Uittogboek deur Johan Myburg: ’n resensie

  • 1

Uittogboek
Johan Myburg
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307761

Digter is ’n stem, sê ek, soos Ikarus,
fluisterend tot homself, soos hy val.
– Ilya Kaminsky, Dancing in Odessa
(Eie vertaling)

Sestien jaar lank het twee navorsers, Werner Morlang en Bernhard Echte, ontsyfer aan die minuskule 526 bladsy lange “mikroskripte” van die Switsers-Duitse skrywer Robert Walser (1878–1956). Walser het in potlood geskryf op ou koeverte en verskeurde kalenderpapier, in ’n handskrif soos van ’n mier, in millimeterstrepies; in radikale miniatuur Kurrent-skrif, ’n vorm van handskrif wat in Duitssprekende lande tot in die middel van die vorige eeu nog geliefd was. Die manuskripte is aanvanklik vir geheime kode aangesien. Ná pynlike ontsyfering is dit uitgegee in ses volumes as Aus dem Bleistiftgebiet [Uit die potloodsone], 1985–2000, met Engelse uittreksels in Microscripts, 2010.

Van die hand van Walser (in ’n geslote gestig in Herisau opgeneem tot hy dood is, alleen, op ’n staptog in die toegesneeude landskap), dié weggaanvers op sy grafsteen:

Beiseit

Ich mache meinen Gang;
Der führt ein Stückchen weit
Und heim; dann ohne Klang
Und Wort bin ich beiseit. 

[Opsy

Ek gaan my gang;
dit voer ’n entjie weg
en terug na huis; dan sonder geluid
en woord is ek opsy geskuif.]

Aan Walser moes ek onwillekeurig dink by die oopslaan van Uittogboek, ook in ’n soort “mikrografie”, feitlik onleesbaar gedruk in 9 punt font. Met rare bladuitleg – dikwels links, hoog op ’n wit bladsy ingedruk. Só klein dat dit net met ’n vergrootglas gemaklik leesbaar is (vir my as ouer leser in ieder geval, wie se oge al uitgeput is deur derduisende boeke lees):

Wat agter die keuse vir so ’n minuskule fontgrootte skuil, sal slegs die redakteur en/of die outeur weet. Dat ouer mense dikwels al hoe kleiner begin skryf, is ’n bekende verskynsel, blykbaar te make met die inkrimping van die eie wêreld en identiteit. Of daar doelbewus op so ’n idee gesinspeel word, met vergrote bladspieëls, en of dit gewoon ’n minder ervare bladuitlegger se werk is, is ’n ope vraag. In ieder geval is die idee van die ouerwordende digter, gekonfronteer met ’n naderende dood, ’n deurlopende tema in dié vierde bundel van die sestigjarige Johan Myburg, voorafgegaan deur Vlugskrif (1984), Kontrafak (1994) en Kamermusiek (2008). Dat 60 darem ver van 70, 80 of 90 is, soos vele van ons ouer digters wat nog skrywend lewe, skyn nie ter sake te wees vir Myburg nie, soos ook vir Karel Schoeman, wat op ongeveer dieselfde ouderdom as Myburg al sy lot as “bejaarde” bekla het aan die slot van Die laaste Afrikaanse boek, 2002.

Al leef Myburg baie eeue na Hadrianus, sluit hy hom ten nouste aan, in die Latynse motto en in sy eerste en laaste verse, by dié Romeinse keiser se laaste vers, sy “weggaan”-vers uit 138 nC: “animula, vagula, blandula” (“klein kwesbare swerwende siel, gas en begeleider van my liggaam”, in ’n verafrikaansing van Marguerite Yourcenar, romansier van Memoirs of Hadrian, se Franse vertaling. (Pateties darem dat Yourcenar se van op bladsy 15 verkeerd gespel word … wáár was die redakteur of die outeur?)

Die digter skryf in die eerste afdeling ’n hele reeks “Keiser”-verse, om die beurt met een getiteld “Hadrianus”, waarin hy homself telkens identifiseer met die Romeinse heerser, wat op 62 gesterf het aan sy hart, volgens segge met homoseksuele neiging, hoewel getroud. Ook die Afrikaanse digter het iets met sy hart; gaan op doktersbesoek (in “Hadrianus”). Daar is suggesties van ’n gay oriëntering (“gebaai in naglans, lans nog ligweg taai/ van nanagtelike eskapades”) en eksplisiete gay-gestalteverse oor sy gestorwe vriend, die dwelmverslaafde literator Marthinus Beukes, wat, soos Schoeman, selfdoding gekies het. Met die beskrywing van die gewelddadige land waarin die digter hom bevind (sy angs vir ’n gewelddood, en die ineenstort van strukture), word die titel treffend. Dit is nie die verwagte “uittog” in ’n diaspora waarop hier gesinspeel word nie, maar ’n inwaartse “uittog”, binnekort uit die lewe uit, as die dood hom sal inhaal. En sy identifikasie met Hadrianus as keiser van die Romeinse Ryk veronderstel dan implisiet ’n suggestie van die ineenstort van die Suid-Afrikaanse bestel as so ’n “ryk”:

                                           Laatnag sal ek sit
– sonder om van gereedheid iets meer te verstaan –
en kyk hoe alles om my ten gronde gaan.
                                           (Gereedskap, 62)

Na verse ook oor sy moeder en vader, ’n reeks liefdesverse (afdeling VI), en nogal presieuse reisverse na Venesië (met ’n oormaat Italiaanse woorde en name wat die leser vervreem) en Duitsland (met veel Duitse frases), keer die digter ten slotte weer terug na die ruimtelike verwysings van Hadrianus se wêreld in afdeling VIII. Humoristies is die beskrywing in ’n prosavers, “Ars poetica” (in Plinius die Ouere se woorde), van hoe om ’n toga pers te kleur, want “Purper is die nuwe wit” (93):

Beste is om te wag vir die Hondster om op te kom
(…)
Berei ’n vuur en giet oor in potte van tin of lood (…) en laat prut vir tien dae oor indirekte hitte
(…)
op dag tien kan jy jou mengsel toets
(…)
Laat jou lap droog vir vyf uur en doop dan nog ’n slag, herhaal tot jy sit met die rojaalste tinte getrek uit die fluim van ’n slak. LW: Om jou te tooi in ’n toga van Tiriese praal moet jy vir 1 g kleursel reken op 10 000 slakke as prooi.

En treffend is nog ’n prosavers, “In die maand Hathor”: “Op die eerste van die maand Hathor (…)/ het Hadrianus aan die huil gegaan/ om vergetelheid te fnuik het hy ’n stad laat aanlê (…)/ om wisselvalligheid te weer, opdrag gegee om munte te slaan met die (…) gelaat in reliëf (…), om beelde te kap/ Ag jaar en verskeie pogings later om sy lewe self te eindig het hy/ naby Napels op sterwe gelê (…)”.

In die laaste afdeling tref die inset van “Ovidius stuur sy corpus vooruit”:

En sterf ek dan in hierdie streke is my hoop
op jou dat jy, solank Latyn op tonge leef, jou loop

sal neem die wye wêreld in (…) (my beklemtoning).

Dis nie moeilik om in die idee van die dooie taal Latyn, indertyd nog lewende spreektaal, ’n parallel met die gevreesde lot van Afrikaans te lees nie.

Die einde van die slotvers, “Oggend”, bevat die kern van die digterlike posisie:

(…) die lyf iewers tussen
versugting en nader aan slytasie; om te onthou
en voortdurend in onthouding te leef. Uit dié uithoek
is geen uitweg en sou ek ’n hawe haal is daar g’n passaat
meer moontlik nie. Die laaste skip het reeds geseil.

Daar is iets moegs, iets déjà-vu, in die sestigjarige wat testament opmaak in dié verse – Schoeman het dit reeds gedoen en weer gedoen en veel-veel verskrikliker en vernietigender en teenstrydiger, soos in die slot van Die laaste Afrikaanse boek  en minder sterk, maar ook verwoestend, en boonop binne die konteks van sy selfdoding in die onlangse Slot van die dag (2017). Breytenbach is dit steeds aan die doen. En ander veel ouers digters en skrywers. Daar is ook iets presieus wat kleef aan die ritse name van kunstenaars, verre plekke en frases in ander tale, die kunsverse, die operavers, die kunstigheid en hiperbewustheid van die kunste. En duidelike Cloete-invloede, minder goed verwerk, of weggewerk. Dikwels pla geleerde woorde uit Engels oorgehewel, pleks van voor die hand liggende Afrikaanse eweknieë.

Êrens laat Uittogboek met sy onaflaatbare fokus op die “laaste skof/ van vlees tot stof” ’n groot dors. Dit word miskien die trefsekerste verwoord in Breyten Breytenbach se “skofkennis” in Die singende hand. Dié dors is vir ’n “glas stilte” na al die woorde, om die droë tong (en nog droër oë ná die 9-punt-font), mee te lawe.

  • 1

Kommentaar

  • Johann de Lange

    Helize, verskoon maar as ek 'n dom vraag vra, maar ek verstaan nie wat die uiteensetting van die (weliswaar boeiende) Walser-geskiedenis met Uittogboek of met die res van jou resensie te make het nie. Daar word 'n verwagting geskep dat jy die kloutjie by die oor gaan bring, maar die skietbevel bly uit.

    Of is dit maar net 'n tersyde, 'n Beiseit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top