Persverklaring – Silwerskermfees TV nominasies: die beste reaksies

  • 0
Die Afrikaanse filmbedryf kom hierdie Saterdag, 31 Augustus 2024, in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum byeen om die 12de kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV te vier. Dié glansgeleentheid sal die volgende aand, Sondag, 1 September 2024, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. 
 
Met Vrouemaand wat afsluit, het dié aktrises oor hul benoemings gesels:
 

Cindy Swanepoel (Foto verskaf deur Showmax)

Cindy Swanepoel
Benoeming: Beste aktrise in ’n drama
Rol: Christelle in die Showmax Original Koek
 
“Om vir ’n Silwerskermtoekenning benoem te word te word, beteken vir my alles. Ek het nogal ’n pad saam met die Silwerskermfees gestap. Ek het meer as tien jaar gelede my eerste kortfilm vir die fees gedoen, en ook my eerste benoeming en eerste toekenning vir Fluit Fluit, wat in 2018 deel van die Silwerskermfees se kortfilmprogram was, gekry. Dít het die wêreld vir my beteken; ek onthou dit asof dit gister was. Om nou, jare later, steeds benoem te word, is ongelooflik. Dit wys my net dat hulle wel na jou werk kyk en sien hoe jy gegroei het. Ek het my reis met Binnelanders ná agt jaar presies ’n jaar gelede beëindig en natuurlik is jy ’n bietjie bang. Jy vra jouself, ‘Doen ek die regte ding? Kan ek nog ander karakters speel? Kan ek ander genres verstaan?’ Daar is ’n bietjie van daardie vrees wat daarmee gepaard gaan, so om hierdie benoeming te ontvang, is soos ’n bevestiging, ‘Oukei, jy is steeds op die regte pad. Jy kan ander karakters en genres speel en jy kán ’n storie dra.’ In vergelyking met al die ander mylpale, is dít baie betekenisvol, meer as wat ek kan beskryf.”
 
“Die eerste persoon wat ek vertel het, was natuurlik my verloofde, Craig Urbani. Hy was ongelooflik ondersteunend gedurende die Koek-reis en ek kon aan niemand anders dink wat die nuus eerste moes hoor nie. Hy is regtig ondersteunend van my loopbaan en deel altyd in my vreugde.”
 

Melissa Myburgh (Foto verskaf deur Showmax)

Melissa Myburgh
Benoeming: Beste aktrise in ’n drama
Rol: Luna in die Showmax Original Trompoppie
 
“Ek het geskryf in my kamer toe ek ’n boodskap op ’n Wyfie-skrywersgroep ontvang het dat drie van die Wyfie-aktrises benoemings ontvang het. Ek het Mienke Ehlers, my beste vriendin, gebel om haar geluk te wens, omdat ek geweet het dit was ’n doelwit wat sy wou bereik. Ons het gepraat en nadat ek afgelui het, het ek weer begin werk. Sy het my ’n minuut later teruggebel en gesê: ‘Jy het nie eens vir my gesê jy is benoem nie! Ek het sopas die volledige lys gesien!’ Dit was nogal snaaks. Ek het aan die begin vir niemand vertel nie, want ek is nogal skaam oor hierdie tipe dinge. Maar ek skat ek indirek vir Mienke gesê. Of sy het vir my vertel.
 
“Ek is opgewonde dat Trompoppie die erkenning kry wat dit verdien. Trompoppie is die breinkind van een van die mees talentvolle mense wat ek nog ontmoet het, Etienne Fourie. Toe ek dit die eerste keer gelees het, was ek verstom oor hoe goed dit geskryf en deurdink is. Ek dink die span – Etienne, al die akteurs, die crew, Sunel Haasbroek, ons kinematograaf, en almal wat betrokke was – het alles gegee, en ek is nie skaam om te sê dat dit vrugte afgewerp het nie. Ons het iets mooi gemaak en die feit dat mense dit geniet, maak my baie gelukkig, juis omdat ek dit baie geniet het om dit te help maak. Ek is so trots op hierdie projek en die werk wat ek daarop gedoen het. Trompoppie is iets wat ek self sal kyk, en dit sê iets, want ek haat dit om myself op skerm te sien. Marion Holm het ook ’n benoeming gekry, en niemand verdien dit meer nie.”
 

Mienke Ehlers (Foto verskaf deur Showmax)

Mienke Ehlers
Benoeming: Beste Nuweling in ’n Telenovela of Sepie
Rol: Mia in die Showmax Original Wyfie
 
“Ek was op stel toe ek die e-pos gekry het – juis besig met dit wat my die benoeming besorg het. Én dit was op my verjaardag, wat dit ekstra spesiaal gemaak het. Dit was net ’n pragtige volsirkel-oomblik, en ek het so ongelooflik geseënd gevoel. Dit was ’n baie cool verjaardaggeskenk.
 
“As ’n loopbaanmylpaal voel hierdie benoeming ongelooflik. Ons verwag nooit hierdie dinge nie, maar as dit gebeur, word dit so waardeer. Hierdie een het my ook diep geraak, omdat ek dink ek die oudste persoon in die kategorie vir beste nuweling is. Dít is vir my pragtig. Ek skroom nie weg omdat ek ouer (as die ander) in dié kategorie is nie, want ek voel regtig dat ek mense wil motiveer (met die boodskap) dat dit nooit te laat is nie. Ek het vyf of ses jaar vir ’n rol soos hierdie een gewag, en ek het dit uiteindelik gekry. So ek is baie dankbaar.”
 
Wyfie het baie goed in die toneelspelkategorieë gevaar, en ek dink dit is vanweë die ongelooflike draaiboeke. Ek dink nie ons ​​kan verby dit kyk nie. Ek dink dit is as gevolg van die baie relevante en herkenbare stories waarmee ons te doen kry, en die ongelooflike regisseurs wat saam met ons werk en ons help om ons kuns te navigeer en hierdie karakters wat so geloofwaardig en eerlik is, te skep.” 
 
“Ek het eers my pa (met die nuus) gebel. Ek bel hom altyd as daar goeie of slegte nuus is. Hy is altyd my eerste telefoonoproep. Hy is net iemand wat van die begin af hierdie pad in die bedryf saam met my stap, my ondersteun, en net langs my staan.”
 

Beáta Bena Green (Foto verskaf deur Showmax)

Beáta Bena Green
Benoeming: Beste aktrise in ’n Telenovela of Sepie
Rol: Shay in die Showmax Original Wyfie
 
“Ek was op die Wyfie-stel toe ek die eerste keer van my benoeming gehoor het. Dit was eintlik my tweede laaste dag op die stel, en die eerste twee mense met wie ek dit gedeel het, was die hoofregisseur, Johan Cronjé, en toe daardie dag se regisseur, Emilie Badenhorst, wat ook ’n baie goeie vriendin is. Ons het dit toe met die hele span gedeel, so dit was die perfekte oomblik om die nuus te kry. 
 
“Soms moet ek myself nog knyp. Ek was verbaas dat ek benoem is, bloot omdat die ander benoemdes so sterk is. Ek kom ook uit ’n produksie waar daar baie wonderlike akteurs is, en persoonlik voel ek dat almal ’n benoeming verdien, maar ek is opreg dankbaar vir die geleentheid om Wyfie te verteenwoordig en dat die harde werk wat ons ingesit het, erkenning kry. Ek het ’n bietjie met myself en God gesels. Ek het gesê, ‘Ek vind dit moeilik om in hierdie oomblik te wees, want ek glo almal moes ’n benoeming gekry het.’ En die boodskap wat ek terug ontvang het was dat elke liewe persoon hul oomblik in die son het, en as dit jou beurt is, jy dit moet geniet en daardie vitamien D moet opsuig, want dit gaan nie altyd die geval wees nie. So op die oomblik geniet ek net die vitamien D en is dankbaar om deel van die proses te wees.”
 

Marion Holm (Foto verskaf deur Showmax)

Marion Holm
Benoeming: Beste vroulike byspeler in ’n drama
Rol: Jill in die Showmax Original Trompoppie
 
“Ek kan glad nie onthou waar ek was of hoe ek (van die benoeming) gehoor het nie. Ek is amper 60 en dit wys beslis! Ek glo nie aan toekennings nie, aangesien ek nie glo ’n mens kan vertolkings van heeltemal verskillende rolle vergelyk nie – maar ek glo wel aan benoemings. Die benoeming – vir my – sê, ‘Haai, ons sien jou.’ En daaroor is ek verheug.”
 

Marguerite van Eeden (Foto verskaf deur Showmax)

 
Marguerite van Eeden
Benoeming: Beste Byspeler in ’n Telenovela of Sepie
Rol: Wilmien in die Showmax Original Wyfie
 
“Dit is so lekker om benoem te word. Dit is die eerste keer dat ek ’n karakter soos Wilmien vertolk het: sy is ’n lekker malletjie. Ek is baie, baie dankbaar en so opgewonde om al die ander benoemdes en vriende by die toekenningsgeleentheid te sien. Ek dink almal op Wyfie verdien ’n benoeming: die crew en die rolverdeling.
 
“Ek was eintlik in Amerika toe ek uitgevind het. Ek en Roy (haar man) het net gesit, en toe kry ek ’n e-pos, en ek was soos, ‘Ek is vir ’n toekenning benoem! Sjoe!’ Die eerste persoon wat ek vertel het, was dus Roy, want hy was langs my, en toe my ouers en toe my vriende.”
 

Llandi Beeslaar (Foto verskaf deur Showmax)

Llandi Beeslaar
Benoeming: Beste vroulike byspeler in ’n drama
Rol: Stefanie in die Showmax Original Koek
 
“Ek wens ek kon voorgee dat ek besig was om iets badass te doen, maar ek was eintlik net in die bed, besig om e-posse te lees en my oggendkoffie te drink toe ek die nuus van die benoeming gekry het. Ek het eerlikwaar nie hierdie benoeming verwag nie. Veral as ek kyk na die groep gatskop-vroue saam met wie ek benoem is. Om erkenning te kry vir die werk wat jy doen, is altyd ’n goeie gevoel en ek weet hoe bevoorreg ek is om in dieselfde kategorie as hierdie wonderlike baanbrekers in die bedryf benoem te word.”
  • Persverklaring uitgereik deur Showmax
Lees ook:

Wyfie – die eerste vier episodes: ’n resensie

Koek – die eerste drie episodes vars uit die oond uit

Trompoppie, pret wat alte na aan die ontgroeningswaarheid is

kykNET Silwerskermfees 2024: ’n tweetalige onderhoud met Quanita Adams, skrywer-regisseur van Hier.Na

kykNET Silwerskermfees 2024: ’n onderhoud met Tina Kruger

kykNET Silwerskermfees 2024: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout, skrywer van Die dekonstruksie van Retta Blom

Persverklaring: Lewensbydrae-toekennings vir drie legendes by Silwerskermfees

Persverklaring ‒ Silwerskermfees 2024 kollig: Selah | Press release ‒ Silwerskermfees 2024 spotlight: Selah

Persverklaring ‒ Silwerskermfees 2024 kollig: In die verloop van | Press release ‒ Silwerskermfees 2024 spotlight: In die verloop van

Persverklaring ‒ Silwerskermfees 2024 kollig: O, Griet! Sy’s droog | Press release ‒ Silwerskermfees 2024 spotlight: O, Griet! Sy’s droog

Persverklaring: TV-benoemings vir kykNET Silwerskermtoekennings bekend

Persverklaring: Filmmakers en TV-bedryf gaan skitter by 12de kykNET Silwerskermfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top