
Daisy de Melker – die berugte gifmoordenares – is op 1 Julie 1886 naby Grahamstad gebore. Haar storie is taamlik bekend.1 Haar eerste slagoffer was mos William Cowle, met wie sy in 1909 getroud is en by wie sy vyf kinders gehad het. Hy is in 1923 oorlede nadat vroulief Daisy vir hom Engelse sout ingegee het. Daar was ’n skeutjie strignien by, maar die dokter wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het dit nie agtergekom nie. Hy het bevind dat Cowle aan "chroniese nierontsteking en serebrale bloeding" oorlede is.
Daisy se tweede slagoffer was Robert Sproat, met wie sy op Nuwejaarsdag in 1926 getroud is. Die huwelik was van korte duur, want in Oktober die volgende jaar het Sproat skielik ineengestort nadat hy ’n bier gedrink het. "Slagaarverkalking" is as rede vir sy dood aangegee.
Daisy was teen dié tyd ’n welaf dame – danksy stewige erfporsies uit die boedels van die twee mans wat haar so tragies ontval het.
Haar derde huwelik was met ’n Springbokrugbyspeler, Sidney de Melker, wat gelukkig die lot van sy twee voorgangers gespaar is, seker ook maar net omdat daar ’n derde slagoffer was wat op daardie stadium Daisy se onmiddellike aandag geverg het. Dit was haar seun uit haar huwelik met Cowle. Hy het die indrukwekkende voorname Rhodes Cecil – in daardie volgorde – gehad, maar hy was ’n mannetjie wat sy ma se lewe erg versuur het. Hy was losbandig, onverantwoordelik en ’n deurbringer.
Sý dosis gif – dié keer was dit arseen – het Daisy by ’n apteek ’n hele ent van haar huis af gaan koop. Sy het vir die apteker gesê dat sy van ’n lastige kat ontslae wou raak. Sy het die gif met Rhodes se koffie gemeng, en ook hý het ’n pynlike dood gesterf. Die oorsaak is as "serebrale malaria" aangegee, maar ’n familielid het snuf in die neus gekry en by die polisie gaan klik. Cowle en Sproat se liggame is opgegrawe en daar is gevind dat hulle deurtrek van strignien was. By herondersoek is die arseen wat sy met die koffie gemeng het, in haar seun se liggaam gevind.
Daisy is van moord aangekla en haar verhoor het in Oktober 1932 voor regter Greenberg in Johannesburg begin. Die verhoor, wat 90 dae geduur het, het ook ’n paar ligte oomblikke opgelewer.2 Daisy is deur seker een van die bekwaamste advokate van daardie tyd – die beroemde Harry Morris – verdedig. Terwyl sy getuienis gelewer het, het Morris haar gevra of haar seun lid van ’n sekere bekende krieketklub was. Toe sy "ja" antwoord, was die advokaat gereed met sy volgende vraag, wat klaarblyklik foutief was: "Vóór of ná sy dood?" wou hy weet. Daisy het hom fronsend aangekyk en Greenberg, wat bekend was vir sy vlugtige brein, het haar te hulp gesnel: "Ek het gedog u praat van ’n plaaslike klub, mnr Morris," was die regter se droë kommentaar.
Morris was ook verantwoordelik vir ’n ander voorval in ligter luim. Daisy het een oggend gedurende die marathon-verhoor van hoofpyn gekla. Kon die vorige nag nie goed slaap nie, het sy gesê. "Neem gerus ’n bietjie arseen … ag ek bedoel aspirien," was haar advokaat se raat. Daisy het glo lekker gelag, maar haar lot was reeds verseël. Die hof het bevind dat daar nie voldoende getuienis was om haar aan moord op haar twee mans skuldig te bevind nie, maar wat die moord op haar seun betref, was die getuienis dodelik - ook in letterlike sin, want op 30 Desember 1932 is sy tereggestel, sonder dat sy ooit skuld beken of enige berou getoon het.

