Die privaatspeurder, die rondloper en die Austin

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die feite in Van der Vyver v Netherlands Insurance Company of South Africa1 laat ’n mens nogal aan ’n toneeltjie uit ’n Laurel en Hardy-fliek dink.

Van der Vyver was ’n privaatspeurder wat van ’n sekere mev Ozen opdrag ontvang het om ’n ogie oor haar man te hou, want sy het vermoed dat hy rondloop. Op ’n middag het die speurder mnr Ozen in sy motor gevolg vandat hy sy winkel in Pretoria verlaat het. ’n Entjie verder het mnr Ozen ’n onbekende dame opgelaai en toe koers gekies na die Bon Accord-dam, waar hy tussen ’n plaat bome loop stilhou het. Oor wat daarná in die klein Austin Mini-stasiewa  (bekend as ’n Traveller) gebeur het, swyg die hofverslag.

 

Na ’n rukkie het Van der Vyver en ’n handlanger by die motor opgedaag en hulle aan die oorblufte paartjie voorgestel. Die handlanger het ’n foto van die twee geneem, en Van der Vyver het ’n kaartjie omhoog gehou waarop sy eie foto was en waarin vermeld is dat hy ’n privaatspeurder is. Mnr Ozen het probeer wegjaag, maar Van der Vyver het soos ’n wafferse James Bond op die enjinkap van die bewegende motortjie gespring in ’n poging om dit tot stilstand te dwing. Wat verder gebeur het, blyk uit sy getuienis wat hy in ’n latere hofsaak gelewer het. Sy advokaat stel die vrae :

Nou, sal u vir die Hof vertel wat toe later gebeur het, toe u voor die ruit gelê het?

U Edele, hy het toe gery in die rigting van die Pretoria-Warmbadpad. My klere was baie glad op die enjinkap, en ek het begin rondskuif. Toe het ek later op ’n sittende posisie (op) die kar voor hom gekom, en aan die geutjies van die kar vasgehou, en aan die bestuurder se kant het ek my hand binne in die kar ingekry deur die oop venster. So (het ek) daar vasgehou.

Waarom het u nie afgespring nie?

Die spoed was te hoog, en die pad was te hobbelrig (dit is die gruispad-gedeelte), en ek het met my rug in die rigting gewees … (waarin) … hy gery het, en ek was bang as ek val sal die grond my voete onder my uithaal (sic) en ek kan dalk my rug of my nek beseer.

Wat het toe gebeur?

Toe het hy die ruit toegestoot, en ek moes my vingers uittrek. Ons is toe in daardie sittende posisie oor die treinspoor, en op die grootpad het ek begin staan op die kar, en (het) aan die geutjies vasgehou, met my linkervoet teen sy spieëltjie en die regtervoet teen sy lugdraad. Hy het S-draaie op die hoofpad gegooi terwyl hy gery het - ek sou sê tussen 50 en 60 myl per uur. Ek … het oorgeleun na sy kant toe soos ek gestaan het - geskree hy moet asseblief stilhou, ek wil net hierdie saak met hom bespreek.

En toe hy dit nie doen nie, toe trek jy ’n rewolwer uit?

Ja, nadat hy ’n hele paar keer hierdie draaie oor die pad gegooi het. Ek kan nie onthou of ek twee of drie skote geskiet het aan die regterkant van die kar, na die grond toe nie. Ek het gereken dit sal hom laat skrik en stop. By die voet van die Wonderboom - daar is ’n vurk in die pad – (het) dit vir my voorgekom dat Ozen oor die berg wou gaan, en skielik in die vurk het hy die stuur na regs [dws in die rigting van Brits – CGP] geruk, en het ek die lugdraad afgetrap, en toe afgeval van die kar af.

Van der Vyver is beseer en toe prosedeer hy teen die maatskappy wat mnr Ozen se motor kragtens die destydse Motorvoertuigassuransiewet2 verseker het.  

Op 27 Februarie 1967 – vandeesweek 46 jaar gelede - het die saak voor regter Boshoff in Pretoria gedien. Van der Vyver het iets meer as R2 000 geëis vir die liggaamlike beserings wat hy weens Ozen se beweerde nalatigheid opgedoen het. In vandag se geldwaarde is dit natuurlik heelwat meer.

Die versekeringsmaatskappy het ’n paar verwere geopper, waarvan een ’n baie interessante regsbeginsel verteenwoordig. Die Romeine het gesê: “Volenti non fit iniuria”, wat vry vertaal beteken dat ’n mens nie ’n onreg pleeg teen ’n toestemmende persoon nie. Waarop dit neerkom, is dat ’n persoon wat willens en wetens die risiko aanvaar dat hy op ’n bepaalde manier beseer kan word, nie agterna skadevergoeding kan eis as die gebeurtenis toe wél plaasgevind het nie.

Hierdie verweer van die versekeringsmaatskappy het nie geslaag nie. Volgens die feite het regter Boshoff beslis dat Van der Vyver nie toegestem het tot die risiko dat hy beseer kon word toe hy voor op Ozen se motortjie gespring het nie. Sy bedoeling was immers om Ozen te oorreed om stil te hou, nie om in dolle vaart met sy onwillige passasier weg te jaag nie.

Van der Vyver het sy saak gewen, en regter Boshoff se uitspraak is ’n paar maande later in wese deur die appèlhof bevestig.3

Nou sê die hofverslag nie of mev Ozen darem aan Van der Vyver ’n bonussie vir al sy moeite betaal het nie ...


 

 

1 1967(2) SA 476(T)

2 Wet 29 van 1942

3   Netherlands Insurance Co of SA Ltd v Van der Vyver  1968(1) SA 412(A)

 

 

 

   

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top