
- In hierdie “Oop boek”-bydrae tree Karen de Wet met Joan Hambidge in gesprek.
"Orfeus in die buitenste ruim." In: In memoriam Johann de Lange. Johann L Marais en Joan Hambidge. 2026. Naledi. ISBN: 978-1997-476405

Joan Hambidge en In memoriam Johann de Lange, Woordfees, 2026. Foto deur en verskyn met toestemming van Johan Coetzee, Naledi; https://naledi.co.za/product/in-memoriam-johann-de-lange/
Welkom
Joan Hambidge, eerste ontvanger van die Johann de Lange-prys in Afrikaans, en boonop vir Asindeton, een van die hoogtepunte in jou oeuvre: Baie geluk!
Baie dankie dat jy, gesoute onderhoudvoerder, dekade lange bydraer tot LitNet, deelneem aan “Oop boek” in ’n gesprek oor jou poësie en die nuutste toevoeging tot jou digoeuvre: Orfeus in die buitenste ruim.
1 Anno 2026
In sy onlangse resensie van Amberkamer meen Neil Cochrane dat 2026 ’n annus mirabilis vir Joan Hambidge is. Mens is gewoond daaraan om jou gereelde bydraes oraloor as resensent, kritikus en polemikus te sien verskyn, maar dit is ’n buitengewone jaar hierdie, is dit nie?
In April van hierdie jaar verskyn Asindeton as een van vyf digbundels op die kortlys vir die Hertzogprys vir poësie (2023–2025); in Junie verskyn die dubbele boek In memoriam Johann de Lange, met jou bundel gedigte Orfeus in die buitenste ruim as deel daarvan; jou agtste roman Hart sonder hawe, met die titel ’n kniebuiging na Uys Krige, is op 13 Oktober aangekondig en splinternuut op die rak. Dit is die veertigste jaar van jou digterskap sedert jou debuutbundel Hartskrif in 1985, en in September vanjaar, by die vyftiende Tuin van Digters in die Breytenbach Sentrum, is Joan Hambidge se digterskap gehuldig by ’n geleentheid wat boonop saamgeval het met die viering van jou sewentigste verjaarsdag en die bekendstelling van Amberkamer, waarin ’n keuse uit jou bundels wat in die 21ste eeu verskyn het, aangebied word. Skaars twee weke later, tydens die prysfunksie van die jaarlikse AVBOB Poetry Competition, word Asindeton aangekondig as die eerste wenner van die JdL-prys vir Afrikaans. Ondertussen was daar ook nog ’n gespreksgeleentheid by die Woordfees oor Amberkamer.
KdW: Jy is bekend vir jou gedissiplineerde werkwyse, soos ook vir jou produktiwiteit. Maar dit bly ’n mondvol. Hou jy kop, hou jy tred, beïnvloed dit jou skryfenergie? En hoe?
JH: Die proses van skryf beteken ’n verbintenis met ander digters. Ek skryf elke dag. Soggens vroeg aan my nuwe roman Wentelbaan. Tussendeur resensies en begeleiding van kreatiewe skryfwerk vir studente by die Universiteit Stellenbosch. Ook ’n akademiese tesis wat ek begelei by UCT. Smiddae verder skryf. ’n Film wat ek (her-) besoek en saans ontmoeting met vriende.
2
KdW: Die Johann de Lange-prys is verlede jaar ingestel as ’n verering vir Johann de Lange en in erkenning vir die monumentale werk wat hy gedoen het met die oprig van die nasionale AVBOB Poetry Project, en die jaarlikse poësiekompetisie wat in al die Suid-Afrikaanse landstale aangebied word. Dit is nou die tiende jaar van hierdie poësiekompetisie, met die wonderlike komponent van vertaling daarby ingebou, wat met versiendheid en toewyding deur De Lange bedink en van die grond af gekry is. Die soekbare databasis gedigte AVBOB Poem Library wat daaruit ontstaan het, is ’n wonderlike bron en ook ’n monument. Die kompetisie is ook bekend vir die voorlesings en die programme en reekse onderhoude met wenners, in Afrikaans Ek wou nog sê aangebied deur Daniel Hugo – alles beskikbaar op die AVBOB Poetry se YouTube-kanaal wat tienduisende kyke lok, soos wat dit inderdaad ook bekend geraak het vir die nuwe digterstalent wat dit onder die aandag bring. Mens dink aan name, en selfs later bundels, soos Lynthia Julius, Churchil Naudé, Tom Dreyer, Keith Oliver Lewis.
Hoe dink jy oor die aard van die kompetisie? Oor sake soos die fokus op die tema van verlies en dood, die bydrae wat die vertalings van al die verse lewer, die vele stemme in vele tale?
JH: Dis ’n belangrike kompetisie, omdat onbekende digters ook mag deelneem. Met Daniel Hugo wat onderhoude voer en Douglas Reid Skinner wat help orden en keur. Verlies en dood is deel van ons almal se lewe en die vele stemme in ander tale wys op die verskillende poëtikale diskoerse. Ons beleef ’n opwindende tyd met verskillende stemme en immer die ou grotes wat nog steeds in die agtergrond staan.
3
KdW: Jy het self al ’n paar maal deelgeneem aan die kompetisie, met gedigte in Afrikaans en Engels, en vanjaar is die derde plek in die Engelse afdeling toegeken aan “Ode to my hairdresser” (Opperman 2026). Jy was ook die gasredakteur van I wish I’d said, volume 9, saam met Katjie Sponono Mahlangu en Douglas Reid Skinner.
Pas die rol, die taak van redakteur, jou, by al die ander rolle wat jy al in die Afrikaanse lettere vervul het en steeds vervul? En spesifiek vir I wish I’d said, wat ’n unieke reeks versamelings is?
JH: Die rol van ’n redakteur is ’n veeleisende een. Maar ’n mens het altyd voorbeelde van bloemlesings en antologieë wat waardevol is. Opperman, die groot kanoniseerder, Poskaarte van Louise Viljoen en Ronel Foster, Uys Krige se vertalings en bloemlesings, MM Walters se bloemlesings, waar ’n kundige uit ’n taal aangestel is om die vertalings te verduidelik.
Ek kyk ook na buitelandse bloemlesings.
4
KdW: As ek dit reg het, was die eerste publikasie onder jou redakteurskap die bundel huldigingsgedigte vir Wilma Stockenström wat in Oktober 2025 verskyn het, saam met Marlies Taljaard, Nogmaals vir die bysiende leser.

Naledi
Afrikaans is nie arm aan bloemlesings en versamelings nie. Net in hierdie dekade het ’n hele paar verskyn – keuses uit digters se oeuvres, maar ook tematiese versamelings. Die meerderheid van hierdie bloemlesings bied nuwe gedigte aan, met bloemlesings wat keuses uit reeds gebundelde gedigte aanbied (Vers en vrou), in die minderheid. Dit het ’n gewilde maakmanier geword om uitnodigings te rig vir gedigte rondom ’n onderwerp (Maskers en mure), soms via kompetisies (flikker-gram) en ook rondom bestaande digterskappe (Nogmaals vir die bysiende leser, Onthou is die dag wat breek). Ook interessant dat bloemlesings ná 2020 by kleiner onafhanklike uitgewerye verskyn – Turksvy, Naledi, Protea.
Hoe het julle te werk gegaan met Nogmaals vir die bysiende leser? En wat is jou siening oor die rol van die uitgewers?
JH: Ek en Marlies Taljaard het die projek oorgeneem na Johann de Lange se afsterwe. Dit was sy idee. Ons het digters opgeneem wat met Wilma Stockenström in gesprek tree. Pastiche, parodie of persiflage. Maar sy moes in die huldigingsvers aanwesig wees. Ons het gekeur, terugvoer gegee en ’n mooi bloemlesing gegee. Met Ronel Foster wat agter die skerms ook gelees het. Kleiner uitgewers doen uiters belangrike werk. Turksvy, Naledi en Protea. Ilse van Staden se Metamorfose wat by Turksvy verskyn het,1 is bekoorlik en ’n uitstekende roman. Die kleiner uitgewers het ook belangrike lesers en keurders. ’n Goeie keurder of leser is vir enige skrywer goud werd.
5
KdW: Jy het ook die rol van samesteller vervul vir keuses uit jou eie werk, met Die buigsaamheid van verdriet: ’n honderd of wat gedigte van Joan Hambidge (2004), nuwe en gebundelde gedigte in Visums by verstek (2011) en The coroner’s wife: poems in translation (2018).
Dit is nie ’n vreemde verskynsel in Afrikaans nie: Digters wat keuses uit hul eie werk maak. Digter wordende (2009) is Antjie Krog se keuse uit haar eie werk, soos wat Judasoog (2009) Johann de Lange se eie keuse is uit sy bundels (tot Die algebra van nood). Beide hierdie digters het ’n besondere bydrae tot keuses uit oeuvres en tematiese bloemlesings in Afrikaans gemaak – en ook as mederedakteurs saamgewerk met Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde (1998). Nog ’n voorbeeld is Daniel Hugo, ’n gerekende bloemleser wat eweneens ’n tematiese keuse uit sy eie werk gemaak het, naamlik Tuin van digters (2020).
Hoe dink jy oor digters as bloemlesers? Met keuses uit eie werk, maar ook vir ander versamelings.
JH: Wanneer ’n digter as keurder van eie werk optree, sien ’n leser altyd iets nuuts. Sekere temas of kwessies word na vore gebring. Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde besoek ek gereeld, asook Hennie Aucamp se skryfgidse. Daardie skrywer was uiters veelsydig: digter, kortverhaalskrywer, begeleier, mentor ...
My skatpligtigheid aan Aucamp word erken in Hart sonder hawe.
6
KdW: Om terug te keer na die JdL-prys. Met die JdL-prys is ’n nuwe dimensie bygevoeg tot die AVBOB Poësie Projek. Dit is ’n afsonderlike prys, buite die jaarlikse kompetisie, waar uitgewers genooi word om digbundels, steeds in al die Suid-Afrikaanse tale, in te skryf.
Die prys neem telkens ’n tydperk van drie jaar vir elke taal in ag en roteer só tussen al die Suid-Afrikaanse tale. Die eerste drie pryse is reeds in dieselfde jaar van De Lange se afsterwe toegeken. De Lange was die hoofredakteur van die AVBOB Poësie Projek. Die eerste drie wenners, in 2025, is toegeken vir bundels in Engels (Ingrid de Kok), isiZoeloe (S’fiso Oscar Zwelihle Mkhize) en Sepedi (Moses Seletisha). Vanjaar is inskrywings ingewag vir bundels in nog vier tale: Afrikaans, isiNdebele, isiXhosa en Sesotho en twee pryse is toegeken, aan Sekhobo Moshe vir Monokotshwai (Sesotho) en aan Joan Hambidge vir Asindeton.
Dit moes ’n besondere, sekerlik roerende ervaring vir jou gewees het – uiteraard vir die erkenning wat Asindeton ontvang het, maar ook omdat die prys vernoem is na jou beste vriend, gespreksgenoot en mededigter.
JH: Om die AVBOB-Johann de Lange-prys te ontvang is méér as ’n bekroning.
Dit word ook ’n erkenning aan Johann se werk as mentor, eindredakteur vir AVBOB se digkunsprojek, stipleser en briljante digter.
Ons het bundels deur die jare aan mekaar opgedra in ’n durende gesprek oor die digkuns.2 Ons het oor vele aspekte van die lewe verskil, maar was eensgesind oor die digkuns en wat dit eis. Oor die belangrikheid van Tristia en Sheila Cussons steeds en hoe verdwene digters terugkeer en steeds met ons bly praat. Ek dink hier aan Olga Kirsch en hoe ’n mens eers die werklike impak van ’n mens en digter kan inskat ná die dood.
Ek is so dankbaar dat hý Asindeton gelees het voor sy dood.
In ’n e-pos aan my:
|
From: Johann de Lange <xxx e-pos-adres> Joan, dit is een van jou mees gerealiseerde, argitektoniese bundels met fyn afgewerkte verse waarin jy verder en dieper in jou bekende temas inkyk en oordink. ’n Werklik pragtige werk wat mens met plesier lees. Laatwerk in die beste sin van die woord. Veel liefs, Jxxx |
En dis wat hy was vir my: ’n mentor.
Wederwoord
In elke woord van jou, my wederwoord:
sonder jou, geliefde vriend, is die lewe grou.
’n Matisse-afdruk in ’n gastehuis ontvou
vele laatnag-gesprekke oor die ander oord.
Jy het weggegaan en bewoon ’n herberg nou
tussen die vele sterre allengs deur jou verwoord.
In elke woord van jou, my wederwoord:
sonder jou, geliefde vriend, bly die lewe grou.
In hierdie elegie klein besing ons steeds, veral ek:
jou as die meester uitsonderlik van die kriptiek.
© Joan Hambidge
Ek is tans in Bloemfontein besig met navorsing oor Etienne Leroux.
Henning Pieterse, digter en vertaler, het gister lank gepraat oor die dood van ons vriend. Ons verbintenis met hom, die vriendskappe met Johann Lodewyk Marais, Daniel Hugo en Aucamp, dit staan alles opgeteken in sy digkuns.
Van Akwarelle van die dors was JdL daar. ’n Roerende erkenning en die AVBOB-beeld staan langs foto’s van Leipoldt en Eugène Marais, sy digterlike helde.
7
KdW: In jou oeuvre is gesprekvoering met die digter en jou vriend Johann de Lange ’n durende teenwoordigheid. Mens sou ’n klein bundeltjie daarvan kon maak, of ’n studie.3 Daar is gedigte wat aan Johann de Lange gerig is of opgedra word, gedigte waar sy naam of voorletters in titels of subtitels genoem word, waarin reëls of titels uit sy poësie voorkom en op reageer word, soos ook gedigte waarin gesprekke, ook met minder opvallende verwysings, met sy digterskap en oeuvre gevoer word, en meestal is dit kommentaar op poësie, die aard en beoefening van die poësie, op digterskap, op die ars poëtikale.
Jy dra ook, vanaf Interne verhuising (1995), byna die helfte van die bundels uit jou latere oeuvre aan De Lange op: “Vir Johann de Lange” lui dit toe, en ook so by Meditasies (2013) en Konfessies, kaarte en konterfeitsels (2021). Daar is ook ander inskripsies: “vir Johnny Panic” (Indeks, 2016), “nogmaals vir Johann de Lange, the one and only” (Nomadiese sterre, 2021), “vir JdL” (Sanctum, 2022) en in Asindeton (2024): “vir Johannes die Doper”.4 En al hierdie verwysings na De Lange kom ook in gedigte verspreid deur jou oeuvre voor.
In twee van LitNet se reekse skrywersonderhoude is die digters De Lange en Hambidge in gesprek: ’n bydrae vir die LitNet-“Die ketting”-onderhoude tussen skrywers in 2006, “Johann de Lange gesels met Joan Hambidge”, en ook vir ’n video-onderhoud in drie dele (2012) oor hulle poësie en die poësie, Johann de Lange in gesprek met Joan Hambidge. Jy het ook studies onderneem oor De Lange se werk.5
Dit is maar een blik op die digterlike interaksie, ’n ars poëtikale wisselwerking, tussen twee digters wat elk in eie reg sleutelfigure geword het in die Afrikaanse poësie sedert die 1980’s. Beide digterskappe sou baanbrekende bydraes lewer tot Afrikaanse gay- en queerpoësie en ook psigoanalitiese en postmoderne aspekte van poësie ondersoek.
Die poëtiese aanslag, die “soort” gedigte wat De Lange skryf, wat voor jou gedebuteer het (in 1982 met Akwarelle van die dors), die oeuvre van Johann de Lange, is tog duidelik nie die skryfhand en aanslag, die poëtiese benadering, die oeuvre en digterskap van Joan Hambidge nie. Ten spyte daarvan dat julle as digters en vriende, digtersvriende, besonder na aan mekaar was, besonder gereeld oor die poësie, die skryf en die lees van poësie gedink en gepraat het en dit ook in julle gedigte laat neerslag vind het.
As jy dalk iets wil sê oor hierdie interaksie? Tussen digters, vriende, gedigte? Was julle nooit bekommerd oor te veel of te noue verbintenis en iets soos beïnvloeding van idees en digterskappe nie?
JH: Ag nee wat. Hierdie interaksie was so belangrik. Almal word beïnvloed deur mededigters. ’n Mens gee dan erkenning of maak ’n opdrag of ’n verwysing na ’n bepaalde gedig.
Johann de Lange was ook bevriend met TT Cloete. Hulle kennis van sterre en die uitspansel moet nog ondersoek word.
8
KdW: Jy is bekend vir die huldigingsgedigte, spesifiek ook in memoriamgedigte in jou oeuvre. Dit staan sentraal in bundels soos Lykdigte, Ewebeeld, Dad, Konfessies, kaarte en konterfeitsels en Sanctum.

Lykdigte – Tafelberg; Ewebeeld – Perskort, Dad – Genugtig!, Konfessies, kaarte en konterfeitsels – Primatur, Sanctum – Protea Boekhuis
Van Lykdigte gepraat: Dit was, ironies genoeg, ’n bundel wat baie goed verkoop het en meer as een herdruk beleef het. Dink jy dit is aan iets spesifiek toe te skryf? Durf mens ’n verband sien met die gewildheid van I wish I’d said?
JH: My twee topverkopers was Dad en Lykdigte.
Ek dink verse oor die dood help almal deur so ’n donker tyd. Dan vind ons weer ekwilibrium. Hierom is die AVBOB-bundels so relevant.
9
KdW: As deel van die proses van verwerking van afskeid en verlies, in eerbetoon, in ’n steeds durende gesprek, skryf jy ’n bundel gedigte wat in die herinneringsboek In memoriam Johann de Lange (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge 2026) verskyn. Die boek word aangebied as ’n hibriede boek, met twee duidelik gemerkte dele, elk met ’n eie titelblad.
In Op pad met Johann de Lange bied Marais korter en langer essays oor De Lange, vriende, vriendskap en gesprekke oor die digkuns.
Hierna volg Orfeus in die buitenste ruim, die titel van 42 elegiese gedigte oor De Lange.
Wat is die bedoeling met die beskrywing “hibriede boek”?
JH: Hibried soos in “’n kruising”. Johann Lodewyk se blik van buite op JdL; myne van binne as digter en vriend.
Johann Lodewyk gee ook ’n stuk geskiedenis weer. So beskou, is dit ook literatuurgeskiedenis.
10
KdW: Die figure in die mite, Orfeus en Euridike, en die tragiese verhaalgegewens, soos van versugting, opoffering en onbereikbaarheid, is alom bekend.
In sy resensie van In memoriam Johann de Lange toon Daniel Hugo (2026) verbande aan tussen die titel van jou elegiese gedigte oor De Lange en De Lange se besoek aan New York. Hy herinner daaraan dat ’n werkstitel van Nagsweet (De Lange 1991) Orpheus in New York was, en wys op die verband wat opgemerk kan word met Federico Lorca se postuum gepubliseerde bundel Poet in New York, waarin die Orfeus-figuur in verband gebring word met die digter (Lorca, ’n digter) se opofferinge in en vir die digkuns.
Maar ook Hambidge, reisiger en digter, besoek New York meermale, en dig dikwels en vanuit verskillende perspektiewe (ars poëtikaal, meditatief) oor die stad. Dit sluit ’n verskeidenheid benaderings in: gedigte oor liefde en verlies, oor die 9/11-ramp, gedigte met die stad as psigiese ruimte, of in verwysing na ander digters se interaksie met die stad, gedigte oor die Brooklynbrug (ook op die voorblad van Meditasies), byvoorbeeld. Mees onlangs in Asindeton (bl 149):
New York
O harp and altar, of the fury fused ... – Hart Crane
As jong digter deurkruis
ek jou simmetriese palm
van oos na wes van die Hudson
tot by die vele bakens soos die Empire
Rockefeller tot die Bowery Greenwich Village
onwetend tóé dat ek telkens sou terug-
keer in herinneringe en foto’s na die Brooklynbrug
’n oorgang uit hierdie hartstad besoek met jou,
vertrekkende na die finale oorgang oor ’n ander brug
die onsigbare in vir altyd wég soos ’n lang reis
wat net uit onthoue, foto’s en dalk memento’s bestaan
of in ’n stilfilm soos Fritz Lang se Metropolis stadig uitspeel
met my as die kyker wat die DVD-speler telkens terugdraai
om weer iets van die New York-footage te beskou vorentoe
en agtertoe in hierdie gedig waar jy verewig word in die kneukelhand
van hierdie mitiese stad en één word met alles wat insluit en afsluit.
Wil jy asseblief meer uitbrei oor die keuse van die titel Orfeus in die buitenste ruim?
JH:
Walt Whitman, Lorca, Auden, Hart Crane ...
En veral Allen Ginsberg ... alles in hierdie titel opgesluit.
JdL het “Howl” vertaal.6
[“Die resepsie van Johann de Lange se Vaarwel my effens bevlekte held”: https://joanhambidge.blogspot.com/2014/03/vaarwel-my-effensbevlekte-held-vaarwel.html]
Ek ken daardie stad baie goed. Die invloed van die Amerikaanse digters op my werk moet waarskynlik nog verder besoek word. Dit word nou besoek in Swart rapuis.
Ook die gesprek tussen Lorca en Neruda.
Luister hoe vertolk Marilyn Horne dit: Gluck – Orfeo ed Euridice, “Che farò senza Euridice”
10 In memoriams en memento mori’s
KdW: Dit is so dat jy naam gemaak het as digter van huldigingsgedigte – met die elegiese elemente van verering en verdriet. Ook hiervan sou mens ’n versameling uit jou oeuvre kon saamstel: ’n uitbreiding van Lykdigte, ’n (literêre) gedenkalbum. Met gedigte wat in herinnering roep, gedigte wat ’n persoon, ’n lewe, eienskappe, gebeurtenisse beskryf, wat gesprek voer en erkenning gee – en daarom ook bestendig: in teen die groot vergeet. Hier is die slotstrofe van “Daniël in die leeukuil” ’n aangrypende illustrasie:
Jy sal voortleef in jou palimpses-
beelde geplaas langs die foto’s
van Eugène N. Marais en Leipoldt,
ene Daniël Johannes de Lange,
beklee ’n ereplek in my hartargief. (Orfeus, bl 67)
Hambidge is ook nie ’n digter wat onbekend is aan pyn, afskeid en verlies nie. Vroeg in jou oeuvre klink die reëls al ’n eerste keer: “private pyn, openbaar gely”.7
Hoe voel jy, dink jy, oor die fokus wat in jou oeuvre bestaan as gevolg van hierdie gedigte? ’n Tematiese stroming? ’n Verstegniese belangstelling? Dit moet persoonlik uitdagend wees om oor nabyes en bekendes, geagtes, te skryf? Oor dood en onbereikbaarheid? Word dit dalk ook onderlê deur ’n subteks van gedenk die dood, van midde in die lewe is ons in die dood?
JH: Tematies én verstegnies van belang.
Ek kyk Boeddhisties na die lewe: Die dood is die ander kant van die lewe.
Kruis en munt.
Natuurlik is dit uitdagend om oor nabyes te skryf met die afsterwe. Terselfdertyd kan ’n mens maar net iemand volledig takseer met hierdie vertrek.
XXXIX
Tristia herwin
U moet my toelaat, Here, dat ek té veel voor-tekens ignoreer
(uitwis) tekens se eie ge-nade-lose teken-heid,
wat in drome aan-meld of verby my dwingend marsjeer
(soos) die selfdood van ’n kelner ón(voor)bereid.
© Joan Hambidge 2026
Groet
KdW: Baie dankie, Joan Hambidge, vir hierdie gesprek! Mag mens die vraag vra oor wat op die oomblik, waarna kan ons uitsien?
JH: Die bundel Swart rapuis is waaraan ek nou werk.
die katstert en die angelier
verlede jaar was die kind nog hier
die swart rapuis en die besembos
hoe ’t jy my dan nou gelos
NP van Wyk Louw
Uit die argief / Lees ook:
De Lange, J. en J. Hambidge. 2006. Johann de Lange gesels met Joan Hambidge.
Die Ketting. LitNet, 5 Julie. https://oulitnet.co.za/chain/johann_de_lange_vs_joan_hambidge.asp.
De Lange, J. en J. Hambidge. 2012. Skrywersvideo: Johann de Lange in gesprek met Joan Hambidge. Skrywersonderhoude. LitNet, 31 Augustus. https://www.litnet.co.za/skrywersvideo-johann-de-lange-in-gesprek-met-joan-hambidge/.
Meyer, N. 2018. I wish I’d said: ’n onderhoud met Johann de Lange. 8 Augustus. https://www.litnet.co.za/i-wish-id-said-n-onderhoud-met-johann-de-lange/.
Verwysings
Fritz, D. 2004. Die digterlike gesprek by Johann de Lange: ’n psigoanalitiese studie. PhD. Universiteit van Kaapstad. https://open.uct.ac.za/items/8d27db13-5e73-499d-98fb-653550773953.
Hambidge, J. 1989. Gesteelde appels. Pretoria: HAUM-Literêr.
Hambidge, J. 2009. Die digkuns van Johann de Lange met spesifieke verwysing na Nagsweet. LitNet Akademies, 6(1). https://www.litnet.co.za/die-digkuns-van-johann-de-lange-met-spesifieke/.
Hambidge, J. 2024. Asindeton. Pretoria: Protea Boekhuis.
Hambidge, J. 2025. Johann de Lange – Vreemder as fiksie die grein van hunkering. Versindaba, 31 Maart. https://versindaba.co.za/2025/03/31/joan-hambidge-johann-de-lange-vreemder-as-fiksie-die-grein-van-hunkering/.
Hambidge, J. 2026. Orfeus in die buitenste ruim. In: J.L. Marais en J. Hambidge, In memoriam Johann de Lange. Gansbaai: Naledi. ble. 55–103.
Hugo, D. (red.). 2019. Johann de Lange 60. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Hugo, D. 2026. ‘In memoriam Johann de Lange’ waardige huldeblyk aan briljante digter. Netwerk24, 3 Augustus. https://www.netwerk24.com/kunste/resensietuiste/boeke/in-memoriam-johann-de-lange-waardige-huldeblyk-aan-briljante-digter-20260803-0646.
Marais, J.L. en J. Hambidge. 2026. In memoriam Johann de Lange. Gansbaai: Naledi.
Opperman, A.J. 2026. AVBOB-pryse: Joan Hambidge wen JdL-poësieprys. Netwerk24, 2 Oktober. https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/avbob-pryse-joan-hambidge-wen-jdl-poesieprys-20261002-0673.
Roux, A. 2026. ‘Memoriam’ ’n herinneringsdaad en lewensviering. Netwerk24, 10 Augustus. https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/resensie-memoriam-n-herinneringsdaad-en-lewensviering-20260807-0554.
Ströh, R. 2020. “’n faset van my daaglikse bestaan”: Joan Hambidge en die poësie van Johann de Lange. Stilet, 32(1/2):214–9. https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/ejc-stilet-v32-n1-a29.
Ströh, R. 2022. “jy vir my soos ek vir jou”: Joan Hambidge in/en die poësie van Johann de Lange. Stilet, 34(1):121–40. https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/ejc-stilet-v34-n1-a10.
1 KdW: Kyk Hambidge se resensie van Metamorfose: https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/resensie-van-staden-se-metamorfose-briljant-en-aangrypend-20261015-0736
2 KdW: Die algebra van nood (2009): “vir Joan”; Die meeste sterre is lankal dood (2020): “vir Joan / & al my mooi dooies”. Ander digters aan wie De Lange-bundels opgedra word, is Lucas Malan, Ernst van Heerden en Hennie Aucamp. Ook die literator Henning Snyman, wat deur beide De Lange en Hambidge as mentor erken word.
3 Van hierdie intertekstuele gesprekke word uitgewys en ondersoek in navorsing deur Fritz (2004) en Ströh (2020, 2022), maar dit word ook dikwels opgemerk in resensies.
4 Vergelyk Hambidge (2025): “My laaste bundel Asindeton dra ek dan ook aan hom op.” https://versindaba.co.za/2025/03/31/joan-hambidge-johann-de-lange-vreemder-as-fiksie-die-grein-van-hunkering/
5 In Kaapse paragrawe lys De Lange (2013) 13 stukke navorsing deur Hambidge waarin die werk van Johann de Lange ondersoek word: https://johanndelange.blogspot.com/2013/07/joan-hambidge-artikels-rondom-die-werk.html. Kyk ook die 15 titels van werk wat Hambidge oor De Lange geskryf het, in skakels gelys onder die titel “Johann de Lange studie” en gepubliseer op Woorde wat weeg (sd): https://joanhambidge.blogspot.com/p/johann-de-lange-studie.html
6 KdW: Opgeneem in Johann de Lange 60 (Hugo 2019).
7 Kyk byvoorbeeld “Eden” in Gesteelde appels, bl 30.
Lees ook:


