"’n Nar aan tafel is ’n aanwins": satire en samehang in Johan Myburg se Narreskip

  • 0

Omslag: Protea Boekhuis

Narreskip
Johan Myburg
Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1345-8

Die Hertzogprys vir poësie is in 1916 vir die eerste maal toegeken – aan Totius, vir Trekkerswee. Deur die loop van 120 jaar van Afrikaanse poësie (dankie Eugène Marais vir “Winternag” in 1902, as mens só tel) en 104 jaar van Hertzogpryse, is 30 pryse aan die poësie toegeken.[1] Johan Myburg is die twintigste digter vir wie hierdie eer te beurt geval het – in 2020 vir sy bundel Uittogboek (2017). In Mei 2022 verskyn Narreskip by Protea, die vyfde digbundel in Myburg se oeuvre.

..............
Die leser van sy poësie sal goed vaar om nie Myburg die klassikus uit die oog te verloor nie. Aan die woord is ’n wyd belese digter, gereelde resensent van boeke, kuns en klassieke musiek, ’n student van klassieke tale en lettere, vertroud met die geskiedenis en onderlê in filosofie en teologie. Dit is uit die staanspoor duidelik dat die gedigte in Narreskip fassinerende moontlikhede vir ’n intertekstuele lees bied.
................

Die leser van sy poësie sal goed vaar om nie Myburg die klassikus uit die oog te verloor nie. Aan die woord is ’n wyd belese digter, gereelde resensent van boeke, kuns en klassieke musiek, ’n student van klassieke tale en lettere, vertroud met die geskiedenis en onderlê in filosofie en teologie. Dit is uit die staanspoor duidelik dat die gedigte in Narreskip fassinerende moontlikhede vir ’n intertekstuele lees bied. Die toespeling van die titel op Ship of fools (Plato, Sebastiaan Brant) en die bandontwerp met ’n detail uit Bosch se Die tuin van aardse luste, plaas die bundel onmiddellik binne ’n raam van gesprek met tekste – politieke satire, allegorie, kuns. Die uitwys hiervan, dat netwerke inspelings en toespelings op ’n verskeidenheid tekste, sienings en kunswerke deur die boek vibreer, moet egter ook dadelik gekwalifiseer word, want dit beteken nie dat die bundel moeisaam, of sogenaamd intellektueel, lees of die gedigte swaarwigtig is nie. Juis nie. Die gedigte is helder en kommunikeer direk. Tekste uit vorige samelewings word opgestel om teen in te speel. Kunswerke (lettere, beeldende kuns, musiek) en kunstenaars uit verskillende tradisies, tye en tale (Oosters, Westers, Europees, Middeleeus, Renaissance, eietyds, Nederlands, Spaans, Afrikaans) word telkens betrek in die gesprek oor hoe en waar ons nou leef. Dit is daarom ook nie ’n boek oor die verlede nie, maar spesifiek in die hede gesitueer. “Die digter gee ... vir ons die kaart en transport van die klassieke wêreld waarteen hy die hier-en-nou afspeel,” sê Hambidge (2022) tereg.

“Ek dink die digter se uitgangspunt by die skryf van ’n gedig is: ‘Ek het iets te sê.’ Maar dit kan ook geformuleer word as: ‘Het ek iets te sê?’” sê Johan Myburg ná die bekroning van Uittogboek in ’n onderhoud (Schoombie ca. 2020). ’n Mens sou dié vraag ook aan die digter van Narreskip kon vra: Waarom skryf? Waarom nog skryf? Waarom skryf in Afrikaans? Die gedigte in die bundel roep meer as een antwoord hierop uit, maar in die eerste gedig van die titelreeks, “Narreskip” (7), klink dit só:

Dalk omdat ek ink het en ’n vel oop papier
skryf ek op wat gebeur, hou ek as onverkose
skriba boek van dié tog, van wat ek dínk gebeur
aan boord van dié skuit sonder bevare matrose
of kaptein. ...

Hiermee word ’n grondtoon van die bundel ingelei: die nou verband tussen digterskap, gedigte en samelewing. Kuns (gedigte) ontstaan in ’n samelewing; die kunstenaar (digter) is lid van ’n samelewing – hoe hierdie samelewings ook al lyk en wat die aard van die verhouding tussen samelewing, kunstenaars en kuns ook al is. Die digter in “Narreskip I” (7) wat homself verontskuldig dat hy nie aangestel is nie, dat hy maar net ’n, sý, weergawe opteken (“wat ek dínk gebeur”), dat hy op die periferie leef en nie aansien geniet nie, ’n buitestander is (in die “agterstewe” van die skip en met ’n “boggel” sit hy afgesonder van die “spul passasiers” en “blog”, 7), daardie digter vaar saam op die skip van die samelewing, en deur tyd. En die gedigte wat hy dan in Narreskip skryf, besin oor hierdie vaart: oor die lewe, oor kuns (gedigte, geskrifte, skilderye, beelde, musiek), oor beskawings, Suid-Afrika, onsself. Dit dan ten spyte daarvan dat die res van die titelgedig dit duidelik maak dat hierdie digter, wat nie aangestel is nie, ook nie verantwoordelikheid wil hê nie en aanspraak daarop maak dat hy onbetrokke en ongeraak is:

... Boggel gekeer op die spul passasiers
aan’t slampamper, blog ek van die agterstewe,
g’n duit begaan oor waarheid of oor bog, of oor
die log en donker, bot verdriet van hierdie lewe.

Hoe die digter homself egter ook al opstel as lukrake, eenkant skribent van die narreskip (die waargenome, gesatiriseerde samelewing), die blote woordkeuse en die formulering van die insig waarmee die gedig eindig verraai ’n diepgaande gemoeidheid en meelewing [vergelyk: “die bot verdriet van hierdie lewe”, (7)].

............
Die gedigte in Narreskip hou deur die beskrywings van dit waaroor berig en besin word, ’n spieël voor die leser op. Van politieke stommiteite en sosiale vergrype tot gruwels en geweld. En dit is tot die digter se krediet dat in ’n digte teks waar geredelik van sinspeling en intertekste gebruik gemaak word, die weerspieëlings wat teruggekaats word direk, of instinktief, en duidelik kommunikeer.
.............

Die gedigte in Narreskip hou deur die beskrywings van dit waaroor berig en besin word, ’n spieël voor die leser op. Van politieke stommiteite en sosiale vergrype tot gruwels en geweld. En dit is tot die digter se krediet dat in ’n digte teks waar geredelik van sinspeling en intertekste gebruik gemaak word, die weerspieëlings wat teruggekaats word direk, of instinktief, en duidelik kommunikeer. Die gedigte ly nie aan duisterheid en swaarwigtigheid nie. Waar die skryf van satire, allegorie en parodie, alles vorme wat in Narreskip bedryf word, allerweë gerespekteer word vir die hoë eise wat dit aan digter en leser stel, flits die satire in hierdie bundel oënskynlik moeiteloos die tande. Die leser mag uitgedaag word, maar die gedigte laat die leser nie agter nie. ’n Mens sien dit telkens in toespelings wat nie duister is nie en suggesties wat oop en bloot lê, soos in die gedig na aanleiding van die bekende diere-epos: “Reinaard” (12).

...
dat die jagse ou jakkals van weleer

wat so skaamteloos knoei en konkel,
die bestaan van korrupsie selfs negeer
en oor sy eie boosheid nie kan bloos
nie, dagvaardings een na die ander ignoreer
...

juis nou weer vorstelik as vos na vore
tree, homself as leidsman presenteer

’n Tematiese nalees van die motiewe in die digbundel maak dit duidelik dat Narreskip nie vir of teen politieke beskouings uitsprake maak nie en ook nie antwoorde bied nie. Dit is nie ’n politieke manifes of ’n partytrek via teks en ’n skaar by ’n groep of siening nie. Inteendeel. Die samelewing word sonder wegskram uitgebeeld, soos wat daar ook nie tru gestaan word vir die erkenning van ontnugtering nie.

In die eerste plek bly die bundel ’n boek gedigte waarin dit wat waargeneem word met onthutsende satiriese insig en dikwels selfironiserend aangebied word in vers.

As doktor het ek meer as kalot
’n mus nodig sodat tussen grys
my eselsore tog net nie wys.

(“Twee ryme in die trant van Sebastian Brant II”, 91)

Dat ’n digter in die derde dekade van die derde millennium en in ’n tyd van groot kulturele en politieke omwenteling (nog) in staat is, bereid is, om ’n boek soos Narreskip te skryf waarin samelewing en teks toegelaat word om te resoneer teen maniere waarop mense en beskawings in vorige oorgangstye gedink en gereageer en kuns gemaak het, is prysenswaardig. So beskou kan die bundel gelees word as ’n manifestasie van sosiopolities bewuste kritiek. ’n Littérature engagée vir ons tyd – met satire en onderbeklemtoning.

.............
Dat ’n digter in die derde dekade van die derde millennium en in ’n tyd van groot kulturele en politieke omwenteling (nog) in staat is, bereid is, om ’n boek soos Narreskip te skryf waarin samelewing en teks toegelaat word om te resoneer teen maniere waarop mense en beskawings in vorige oorgangstye gedink en gereageer en kuns gemaak het, is prysenswaardig. So beskou kan die bundel gelees word as ’n manifestasie van sosiopolities bewuste kritiek. ’n Littérature engagée vir ons tyd – met satire en onderbeklemtoning.
.................

Die bark van die bundel word aanvanklik aangebied in kalm waters (7) – maar dit sê nie dat daar nie maalkolke is wat onderaan die gedigte en die sienings draai nie (eksplisiet gemaak in die verslag, beriggewing en bulletins van afdeling IV). Dit sluit ook nie uitgelewerdheid, soos aan windstilstande (“dae lank traag en roerloos dalk, die oseaan / ’n see van glas”, 7), diefstal en geweld, uit nie. Die tweede deel van die ontluisterende ironieë in “Wederkoms” (71) is ’n illustrasie hiervan:

Hy het toe opgedaag
soos ’n dief in die nag
...
Met my eie oë het ek
hom gesien waar hy
afsluip teen die trap
met my wolkaros, my
laptop en ’n paar sandale ...

Die gebruik van eenvoudige woorde en versstrukture (kwatryne vir die “Bulletins”, 60–61), juis in gedigte wat oor van die grootste verskrikkings handel, is wat die leser maklik onverhoeds vang en daar tref waar die onbereikbare van nerf en innerste hang. In veral afdeling IV, in die 14 gedigte van die reeks “Verslag” (45–62), is dit ’n joernalistieke direktheid en die gebruik van gestroopte, selfs skoon gebrande taal wat die omvang en impak van geweld (moetiemoorde, hekseverbranding, plaasmoorde, oa) in die sogenaamd alledaagse leefwerklikheid van die samelewing die sterkste tuisbring.

Dit het ek gesien: Hoe stringe binddraad gestoor
vir hakies maak, vir vet biltonge op ’n ry
nou blou polse boei, hoe blind draad
dieper in die keelvet van ’n ou vrou sny.

(Eerste kwatryn van “XIII”, “Bulletins”, 60)

Die verskrikking staan hier blou in die blom en dit word in dubbele mate by die leser tuisgebring: ja, deur die ontstellende inhoud wat direk en visueel konfronterend verwoord word, maar dan ook deur die verstegniese. Een illustrasie hiervan is die ontsenuende manier waarop die rym in die kwatryne van “Bulletins” (60–61) die leser telkens dwing om te hoor wat ’n mens gehoop het nié gesê sal word nie, nié so gebeur het nie. ’n Ander voorbeeld, met soortgelyke impak, is hoe’n illusie van vredigheid en veiligheid geskep word deur die gerusstellende herhaling in “Verslag III” (47). Die rustige hale van huislikheid waarmee die vrou vee, en vee, dagin, daguit, word die doek waarteen die ander stelle alliterasies in die gedig, dié van aanhoudende sinlose geweld, intensiverend grusaam tuisgebring word.

Vroegoggend, net voor vyf, toe sak
hulle op haar toe, dié vrou wat vee
en vee, wat besem in die hand dagin
daguit skoon strate skoner vee.
Vroegoggend, net voor vyf, toe sak
hulle op haar toe, dié vrou wat slaap
en slapend haar dalk verbeel alles
is weer heel, heler soos net in slaap.
Vroegoggend, net voor vyf, toe sak
hulle op haar toe: Getakel met stene
en bottels, hale geslaan met gordels
en gespes lê sy kaal gekatel op stene.
Vroegoggend, net voor vyf, toe sak
hulle op haar toe, dié vrou wat vee
en vee, wat besem in die hand dagin
daguit skoon strate skoner vee.
Vroegoggend, net voor vyf, toe sak
hulle op haar toe, op dié ou vrou
wat seniel haar dae verwyl met haar
besem, die ou, skadelose vrou.

Dieselfde waarneming oor hoe die verstegniek die impak van die gedig laat voortstu, kan ook gemaak word oor die ononderbroke sinne, reëlmatig, in ’n verhalende trant, sonder heffings en dalinge, waardeur die plaasmoord (“Verslag XI”, 56–57) in egalige kwashale, en asof in ’n onderhoud op einste “RSG (wat) sulke oggendmusiek gespeel” het, aangebied word. Hierdeur word die herhaling en ook die gelykmatige, meedelende trant ’n strategie van onderbeklemtoning en daarom uitheffing in die vers.

.............
Dit sal egter, soos wanneer die bundel net maar gelees word vir die waarde van die intertekstuele spel en die netwerke wat dit span, ook ’n verskralende lees meebring om Narreskip te lees net vir die sosiale kommentaar daarin. Die boek vra om vir die geheel van die uiteenlopende sake wat dit ophaal, uitwys en oor kommentaar lewer (inderdaad ’n “ark”, 7) gelees te word en verg daarom nie net ’n intellektuele, polities bewuste of emosionele lees nie.
...............

Dit sal egter, soos wanneer die bundel net maar gelees word vir die waarde van die intertekstuele spel en die netwerke wat dit span, ook ’n verskralende lees meebring om Narreskip te lees net vir die sosiale kommentaar daarin. Die boek vra om vir die geheel van die uiteenlopende sake wat dit ophaal, uitwys en oor kommentaar lewer (inderdaad ’n “ark”, 7) gelees te word en verg daarom nie net ’n intellektuele, polities bewuste of emosionele lees nie. Met die lees van hierdie gedigte is dit nie alleen die sinapse in die brein wat kennisnetwerke herken (of google vir verwysings) en insig bewerk nie, nie net lagspiere (en dalk selfs schadenfreude) wat geprikkel word deur die satire nie, nie net meelewing en die beskermende reflekse van afsku teen die uitbeelding van geweld wat geaktiveer word nie. Dit is nie net die maagwand wat soms onwillekeurig ruk nie, maar ook, en dalk veral, die dun vliese tussen die kamers van die hart. Wie bereid is om die interaksie te ondersoek wat bewerk word tussen intertekstuele verwysings en sosiale kommentaar, en ook die emosionele impak beleef, terwyl die aandag gerig word deur ars poëtikale uitgangspunte en die leesplesier gevoed word deur die temas en perspektiewe, die poëtiese aanbod en die verstegniese afronding, só ’n ideale leser is dalk met die lees van die gedigte op pad na die bundel se Kokanje (7).

Inderdaad is dit so dat dwarsdeur die bundel die gedigte besonder streng en vaardig, kompak afgewerk is en dikwels onderbeklemtoning en terughouding aanwend. Die verstegniese aanbod is ryk aan koeplette (en ’n distigon), kwatryne (en oktawe). Daar is ’n duidelike voorkeur vir korter vorme, vir verhulde en eksplisiete ryme, en die aanwend van herhaling wat ritmies en beklemtonend funksioneer. Tog bly dit gedigte sonder uitroeptekens en vetdruk hierdie; gedigte wat waarneem en teenoor mekaar stel, nie gedigte wat slagspreuke formuleer nie. Openinge (vir asemhaal, vir invul en sodat illusies nie mislei nie) word voorgestaan, en daarmee saam word die “veilige”, “heel” finaliteit van onomstootlike feite en onaanvegbare uitsprake afgewys.

In die ars poëtikale “Note to self” (22) word die idee voorgestaan dat sagter sê, en selfs swye, die prysgee van sekerhede en feite, die erkenning en verwoording van ontnugtering (en later in die bundel ook van verskeie ander verskrikkinge), ’n benadering tot skryf en skryfwyse moet word.

... skryf
geperforeerde verse, vol sesure,
vol hiate, gate sodat die nié-weet
kan asemhaal, opdat die waan
jou nie inhaal nie. Praat sagter
sodat ander s’n jou sinne kan bly
volg. Hou die geskal eers terug, swyg,
al vreet die vrees, al dreig dit alom.

Die slotreël, met die verwysing na durende, verterende vrees en die gebruik van die rymklank in “alom”, laat die refreinmatige herhaling van angs in “Ballade van die grysland” hier resoneer: “O die vrees! as die rekenmeester kom / hoe sal ek kan verantwoord / en verslag gee van sy eiendom? ... // O as die rekenmeester kom! / wat sal ek van sy wêreld / nog kan wys aan hom?” (Opperman 1947:14–15). Alhoewel die opgawe in “Note to self” is om minder te skryf – minder wetend, minder presies (gateriger, of met meer spasie vir ander sienings, moontlikhede of interpretasie), selfs in die aangesig van die vrees (vrees oor die hede, vrees vir verganklikheid en verlies, en moontlik, via Opperman, ook vrees dat rekenskap gegee moet word), bly die enigste verweer op die narreskip om gedigte in weerloosheid en verweer aan te bied.

Die beeldgedigte in Narreskip lewer ’n beduidende bydrae tot die bundel. Myburg se beeldgedigte bied besonder insigryke, sensitiewe interpretasies en beskrywings en verruim ook die bestaande korpus Afrikaanse beeldgedigte met gedigte oor kunswerke van buite die Westerse kanon: uit Mesopotamië, Sirië, Persië, Mapungubwe. “Miniatuur in ink en verf” (28), met die poëtiese uitspel van die Arabiese teks waarby uiteraard ook die illustrasie self betrek word, en “Landskap” (84), na aanleiding van Leonardo da Vinci se Annunciazione, is klein woordwonderwerkies.

Miniatuur in ink en verf
1627, Muhammad Qasim, Louvre

Wat meer wil jy hê om van te drink as
die lippe van jou liewerd, die plas
van blink water iewers in ’n rivier
met klippe, en wyn uit ’n helder glas.

Die gedigte in Narreskip, uiteenlopend soos die aanbod daarvan mag wees, met satire, intertekste en beeldgedigte, besinnings oor beskawings, kuns, vernietiging en geweld, met insigte oor beperkte sig en die beperkings van sê, heg tot ’n netjiese geheel. Terugkerende motiewe van terughou en weerhou (die weerhou van oordele, die weerhouding van ’n oorgawe aan ontluistering), waarby die selfopgelegde ars poëtikale tug gevoeg word, naamlik om meer te luister en stiller te sê, word ingespan saam met perspektiewe (bewerk deur die beskrywings en verwysings in die gedigte) op hoe ons lyk, en ook op wat met en rondom ons gebeur. Die geheel hiervan maak van die bundel ’n boeiende, en eintlik ook onontbeerlike, leeservaring vir ons tyd. In gesprek met Edward Said se memoir, en sekerlik met ’n kopknik na expats, erken “Out of place” (104):

Sonder om willens of wetens ’n skuif
te beplan óf te maak, sonder om voet
uit die land te sit, met ’n laaste wuif

te groet, het ek reeds verkas, as
kopskuif ’n grens oorgesteek na vistas
waar niks ooit onbekender was.

Narreskip is ’n boek wat getuig van ’n ruimte waarin daar oor digter en gedig, samelewing en leef, siening en sein besin word – binne die omvangrykheid van kennis van die klassieke en ’n lewe gewy aan die skone kunste en lees. Sonder moralisering, sonder beloftes:

... Onttrek
vir een seisoen jou hand

aan tuin en tuinerye en verval
slaan deur, begin te wys.
Ek is geen tuinier en, dit weet
ek nou, daar is geen paradys.

(“Handleiding II”, 86)

Immers word die poësie en die digter van die tyd satiries en allegories as kluitjiebakkende sinmaker aangebied. “’n Nar / aan tafel (is) ’n aanwins”, lui dit in “Simposium” (21),

een wat oppervlakkig
’n gesprek kan heg met kwink en kluitjie
of minstens samehang deur al die onsin kan vleg.

’n Mens kan Myburg, ná die lees van hierdie bundel, net bedank vir die vleg, vir die vaart.

Bibliografie

Hambidge, J. 2022. Resensie: Narreskip (Johan Myburg). Versindaba, 9 Mei. https://versindaba.co.za/2022/05/09/resensie-narreskip-johan-myburg/ (22 Mei 2022 geraadpleeg).

Myburg, J. 2022. Narreskip. Pretoria: Protea. 106p.

Opperman, D.J. 1947. Negester oor Nineve. Kaapstad: Nasionale Pers. 64p.

Schoombie, S. ca. 2020. Renaissanceman. Onderhoud met Johan Myburg. Skrop. https://skrop.co.za/voorstoep/ (22 Mei 2022 geraadpleeg).

Eindnota

[1] Gegrond op die inligting oor Hertzogpryswenners by https://af.wikipedia.org/wiki/Hertzogprys (22 Mei 2022 geraadpleeg).

Lees ook:

Johan Myburg (1957–)

Uittogboek deur Johan Myburg: ’n resensie

 

 

 

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top