Moerstaāl deur Loit Sōls: ’n resensie

  • 0
..............
Gaan koop dit. As jou keuse is tussen iets vir die pot en Moerstaāl, koop die bundel. Dis kos vir die siel.

...............

Moerstaāl
Loit Sōls
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795710599

Mense wat hou van die manier hoedat Standaardafrikaans gebesig word, en wat dit aanvaar as die enigste aanvaarbare vorm van die taal, sal Moerstaāl soos ’n duwweltjie in die skoen ervaar.

Dis nie ’n bundel vir enigeen met ’n eng uitkyk op die lewe, taal, kultuur, godsdiens of filosofie nie. Hou verby, is my advies aan sulke mense. Hierdie bundel laat Afrikaans sing en huppel en ween en lag met ’n soepelheid wat ek lanklaas gesien het. Dis ’n viering van taal wat weier om kop te sak vir die andersheid van uitspraak en uitkyk. Sōls vermag ’n kragtoer wat my opgewonde maak oor die toekoms van Afrikaans in al haar kleure en uitinge.

Alreeds vanaf die omslag, ontwerp deur ’n universiteitsmaat, Terence Visagie, word die tema van die ma gereed om geboorte te skenk met ’n knal verkondig.

Dis nie maklike leesstof nie. Ek wil sover gaan as om te sê dat hierdie bundel eintlik hardop gelees, of dalk selfs gesing moet word om die volle trefkrag daarvan te ervaar. Sōls skryf in wat hy Goema-taal noem. Dit word gereeld beskryf as ’n variasie van Kaaps, maar Sōls se skryf-stills is meer as dit. Hy is besig om ’n ander variant van Afrikaans te notuleer. Aanvanklik val dit vreemd op die oog, maar toe ek die gedigte hardop voorlees, het dit soos die natuurlikste, bekendste taal geklink.

.............
Aanvanklik val dit vreemd op die oog, maar toe ek die gedigte hardop voorlees, het dit soos die natuurlikste, bekendste taal geklink.
.............

Die kompleksiteit van temas en emosies, die volle gamut van die menslike ervaring, word met soveel deernis en tog met so ’n onverskrokke, onsentimentele eerlikheid vasgevang dat ek by tye net eers die bundel moes neersit om tot verhaal te kom. Moenie dat die slanke 96 bladsye van die teks jou mislei nie, liewe leser. Hierdie bundel is nie leesstof vir ’n sprint nie. Maak reg vir ’n maraton. Sommige gedigte vra om twee of selfs drie keer gelees te word voordat die volheid daarvan insink.

Die ma-figuur is sentraal aan die bundel. Sōls gebruik haar om kommentaar te lewer op sosiale geregtigheid, godsdiens, intermenslike verhoudinge, kultuur en veel meer. Elke gedig is ’n ekosisteem op sigself. Sommige is ’n terugblik , ’n empatiese onthou en dalk selfs hunkering na wat was. Ander is ’n voorskou van wat kom. Elkeen voel soos ’n tipe profetiese uitspraak.

Dis moeilik om ’n enkele gedig uit te sonder as gunsteling of as ekstra treffend.

“hy, godt, wag innie garage” in vyf “praatsies” (sê dit hardop, dan maak dit sin) in sy gestroopte kommentaar op die lewe wat soveel huiswerkers deurmaak, bly my by, dalk omdat dit my onverwags woedend gemaak het.

Ek het hardop gelag vir “gottala man jirre”, ’n traan weggepink vir “hēl”, en hardop saamgepraat met “deērie bank”. Die kortste gedig in die bundel is “agte-os”, maar hierdie bedrieglike kort gediggie slaan jou wind uit, as jy net ’n bietjie nadink daaroor.

.............
Moerstaāl is nie net ’n briljante kragtoer van ’n miskende en onderskatte maestro nie; dis alchemies, vertroostend en helend, net soos die ma waaroor Sōls met soveel deernis skryf.
................

Moerstaāl is nie net ’n briljante kragtoer van ’n miskende en onderskatte maestro nie; dis alchemies, vertroostend en helend, net soos die ma waaroor Sōls met soveel deernis skryf.

Gaan koop dit. As jou keuse is tussen iets vir die pot en Moerstaāl, koop die bundel. Dis kos vir die siel.

Lees ook:

Moerstaāl: ’n gesprek met Loit Sōls

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top