Shapi die stout olifantjie

  • 0

Shapi was ’n klein olifantjie op ’n wildsplaas êrens in die destydse Rhodesië. Hy het net oor die 400 kg geweeg en hy kon – anders as die leeus en luiperds, wat in groot hokke was – vryelik rondloop tot groot vermaak van toeriste. Soos elke kind wat deur te veel aandag bederf is, was hy aan die stout kant, en daarom het hy ’n voltydse oppasser met die naam Tebela gehad.

’n Bejaarde dame, ’n mev Bristow, en drie vriendinne het op ’n dag die wildplaas besoek. Toe hulle by die hek stilhou, het Shapi sy slurp by die motor se venster ingesteek, en ek kan my voorstel watter konsternasie dit onder die vier dames moes veroorsaak het. Tebela was gou by, en hy het hulle gerusgestel: Shapi is regtig die vredeliewendheid self. Al wat hy gesoek het, was ’n paar lekkertjies. Die dames het vir Shapi ’n paar pepermente gegee, waarna hy sy vroetelende slurpie uit die motor uitgetrek het. Die dames wou weet of dit werklik veilig sou wees om op die wildplaas rond te loop met Shapi in die omtrek, maar Tebela het hulle weer met oorgawe gerusgestel.

By die ingang was daar ’n duidelike kennisgewing dat alle persone wat die wildplaas betree, dit op eie risiko doen. Dié waarskuwing is in die besoekersboek – wat deur alle toeriste geteken is – herhaal.

Mev Bristow en haar geselskap het begin rondloop en hulle vergaap aan alles wat daar te siene was. Shapi het weer ’n paar lekkertjies kom haal en selfs saam met die dames vir ’n foto geposeer. Daarna het hy tussen ’n klompie bome verdwyn en die dames het vir ’n oomblik van hom vergeet en na die luiperdhok gestap. Die sonnetjie het gebak en Tebela het hom lui onder ’n boom uitgestrek.

Mev Bristow en haar vriendinne het nog so kuier-kuier tussen die hokke deurgeloop toe sy skielik iemand hoor uitroep. Die volgende oomblik het sy gevoel hoe sy van agter aangepor word met ’n drukkie tussen die skouerblaaie – nie te hard nie, maar stewig. Dit was maar net Shapi wat weer lekkertjies kom soek het. Mev Bristow het haar balans verloor en gestruikel. Met die valslag het sy met haar hand probeer keer, en daardeur haar pols gebreek.

Mev Bristow het daarna ’n aksie om skadevergoeding teen die eienaar van die wildplaas ingestel. Die saak het uiteindelik in die Rhodesiese Appèlhof gaan draai en uitspraak is op 9 Julie 1971 gelewer.

Hoofregter Beadle het – nogal sonder dat getuienis daaroor aangebied is – die aanname gemaak dat wilde diere, soos olifante, altyd potensieel gevaarlik bly, ondanks die feit dat hulle sogenaamd "getem" is. Hy beslis gevolglik dat die reg vermoed dat die eienaar van ’n wilde dier wat in gevangeskap gehou word, nalatig is as die dier iemand skade berokken. Daar is wel ’n paar uitsonderings waar ’n eienaar nié aanspreeklik sal wees nie, maar dis straks onnodig om dit nou te bespreek.

Die belangrikste vraag was of die kennisgewing dat toeriste die wildplaas op eie risiko besoek, die eienaar teen aanspreeklikheid gevrywaar het. In beginsel was die hof van mening dat so ’n kennisgewing wel die eienaar kon vrywaar teen skade wat veroorsaak is deur ’n dier wat normaalweg as vreedsaam beskou word – soos ’n mak olifantjie – teenoor, byvoorbeeld, ’n leeu.

Aan die ander kant was Tebela egter nalatig toe hy mev Bristow eers verseker het dat Shapi haar geen kwaad sou aandoen nie en daarna onder die boom gaan lê en slaap het. Die hof was van mening dat nóg die werkgewer nóg mev Bristow sulke ernstige nalatigheid aan Tebela se kant kon voorsien het toe hulle ooreengekom het dat mev Bristow die perseel op eie risiko sou betree. Die werkgewer is dus aanspreeklik gehou en hy moes maar opdok . Dit was seker die einde van arme Shapi se gebedel vir lekkertjies by bejaarde dames!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top