In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Lastersake sorg dikwels vir interessante leesstof. Aan die een kant verstom dit ’n mens wat een skepsel soms durf waag om van ’n ander kwyt te raak, maar aan die ander kant wil-wil jy lag kry oor hoe fyn van nerf ons ou volkie partymaal kan wees.
Neem nou byvoorbeeld die storie oor die 97 verpleegsters van die Verre Oos-Randse Hospitaal wat in 1956 in ’n Sondagkoerant verskyn het. Die opskrif het gelui: "97 Lonely nurses want boy friends".
Dit was in die dae toe die Oos-Rand nog woes en leeg was. Die hospitaal het in die vlaktes halfpad tussen Springs en Brakpan gestaan, en die joernalis het vertel dat dit besonder moeilik vir die jong verpleegstertjies was om met jongetjies van die teenoorgestelde geslag sosiaal te verkeer. Die verpleegstertehuis was ver van alles af geleë, en daar was nie gerieflike openbare vervoer om hulle gedurende hul ledige uurtjies na die blink liggies van die omliggende dorpe te neem nie. En in die omliggende dorpe – dís waar die mans was, volgens die skrywer van die artikel.
Daarom het die koerantstorie dan ook met die volgende uitnodiging begin: "If you are a bachelor, if you have transport and if you are lonely, you will be more than welcome at the Far East Rand Hospital after seven o’clock at night to entertain 97 ’exiled’ nurses ..."
En soos dit by elke goeie koerantstorie hoort, was daar ook ’n foto – nogal van drie verpleegsters: een wat ’n brief sit en skryf, een wat ’n brief sit en lees, en een wat haar ledige uurtjies met naaldwerk verwyl. Die opskrif bo die foto het gelui: "Off duty: lonely and nowhere to go".
Maar dit was dié einste foto wat vir al die drama gesorg het, want een van die dames op die foto was getroud en die ander twee verloof. Dáároor het die artikel geswyg.
Die drie dames was so die josie in vir die koerant dat hulle die betrokke persgroep laat dagvaar het weens laster, alternatiewelik eerkrenking. In hul hofstukke het hulle aangevoer dat die gewraakte artikel die indruk gewek het dat hulle dit sou verwelkom het as mans – selfs volkome vreemdelinge – hul saans sou uitneem en trakteer. Hierdie "openbare uitnodiging" – soos hul advokaat dit later in die hof gestel het – het hul aansien in die gemeenskap aangetas en kon daartoe lei dat mense met hulle die spot sou dryf. Ook het dit hul eergevoel aangetas en inbreuk op hul reg van privaatheid gemaak. Elkeen het gevolglik R1 000 as genoegdoening of skadevergoeding geëis. Dit was báie geld in 1956.
Die saak het in die Randse Hoërhof voor regter Kuper gedien, en die hof het op 5 Mei 1957 – dis ook al 56 jaar gelede – sy uitspraak gelewer.1 Oor die bewering dat die artikel lasterlik was, het die regter beslis dat die gewone leser van die artikel hoegenaamd nie sou geweet het dat die een dame getroud en die ander twee verloof is nie. Die gewone leser was dus van hierdie spesiale omstandighede salig onbewus en daarom is die eer en aansien van die drie dames glad nie in die oë van die gewone leser aangetas nie.
Oor die alternatiewe bewering dat die artikel die drie verpleegsters se eergevoel aangetas het en op hul privaatheid inbreuk gemaak het, het die regter beslis dat dit wel tot ’n geringe mate waar kon wees in die geval van die getroude dame, want dit kon dalk haar huweliksgeluk in gevaar stel. Die regter het R50 skadevergoeding aan háár toegestaan. Die ander twee dames se eise is egter met koste van die hand gewys.
Dis maar altyd ’n bitter pil om te sluk as ’n mens ’n hofsaak verloor – veral as jy as verpleegster gewoond is dat dit die ánder ou is wat die pille sluk!
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

