Persverklaring: Kortlyste vir die 2023 UJ-debuutprys en die 2023 UJ-prys

  • 0

Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 jaarliks toegeken aan skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke. Die UJ-pryse neem Afrikaanse boeke uit die vorige kalenderjaar in ag en sonder graag titels uit wat uitdagend met literêre styl, konvensies of temas omgaan, boeke wat boei en verras. Titels uit enige genre kom teen mekaar te staan. Waar die UJ-prys ’n oop kategorie is, word die UJ-debuutprys spesifiek geoormerk vir debuutwerk in Afrikaans.

In 2023 het vier titels uit die dertien inskrywingsdebute die kortlys vir die 2023 UJ-debuutprys gehaal. Baie geluk aan die outeurs en uitgewers van hierdie vier boeke!

In alfabetiese volgorde volgens outeurs is dit:

bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze (Human & Rousseau)
Die menslike dieretuin deur Francois Durand (Naledi)
As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela)
Bot deur Carien Smith (Tafelberg)

Die dertien inskrywings verteenwoordig besonder min debute teenoor die onderskeidelik 22 en 27 inskrywings vir die vorige twee jaar.  Interessant genoeg is net meer as die helfte van die debute wat ingeskryf is, digbundels en geen hiervan het by die sogenaamde gevestigde hoofstroom uitgewers verskyn nie. Drie digbundels het by Minimal Press verskyn, twee by Turksvy Publikasies, een by Imprimatur en een by Naledi. Die ander helfte van die debuutinskrywings wat ontvang is, is drie romans, twee bundels kortverhale, en een nie-fiksie.

’n Totaal van 62 titels wat in 2022 gepubliseer is, is ingeskryf. Ook hierdie getal toon ’n afname in vergelyking met vorige jare, waar 85 inskrywings vir die 2022 UJ-pryse en 71 vir die 2021 UJ-pryse ontvang is.

Uit die 49 boeke wat in aanmerking gekom het vir die 2023 UJ-prys, was ook byna die helfte poësie verteenwoordig deur 17 digbundels, met 21 romans en 3 nie-fiksie tekste (waaronder Dan Sleigh se magistrale verwerking en bywerking van die Van Steelant-joernaal uit 1713). Verder was daar 2 kortverhaalbundels (waarvan een ’n versameling liefdesverhale deur verskillende outeurs), 2 bundels rubrieke of sketse (Tom Dreyer se Kodachrome en Chase Rhys se Misfits), 2 memoires (Herman Lategan se Hoerkind en Zarine Roodt se ’n Dagreis ver), en 2 dramas (Protea Boekhuis se onmisbare ondersteuning om dramatekste te publiseer, is ’n stem in die woestyn met uiteindelik Wessel Pretorius se ont- en Philip Rademeyer se Opdrifsel).

Uit hierdie oes is dit ’n voorreg om die volgende vier boeke wat deur die beoordelaars uitgesonder is vir die kortlys van die 2023 UJ-prys, aan te kondig – alfabeties volgens die outeur. Baie geluk aan 

Antjie Krog met Plunder (Human & Rousseau)
Johan Myburg met Narreskip (Protea Boekhuis)
Loit Sōls met Moerstaāl (Kwela)
Kirby van der Merwe met Eugene (Human & Rousseau)

Die paneel beoordelaars vir die 2023 UJ-pryse vir Afrikaans, was Bibi Burger (UK), Ronelda Kamfer, Amanda Marais (US), Ryan Pedro en Karen de Wet (UJ).    

Lees ook:

As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies: ’n lesersindruk

Nuut by Naledi: Die menslike dieretuin deur François Durand

Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze

Loeloeraai, kunsmatige intelligensie en die oordeelsdag

Antjie Krog gehuldig by vanjaar se Tuin van Digters

"’n Nar aan tafel is ’n aanwins": satire en samehang in Johan Myburg se Narreskip

Moerstaāl deur Loit Sōls: ’n resensie

Eugene deur Kirby van der Merwe: ’n leeskringbespreking

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top