Oop boek: Gesprek met Frederick Botha oor Seuns weet

  • 0

Seuns weet
Frederick Botha
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485316121

In hierdie nuwe “Oop boek”-reeks gesels Karen de Wet met skrywers.

1

Foto: Brenda Veldtman

K: Frederick, Seuns weet is jou debuut as skrywer, as kortverhaalskrywer. Baie geluk!

Jy het ’n doktorsgraad in die lettere en daarna ’n tweede meestersgraad, in kreatiewe skryfwerk. Jy het by verskeie universiteite Afrikaanse letterkunde aangebied, en het ook al ’n lewe gemaak uit vryskut skryfwerk, onder andere as sepieskrywer vir Getroud met rugby. Op die oomblik is jy fiksieredakteur by Jonathan Ball Uitgewers. Oorvleuel hierdie wêrelde en selwe of hou jy jou literêre loopbane en jou eie skrywerswêreld(e) uit mekaar? Waar pas jou kreatiwiteit in? ’n Legkaartstuk, ’n na-ure-bedryf, iets wat verweef is met jou eet, leef, opstaan, aanhou beweeg en geraas maak?

F: Baie dankie, Karen! Dis heerlik om uiteindelik die boek in my hand vas te hou.

Vir my het dit nog altyd net oor stories gegaan. As kind het ek in die middae Afrikaanse kinderstories soos Moomin, Nils Holgerson, Die Bietjies van Voetheuwelwoud en Mina Moo gekyk, en die episodes dan herverbeel en op my pa se rekenaar getik. Dis hoe ek stories begin skryf het. Tot groot vermaak van my familie het ek menige middae in die tuin gehuppel en gespring terwyl ek storiewêrelde en avonture in my kop verbeel.

Dit was eintlik onvermydelik dat my liefde vir stories na die bestudering daarvan sou lei, en uiteindelik my studie oor Afrikaner-identiteit in post-’94 prosatekste. My liefde vir die letterkunde is ’n passie wat ek wil deel, en die rol van letterkundedosent hou daarom nog altyd ’n groot bekoring vir my in. Later het ek die werk as sepieskrywer net so baie geniet, want dit leer jou skryfdissipline en hou boonop jou skryfspiere geoefen. Die meestersgraad in kreatiewe skryfkunde was ’n meer gefokuste uitbreiding hiervan: om skryfvaardighede te slyp en aan manuskripontwikkeling te werk – ek wou steeds my eie stories vertel. In ’n sin het al hierdie wêrelde waarin verhale, teks en skryf tog die sentrum / sentrale fokus / dinamo is, vir my bymekaargekom in die uitgewerswese. Om elke dag op te staan en te kan sê ek gaan vandag met boeke en stories en skrywers werk, is ’n groot voorreg en vreugde wat my eindelose plesier verskaf.

As fiksieredakteur staan ek nou aan die ander kant van die manuskrip – ’n verrykende ervaring. Die eerstehandse ervaring wat ek nou het van hoe weerloos die skryf- en publikasieproses jou as skrywer laat, het ook my mondering as fiksieredakteur beïnvloed, en veral die interaksie met skrywers en die manier waarop met teks gewerk word tydens manuskripontwikkeling en die hele publikasieproses.

K: Noudat jy verwys na fiksieredakteurs wat ook self skrywers was: Daar is nogal ’n groepie van hulle! François Bloemhof, Francois Smith, Kerneels Breytenbach, Petra Müller ...

 2

K: As skrywer het jy aanvanklik die aandag getrek met jou verhale wat in kompetisies uitgesonder is. Jou verhale word gekies vir Nuwe stories 2 (2013), Nuwe stories 3 (2014), en die Woordfeeskortverhaalbundel 2020, en een van jou verhale haal die langlys vir die PEN International New Voices Award (2016). In dieselfde tydperk, 2013 tot 2020, word “Vryheid” opgeneem in Rudie van Rensburg se bloemlesing speurverhale Op die spoor van (2017), en verskyn daar ook ’n storie van jou in Ons Klyntji 122 (2018), wat dit ook deel maak van die Klyn Deuntjies-projek (2018).

Jy neem dus deel aan meer literêr afgestemde projekte (skryfkompetisies, ’n graad in kreatiewe skryfkuns), maar ook aan Ons Klyntji – wat hulle agentskap vind en vestig in kontrakultuur. Illustreer dit iets van ’n dubbelaard – ’n deelname aan die sogenaamde hoofstroom en terselfdertyd ’n bepaalde uitdaging? Die spore hiervan sien ek ook manifesteer in die manier waarop die verhale in Seuns weet sonder waarskuwing en op gladde spore rangeer van coming of age-vertellings oor huislike dramas en kleindorpse normerings en stereotiperings (wat wel deur die libido en uitlokkende gedrag van die verteller en die bemiddeling van Grindr ondermyn word) tot konfronterende, onverskonende, aanspraakmakende vertellings en ’n berekende, selfs koelbloedig nugtere verteller.

Is dit iets wat jy bewustelik met Seuns weet en die keuse en orde van die verhale wou bereik? Om literêre agentskap te bewerk?

Mens dink aan intertekste, aan toespelings, aan hoe Lady Macbeth wat haar hande bly was, opgeroep word wanneer die verteller sy kantoormat die volgende dag skrop en skrop; én aan verhale wat doelbewus aansluit by ’n tematies en verhaaltegniese stroming in homoërotiese korttekste waarin grens- en normdeurbrekings voorop staan.

F: Gayskrywers is bekend daarvoor dat hulle werk kritiek lewer op diskriminerende sosiopolitieke en -kulturele sisteme, en die heersende sosiale orde bevraagteken en ondermyn. Geen skrywer skryf in isolasie nie. Jy’s tog deel van ’n spesifieke letterkunde, en binne daai letterkunde word jy gevorm deur literêre voorgangers, deur ’n spesifieke tradisie.

Alhoewel verwysings na platforms en apps soos Grindr, Pornhub en Instagram in die verhale voorkom, werk die verhale in Seuns weet as homoërotiese korttekste met dieselfde kodes wat my literêre voorgangers soos Koos Prinsloo en Johann de Lange destyds gebruik het: seksuele ervarings, brutaliteit, ontrouheid, wellus, grooming.

Die manier waarop ek oor gayseksualiteit skryf, is steeds om doelbewus ondermynend te wees. Alhoewel daar baie vooruitgang gemaak is ten opsigte van queerregte, is heteronormatiwiteit steeds aan die orde van die dag met sisteme soos die patriargie, geloof en familie wat nog altyd ’n bedreiging vir queer persone inhou. Dit is hartseer om te erken dat die menslike kondisie in 2026 steeds nie veel beter daar uitsien as in die tyd van Koos Prinsloo en Johann de Lange nie.

Dan is daar ’n skrywer soos SJ Naudé, vir wie ek soveel waardering en agting het, wat in sy verhaalkuns die gaybelewenis op ’n meer sensuele en deernisvolle wyse uitbeeld, want natuurlik bestaan daardie soort belewenisse ook. Maar die keersy hiervan verdien steeds uitbeelding in die letterkunde, nie net omdat daardie ervarings ook bestaan en geldig is nie, maar juis omdat dit so eie is aan die tradisie van homoërotiese korttekste.

3

K: Die titel van jou boek lok reaksie uit. Mens kan dit bevestigend lees: Ja, seuns weet; of nuuskierig raak oor wat seuns dan sou weet. So lok dit ook die leser na die verhale: op soek na wat meegedeel, gesuggereer, aanspraakmakend bevestig gaan word oor wat seuns dan nou wel sou weet, of oor wat die leser weet, of te wete wil kom, oor wat seuns weet dat seuns weet. Dit speel natuurlik ook, soos die motto uitspel, direk in op ’n generasie wat dekades gelede, en ook dekades lank, gekonfronteer is met Jan van Elfen se Wat seuns wil weet – deur verskeie herdrukke en bygewerkte uitgawes, van 1978 tot 2010.

F: Aanvanklik was die werkstitel Ketter, maar dit het gou duidelik geword dat die sterk religieuse konnotasie wat hierdie titel oproep, nie al die verhale voldoende saambind nie. Die bundel fokus op (gay) manlikheid binne ’n tradisionele (en selfs stereotipiese) wit Afrikaanse familie, vandaar die aanhaling uit Jan van Elfen se Wat seuns wil weet as motto. Hoe meer ek besef het dat die verhale inspeel op byna elke gegewe in hierdie moralistiese handleiding waarmee soveel jong Afrikanerseuns destyds geïndoktrineer is, hoe duideliker het dit geword dat die bundeltitel hierop moet inspeel. Deur die “wat” en “wil” uit die Van Elfen-titel weg te laat, hoop ek dat die titel ’n stellinginname kommunikeer: Die bundel, die verhale, verklaar dat seuns (en hiermee spesifiek gay seuns) nie die raad wat Van Elfen aanbied, nodig het nie – ons wéét reeds.

In ’n sin bied Seuns weet dan deur die inspeling en kritiek op die Van Elfen-boek ’n alternatief: ’n troosboek vir seuns wat hulself in die verhale kan herken; of ’n boek waarin lesers via uiteenlopende karakters en karakterisering hulself en ander kan herken, kan leer ken. Die tweede motto is ’n reël van Jaco Barnard-Naudé. In sy digbundel Om my kastele in Spanje te sloop, waaruit die aanhaling kom, lees/herken ek ’n soort domestic noir – soos dié waarmee die verteller-karakter as gay seun en later volwassene in Seuns weet gekonfronteer word.

K: Dit is tog ’n interessante werkstitel, Ketter. Ek het onmiddellik die bedekrale raakgesien, wat ook die illustrasie by “Rocket Man” is – vir my een van die veelseggende tekste oor buitestanderskap, stereotipering, brandmerk en coming of age in die bundel. Die ek-verteller-karakter steel die bidsnoer van sy ouma terwyl sy moet oppak op pad na ’n kleiner blyplek ná haar man se begrafnis:

...  die swart bidsnoer met silwerkettinkies en plaatjies met afbeeldings van verskillende Heiliges. Dit het altyd aan die truspieëltjie van hul kar gehang –kleintyd het ek my verkyk daaraan wanneer ek saam met hulle gery het.

Dit is ’n handeling van verset maar ook vereenselwiging (die ek-karakter is die enigste een wat meedoen aan die liturgie tydens die begrafnis – bl 36) met die suggestie dat hierdie paar grootouers ’n ruimte buite die normatiewe van die gesin en gewoontes waarmee hy grootword, geskep het:

Toe ek en Ma ná die pakkery my ouma groet, het sy my lank
teen haar vasgedruk. ’n Sterk reuk het aan haar gekleef, soos dié
van die rookoffers op my oupa se begrafnis. “Die Royal Albert is
joune,” het sy in my oor gefluister sodat Ma nie moet hoor nie. (42)

Aan die slot van die verhaal word die bidsnoer baie effektief gebruik wanneer die perspektief op die buitestanderkind (ketter) skuif na die bevrydende keuses wat die “rocket man”-karakter maak op pad na ’n eie self en identiteit: “Ek haal die rosary om my nek af, hang dit om die truspieëltjie, en klim uit.” (42)

4

K: Ons het nou al aangedoen by heelwat temas wat deur die kortverhale vleg, maar kan ons gesels oor die openingsverhaal? Seuns weet begin met die storie “Lummel”. ’n Kinderverteller is aan die woord en dit is nie onmiddellik en eenduidig duidelik wie die lummel is nie – ek sou ’n oopte in die titel wou inlees wat meerdere lummels versamel in die een woord. Dit is wel ’n storie oor die pa en pa’s, oor pa’s en seuns, en seuns en mans – en swyende, ordebevestigende ma’s. Oor die onmag teen patriargale mag, boeliegedrag en onreg, en tog ook meer as dit. Erotiese spanning is in verskillende gedaantes en deur die bemiddeling van meerdere karakters in die verhaal teenwoordig. Die een beskrywing wat die verteller in besonderhede deel, is wesenlik molestering ten aanskoue van almal (en daarom ook kommentaar op verraad) en draai op die rand van verkragting:

“Wat gaan hier aan?” vra Pa net voor ek in my broek piepie. Oom Kobus klim van my af. Pa staan met twee biere in die hand, en vir die tweede keer vandag kyk hy kwaai na my.

“Dis oom Kobus wat my kielie, Pa.” Ek weet nie of my maag so seer voel van al die lag, of van oom Kobus se knie nie.

Oom Kobus vat sy bier by Pa. “Hy wou nie ophou huil nie.” Hy druk aan die voorkant van sy kortbroek, trek sy hemp oor sy harige maag.

Pa vat sy pakkie sigarette op die koffietafel. “Jy kan maar huil soveel as wat jy wil,” sê hy en sit een in sy mond en stap buitentoe. Oom Kobus knipoog vir my en volg Pa.

Ek staan op en loop kombuis toe, my piepie is nou weg. Stadig loer ek om die hoek.

Ma staan voor die stoof en roer maalvleis in ’n pot. Die kombuis ruik na gebraaide uie, Mrs Ball’s en worcestersous. Agter haar sit Willem op die vloer en speel met ’n polisiekar en trok.

“Jy’t gehoor wat jou pa sê,” sê Ma sonder om vir my te kyk. Voor ek kan teëpraat, lig Ma die houtlepel en gee my daai kyk ... (13)

Die manier waarop die storie die verteller die werklikhede van sy belewenis sonder sensurering laat meedeel (naïef, onskuldig) bring ’n storie mee wat die leser laat ys: juis oor die spanning tussen wat inderdaad gebeur, en hoe dit aangebied word uit die perspektief van onskuld waarmee die kinderverteller beskryf en meedeel. In latere verhale ys die leser weer, of word die leser vrywillig en voyeuristies aandadig aan beskrywings en gebeure waar die verteller heel ander vertelperspektiewe en vertelhoudings aanneem en aanbied.

So beskou is die openingsverhaal vir my ’n Seuns weet in die kleine, ’n mikroverhaal wat die kortverhaalsiklus in die boek vertel. Bedoelende: Al die nuanses, perspektiewe, belewenisse en uitbeeldings, die interne gesprek, al die selftwyfel, selfskending en selfverwyt, al die insidente van inisiasies, die fisieke en emosionele gevolge van keuses en eksperimente, die stellinginnames en subversies in die verhale van Seuns weet, skyn refrakterend uit hierdie verhaal soos lig wat breek en wat weerkaats en ook teruggekaats word asof deur en na ’n veelvlakkige kristal. Mag ek dan die skrywer se reaksie vra op so ’n lees van “Lummel”, ’n lesing van die openingsverhaal as stramien vir Seuns weet?

F: “Lummel” is inderdaad ’n stramien vir die res van die bundel. Interessant genoeg het die verhaal eintlik eers veel later in die skryfproses sy ontstaan gehad, maar toe daardie kinderverteller hom by my aanmeld en die verhaal uiteindelik begin vorm aanneem, was dit vir my duidelik dat dit eenvoudig die openingsverhaal moet wees. Dit is die begin van die verteller se ervaring van sy lyflikheid, met die deurlopende temas van skuld, buitestanderskap en die ouer-kind-verhouding wat hier geaktiveer word.

Die belewenis van bedreiging wat die kinderverteller in hierdie verhaal het, is iets wat die vertellerkarakter deurgaans in die verhale ervaar: daardie potensiële uitbarstings en katastrofes binne sy wit-middelklas-bestaan.

Die verhaal se titel is egter ook vir my ’n stramien vir die ontnugterde en siniese vertelstem wat ek in die bundel wou vasvang. Aan die begin van die bundel is die vertellerkarakter in ’n sekere sin steeds daardie vrolike, onskuldige huppelkind, maar uiteindelik is hy ook die een wat ’n lummel word namate die verhale vorder en sy lewenservaring toeneem. Al fokus die res van die verhale op sleuteloomblikke in die vertellerkarakter se volwassewording, word daar telkens terugflitse na sy kindertyd gevind, en in die verhaal “Smet” word die kinderverteller weer aan die woord gestel. Hierdie terugflitse is een van die belangrikste bindingsmiddele, want in byna elkeen van hierdie afsonderlike verhale word daar telkens teruggekeer na die vertellerkarakter se vroeë self: dalk as poging om terug te probeer gryp na sy onskuld, dalk as erkenning dat dít die oomblik was waar onskuld verloor is, waar sy ontnugtering begin het.

5

Uit die kortverhale in Seuns weet blyk ’n duidelike literêre ingesteldheid, ’n belangstelling in Afrikaanse kortkuns, in skrywerskap, in metafiksionele vertellings.

In een van die vroeë verhale, “’n Gewone Donderdagmiddag in Desember” gebruik die hoofkarakter ’n besoek aan die boekwinkel (55) as ’n verskoning om nie deel te neem aan huishoudelike take (grassny) nie en as dekmantel om ’n Grindr-afspraak na te kom. Hy is die enigste een in die familie wat belangstel in sy ouma se ou Afrikaanse boeke (“Bart Nel, Dwaalstories, Tristia, Sy kom met die sekelmaan, Die meulenaar en Die vrou op die skuit” – bl 39), en ook die enigste een wat belangstel in haar ongebruik bewaarde Royal Albert-stel (35–6, 39), maar dit is ’n ander storie. Hy word universiteit toe gestuur, verwys na sy Afrikaans-klasse en kritiseer satiriserend sy eertydse universiteitsvriendin se “obsessie met Ingrid Jonker” (135). Op verhaalvlak is dit ’n beskrywing van die vertellerkarakter se literêre belangstelling. Dit is egter ook die vertelstyl, die opstel van die karakters en soms ook die milieu waaroor vertel word, in van Seuns weet se verhale wat byna onafwendbaar herinner aan Koos Prinsloo-verhale. In verweer teen slaaploosheid en die groot wag, wend die verteller in “24/09” hom tot sy “Koos Prinsloo-bundels” (97), maar kan, veelseggend genoeg, nie “die verhaal” waaraan hy dink, vind nie.

K: ’n Literêre inspeling op Prinsloo en sy werk in Seuns weet word verwoord in Frederik de Jager se inskatting van die boek as “’n latter-day antwoord op Prinsloo” en speel ook uit in videomateriaal vir die bemarking van jou boek waarin jy foto’s van Koos Prinsloo gebruik. Hoe sou jy jou verhale en skryfstyl plaas met verwysing na hierdie toespelings, en ook spesifiek in die Afrikaanse homoërotiese kortkuns?

F: Die vertellerkarakter dui reeds in die openingsverhaal aan dat hy ’n skrywer wil wees. Hy herskryf die Afrikaanse kinderverhale wat hy in die middae op die televisie kyk op sy pa se rekenaar [“Lummel” – KdW], en hy neem Skryfkuns as vak op universiteit [“Mirjam” – KdW]. As volwassene sukkel hy om sy eie manuskrip te voltooi, en dit word later totaal verdring deur sy werk as sepieskrywer [“Die première” – KdW]. Omdat skryf dus sentraal tot die verteller se karakter staan, is dit voor die hand liggend dat hy ’n sterk literêre belangstelling sal hê.

Die vertellerkarakter lees en skryf nie net stories nie, maar hy steel hulle ook, selfs met narsistiese opwinding wanneer hy besef dat daar ’n storie te maak is.

Skrywers is optekenaars, afloerders, afluisteraars, diewe. Om dit dan te fiksionaliseer is ’n manier om van werklikheid, en uiteindelik van onsself, sin te maak. Daarom resoneer hierdie aanhaling uit Willem Anker se Siegfried so sterk met my: “Skryf is ’n perversie, ’n swak gemaskerde omgang met eie begeertes.”

Die aanbeveling van Frederik de Jager as keurder dat my bundel gelees kan word as ’n “latter-day antwoord op Koos Prinsloo”, is vir my ’n groot kompliment. Ek het sy verhale eers op universiteit ontdek, en natuurlik is dit behandel aan die hand van die metafiksionele en postmodernistiese aard daarvan, met ’n fokus op die outofiksionele. Die onverskrokke wyse waarop Prinsloo met feit en fiksie omgegaan het, het my dadelik geboei. Want inderdaad is daardie begeerte vir skryf wat ek in die vertellerkarakter vasgevang het, iets wat diep in myself gewortel is. Alhoewel Hennie Aucamp en Abraham H de Vries ook beoefenaars van outofiksie was, is daar net iets aan die wyse waarop Prinsloo hierdie literêre genre beoefen het wat my tot hom as skrywer en sy skryfwerk aangetrokke maak. Dalk die brutaliteit waarmee hy dit gedoen het. Skryf is ’n morsige bedryf.

6

K: ’n Ander vraag, in dieselfde trant, of dalk dieselfde vraag: Knap voor Nuwe stories 2 en jou eerste gepubliseerde verhaal in 2013, verskyn MS Burger se kortverhaalbundel Bloedfamilie, in 2012. Jou bestudering van dié bundel vind neerslag in ’n artikel oor die abjekte moeder in Bloedfamilie wat in LitNet Akademies verskyn. Die moontlikheid om Seuns weet te lees as ’n teks wat opgestel kan word as ’n teenhanger van manlike seksualiteit en identiteit vir Bloedfamilie, is baie aanloklik, met die slotverhaal, “Niemand sal eens weet dit het gebeur nie”, wat ook gelees kan word as ’n hoogtepunt van reaksie op die moeder in Bloedfamilie. Hoe dink jy hieroor? Is dit as voorgangerteks deel van die inspirasie, of die keuse, vir die selfreflekterende metafiksionele aanslag in Seuns weet?

F: MS Burger se Bloedfamilie is beslis ’n belangrike voorgangerteks vir Seuns weet. Benewens die kreatiewe manuskrip het my MA in kreatiewe skryfkunde ook ’n minitesis wat met my eie skryfwerk verband hou, behels. Die idee is dat die minitesis jou eie skryfwerk voed, hetsy tematies of tegnies. Tydens ons eerste ontmoeting het my studieleiers my daarop gewys dat die verhale wat ek ingedien het om vir die graad gekeur te word, dikwels gemoeid is met die abjekte. En so is die saadjie geplant om Julia Kristeva se konsep van abjeksie op kreatiewe wyse in die bundel te verken.

Vandat ek die eerste keer Bloedfamilie gelees het, was ek beïndruk met Burger se gebruik van struktuur en tegniek: om outonome verhale saam te bundel wat so ’n sterk onderlinge verband met mekaar toon, inspeel op mekaar, dat die teks in sy geheel ook as ’n soort gefragmenteerde roman gelees kan word. Burger se onverskrokke skryfwyse het my geboei en gelei tot my ondersoek na die gebruik van die abjekte in Bloedfamilie.

Ek wou ook op struktuur en tegniek fokus. In Bloedfamilie gebruik Burger ’n enkele protagonis, terugkerende karakters en deurlopende motiewe om die tegniese vorm van die kortverhaalsiklus te beoefen. Vir my was dit een van die belangrikste oogmerke tydens die skryf en ontwikkeling van Seuns weet: om met die tegniese aard van die struktuur van die korttekste in bundelverband te eksperimenteer.

Burger skryf boonop, soos Koos Prinsloo en Johann de Lange, binne die diskoers van familieproblematiek, en as gay Afrikaanse skrywer is sy eweneens gemoeid met die abjekte en subversiwiteit, dikwels aan die hand van ’n selfreflekterende metafiksionele aanslag. So alhoewel ek net op Bloedfamilie vir my minitesis gefokus het, vorm Burger deel van die groter tradisie van Afrikaanse homoërotiek.

7

K: Is dit nie so dat dit nou reeds die verwagting is dat skrywers hulle kant bring nie, en soms meer: dat van skrywers verwag word om verantwoordelikheid te neem? Ek kan eintlik aan baie min Afrikaanse boeke uit die onlangse verlede dink waar die skrywer nie van ten minste gedeeltelik tot heel intens betrokke was by die bekendstelling van die boek nie. Het dit nou aanvaarde praktyk geword? Is skrywers wat nie kans sien vir sosiale bemarking nie, of nie fondse, tyd of sin het in bekendstellingspartytjies nie, op die agtervoet? Hoe dink jy oor hierdie saak? Is dit lastig? Is dit ’n verleentheid, of eerder ’n geleentheid? En vir jou, met Seuns weet?

F: Selfbemarking het inderdaad ’n belangrike deel van die boekbedryf geword, want die wêreld, en ook die uitgewerslandskap, het drasties verander. Onafhanklike en kleiner uitgewerye het gewoonlik nie die nodige hulpbronne om met bemarking te help nie, so daar word baie beslis van hulle skrywers verwag om selfbemarking te doen. Selfs van skrywers wie se werk by uitgewershuise verskyn, of konglomerate wat ’n reklamespan en -begroting tot hul beskikking het, word ook verwag om hulle kant te bring.

Die dae toe skrywers byna enigmaties en met ’n sku persoonlikheid in hul studeerkamers vol boeke wegkruip, is verby. Veral as jy ’n nuweling is en nog ’n lesersgehoor moet vestig. Soveel mense heg ’n negatiewe assosiasie aan die woord selfbemarking, en ek vermoed dit het te doen met die rol van beïnvloeders en betaalde borgskappe op sosiale media.

Vir my kom selfbemarking egter neer op agentskap: Jy as skrywer glo in jou boek en in jou skryfwerk. Ons lewe in die digitale era waar sosiale media ’n hulpmiddel is waarmee skrywers lesers direk, onmiddellik en gereeld kan bereik. Maar selfbemarking strek natuurlik veel wyer as net sosiale media. Leeskringe en boekklubs is steeds van dié belangrikste rolspelers in die boekbedryf, en daarom is ’n boekpraatjie by so ’n geleentheid net sulke goeie reklame as ’n plasing op sosiale media.

Tot dusver het ek uitsluitlik staat gemaak op bemarking via sosiale media – immers platforms eie aan my generasie, alhoewel dit tog deur ’n verskeidenheid segmente van die samelewing gebruik word. 

8

K: Om terug te keer na die teks, en tog in aansluiting by die bemarking daarvan: In die bemarking van die boek beskryf jy dit as “deliciously camp” en gebruik hutsmerke (daardie gemaskeerde kategoriserings) soos #homoerotiek. Hierdeur word die boek en die verhale baie spesifiek geplaas, aangebied. Wil jy hierop uitbrei? Die (beweeg)rede vir die keuse? Die doel daarmee om die boek spesifiek te plaas as homoërotiese kortkuns en camp?

F: Vir my gaan dit daaroor dat die bundel bekendgestel word vir wat dit is, wat dit wil en kan wees. Die verhale fokus baie op die liggaam, op lyflikheid, en daarmee saam die seksuele; dan maak dit immers sin om die homoërotiese aard te vermeld. Maar terselfdertyd is dit inderdaad ook camp: ’n vorm van weerstand teen die alledaagsheid van die status quo wat deur selfuitdrukking tot bemagtiging lei. Die verhale gee stem aan ’n baie spesifieke queerbelewenis. Queer is reeds ’n inklusiewe verwysing na uiteenlopende identiteite – dié wat nie gemaklik is om binne konvensionele parameters van samelewing te beweeg en te bestaan nie. Vir my is Elton John en Koos Prinsloo twee belangrike rolspelers in hierdie verband, en daarom is daar ook verwysings na hulle in die verhale. Eksponente van waarna stereotipies as “gaybelewenis” verwys word, maar wat steeds in die hoofstroom opgeneem word, al is hulle kontroversieel en uitdagend.

Aan die ander kant: ’n Boek wil altyd meer as net een ding wees. Die vertellerkarakter se seksuele oriëntasie is uiteindelik ook maar bysaak, maar net een lens waardeur na die verhale gekyk kan word. Uiteindelik praat Seuns weet saam oor (Afrikaner-) kultuur, familie, geloof, vriendskap en maatskaplike omstandighede in ons samelewing.

9

K: In jou verhale paradeer ’n uiteenlopende reeks buitestanders wat meestal hand aan hand aangetref word met ’n aan die kaak stel van ingeburgerde negatiewe samelewingstereotipering en kommentaar op die voorhou van wat normatiewe idees behoort te wees. Marginalisering en deelname aan verset kan in elke verhaal teruggevind word: van ’n dwingende en durende opsoek van pornografiese of ekshibisionistiese selfoonvideo’s en afspraakwerwe (Grindr) en CAT-verslawing, selfskending en uiteindelik selfvernietiging (soos oa in “Spoilt for choice”) tot clubbing en fisting (“Swyn”) en die verskyning van albinokarakters (“24/09”), fisiek geskende karakters (amputering in “Please help, God bless”) en kodes wat ont-dek kan word as SM. Hoe sou jy die toonaard van die boek, die verhale, beskryf? Is dit ’n bewuste voorkeur, of het die verhale mekaar begin vind en die boek in ’n bepaalde rigting begin aanpor?

F: Ek sal die toonaard as “ontstemmend” beskryf. Dit was beslis nie vooraf so besluit nie, maar dit het wel tydens die skryfproses in daardie rigting begin loop. Hoe duideliker ek daardie afgetrokke gelatenheid in die siniese en nugtere ek-verteller se stem begin vind het, hoe meer onthutsend het die onheilspellende toon in die verhale geword. Ek hoop egter ook dat lesers ’n komiese toon sal raaklees, al is die humor ietwat aweregs.

Van die titelblaaie

K: Die toonaard is inderdaad donker. Die swart bladsye tussen die verhale, waarop elke verhaal se titel en ’n eenvoudige illustrasie van ’n element uit die verhaal verskyn, illustreer dit. Dit beklemtoon, soos die blinkswart buiteblaaie, die noir wat deur die boek loop, die verhale begrond. Trouens, die ontwerp en uitleg van die boek is baie nou betrokke by die verhale, loop dit vooruit, sluit daarby aan.

F: Ek is bly dat jy die uitleg en ontwerp uitsonder wat hopelik iets van die episodiese en gefragmenteerde aard van die verhale en kortverhaalsiklus beklemtoon en vasvang. Dit was vir my belangrik dat die boek self mooi uitgegee word.

Bronne

Botha, F. 2025. Die abjekte moeder in MS Burger se Bloedfamilie (2012). LitNet Akademies, 22(1). https://www.litnet.co.za/die-abjekte-moeder-in-m-s-burger-se-bloedfamilie-2012 (21 Maart 2026 geraadpleeg.

Botha, F. 2026. Seuns weet. Pretoria: Protea.

Burger, MS. 2012. Bloedfamilie. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kleyn, L en S Kotzé-Myburgh (samests). 2013. Nuwe stories 2. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kotzé-Myburgh, S en L Kleyn (samests.). 2014. Nuwe stories 3. Kaapstad: Human & Rousseau.

Meyer, N en F Botha. 2020. Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Frederick Botha. LitNet, 19 Februarie. https://www.litnet.co.za/toyota-us-woordfeeskortverhaalbundel-2020-n-onderhoud-met-frederick-botha (21 Maart 2026 geraadpleeg).

Toyota US Woordfees. 2020. Aanhou beweeg en geraas maak (Woordfeeskortverhaalbundel). Stellenbosch. Hierdie skrywers is in die US Woordfeeskortverhaalbundel van 2020, Aanhou beweeg en geraas maak, opgeneem. https://woordfees.co.za/nuusmedia/hierdie-skrywers-word-in-us-woordfees-kortverhaalbundel-2020-opgeneem (21 Maart 2026 geraadpleeg).

Lees ook op LitNet

Bruwer, N en F Botha. 2014. Nuwe Stories 3: Onderhoud met Frederick Botha. LitNet, 16 Desember. https://www.litnet.co.za/nuwe-stories-3-onderhoud-met-frederick-botha (21 Maart 2026 geraadpleeg).

Meyer, N en F Botha. 2020. Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Frederick Botha. LitNet, 19 Februarie. https://www.litnet.co.za/toyota-us-woordfeeskortverhaalbundel-2020-n-onderhoud-met-frederick-botha (21 Maart 2026 geraadpleeg).

PEN Afrikaans. 2016. Internasionale erkenning vir die jong Afrikaanse skrywer Frederick J Botha. LitNet, 17 Augustus. https://www.litnet.co.za/internasionale-erkenning-vir-die-jong-afrikaanse-skrywer-frederick-j-botha (21 Maart 2026 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top