Johan Myburg (1957– )

  • 1

Gebore en getoë

Johan Myburg is op 17 Julie 1957 in Pietersburg (vandag Polokwane) in Limpopo gebore. Hy bring sy skooljare op Potchefstroom deur. “Potch is wel ’n plattelandse dorp, maar in die konservatorium het ek merkwaardige kunstenaars sien optree, onder andere die Spaanse pianis Alicia de la Rocha,” vertel Johan aan Jaco Jacobs. “Ek dink ek was nog op skool toe ek die aand na haar gaan luister het. En daar was nog uitstallings – daar was toe nog ’n departement van beeldende kunste.”

Sy skryfloopbaan het reeds in sy skooljare begin vorm kry. “Ek is immer dankbaar vir onderwysers en ’n skoolbiblioteek wat wêrelde vir my oopgesluit het. In die skoolbiblioteek van die Hoërskool Gimnasium het ek onder meer die werk van NP Van Wyk Louw teëgekom, wat steeds ’n voorkeur is.” Hy het op skool gedigte in die skoolblad gepubliseer en later op Potchefstroom ook in die universiteitsblad.

Nadat Johan in 2020 die Hertzogprys vir Uittogboek verower het, vertel hy aan Jo Prins (Netwerk24, 24 Mei 2020) dat daar op Gimmies in Potchefstroom se Afrikaans-klas ’n ry swart-en-wit portrette van “die digters” gehang het: “As ek dit reg het, was daar die twee Louws, daar was Eybers – jy weet daai ene van haar met haar handpalm teen haar wang.”

“Die jonges was Fanie Olivier en Lina Spies ... en daar was Opperman. Nou sit jy mos so in die klas en ek het die hele tyd gedink: Dít is die digters.”

Verdere studie en werk

Johan bring ook sy studentejare deur op Potchefstroom, waar hy in die teologie studeer en hom in 1984 as predikant in die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika bekwaam. Hy het gedurende die 1990’s sy MA-graad in pastorale terapie gedoen.

Hy was getroud met Marietjie, wat eers ’n joernalis was en tydens hulle verblyf in Oos-Londen ’n boekwinkel bedryf het. Johan was predikant van die Gereformeerde Kerk van Oos-Londen.

Oor sy tyd in Oos-Londen het Johan gesê dat hy daar as Afrikaanse skrywer baie geïsoleerd gelewe het, en hoewel dit sy voordele gehad het, het hy tog die stimulering gemis. Hy sou graag met Engelse lesers wou kommunikeer, maar ’n gedig kan nie vertaal word nie; in die nuwe taal moet dit herskryf word, in poësievorm, maar nie noodwendig in dié van die oorspronklike nie.

In 2000 verwerf Johan sy doktorsgraad aan Unisa onder die titel Deconstructing identity in a landscape of ideology, belief, culture, and power.

Sy eerste digbundel, Vlugskrif, word in 1984 deur Perskor gepubliseer. Die bundel bevat ongeveer veertig verse, en vir PD van der Walt (Kerkblad, 31 Oktober 1984) is dit heeltemal "in die gees van daardie moderne, haastige tyd met sy eiesoortige literatuur. ’n Mens kan dit poëtiese notisies noem – vandaar die titel: saaklik soos strooibiljette is die kort gediggies, miskien eerder versies, want 'gedigte' klink weer so half deftig-ouderwets, dui op volledige, afgewerkte, afgeronde lang of langerige gedigte. Party van die 'verskristalle' is knap, ander bewustelik en opvallend, selfs pretensieus, gekonstrueer."

By André P Brink (Rapport, 30 September 1984) laat hierdie debuutwerk ’n "indruk van versorgdheid en besinning. Daar is tekens van ’n naarstige nuk tot presisie, wat meermale ’n baie nette formulering tot gevolg het, maar ook soms die gevaar inhou van blóte tegniese versorging waaruit die vonk van die lewe ontbreek. Alles in ag genome is dit netjies-geslypte debuutverse, dikwels bietjie té 'knap', maar ’n hele paar gevonk met ’n vermoë om verbeeldingsreise en betekenisreise te onderneem. Daarom is dit ’n beskeie debuut waaruit belangriker werk nog kan voorkom."

Terwyl Joan Hambidge (Beeld, 23 Julie 1984) gemeen het dat daar net hier en daar ’n knap vers is, het TT Cloete (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1985) gevoel dat hoewel die gedigte nog "vlugskrifgedigte is, daar tog besondere verdienste in is. Dit het die waarmerk van egte poësie, en ’n mens sou graag wou sien wat daarvan gaan word."

Oor Vlugskrif het Johan in 1995 aan Barend Toerien (Die Burger, 19 Julie 1995) vertel dat die bundel min geresenseer is en eenvoudig verdwyn het. “Vandag voel ek ek het die bundel ontgroei. Dit het my wel geleer dat mens gedigte goed moet afrond voor publikasie. As ’n gedig gepubliseer is, is ek klaar met hom en gaan nie verder daaraan peuter nie.”

Dit het Johan ’n verdere elf jaar geneem voordat sy tweede digbundel, Kontrafak, in 1994 by Human & Rousseau uitgegee is. Met hierdie bundel het hy die resensente aan die praat gesit. En ook die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir 1995 ingepalm.

In Kontrafak gaan dit oor die onstuimige lewe soos dit op daardie tydstip in die digter se land afgespeel het. Hy is katvoet op reis deur ’n wêreld wat nie aldag sin het nie; hy is “uit pas” en mik daarom elders. Die bundel gaan nie oor die vreemde nie: ondanks die talle verwysings na die Wes-Europese kultuur is dit ’n Afrika-tafereel wat hom hier afspeel.

Die titel, Kontrafak, kom uit die Middeleeue en beskryf die praktyk waarvolgens mense drink- en minneliedjies se wysies vir gewyde melodieë gebruik het. “Dit is om ‘Prys die Heer’ op ’n ‘Sarie Marais’-wysie te sing,” sê Johan aan Alrika Heefers (Die Burger, 24 Junie 1995).

Heefers skryf dat Johan in Kontrafak in die bundel toor met sy "amper speelse taalgebruik; musikale ondertone en ’n deurlopende spanningslyn tussen die aardse en hemelse. Die bundel strek wyer as net sy Christelike wêreldbeskouing."

Johan verduidelik aan Heefers: “Ek dink die mens reageer volgens oerpatrone en daarin stel ek belang. Die dood is deel daarvan. En dit ondersoek ek graag. Miskien is daar ’n sentrale boodskap in my boek, naamlik dat die dood nie die einde van alles is nie, maar net ’n ander soort lewe is.

"My kort geheue dwing my om elke snippertjie gedagte of waarneming sommer dadelik neer te skryf. Ek skryf sommer agterop koeverte en stukkies papier, en skryf dit later oor in ’n boek of stoor dit in die rekenaar. Daar lê dit totdat dit weer my aandag trek.”

Hy benader die sinvolle gebruik van woorde baie ernstig. “Ons mors soms met woorde, en ek haat ’n getjommel. ’n Mens moet noukeurig werk met woorde. Ook in my preke gaan dit vir my as predikant, wat beter dink met ’n potlood in my hand, oor die juiste gebruik van die regte woord.

“Ons moet alles gebruik om ons aardse taal aan te vul, en ons moet onsself nie blind staar teen ’n beperkte woordeskat nie. As ons ’n bietjie Duits of Latyn insleep, is dit nie ’n verswakking van Afrikaans nie. Ek moet die Woord kommunikeer sodat al my gemeentelede dit kan verstaan. Ek hou nie van truuks nie.”

SW van Zuydam skryf in Tydskrif vir Letterkunde van Mei 1995 dat die digter se eerste twee nuwe bundels nie net in jare ver verwyderd is nie, maar ook wat kwaliteit betref. Want terwyl daar in Vlugskrif nog groot gebreke was, "getuig Kontrafak van ’n besondere rypheid en vaardige digterskap".

AP Grové (Beeld, 16 Januarie 1995) het geskryf dat die titel van die bundel sinspeel op ’n "omvorming, of meer bepaald dan om die spanning tussen kerk en wêreld, gees en liggaam, die rustige meditasie en die menslike doenighede van elke dag, die verhewene en die sekulêre. Dis ’n spanning wat hom in baie gedaantes en op verskillende vlakke in die bundel openbaar soos die digter sy voorbeelde uit baie terreine van menslike bedrywighede trek. Kortom, die titel is goed gekies; die vlag dek die lading en dra by tot die eenheid van die bundel.

"Afgesien van die titel is daar twee duidelike wegwysers vir die leser: die Holbein-houtsnee op die buiteblad en die inleidende 'Jongleur'-gedig. In die Holbein-prent sien ons hoe die hooggeplaaste paartjie die danssaal (of is dit dalk die slaapvertrek?) betree terwyl die Dood self in die gedaante van ’n skelet hulle geesdriftig met sy trommelmusiek begelei – vreugde en onheil in 'n wrang-ironiese samespel. Op ’n ander wyse laat die kontras hom in die genoemde gedig geld: op die markplein is die jongleur die musiek- en rympiesmaker, die ratse goëlaar wat met sy mal kaperjolle die massas vermaak, maar tuis is hy die liriese sanger met sy gevoelige liefdesliedere vol berou en verlange. Dit is dus vroeg al duidelik: in hierdie bundel sal teenstellings ’n belangrike rol speel. Wat mens veral waardeer, is die digter se sin vir ironie en sy humor. Hy openbaar ‘n gevoel vir teenstellings wat soms ’n makabere gedaante aanneem en soms pynlik is, maar het ook die vermoë om die teenstellings telkens verrassend en sinvol te laat klink. Dit is teenstellings wat van ’n oop-oog insig in die menslike situasie getuig. Daar is gedigte wat tegnies fyner afgewerk kon gewees het met ’n sinvolle aanwending van ritme en rym om bykomstige aksent en steun aan die teenstellings te gee (veral in die korter gedigte val dit sterk op), maar in sy geheel is dit ’n boeiende bundel. Dit het iets om te sê en verteenwoordig ’n groot vooruitgang op die bundeltjie Vlugskrif waarmee die digter tien jaar vroeër sy debuut gemaak het."

Wat Cecile Cilliers (Rapport, 12 Februarie 1995) opgeval het, is die "musikaliteit van die verse, die taalbeheer, die inherente gevoel vir rym en ritme. En die wye verwysingsraamwerk: die teologie, musiek, kerkgeskiedenis, die Middeleeue. En ook ’n taalgevoel wat op verrassende wyse ontgin word. Die digter goël met die taal."

En in Die Burger (7 Desember 1994) het Daniel Hugo geskryf: "Johan Myburg bewys met Kontrafak dat ’n digter belesenheid en intelligensie met fyngevoeligheid kan kombineer en in die proses verstaanbaar kan bly vir sowel die akademiese klerus as die literêre lekedom. Dit is ’n welkome verandering in ’n tyd waarin hermetiese intellektualisme alte hoog aangeprys word."

Benewens Johan se digwerk is hy ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en in die teologie studeer en was in 2012 besig met nagraadse studie in beeldende kuns aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was die kurator van visuele kuns van die KKNK en was ook kuns- en vermaakredakteur van Beeld. In 2011 was hy ook een van die beoordelaars vir die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk. Hy lewer ook gereeld praatjies oor die internasionale letterkunde op die RSG-program Skrywers en boeke. En vanaf 2008 is hy by verskeie geleenthede kurator vir groepuitstallings, asook vir feesuitstallings. Johan is ook ’n gewilde keuse as spreker by die opening van kunsuitstallings en skrywer van boekresensies en artikels oor die kunste. Hy is ook verbonde aan die Eenheid vir Visuele Kunste aan die Noordwes-universiteit op Potchefstroom.

Johan en sy lewensmaat, Marten van Wyk, ’n musiekonderwyser, het teen ongeveer 2017 vanaf Westdene na Quellerina, ’n woonbuurt in Johannesburg, getrek.

“Ek sien letterkunde as deel van die kunste. Die visuele kunste, musiek, verse, drama, ballet, dans, noem maar op, dit is alles een groot manier van uiting. En wat my verstom, dikwels letterlik, is die verskillende segswyses wat dieselfde objek of emosie of wat ook al beskryf,” aan Jaco Jacobs.

In 2008, ná veertien jaar van digterlike stilte, word Johan se derde bundel, Kamermusiek, by LAPA-uitgewers gepubliseer. En met elke nuwe bundel maak sy poësie ’n stewiger indruk, meen Andries Visagie (Beeld, 1 November 2008).

Die bundel belig ’n baie spesifieke ruimte, soos die titel aandui, gaan Visagie voort. “Kamermusiek speel met die private (binne), maar dan soos dit geïnformeer word deur die wêreld daar buite. Die kamermusiek as genre is juis bekoorlik omdat dit so intiem is. En in die intimiteit lê soveel fasette. Niks groots, soos simfoniese werke of opera nie, maar allermins klein!

“As jy die titel in twee woorde wil indeel, is daar, hoop ek, die musiek wat deur die kamer of kamers trek. Maar die kamer is myns insiens die domein van ’n enkeling. ’n Deur wat kan toemaak, maak juis van ’n kamer ’n kamer. ‘Kamer’ is die plek waar ek veilig voel.

"Die titel is ’n kernagtige samevatting van twee belangrike tematiese aspekte van sy gedigte. Myburg skryf, soos in sy bekroonde bundel Kontrafak (1994), steeds oor die musiek, maar baie gedigte gaan nou ook oor kamers, huise, forte en ander argitektoniese ruimtes.

"In die gedigreeks 'Aangepaste argitektuur' koppel die digter sy binnenshuise bestaan aan die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Sy 'Aankopelys' begin so: 'Lemmetjiesdraad, 300 meter/ alarmstelsel, met armed response/ panic buttons/ motorhek, gesweis, gegalvaniseer + afstandbeheer'. Hierdie hedendaagse beveiliging word egter geplaas binne ’n historiese konteks: die gedig­reeks verwys ook na die netwerk van forte wat die Engelse in die 19de eeu op die Oosgrens opgerig het vir die beveiliging van die koloniste teen die Xhosa-aanvalsmagte. Daar het oor die eeue heen dus nie soveel verander nie. In Kamermusiek is die binnenshuise bestaan ook ’n teken van isolasie en eensaamheid.

“Dit is opvallend dat Myburg sedert sy debuut, Vlugskrif (1984), ’n groeiende polities-maatskaplike belangstelling toon. Die religieuse inslag wat sy vorige twee bundels gekenmerk het, is nou minder prominent."

Vir Visagie is daar ook ’n sterk aanwesigheid van sensitiwiteit vir klank en word goeie musikale effekte bereik. Die gedigte in Kamermusiek is soms nogal donker, skryf Visagie, en dit is nie die soort musiek wat jou vrolik en opgeruimd stem nie. "Myburg se besonder netjies afgeronde bundel verdien ’n plek op die inkopielys van elke Afrikaanse poësieliefhebber."

In haar Volksblad­resensie (6 Oktober 2008) skryf Joan Hambidge: “Myburg se verse het nog altyd ’n fyn balans gehandhaaf tussen intellek en emosie, vorm en musikaliteit en die enigste gevaar van sy soort gedig was in die verlede dat die gedigte té sterk onder die invloed van TT Cloete gestaan het. Dit is egter in hierdie jongste bundel afgeskud en ons vind in hierdie bundel ’n trefsekere, helder stem.

“Die bundel terloops is deur Lapa gepubliseer en met hierdie bundel bewys hierdie uitgewershuis dat kleiner of randuitgewers ’n belangrike rol kan vervul vir die digkuns. Behalwe vir aksenttekens wat op Franse titels afgeval het, is die bundel andersins netjies uitgegee. Op die buiteblad word die gedigte van Myburg geloof deur Daniel Hugo, eweneens ’n digter van die kamermusiek.

“Nie minder as die groot simfoniese konstruksies nie, want vele gedigte tref eintlik júis om die dwarssegging of mineurtoon. In hierdie bundel word daar in gesprek getree met Virginia Woolf en Roland Barthes. Daar is ’n aangrypende gedig oor Biko. Daar is gesprekke met Neruda, Lorca, Ted Hughes, Totius, Ina Rousseau en vele ander slim toespelings wat van die bundel ’n opwindende leeservaring maak. Daar is egter ’n balans tussen interteks en eie teks. Die geleerde verwysings oorwoeker nie die verse nie en dikwels word die leser gekonfronteer met die onthutsende ontbloting van die self. [...]

“Die leser moet dikwels raaisels oplos, intertekste naspeur in ’n bundel wat soveel leesplesier verskaf. Dit is ’n melancholiese bundel en in die titelgedig vra die spreker dan ook: Is daar ’n ander lewe wat hy elders leef? Ja, daar is. Die digter het dit vir ons in hierdie mooi bundel gegee.”

As daar na die titels van sy bundels en gedigte gekyk word, is dit duidelik dat musiek ’n groot rol in Johan Myburg se lewe en digkuns speel. “Daar is in woorde ’n ongelooflike musikaliteit. En musiek is vir my belangrik,” vertel Johan aan Jaco Jacobs. “Ek luister graag, al kan ek nie self sinvol genoeg musiek maak nie. Maar ek sien dit nie as ’n leemte nie. Om te luister is om deel te kry aan die proses. Om te luister verg meer inspanning as om net jou ore oop te hou. Dieselfde dink ek van lees. Etienne Leroux het gesê dat as hy sewe jaar aan ’n roman skryf, verwag hy dat die leser sewe jaar daaraan moet lees ...”

Daar word dikwels in resensies verwys na die ooreenkoms wat Johan se digwerk toon met dié van TT Cloete. Hierop reageer Johan so teenoor Jacobs: “Dis minstens goeie geselskap, reken ek. Ek bewonder beslis Cloete se woordgevoeligheid en sy omgang met woorde. Ek het mettertyd doelbewus probeer om minder Cloete te lees. En dalk meer gewoond te raak aan my eie stem. Dit verklaar dalk ook iets van die lang tyd wat verloop het voor Kamermusiek. Maar invloed is iets waaraan ’n mens nie kan ontkom nie. Dis soos lug wat jy inasem. Die mikpunt is seker om nie jou eie stem – wat dit ook al mag beteken – te onderskat nie.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het Johan aan Beeld (9 April 2001) gesê: “Ek weet ek moet skryf oor ’n boek. Maar ek kan die verleiding om oor die proses na te dink, nie weerstaan nie; die nimmereindigende proses. Want met die lees van elke boek, hoe goed of hoe sleg, verander my lewe.

“Daar is boeke wat my lewe verander het. Baie boeke wat indrukke gemaak het. Baie van die indrukke wat ek nie meer bewustelik onthou nie, maar iewers in my onderbewuste binneste is die boeke ingedruk. Ingeprent. En praat die boeke saam in die manier waarop ek dink en praat en skryf.

“Wat ek wel kan onthou, is die dag toe ’n ou vrou wat huis opgeruim het, gesê het ek kan uit ’n stapeltjie boeke kies. Ek het ’n boek gekies wat nog steeds helder in my binnekop is. Die Rubayyat van Omar Khayyam. Die swaar grysblou boek met gehawende bladsye (en haar man se naam is in ylblou ink op die vergeelde titelblad). Die boek het ’n paradyshek voor my oopgestoot. Daar was letters so eksoties soos die kwatryne se woorde. Daar was prente druppend van Victoriaanse obsessie met (Midde-)Oosterse oorde. Jongeling wat ek was, het die boek ’n towertapyt geword vir menige reise.

“Dit was nie net die Khayyam-kwatryne nie. Dit was die boek, die verpakking. Die oudheid. Die geleesdheid van die boek. Die etlike kilometers op die tapyt se odometer. Dit was my saamlees met almal wat die boek voor my gelees het. Saamdroom met al die voormalige dromers.

“Ná die Rubayyat het ek bewus geraak van my rusteloosheid. Het ek in die Wes-Transvaalse landskap iets probeer herken van die tuinerye van ander lande. Het ek palmbome sonder meer begin aansien as aanduiding van ’n oasis.”

Johan lees graag Afrikaans en probeer op hoogte bly met wat verskyn, ook in prosa. “Jostein Gaarder wat Sophie’s World geskryf het, het die vermoë om tweeduisend jaar se filosofie voor jou oë te laat leef. En ek haal Goethe aan: ‘He who cannot draw on three thousand years is living from hand to mouth.’ Richard Foster se Patterns of Thoughts: The Hidden Meaning of the Great Pavement of Westminster Abbey sluit aan by Gaarder: jy kan oor ’n sypaadjie loop en van die hand na die mond lewe, of jy kan die mat optel en kyk wat is daaronder en begin lewe" (Beeld, 8 Mei 1995).

Na Kamermusiek het Johan gehoop om in die toekoms meer te publiseer, maar “die gedagte laat my keel toetrek. Dit voel asof tyd moet verloop om sekerheid te kry van woorde en stellings. En dalk afstand. Onsekerheid speel seker ook ’n rol. Die immer knaende onsekerheid.”

In 2017 verskyn Johan Myburg se vierde digbundel – 33 jaar ná sy eerste bundel, Vlugskrif, in 1984 gepubliseer is. Dit kom neer op een bundel elke tien jaar, soos Daniel Hugo skryf in Volksblad van 22 Mei 2017.

Johan verduidelik hierdie lang periodes tussen publikasies aan Hugo: "Terugskouend meen ek my debuutbundel kon meer om die lyf gehad het as ek langer daaroor gewik en -weeg het en dalk later gepubliseer het. Ek vermoed dié gewaarwording het daartoe gelei dat ek daarna versigtiger was. Hoewel daar nadele aan lang stiltes verbonde is, is ek nie daaroor spyt nie."

Daar is al heel partykeer verwys na die invloed wat TT Cloete op Johan se poësie gehad het. Hy verel hieroor meer aan Hugo: "Cloete se stem was met die verskyning van my eerste bundel só klinkend dat die eggo's inderdaad in my werk deurgeslaan het. Wie is dit wat gesê het: As daar eggo's van ’n ander digter in jou werk opklink, is dit minstens nie so sleg as dit die stem van iemand soos Cloete is nie?"

Hy vertel ook aan Jo Prins (Netwerk24, 24 Mei 2020) dat hy vir TT Cloete geken het voordat hy gedebuteer het met Angelliera in 1980. "Ek het nie geweet hy dig nie. Hy het ’n ongelooflike teenwoordigheid gehad as literator ... jy't ’n ander klas gebank om sy klas by te woon. Dit was nooit ’n performance nie, maar studente het aan Cloete se lippe gehang. Ons het langs mekaar gewoon, my ouers en die Cloetes, en ek het hom op skool reeds geken. Ek het hulle huis opgepas wanneer hulle met vakansie gegaan het ... daardie tipe van ding.”

"En toe kom Cloete met sy digbundel en dit was net ’n nuwe wêreld. Hoewel ’n mens dit natuurlik kon vermoed het, het ’n mens nie werklik geweet hy skryf ook nie. As ’n mens woorde só kan strengel ...

"Op ’n manier dink ek die poel waaruit Cloete drink, is dalk ook die poel waaruit ek sou wou drink – dalk nie op dieselfde plek nie. Dit lê verder terug as net 'ek lees die man se werk en word beïnvloed deur hom'. Ek dink ons is beïnvloed deur soort van ’n oerbron. Ons drink dalk op twee verskillende plekke ... hy vat ongelooflike teue en ek sip-sip."

Jo Prins wou ook meer by Johan uitvind oor die ooreenkomste tussen Johan en Cloete se uitkyk op die oudwordproses en die godsdienstige: "Ek het nooit werklik aan Cloete gedink as ’n religieuse digter nie," sê hy aan Prins. "Soos wat ek aan myself nie dink as ’n religieuse digter nie. Daar is ’n religiositeit. En die aftakeling van die lyf? Ja, inderdaad, ek dink dis soos ’n koei ..."

Johan het hard gewerk om in hierdie vierde bundel ontslae te raak van die "eggo's" van TT Cloete, vertel hy aan Daniel Hugo. "Soos in baie ander gevalle ook is die uitdaging, dink ek, nie noodwendig om goed aan te leer nie, maar om goed af te leer. As ek ’n oordeel mag vel oor die nuwe bundel, voel dit vir my asof ek in Uittogboek ’n stem hoor waarmee ek gemaklik voel. As dit my eie is, sal dit gaaf wees."

In Uittogboek identifiseer Johan Myburg hom met die gay Romeinse keiser Hadrianus (76-138 nC). Hieroor praat hy met Hugo: "Benewens Hadrianus se strewe na vrede in ’n besonder bloedige tyd was hy die keiser wat ’n belangstelling in die kunste gehad het en ’n besondere argitektoniese nalatenskap gelaat het – benewens die Pantheon in Rome onder meer ook sy villa en tuinery by Tivoli. ’n Paar kilometer buite die stad, asook uitgebreide bouwerk in Griekeland.”

"Hy het opdrag vir heelwat beeldhouwerke gegee (onder meer van sy geliefde Antinous), het kuns versamel en was teen die einde van sy lewe ook digter – hoewel 'animula vagula blandula' die enigste vers van hom is wat behoue gebly het. As hy homoseksueel was, is dit toevallig. Hy het liefgehad."

Johan se uitgebreide kennis van die kunste is baie sigbaar in sy poësie. En, soos Hugo skryf, verryk dit sy verse, maar dit stel ook hoë eise aan die leser van sy gedigte. Die moonltikheid bestaan dat dit as elitisties geoormerk kan word: "Sonder uitsondering behoort alle mense toegang tot kuns te hê," is sy siening. "Nietemin is elitisties, of eerder ’n spesifieke verwysingsveld, allermins vir my iets negatiefs. Ek dink nie kuns is per se ’n demokratiese bedryf nie.”

"Vermaak – kuns kan ook vermaak wees en andersom – het wél ’n demokratiese ideaal, versterk deur die feit dat dit merendeels kommersieel gedrewe is. Kuns wat primêr ’n demokratiese en/of kommersiële mikpunt het, stel sigself wawyd oop vir middelmatigheid."

Willie Burger skryf as volg oor Uittogboek in Vrouekeur van 4 Augustus 2017: "In agt bundelafdelings bied Myburg fyn afgewerkte gedigte wat wal gooi teen verganklikheid. Soos in Kontrafak (1994) vind hy aansluiting by die Latymse wêreld, by enkelinge soos Ovidius as 'bakens van sterflikheid' en hy knoop sy sterflikheid daaraan.

"Hier is speelse gedigte, gedigte vol spot en ironie, soms bedreiglik toeganklik terwyl ander weer besonder dig is: dig aan verwysingsraamwerk (Bybel, Klassieke, Middeleeue en eietydse ervarings) maar ook aan tegniek. ’n Mens staan telkens verstom oor die vernuftige bindmiddels: versigtige woordkeuses wat op slim maniere saambind, deur assosiasies, deur klank, deur betekenis.”

"Uittogboek kan met groot genot op grond van klank- en woordspel en die betowering van beelde geniet word, sonder dat jy te veel verstaan. Maar dit verdien om weer en weer gelees te word en geleidelik raak ’n mens opgewonde oor nog en nog ontdekkings.”

"Daar het nog altyd baie tyd verloop tussen Myburg se bundels. Maar hy het ook met elke bundel verder en dieper gegryp en sy gedigte word tegnies al hoe boeiender. Hierdie is ’n hoogtepunt."

Vir Joan Hambidge (Rapport, 16 Julie 2017) is Uittogboek ’n "komplekse bundel wat handel oor die geskiedenis, ver en naby, en die programgedig is ’n herdigting van die bekende sterfgedig van die Romeinse keiser Hadrianus.”

"Myburg se bundels was nog altyd deurgekomponeer, veral rondom die musiek en die skilderkuns. Dieselfde geld die jongste bundel wat die leser kan oopmaak op enige plek om die kontrapuntale aard daarvan te kan raaksien. [...]

"Myburg se vorige bundels het swaar gedra aan ’n TT Cloete-invloed. In hierdie bundel het hy dit genoegsaam verwerk en sy eie stem gevind. Cloete is steeds daar, maar nou meer in die troop van die apophrades, soos Harold Bloom dit tipeer in A map of misreading (1975), oftewel die terugkeer van die dooies. [...]

"Die digter lewer ’n bundel met ryk tematiek en daar is vele vorme wat ontgin word, soos prosaverse, stringverse, eksperimente met die distigon, vierreëlige verse. Daar is lykdigte en reisverse. Ars poetica en stemmingsgedigte. Daar word verwys na skrywers soos Marguerite Yourcenar, Maurice Blanchot; kunstenaars soos Elza Botha en Diane Victor. [...]

"Dit is ’n ryk en komplekse bundel wat getuig van baie nadink en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie, omdat die digter sy eie outentieke ervaring daarvan weergee in ’n pragbundel van oor die honderd bladsye waarin vele tale en kulture beslag kry. [...] Dit is ’n eerste lesing wat deur dieper besinnings sal moet gaan om reg te laat geskied aan Uittogboek."

Die beoordelaars van die pryse vir Afrikaanse poësie het saam met die resensente gestem. Nie net is Uittogboek in 2018 die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir poësie nie, maar in 2020 palm Johan ook die grote in – die Hertzogprys vir poësie.

Die beoordelaars van die ATKV-Woordveertjie het hul as volg uitgelaat oor Uittogboek: "Dit is ’n besonder indrukwekkende versameling gedigte dié wat omvang, diepgang en versvermoë betref. Johan Myburg gaan ewe selfversekerd met vrye as met formele verse en prosagedigte om.

Uittogboek is die werk van ’n beleë digterskap en verdien om ernstig van kennis geneem te word." (LitNet)

Hennie van Coller was die voorsteller van Johan vir die Hertzogprys en sy motivering het onder andere die volgende ingesluit: "Naas Marlene van Niekerk se bundels is Uittogboek die indringendste peiling van aftakeling, eensaamheid en die aard van kuns. Na my gevoel is dit een van die beste bundels van die afgelope jare."

Andries Visagie was verantwoordelik vir die commendatio namens die Letterkunde-kommissie van die Akademie vir Wetenskap en Kuns: "Met sy meevoerende digbundel Uittogboek demonstreer Johan Myburg sy ambagtelike beheer oor digvorme wat insluit die kwatryn met sy streng vormlike vereistes tot die losser en meer uitgesponne prosagedig. In die gedig 'Hadrianus' is die woord tanatografie een van die sleutels vir die oopmaak van hierdie bundel. Baie van die gedigte gaan naamlik oor die doodservaring of ten minste die onverbiddelik naderende uittog wat elke sterfte veronderstel. Klaarblyklik om te verseker dat die gedigte nie in die eng persoonlike vassteek nie, het Myburg in Uittogboek die Romeinse keiser Hadrianus as identifikasiefiguur en as gesprekgenoot betrek. Die bundel word omraam met verse wat fokus op Hadrianus en sy geliefde Griekse vriend Antinous. In die literatuur is die verhouding tussen Hadrianus en Antinous ’n bekende kode vir die liefde tussen mans en Myburg sluit op ’n besonder genuanseerde en eiesoortige manier aan by hierdie tradisie in die wêreldliteratuur.”

"Van die treffendste gedigte is stadsgedigte wat stede soos Johannesburg, Oos-Londen, Potchefstroom en ook Tirus, Beiroet, Düsseldorf en Venesië betrek. In die gedig 'Düsseldorf' lui die nadenke van die spreker oor sy kulturele gespletenheid tussen Afrika en Europa, soos volg: 'Ons haal asem tussen elkander, tussen twee vastelande, tussen twee drywende. Vreemd was ek daar, vreemder leef ek hier in ’n lyf'. Tog is daar ook ’n hunkering na Afrika en ’n kritiese taksering van Europese kolonialisme soos in die volgende kwatryn oor die Victoria-waterval in Zimbabwe:

Kan ’n mens só bang wees vir die vreemde, verwaand
genoeg of onbewus van jou eie blindekolle, dat jy op die rand
van ’n afgrond, katarak vol in die oog,
’n waterval kan noem na die koningin van Engeland?

"Johan Myburg skryf verder gereeld oor die eie huis en tuin as ’n onvolmaakte toevlugsoord in ’n omgewing wat onveilig geword het. Die troos is deurgaans dat die geskrewe woord ná die dood in ’n soms lewensbedreigende omgewing iets blywends van ’n eie nalatenskap sal bewaar.”

"Die verse in Uittogboek gaan een vir een op in ’n simfoniese geheel. Die indruk wat die bundel by die leser laat, kan met die volgende woorde omskryf word: weemoedig, ontroerend, oorwoë, afgerond en verbysterend goed." (Deur A Visagie aan LitNet verskaf)

Johan praat met Jo Prins oor die Hertzogprys vir Uittogboek (Netwerk24, 24 Mei 2020): "Daar is ’n klomp goed, lyk dit my, wat ek nooit was nie ... of sal wees nie. Soos in betrekkings, ek dink nie ek het ’n loopbaan van betrekkings agter my rug nie. Maar wat ek graag sou wou wees, is ’n digter. Ek dink dit het van daar af gekom ... die prys is as’t ware ’n bevestiging van die gedagtes wat ek dáár (op skool) gehad het van dalk, dalk kan jy daaraan begin dink om jouself ’n digter te noem."

Oor sy reaksie nadat hy die Hertzogprys gewen het, sê Johan aan Melt Myburgh (op LitNet): "Oorweldig is dalk ’n goeie beskrywing van hoe ek gevoel het toe ek die nuus gehoor het. Spesifiek ten opsigte van die onverwagsheid daarvan en terselfdertyd die opeenvolging van emosies wat ’n mens beleef by die aanhoor van sulke nuus – van 'is dit?' tot 'dit is!'"

Melt Myburgh wou by Johan ook weet of die teologie en die geloofswêreld (in 2020) steeds vir hom ’n ankerpunt is, of het hy soos baie ander predikante sy geloof ontgroei? "Sonder teologie sou ek nie die klassieke leer ken het nie. En ook nie filosofie nie. En ook nie sielkunde nie. Ek hou van die onderskeid wat jy maak tussen teologie en die geloofswêreld. Vir die dogma van teologie (soos ook vir die dogma van sielkunde) het ek besieling verloor. Soos wat die DSM (Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders) in sy vele gedaantes deur die jare blyke gegee het dat die mens se kennis beperk en ook tydgebonde is, het die stelligheid waarmee die 'gans andere' God in teologie (wat volledig afhanklik is van die mens se begrip) ingeperk word, vir my onhaalbaar geword. As ek nie geleer het wat ek geleer het nie, sou ek nie geweet het wat ek nié wil weet nie. Ek wil nie alles haarfyn verstaan nie. Want ek kan nie. Ek wil byvoorbeeld nie oomblik vir oomblik bedag wees op die fisiologiese prosesse wat betrokke is by my asemhaling nie. Nietemin wil ek behaaglik asemhaal en bly wees oor die feit dat ek dit kan doen. Sonder asem kan ek nie."

In sy onderhoud op LitNet met Johan wou Melt Myburgh by hom weet hoe hy voel oor hoe Suid-Afrika verander het sedert 1984 en hoe die veranderde omstandighede sy lewe en digterskap beïnvloed. Hierop antwoord Johan: "’n Mens vergeet maklik hoe sleg die 1980’s was. Ek was in die Oos-Kaap van die middel-80’s en dit was een van die grootste leerervarings wat ek gehad het. Rof is relatief, maar maklik was dié jare nie. Nietemin is ek immer dankbaar vir daardie blootstelling en die universiteit wat die Oos-Kaap vir my was.

"Soos demokrasie is menseregte en persvryheid en al die lofwaardige dinge waarvoor ’n mens jou beywer het, nooit finaal gewaarborg nie. Jy moet dit deurentyd lewend hou, aanwakker, verdedig en bereid wees om weer daarvoor in die bresse te tree. Dié goed kry net gestalte in dié mate waarin ’n mens dit lewend hou.”

"Hoe raak dit my lewe en digterskap? Waarvan ek oortuig is, is dat die manier van lewend hou nou anders is as toe. Woorde moet ’n mens steeds versigtig kies, maar ek dink luister raak ’n groter noodsaaklikheid. My geslag veral, neem aan ons weet. Ek dink ons moet minder dawer en meer luister. Die laaste ding wat ek hoop om te word, is bitter. Soos ek hieroor dink, sou ek graag hieroor wou skryf."

Publikasies

Publikasie

Vlugskrif

Publikasiedatum

1984

ISBN

0628026358 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kontrafak

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132663 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1995

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamermusiek

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342598 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uittogboek

Publikasiedatum

2017

ISBN

 9781485307761 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • ATKV-Woordveertjie vir poësie 2018
  • Genomineer vir Sala-toekennings vir poësie 2018
  • Hertzogprys vir poësie 2020

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Johan Myburg beskikbaar op die internet:

Artikels deur Johan Myburg beskikbaar op die internet:

Johan Myburg se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2015-06-03 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-06-03

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Annora Eksteen

    En hier sien ek uit om na sy nuwe digbundel 'Woorde lok woorde' op RSG Kunstefees 2016 te luister op hierdie Sondagmiddag 13 November 2016. Laat die woorde leef en dankie ... dankie vir jou woorde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top