1. "Man is a child and a savage, the victim of conflicting desires." (JH Robinson)
Willem Anker se Buys word in die subtitel beskryf as 'n Grensroman. Die verhaal van Coenraad de Buys kan ook beskryf word as 'n trekroman. Die trek loop op verskeie vlakke: die letterlike trek na die Oosgrens, anderkant die Oosgrens, na die Couga, na die noorde; die trek van Buys se lewe; die trek oor allerlei grense. Maar uiteindelik die trek van die rustelose gees wat "weet soos voorvaders met ruie baard/ die streke van die gees bly ongekaart" (“Nagwaak by die ou man”, DJ Opperman).
Die trek is die reis van die wilde gees wat nie gevange kan voel nie en steeds die vryheid soek buite bindende grense. Die trek van plek tot plek is deels ontvlugting, soms van die wet en die gereg; deels is dit die konstante gang van verloor en weer opbou, deels van vernietig en weer begin. By elkeen van die verhuisings tree 'n nuwe gestalte van Buys na vore, in 'n sekere sin dus 'n gedurige proses van nuwe inkarnasies. Aangesien Buys telkens met die gereg bots en beskou is as die gevaarlikste man in die Kolonie, trek die geskiedenis van die laat 18de eeu en die vroeë 19de eeu ook saam in die roman.
Onskuld (bron: vi.sualize.us)
|
Wilde gees (bron: skulssproject.wordpress.com)
|
Verskeie historiese figure word deel van die verhaal en belig op een of ander manier die warsheid en waansin van Buys. Die term historiese roman sou deels van toepassing wees op die roman, die reisende karakter sou genoem kon word, die psigoanalitiese teorieë sou dofweg kon verskyn, maar soos Buys self, pas die roman in geen gerieflike model nie. Is Buys voorbeeld van die antiheld, of is hy 'n Wilde Weste- (Wilde Ooste-) karakter? Pas die roman in by die uitgebreide grensliteratuur wat oor die Bosoorlog handel? By alles “ja” en by alles “nee”.
Buys is die buitestander, hy is die rebel, die woestaard, die skiet-dood-wat-voorkom-en-wat-pla, die revolusionêr; Buys is ook die donker kant van die menslike aard en karakter; hy is die onderbewuste en die "savage" van menswees. Daar is nie 'n sensor wat hom inhou nie, geen prikkelende gewete nie. Tog is hy intelligent met 'n geoefende retoriese vermoë, maar 'n mens waar wellus op alle vlakke onder geen interne dissipline staan nie.
Coenraad de Buys verlaat sy ouerhuis op ouderdom ses na sy pa se dood en word groot by sy suster en haar man. Sy verset teen Dawid Senekal, sy swaer en peetpa, laat hom weer eens trek. Hy trek uit die Kolonie na die Oos-Kaap en die gebied anderkant die Visrivier. Sy eerste vrou is die bruin meisie Maria, sy tweede vrou is Nombini en sy derde vrou is die swart meisie Elizabeth. Tussenin is hy ook tydelik getroud met Yese, die ma van die jong stamleier Ngqika wat op dié manier sy seun word. Hy verwek talle kinders, ook by 'n verskeidenheid meisies en vroue oral waar hy gaan – inderdaad Alom-Buys. Hy baken as 't ware 'n nuwe kolonie af, en hy skep 'n nasie van sy eie – kinders, die skurke en booswigte wat hy om hom versamel en 'n aantal boere. Sy pad kruis met onder meer dié van dr Van der Kemp, dr Lichtenstein, goewerneur Janssens en Adam Kok. Uiteindelik trek hy ook uit die roman uit, uit die lewe uit, maar hy is nog steeds daar, ongeveer soos Opperman se beskrywing van Gideon Scheepers, 'n rebel van 'n eeu later:
Hy moes drie dode sterf, maar hy wat drie maal sterf
die sterf nie meer; hy word nou elke dag gesien
as 'n matroos, of 'n stoker op 'n steenkoolwerf,
in myn of tronk, in sirkustent of 'n kantien –
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!" (Engel uit die klip)
2. Grense
Coenraad Buys (skets deur Hazel Crampton; bron: http://debuys.blogspot.com)
|
Buys is die verteller van hierdie verhaal, tot die einde toe. Hy praat in die taal van die tyd van die verhaal, en hy gebruik dus woorde en vorme wat in die hede nie toelaatbaar sou wees nie. Die roman speel af in 'n tyd waar hierdie pejoratiewe benamings normaal was. Hy woon tussen swart mense en trou met swart mense. Buys is die koning van die Basters. Die volgehoue Afrikaans-Hollands van die 18de eeu is, soos die hele vertelling, 'n kragtoer van die skrywer.
Telkens maak Buys en sy gevolg hulle los van 'n plek en omstandighede en verskuif die grense. Hulle trek oor die Oosgrens en gaan woon in "Kafferland"; hulle maak hulle daar weer los en trek verder, uiteindelik weer oor die Kolonie se grens na die noorde. Al die verskillende landsgrense beteken vir Buys ewe min as die mense wat die grense vasstel en onderhou. Die hele roman is 'n verset teen landsgrense, ook teen wetsgrense en selfs teen stamgrense.
Die verhaal word vertel binne tydskategorieë wat 'n patroon skep waarbinne die ervaringe van Alom-Buys afspeel. Dié presentimentele roman beweeg in gleuwe van die tyd. Tydens 1761–1798 kom die jong Buys in opstand teen sy huis en teen Dawid Senekal. Senekal word die eerste mens teen wie hy sy kragte meet. Senekal maak in Buys sy drifte los: wreedheid, ongetemdheid en sy wilde drange. Sy sterk en oorheersende seksdrang word deel van sy wellustige aard. Doodmaak en seksuele drif gaan hand aan hand. Reeds vanaf sy 12de jaar kom die honde die verhaal binne. Die seun Buys word gekonfronteer met die honde, self wild en ongetem, self drosters, en voer 'n ongenadige stryd met wonde vir hom en die honde. Die rooihond waarvan Buys 'n stuk oor afbyt, word 'n metgesel iewers in die rondte.
Die honde word deel van Buys se bestaan. Honde en drosters vorm 'n geheel waar dier en mens mekaar begryp. Daar sou heelwat in die honde ingelees kon word, maar in hierdie ruwe en kragtige roman is dit genoeg dat die honde Buys se ongesproke taal begryp. Wanneer Buys en sy geselskap trek, is die honde altyd in die omtes. Hulle word stille wesens wat die waak hou met hulle leier. Hulle leef op hulle eie, maar is oral sigbaar, en word 'n soort alter ego vir Buys.
Adam Kok III (bron: Wikipedia)
|
Buys is teer teenoor sy vrou Maria en veral lief vir sy dogter Bettie. Hierdie kant van Buys word ook waargeneem teenoor sy vriend Windvogel totdat dié Buys se vrou Nombini as sy eie aanneem in Buys se afwesigheid. Toe Buys die jong Windvogel sien, het hy met die volwasse Windvogel 'n resiesspeletjie gespeel wat altyd deel van hulle verhouding was. Hierdie keer hardloop Buys nie saam nie en skiet Windvogel in die hardloop dood. Teenoor sy kinders is hy streng maar nie ongevoelig nie.
Die verhaal beweeg na Graaffe Rijnet, waar Buys by meer as een geleentheid die opstoker is teen die gesag van die Kolonie. Hy toon geen respek vir die verteenwoordigers van die Engelse heersers, die landdroste, nie. Trouens, die verhaal gly oor die Engelse en Bataafse en weer Engelse bewind sonder dat dit enigsins die baan van Coenraad de Buys versteur. Op die plaas is Coenraad stil en dreigend, op die grens is De Buys vreesaanjaend. Buys en sy groep skep algehele wetteloosheid, en deur die dood van Windvogel en soveel dooies, word hy voëlvry verklaar.
In die gleuf van 1799–1801 is Buys nou buite die Kolonie se grens en woon hy by die Tamboekies onder die skadu van die Amatolas. Hier word hy die stiefpa van die nuwe jong koning Ngqika, 'n verhouding wat tussen liefde en spanning beweeg. Sy nuwe vrou, Yese, oorheers hom in 'n mate, maar Buys bly Buys. Sy nalatenskap van revolusie leef elders voort. Hy kom nou in aanraking met die sendeling Van der Kemp, bloot genoem Kemp of Jank'Hanna. Die rol van godsdiens word op die rand betrek, maar alhoewel hy soms uit die Bybel lees, staan Buys eiesinnig opsy.
Daar kom burgeroorlog en Buys trek terug na die Kolonie, verby die Stormberge en met die Tarka langs. Die hele Oos-Kaapse landskap lééf in hierdie roman. Die geheimsinnige en intimiderende skoonheid van hierdie landskap word deel van Buys en sy verhaal. Die landskap leef rondom hom, soos die honde. Die wreedheid en ongevoeligheid van die handeling skep tegelyk 'n skerp kontras en 'n simbiose met die landskap.
Daar volg 'n periode waarvan slegs terugflitse die lewe van Buys belig. Dit is as't ware die "stil" Buys wat met sy boerdery voortgaan.
Maar dan kom 'n sterk wending van 7 tot 8 November 1814 in die oënskynlik pastorale verhaal. Buys leef in die Couga, maar sy naam Khula (gevaarlike man) is steeds geldig. Hy ontmoet goewerneur Janssens en dié se geselskap, maar steeds in die agtergrond draai die honde rond. Sy dogter Bettie trou, en in die burgerlike bestaan ervaar Buys die Swart Omgang en die verhoor van Martha Ferreira. Maar Buys word weer die ewige reisiger.
Die laaste tydgleuf begin in die jaar 1814. Buys trek deur die Nuweveld na die Noorde. Eers is Danster en daarna is Arend nuwe vriende. Buys is opnuut voëlvry. Die sterk toneel in hierdie periode is die geveg op Buyskop. Maar ook aan Buys se gevestigdheid tussen sy familie kom nou geleidelik 'n einde. Sy dogter en haar man trek Kolonie toe, en sy vierde vrou, Elizabeth, sterf by 'n miskraam. Nombini loop ook weg, en Buys het slegs Martha nog by hom. Ook Buys self word siek en verswak. Die menslike kringloop is voltooi.
Die grense wat plek aandui, word telkens verskuif. Die grense wat wet en orde voorstel, word aanhoudend oortree. Geen grens bind Buys nie. Maar die grense van die tyd eis sy tol. Buys se verset teen grense moet hier stol. Die mens Buys verword en verdwyn, maar ook hier swig die gees nie voor die grense van lewe en dood nie. Na so baie sterftes word hy nog steeds gehoor. Hy wat soveel keer sterf, die sterf nie meer nie; hy wat in so 'n mate die grense van menslikheid oorskry, word steeds gesien – as 'n stoker, as 'n moordenaar, binne die brutaliteit van 'n oënskynlik beskaafde mens ...
NP Van Wyk Louw (bron: wikipedia)
|
3. Buys
Die mens is 'n walg
en hy haat die teken.
Of sku dit, negeer dit. (Tristia, NP Van Wyk Louw)Aanskou my: Ek is die legende Coenraad de Buys. Kom, laat ek jou besmet, my erflik belaste leser. (bl 1)
Buys is die boer, die trekvoël, die man met 'n gesin. Die karakter van Buys is nie een nie, maar 'n veelheid van karakters. Al die mense rondom hom word in 'n mindere of meerdere mate afskaduïngs van hom. Sy werklike ekwivalente is die honde. Sy aard is om te veg, te rebelleer, te verwoes en dood te maak. Sy plesier is wellus en seks. Dit is nie Jan van Melle se "En ek is nog hy” nie, ook nie die afgeronde karakters van Karel Schoeman nie. Hy is in 'n sekere sin waansinnig, maar nie met die waansin van Etienne van Heerden se karakters nie. Buys is mens – enersyds aards, ongevoelig en berekend en andersyds presentimenteel, amper ‘n argetipe. Maar nie die argetipes van Etienne Leroux nie. Al hierdie skrywers se skeppinge is totaal anders as Anker se Buys, maar tog sluit Buys ook by hulle aan. Dit toon ook hoe sterk die Afrikaanse prosa ontwikkel en gegroei het, ook hoe die prosa 'n sterk struktuur opgebou het, sodat 'n nuwe werk binne en tog buite daardie raamwerke 'n nuwe kategorie moontlik maak.
Karel Schoeman (bron: wikipedia)
|
Etienne van Heerden (bron: etiennevanheerden.com, foto deur Imke van Heerden)
|
Etienne Leroux (foto: LitNet)
|
In 'n brief aan sy vroue en kinders gee Buys 'n besondere siening van sy gees, alhoewel dit eintlik dui op 'n kaart in 'n boek: "Die stippellyne van die malman se roetes loop soos slakspore ..."; en: "Waarheen neem die lewe jou behalwe na hierdie plek & hierdie plek & hierdie plek, hierdie vee van die pen, die teruggebuigde beweging?" (118). Hierdie gekrulde "&" is die gevange tog van bestaan en die lewe is ineengevleg met al die fasette daarvan. Hier is Buys filosoof, maar meer nog, Buys is die skrywer. Hy is die verteller van sy eie verhaal, maar hy is ook die skrywer wat een oomblik 'n engel is, en die volgende oomblik poseer as die duiwel. Ook die skrywer is verstrengel met die oorweldigende kranse van die natuur en die Oos-Kaap, met die ruwe skoonheid van die landskap, met die bose en met die goedheid. Ook in die figuur van die skrywer leef, en aanhou leef, Buys.
Buys is een met die landskap. Hy is wit van herkoms, maar al wit aan hom is die littekens. Hy is deel van die kaart van die land, van Hugenoot tot Koning van die Basters. Wat beteken die vel, wat die brein? In sy eie woorde: "Hoeveel harsings het ek nie al gesien nie? Hoeveel skaapbreine het ek nie al verslind nie? Hoeveel mensehersens het nie reeds gelê by my voete nie?" (139). Hy is brein; sy brein is skietende vonke. Buys is denke, en denke wat nêrens rusplek vind nie. Die brein is die draer van die konflikte binne die mens, en verbind die rasionele en die irrasionele. Binne hierdie paradoks bestaan die mens, of selfs dink en skep die mens. Daar is inderdaad meer as een Buys.
Toe Buys die nuus kry dat sy gesin na 'n verdere grensoorlog nog veilig is, huil hy. In hierdie oomblik vra hy vir Kemp om saam met hom te bid. "Ek tjank dat die honde begin terughuil. Ek ween tot Kemp ook bewoë word." Buys toon ook die basiese emosies; hy is dankbaar, hy huil en hy kan bid. Binne die diep groewe van die sensitiewe senuwees loop die emosie net so sterk as die dierlike krag in die spel van geweld. Buys is tog ook gevoelig. Met trane spoel die mens sy diepste emosie uit sy liggaam uit. Al hoe meer word nuwe gedaantes van Buys, die mens, aan die leser voorgehou. Tog, die man wat huil van innige blydskap oor die veiligheid van sy gesin, is dieselfde man wat sy vriend Windvogel doodskiet en wat ongevoelig die Bossiesmans platskiet soos diere. Een Buys is lief vir sy kinders, die ander Buys is gevoelloos oor andere en oor die natuur.
Ook Buys word as mens bewus van ouer word. As hy saam met sy vrou Yese in haar hut is, besef hy dat hy en sy "veterane van die vlees" geword het. Aftakeling bly nie uit nie: "My blonde hare word grys en strooierig, my hande verskrompel. As ons by mekaar is, word ons nie ouer nie; hier is geen jong lywe wat ons tart met ons eie dood nie" ( 172). Ook Buys dra die las van ouderdom en oud word. Ook die menslike krag en vitaliteit skaaf af. Die mens Buys is blootgestel aan stadige verval. Maar soos uiterlike dinge afneem, so neem die waansin toe. En die waansin is ook 'n produk van die brein, die onsterflike wete en kennis. Die liggaam sterf af, maar die mens leef voort, soos in DJ Opperman se "Stem uit die spelonk":
Hoeveel jare leef ek reeds in hierdie holtes
van die aarde, in dié swart lug, by swart waters:
my baard en hare lank, my naels half omgekrul
stap ek langs die lys tussen die geraamtes:
skedels, heupbene, skenkels, leef met dodes? (Edms Bpk)
So ook met Buys wat oud word, rebelleer teen magte en teen stelsels, maar uiteindelik aanhou rebelleer teen die dood.
Buys se bestaan word telkens deur burokrate bedreig. Buys is geheg aan Ngqika, sy koningseun. Hy leef in die intussen; hy is die leier van voëlvryes en drosters. Hy het mag deur die koning en sy ma Yese, maar die strop trek nouer om sy bestaan en sy rondtrekkery. Maar as die burokrate wat niks voel vir sy geluk of sondes nie, tog meer dreigend word, besef hy hulle is bang: "Die rattentyfus geslaande blaaskake is bang! Val in sloten! Breek je kloten! Sterf! Khula is gevaarliker as Coenraad" (180). Khula is die naam van Buys wat krag, lis en geweld bedui. Hier is een van die opvallendste kenmerke van die mens, die geweldenaar, die opstoker Buys. Khula is die breker, die wese van aanslag en die krag wat alle swakheid verfoei.
In gesprek met Kemp, vir wie Buys help om sy drukpersie op te stel, vra Kemp hom of hy respek het vir die godsdiens en die Bybel. Kemp sê dat Buys al hoe sterker word en homself rig vanuit sy krag. Buys antwoord: "Respek? In hierdie woesterny moet jy nie loop soek vir respek nie, Kemp. Hier is bloot vleis en bloed en kut." Krag, geweld en wellus is die magte wat Buys beheer. Hier is Buys die woestaard, altyd in verset teen enige menslike ervaring en onderneming wat hom insleur. Hy is in alle opsigte die "outlaw", staan buite alle sisteme, weerspreek enige aspek van die lewe wat as 'n cliché beskou kan word. Dit is ook die aard van hierdie roman: dit breek die clichés af. Die taal word hier nêrens begrens deur "ordentlikheid" of woordkeuse nie, hier is geen plek vir eufemismes nie, en die woord buig nie voor konvensies nie. Ook die literêre kritiek en teorie gaan in hulle evaluering van die roman eintlik clichés word. Enige resensie, insluitend hierdie een, gaan voos lyk teenoor die krag van taal, gegewe en karakter in hierdie roman. Buys is die verpersoonliking van verset, ook teen die clichés van die letterkunde.
(bron: http://www.wikitree.com/)
|
Buys is die groot sinikus, en as Kemp ontsteld is oor die feit dat die boer Faber twee Bossiesmans doodgeskiet het wat vee gesteel het, is Buys verbete en sê dat as Kemp dink die sendelinge gaan die mense veredel, dan is hy in die moeilikheid: "Hier vreet ons mekaar. Kristene, Hollanders, Duitsers, Franse, Kaffers, Bengalese, Hottentotte, Bossiesmans en weet ek veel. Dit is een groot jagveld!" (219). Dit was die Oos-Kaap in Buys se tyd, dit is helaas gedeeltelik nog steeds so in die hede, en sonder om pedanties te klink, dit is eintlik die wese van hierdie wêreld. Buys is kru, maar hy is die praktiese filosoof, hy interpreteer die land en die wêreld. Die Buys wat hier aan die woord is, is weer die stem van die Buys wat steeds saampraat. Buys en die roman draai geen doekies om oor die klug van die menslike beskawing nie; ook dit is 'n cliché.
"Soos 'n kluisenaarkrap het ek in 'n ander man se huis ingetrek, het ek teruggetrek uit die wêreld. Elke huis is 'n skulp" (236). Alle verblyf is tydelik en is 'n wegkruipplek vir die woede van die wêreld en vir die woede in die self. Ook Buys beweeg van een skulp na 'n ander, maar uiteindelik leef hy net in sy eie skulp. Al hoe meer word Buys die mens wat ten spyte van sy verset en woede nêrens meer aardse rus vind nie; al hoe meer word hy 'n vreemdeling vir almal en alles behalwe die geskiedenis en die verhaal wat hy vertel. Die nuanses van die gees kan in die wêreld daar buite geen bevrediging meer vind nie. As al die grense afgebreek is, moet die siel en die gees vry wees, maar dan ontbeer die gees die grense waarteen hy sy verset moet voer.
Die honde bly nog steeds in die omgewing. Buys sien hulle in die veld, "maar hulle hou ver van die beskawing, asof hulle bang is om aan te steek" (250). Die drosterhonde wat met die aanteel al hoe meer lyk soos wolwe, keer terug na hulle oerbestaan. Die beskawing tas hulle nie aan nie. So word hulle ook meer en meer simbool en steeds aanwesige beeld van die brutale, die oeraardse, die deel van die menslike onderbewuste waar die sensor van beskawing nie aktief is nie. Hulle word al meer alter ego's van Buys en Khula, Buys die Roekelose en Buys die Gevaarlike. So bou hierdie kundige roman aan die Buys, die Mens sonder sy vernis.
Ook keer Buys terug in sy eie spelonk, en as hy weer met Kemp kommunikeer, teken hy met blydskap op dat die vrome sendeling wat hom driftig van die verleiding van die vlees weerhou het om hom op die mens se siel toe te spits, geswig het. Hy skryf vir Kemp: Lieve ou Kemp, ek was getuie van hoe die listige vrouvlees van hierdie gewes, donker en pril, jou iedere dag sewentig maal sewe keer in die versoeking gelei het. Ja, wragtig, vir eens en vir oulaas en verdomp het jy jouself dit toe gegun om te swig" (300). Ook Kemp het teruggekeer tot die vleeslike genieting en sy hardverworwe reinheid prysgegee tot vreugde van die bronstige Buys. Buys skryf dat hy nie oor Kemp treur nie, maar saam met hom jubel. Nou is Kemp vir Buys vir altyd dood. In sy dampkring van die dwalende gees in hom vind Buys vreugde daarin dat elke mens sy skadukant ken en uitleef. Buys beweeg nader aan die einde van sy fisieke bestaan, en die grense wat hy moet verskuif, raak minder. Meer en meer besef hy dat hy nooit tuis voel nie, dat hy wil uit- en wegvlieg, dat hy geen vaderland sal vind nie. Buys word die enkeling. Rondom hom sterf sy geliefdes; hy kan nog net die wydtes bespied. "Daar is spore in die sand en stories oor die spore en verder net verlange en wins" (319).
Wanneer Buys nog die drang het om seksueel te bevrug, besef hy dat hy geen vader was nie, net 'n pik en 'n bevrugter. Hy besef dat wanneer hy en Elizabeth tog bymekaar lê, sy ou en flenters lyf nie meer syne is nie. "Ons vou tot net vel bly. Hier bly niks oor van man en vrou nie." In die seksdaad soek sy pik tog 'n bietjie liefde, en soos die lywe oor en weer vou, "tril die grens van wat ek is en die grens waar ek is, voor ek oorgaan in iets anders." As die orgasme 'n ewigheid later kom, besef hy: "Ek is nog Buys." Hy staan op met krampe, hy sien 'n visioen van die dood. Ook hierdie grens is nie meer werklik beskikbaar om oor te trek nie. Die aardse luste gaan verby, die liggaam knak, so ook die krag en die manlike skoonheid.
Bron: wikipedia
|
Buys beland in 'n baklei-speel met 'n groep snotneuse. Hulle is bo-oor hom, wriemelend en skreeuend. Hulle trek sy hare, skeur sy linnehemp en onder die seuns hou hy op met spartel. So het hy nooit met sy eie kinders gespeel nie. Sy krag is ook weg. Buys is nie meer Alom-Buys nie; Buys kan beswaarlik nog kinders weerstaan. Hierdie toneel in die roman herinner aan die toneel in Suddenly Last Summer (Tennessee Williams) waar die jong seuns die hoofkarakter oorweldig en alle manlikheid uitgewis word. Buys is nou net 'n flenter Buys. As hy met 'n karos om sy skouer en 'n bokvel om sy heupe die veld instap, spot Maria hom as Buys die Bossiesman. Buys het karikatuur geword. Selfs een van die honde storm op hom af en lek sy kuit. Geleidelik word hy dus 'n nuwe buitestander, 'n nuwe inkarnasie van die "vreemdeling", deel van die honde.
Reeds vroeër wou hy sterf, maar aan hierdie verste grens moet hy sy tweede sterfte sterf. Hy sê vaarwel aan sy name. Al wat nog leef, is flenters lyf en sy verwondheid. Buys het sy laaste aardse grens bereik. Hy verdwyn die bos in, en dit is die laaste sien van Coenraad de Buys. Maar hy leef steeds: "Soos 'n trop honde vervang ek myself voortdurend. Julle raak my nooit kwyt nie" (428). Die mens Buys sterf, die donker kant van die gesplete mens leef voort. In hierdie karakter is elke duister emosie, en 'n bietjie liefde, saamgevat. Die mens moet maar ironies leef, en die liefde hou, aldus NP Van Wyk Louw in "Groot Ode".
Willem Anker (foto: Franci Vosloo)
|
4. Is Buys 'n moraliserende roman? Is dit 'n roman oor die mens se onrustige gees en sy onderbewuste? Is dit tog 'n historiese verhaal wat kolle in die geskiedskrywing invul?
Dit alles, en meer. Maar uiteindelik is dit 'n roman oor die mens se herkoms, maar ook en veral 'n roman oor die waansin. Waansin in 'n dubbele konnotasie: die waansin van luste en geweld, ook die waansin van die roman as sodanig. Dit is nie in die ou sin 'n metaroman nie, want dit skud alle kategorieë af as clichés. Dit is 'n roman waar die waansin van die mens en sy onderbewuste vrye teuels kry.
Nou dat die berge, sterre, in hom stort,
en baard en oë riet en water word,
sien jy in hom die ruie oer-moeras
waaruit jy kruip en vegtend verder tas. (Negester oor Ninevé, DJ Opperman)
Met hierdie grootse tema en geweldig baie gegewens, goed nagevors, skep Willem Anker 'n roman wat sy plek langs die werklik groot Afrikaanse romans kan inneem. Kortom, dit is 'n kragtoer, en hierdie enkele indruk van 'n leser laat nog sóveel buite rekening.