
Patmos deur Willem Anker (Queillerie, 2025)
Titel: Patmos
Skrywer: Willem Anker
Uitgewer: Queillerie (Julie 2025)
ISBN: 9780795803024
Epub ISBN: 9780795803031
Hoe verstommend is Willem Anker se besige kop. Met oneindige heelalle en moontlikhede bevolk hy ’n novelle.
Patmos is die Griekse eiland waarheen die apostel Johannes (vermoedelik dieselfde Johannes as die dissipel wat Jesus liefgehad het) deur die Romeinse keiser verban is. Daar het hy visioene gesien wat gelei het tot die Bybelboek Openbaring.
Dis nie duidelik waar die novelle afspeel nie – in die verbeelde ruimte van ’n klein dorpie êrens. Die sterre is helderder as elders en daar is ’n sterrewag, wat aan Sutherland herinner, maar daar het ’n meteoriet geval, wat in die Oos-Kaap gebeur het. Daar groei sterbome, ook soos in die Oos-Kaap. Dis ’n landskap wat, soos die eiland Patmos volgens oorlewering, eens versonke was, onder die see. Nou is daar net stof en apokaliptiese bossies.
’n Komponis wyk daarheen uit om die klankbaan te komponeer vir ’n futuristiese rolprent oor ruimtetuie. Hy ly aan ’n motorneuronsiekte, is vars geskei en sien min kans vir ’n toekoms wat ’n wagkamer is en ’n rystoel. Hy gaan loseer by ’n sterrekundige. Haar man is tydens ’n huisroof in hulle slaapkamer vermoor, waarna haar seun opgehou praat het.
Die sterrekundige kyk en die komponis luister:
Frases resoneer soos wentelbane daar buite. Ek hoor elke dissonante toon, ’n chromatise noot in die onderbou hou die spanning, die harmoniese progressie tot met die eerste kluster van klanke en dan ’n instroming van meganiese verdowing.
Die novelle het ’n klankbaan: die musiek van hemelliggame, van die kosmos, alledaagse geluide en gesprekke wat opgeneem, verwring en saamgevoeg word:
Hy het verskillende snitte van hulle gesprekke gemaak, sommige melodieus, andere minder so. Met een opname het hy die teruggespeelde klanke verkeerdom versnel en dit het geklink soos die gelag van versteurde kinders, uitgevang in een of ander onnoembare daad.
Deel van die klankbaan is David Bowie, na wie die seun se pa geluister het en wat die seun met ’n hamer op ’n meteorietklippie uittrom. Major Tom. Beelde word neergelê soos boekmerke: die beeld van ’n sjimpansee in die ruimte wat grynslag van angs wanneer hy in die see stort.
Aan die hart van die vorteks is daar die oeroue sprokie, ’n liefdesverhaal, waarvan een nie soveel van die ander verskil nie. Ek herinner my aan Leonard Cohen se woorde: “A naked man and woman is just a shining artifact of the past.” Hierdie liefde is weliswaar beskadig en vol gate soos ’n ou trui. Tussen die komponis, wat nie vir sy toekoms kans sien nie, en die sterrekundige, wat steier onder die vrag van haar verlede, ontwikkel daar in die hier en nou iets. “Soms neem sy sy hand. Soms alle vorme van cliché.”
........
Dit val my op dat selfs vervreemdende, onherbergsame stories nie gevrywaar is van cliché nie.
........
Anker is die een wat die woord “cliché” gebruik het. Dit val my op dat selfs vervreemdende, onherbergsame stories nie gevrywaar is van cliché nie. Hierdie novelle is gestroop en wonderbaarlik verwoord sowel as, plek-plek, presieus. Daar is dialoog wat op die verhoog sou werk, maar op papier bombasties voorkom, met eggo’s van Springbokradiostories en Van Nierop. Soos: “Gister gaan nie weg nie.” En: “Weg is nie meer wat dit was nie.” En: “’n Mens kan te veel sorg.” En om te vertel hoe sy haar seer met goud las soos die Japannese kunsvorm kintsugi – dit het ek een maal te veel op Facebook raakgelees.
Daar is ook merkwaardige metafore, soos ’n gebeurtenishorison: ’n skeiding in ruimtetyd waarná gebeure ’n buitewaarnemer nie meer kan affekteer nie. Soos kwantumhare en gravitasiekolke: “’n Gravitasiekolk het ’n geheue. Van die inligting wat graviteer in die kolk bly soos hare op ’n bles kop om die rande plak.” Twee hemelliggame wentel na aan mekaar totdat een inplof en die kolk wat veroorsaak word, die ander se kern opvreet. Die siekte het die komponis se huwelik binnegedring en leeggevreet soos ’n virus wat miere in zombies verander. Die kind se ruimteskipkoek het ’n mierkolonie geword. Daar is lieflike beelde, soos dat blou sterre helderder as rooies skyn, soos vlamme van gasstowe. Oomblikke soos wanneer sy vir hom die sterrestelsels wys en hy in die donker knik: Hy het sy bril by die huis vergeet. Daar is lieflike dialoog, soos wanneer die komponis se been slaap: “My been het vergeet van my.” En soos: “As ek nou aan jou vat, gaan alles te laat wees.”
........
’n Moordtoneel is nooit weer ’n slaapkamer nie.
........
Terugskouend wys die krake in die sterrekundige se huwelik. Daar was vermoedens van ’n affair. Haar man het eenkeer sy hand vir haar gelig en weer laat sak. Sy het gehou van die verwilderde katjie in hom. Dit het alles wat daarna gebeur het, getint. ’n Moordtoneel is nooit weer ’n slaapkamer nie.
In die komponis se huwelik het sy vrou sy ma geword en hy haar kind, ná sy diagnose. Hy vertel musiek maak hom benoud. Dit laat die sterrekundige wonder hoekom ons doen wat ons doen. Die komponis antwoord: “Vir daardie een oomblik, daardie deurbraak ... wanneer ons kan ophou.” Soos skryf.
Sy verbintenis met die sterrekundige gee hom die moed om te bly stry teen swaartekrag. Om te probeer. Om voort te plant op Patmos, teen die entropie in.
“Gravitasiekolke is onsigbaar, sê sy ... maar die vernietiging wat hulle in hul kielwater laat ... maak hulle die helderste voorwerpe in die heelal.” Die novelle is ’n ode aan chaos en verval, ’n liefdeslied gespeel op ’n gebroke instrument wat die heel hoogste sing. Gravitasiekolke, haasgate, ’n hede wat eindeloos vertak – die leser se kop begin vibreer soos ’n stemvurk.
.......
Moes die skrywer meer moeite gedoen het om die oorsprong, die eerste manifestasie, te verbloem? Dit lees plek-plek soos ’n drama, met dialoog en spreekkoor, met musiek. Daar is elemente van digkuns. Moet my nie verkeerd verstaan nie – dis verstommend.
.......
Patmos is onvolmaak en wonderlik. Die novelle was eers ’n verhoogstuk en ek wonder of die genresprong heeltemal suksesvol was. Moes die skrywer meer moeite gedoen het om die oorsprong, die eerste manifestasie, te verbloem? Dit lees plek-plek soos ’n drama, met dialoog en spreekkoor, met musiek. Daar is elemente van digkuns. Moet my nie verkeerd verstaan nie – dis verstommend. Dit laat my kop loop na Sarah Kane met haar liriese krete van weersin en ontsteltenis, aan NP Van Wyk Louw se gestrooptheid en die element van drama. Aan Amos Oz se prosagedig The same sea. Prosa word poësie en digkuns word terloopse prosa. Dis ’n mylpaal, ’n gebeurtenishorison.
Lees ook:
Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel
Boekevat met Deborah: The Nicotine Gospel deur Sven Axelrad en Canary deur Onke Mazibuko