van die SAUK se Hennie Human om ’n omroeperstoets by die destydse Afrikaanse Radiodiens af te lê met albei arms gegryp. Die resultaat was ’n hoogs bevredigende loopbaan van 11 jaar by die openbare uitsaaier.
Ek het tussendeur die LLB-graad (en later ook die LLM-graad) verwerf en toe met inspanning – en aansienlike opoffering deur my gesin – van uitsaaier na regspraktisyn oorgeskakel. Dit het gelei tot ’n loopbaan van 25 jaar as prokureur op George. In 2012 is ek as advokaat toegelaat.
Naas musiek is ek uiteraard lief vir skryf.
My handtekeningversameling hou my lekker besig. Ek versamel al jare lank getekende boeke van (hoofsaaklik) Afrikaanse skrywers en het daarnaas ook ’n – vir my – interessante versameling Suid-Afrikaanse historiese dokumente wat omtrent almal deur die betrokkenes geteken is. My fokus is tans om ook die handtekeninge van “struggle”-leiers te bekom – wat ongelukkig nie so eenvoudig is nie.
Ek en my vrou van byna 46 jaar, Corlina (née Grobbelaar), geniet ’n vreugdevolle aftrede op Vleesbaai. Ons reis graag en kampeer by voorkeur in die ongerepte natuur – dikwels buite die landsgrense. Ons is geseën met drie wonderlike kinders, liefdevolle skoonkinders en vier prettige kleinkinders. Hier by die see beoefen ek ’n deeltydse nering wat die beste van my twee loopbane verteenwoordig: die joernalistiek (uit my SAUK-dae) en die regte.
My een regsdosent het destyds vir ons klas gesê: die werklike lewe en die lewe in die hof is nie LA Law nie. Stem jy saam? Daar is so baie bruin lêers, daar is soveel sleur aan prokureur- of advokaatwees. Hoe vind mens die stories tussen al die stowwerige reëls?
Ja, ek stem volkome saam: televisiereekse (opwindend soos dit mag wees) is erg misleidend, soos wat talle jongmense wat slegs op grond dáárvan besluit het om regte te gaan swot, al tot hul spyt ontdek het. Baie van daardie reekse speel daarby ook af in die VSA, wat vir ons ’n gans vreemde regstelsel het – veral wat hul prosesreg betref. Ek lag in my mou oor Afrikaanse televisiehofdramas wat klaarblyklik gaan kers opsteek het by Amerikaanse regsdramas soos Suits en LA Law. Die onlangse reeks Fynskrif op kykNET is ’n sprekende voorbeeld. (Fynskrif se gedurige “Kom ons gaan wén!” is darem só LA Law en die venynige woordkartetse tussen opponerende regspraktisyns kom na my oordeel pylreguit uit Suits.)
Daarom hoop ek nogal dat skoolleerders wat ernstig is oor ’n toekomstige regsloopbaan, my boek sal lees, want goed oor die 30 verskillende regsdissiplines kom in die 100 stories ter sprake. Dit behoort vir hulle ’n gevoel te gee van waaroor óns reg handel en met watter regsbegrippe hul vroeg-vroeg in hul studie kragte sal moet begin meet.
Stories is daar egter baie wat ’n mens deur die loop van ’n regsloopbaan met jou kan saamneem. Jy moet net jou ore en oë oophou vir die spreekwoordelike rosyntjies – soos dié onverwagse een uit my vroeë dae as prokureur op George: Ek en ’n kollega was gewikkel in ’n ongure egskeidingsgeding. Hy het, sê maar, vir die man opgetree en ek vir die vrou (ek kan nie meer daardie besonderheid onthou nie). Die eenvoudige waarheid is dat haas elke egskeidingsgeding uiteindelik wel geskik word. Ons het met die grootste moeite daarin geslaag om die belangrikste dinge te skik: beheer en toesig oor die kinders; onderhoud vir hulle; wie die TV-stel kry (in daardie vroeë dae van televisie was dít gewoonlik ’n hewige geskilpunt!); wat van die huis sou word – en dies meer. Tot ons verbasing kon hul egter nie die kombuisgoed verdeel kry nie, en ons het opdrag gekry om dit namens hulle te doen. So daag ons op ’n koue wintersoggend by die huis op: die meubels is al weg, en ons moet, in ons dagpakke geklee, op ons agterstewes op die verwaarlooste sitkamermat sit en teelepels, messe en vurke, potte en panne verdeel – soos in: “Een vir jou; een vir my.”
Die twee voormalige liefdesduifies was ook daar, en in die aangrensende motorhuis raak hul aan’t stry oor ’n visstok – trek tou daaroor: hy aan die een punt en sy aan die ander. Hulle praat later in tale wat ek nie hier sal herhaal nie. Skielik waai die skraal winterswind die deur tussen die motorhuis en sitkamer met ’n oorverdowende slag toe. Ek en my kollega wip van die skrik, en toe “strip” ons: Dít is nie hoe ’n prokureur met ’n greintjie selfrespek sy sout moet verdien nie, besluit ons.
Ons het opgestaan, die twee gaan groet en hulle vermaan om die pos dop te hou vir ons rekeninge.
Hulle het ons grootoog agterna gestaar – en toe blitsvinnig finaal geskik.
Ja, selde is dit dus soos in LA Law ...
Nogtans – as jou kop rég is, is dit ’n bevredigende loopbaan. Moet dit net nie vir geld doen nie: teleurstelling sál op jou wag – ten minstens aan die begin.
Jy skryf in die voorwoord van jou boek hoe jy hoop dat die neerskryf van die stories sal help bydra tot die oorlewing van Afrikaans as regstaal. Hoe lyk die toekoms van Afrikaans in die hof vir jou? Hoe sien jy dit as regskundige ook – het Afrikaans 'n voet om op te staan, is daar nog plek vir Afrikaans in die hof? Is daar byvoorbeeld mense in die land wat regtig eerlikwaar nie hulself in 'n ander taal as Afrikaans kan uitdruk nie en dan in die hof hul saak moet gaan stel? Maar hoe dan gemaak met Xhosa, met Zulu, met Sotho? Dink jy tolke kan ten minste help?
Ek sê dit teësinnig: as jy vandag by ’n “groot” saak betrokke raak wat dalk in die Appèlhof of selfs die Konstitusionele Hof kan eindig, loop jy – en jou kliënt – ’n geweldige risiko as jy jou saak in Afrikaans aanbied. Daar is net eenvoudig te veel landdroste en regters – van die laagste hof tot die hoogste – wat hoegenaamd geen vaardigheid in Afrikaans het nie.
Hoe betroubaar die tolkdienste is, kan ek nie sê nie, want ek kom nie meer in die howe nie. Ek onthou egter die tolkfiasko tydens die voormalige VSA-president Obama se huldigingsrede by die Mandela-gedenkdiens ’n paar jaar gelede. Ek het ’n spesmaas dit gebeur ook in ons howe dat daar staatgemaak word op mense wat as tolke aangestel is, maar wat ’n volslae onvermoë het om hul werk te doen.
Ek kry ook die indruk uit gesprekke met kollegas wat nog aktief in die praktyk staan dat daar landdroste en regters is wat ongeduldig is met die tolking van getuienis, omdat dit soveel bykomende hoftyd in beslag neem. En dan word daar dikwels getwis oor die betroubaarheid van die tolking van getuienis.
En ja, ek reken daar is tálle Afrikaanssprekendes wat sukkel om hulle behoorlik in Engels uit te druk. Selfs ek sukkel deesdae: ek is immers al amper ’n dekade lank nie meer ’n voltydse regspraktisyn nie, en ek kom agter dat ek in telefoongesprekke en e-pos-briewe nie meer so vaardig in Engels is nie. Immers: hier op Vleesbaai word Engels bitter selde gepraat.
Ek wonder ook hoe dit gesteld is in byvoorbeeld die Noord-Kaap, waar Engels grotendeels ’n “foreign language” is, as jy my die woordspeling sal verskoon. Hoe kan ’n getuie sekuur oor ’n voorval – gestel dit was ’n koelbloedige moord – getuig as hy/sy dit nie in sy/haar moedertaal kan verwoord nie?
En dan is daar nog hoofregter Mogoeng Mogoeng se omstrede aankondiging van verlede jaar dat Engels voortaan die amptelike taal van rekordhouding in ons howe sal wees. Ek herinner my dat AfriForum en ’n handjievol Afrikaanse akademici die hoofregter gedaag het om aan te dui van waar hy die gesag kry om hoëpriesterlik so iets te beveel. Ek wonder wat daarvan geword het, en of sy stilswye die einde van die pad beteken.
Ernst Kotzé het ’n interessante artikel oor dié kwessie vir LitNet geskryf: https://www.litnet.co.za/the-decision-to-declare-english-as-the-only-language-of-record-in-court-in-south-africa-a-reaction.
Die toekoms van Afrikaans as regstaal sal afhang van die Afrikaanssprekendes self. Dit begin by Afrikaanse regstudente, wat ek wil aanmoedig om op onderrig in Afrikaans en op gehaltehandboeke in Afrikaans aan te dring. Waarom kan net die ouens wat van die Rhodes-, CR Swart- en MT Steyn-standbeelde op kampusse ontslae wil raak, hul sin kry? As dit oplaas nie vrugte afwerp nie, is die antwoord dan nie ’n eie, selfbefondste en gehaltegedrewe Afrikaanse universiteit nie?
Afrikaans se toekoms as hoftaal sal van die Afrikaanse “hofgangers” afhang – litigante sowel as hul regsverteenwoordigers. Hulle behoort aan te dring op die uitlewing van hul grondwetlik-verskanste taalregte in howe en ander forums waar regspleging plaasvind – arbitrasieforums, die KVMA en dies meer. Dit sal tyd neem om die standpunt wat ek aan die begin met huiwering ingeneem het, ongedaan te maak. Maar dit kán – veral as jy Afrikaans se onmoontlike stryd om erkenning oor soveel jare in gedagte hou.
Les bes behoort ons die burgerlike belangegroepe wat hul vir die voortbestaan van Afrikaans as regstaal beywer, te onderskraag. Ondersteun hulle byvoorbeeld geldelik, want litigasiekoste is hemelhoog.
As daar een saak in die wêreldgeskiedenis was waar jy sou wou ingesit het, watter een sou dit wees? (Dit kan 'n onlangse een wees, of een van lank gelede.)
O, daar is baie: Salomo wat moes besluit watter een van die twee moeders die égte ma was van die kind oor wie hulle gestry het; Christus voor Pontius Pilatus; Gideon Scheepers en Jopie Fourie se verhore deur militêre tribunale; en dan ’n spekulatiewe een: Lee Harvey Oswald (as hy nie deur Jack Ruby vermoor sou gewees het nie).
Het jy geloof in die Suid-Afrikaanse regstelsel? Wat sien jy wat goed is, wat laat jou twyfel?
My mentor – in talle opsigte – by die SAUK was Jan Schutte. Ek was aan sy kantoor verbonde toe hy direkteur-generaal was. Ons het by geleentheid uitgebreid oorsee gereis om talle uitsaai-instansies te besoek. Ek onthou dat hy een aand tydens ete die Noorweegse filosoof Henrik Ibsen aangehaal het wat sou gesê het (hy het wel getwyfel of dit wel Ibsen was): “Die ou waarheid het verbygegaan, maar die nuwe waarheid is nog nie wáár nie.” Dit is hoe ek tans oor ons regstelsel voel. Die Suid-Afrikaanse regslandskap is immers ingrypend verander met die koms van die huidige grondwetlike bedeling in 1994. Daar is dinge wat my opgewonde maak, soos die nuutverworwe vryheid, waardigheid, gelykheid wat die Grondwet vir die eerste keer vir baie Suid-Afrikaners waarborg.
Dit is ook nogal prettig om waar te neem hoe die Grondwet ons telkens verras met uitkomste wat die toutrekkende onderhandelaars van die vroeë 1990’s waarskynlik glad nie voorsien het nie. Die onlangse beslissing oor die wettiging van dagga vir privaat gebruik is ’n voorbeeld.
Aan die ander kant is daar waarskynlik min objektiewe regsgeleerdes – selfs al bevind hulle hul weerskante van die politieke spektrum – wat die Konstitusionele Hof se vreemde beslissing van Desember 2017 oor die taalkwessie by die Universiteit van die Vrystaat as “prettig” sou bestempel. (Die verwysing is Afriforum and Another v University of the Free State [2018(2) SA 185 (CC).)
Wat my egter werklik bekommer, is die klaarblyklike ineenstorting van ons strafregstelsel. Dit het ’n uitstelspektakel (of is dit ’n uitstelslagveld?) geword. Gedenk maar die verstommende Jacob Zuma-sage rondom sy vermeende betrokkenheid by die wapenskandaal, wat nou al ver meer as ’n dekade sloer. Regters wat (straks om den brode?) nie met ’n tang aan sake soos hierdie wil raak nie, speel ’n siniese rol om aan sulke vergrype ’n bestaansmoontlikheid te gee.
Ook jan en alleman ly onder die pynlik stadige draai van die wiel van geregtigheid, wat ’n wrange bevestiging is van die spreuk: “Justice delayed is justice denied.” Dink maar net hoe lank litigante moet wag vir verhoordatums in siviele gedinge – veral in die Hooggeregshof.
’n Betreklik nuwe verskynsel wat my interesseer – as dit my dan nie bekommer nie – is die aktivistiese rol van die ondersteuners van aangeklaagdes soos Jacob Zuma en Julius Malema tydens hul gereelde hofverskynings. ’n Mens kom dit ook toenemend teë by die eerste hofverskynings van veral wit mense wat aangekla word van een of ander rasverwante misdryf: daar is dan dikwels geweldige druk van oningeligte massas dat die hof hul vrylating op borg moet weier. Dit lyk asof mense dink dat hul deur die uitoefening van getalledruk – dikwels vergesel van buitensporige eise op plakkate – die regsproses in hul rigting kan “swaai”.
Hand aan hand daarmee is die rol wat sosiale media speel. En nou begeef ek my op gevaarlike terrein: ek verwys na die Oscar Pistorius-sage van ’n paar jaar gelede, met die verstommende rol wat sosiale media gespeel het om ’n formidabele gety téén Pistorius te monster – veral nadat hy bloot aan strafbare manslag skuldig bevind is. (Terloops: na my beskeie oordeel, ’n prinsipieel korrekte beslissing.) Ek voel ongemaklik oor die Hoogste Hof van Appèl se daaropvolgende inmenging in die verhoorregter se feitebevindings en die Hof se raaiselagtige hantering van die skuldbeginsel. Sou die opwelling van ’n grootliks oningeligte, emosiebelaaide openbare sentiment ’n rol in die finale uitkoms gespeel het? Ons sal nooit weet nie, maar ek het – saam met ’n gerekende strafregkenner soos Jonathan Burchell – my bedenkinge ...
Hoe die Suid-Afrikaanse reg oplaas getipeer sal word, kan niemand tans met sekerheid sê nie.
Die “nuwe waarheid” is dus nog nie “waar” nie. Ons moet maar met die spreekwoordelike een oog oop slaap.
Kommentaar
Gustav, jy is nie alleen in jou denke oor die Pistorius-saak nie. Soos jy het ek in 1968 (maar op Potch) begin met regte - en ek was gelukkig om by Prof Swanepoel van De Wet en Swanepoel, Strafreg se faam klas te loop. Die wederregtelikheidsbewussyn-onderdeel van mens rea (dolus eventualis ingesluit) het ons in Strafreg 1 reeds geleer. My kollegas by die Durbanse Balie (onder andere Skweyiya, Langa en Shabalala almal later regters en Langa selfs hoofregter) het daardie beginsels goed geken en in die praktyk toegepas.
Ek kry jou boek vir 'n Kersgeskenk. 'n Prof van jou alma mater bring dit vir my saam al die pad Nieu Seeland toe. Doe zo voort, soos my ouma ons aangepor het. Met nog 'n boek.
Dankie Chris vir jou waardevolle insigte ivm wederregtelikheidsbewussyn. Ek vereenselwig my daarmee. Hoop jy geniet Regsalmanak. Tyd dat jy óók vir ons 'n opvolg van jou voortreflike hofroman, Redelike Twyfel gee.
Gustaf, dit klink wonderlik. Op my lys vir Kersfees. Welgedaan.
Goeie middag,
Waar kan ek die boek bestel/koop? GUSTAF PIENAAR REGSALMANAK 100
stories uit ons regserfenis.
Is daar enige ander boeke wat jy dalk ook kan aanbeveel? Ek is baie geïntereseerd in "hofsake" ens ... al amper op pensioen, lees vir tydverdryf.