Internasionale erkenning vir die jong Afrikaanse skrywer Frederick J Botha

  • 0

frederikbothaPA650

Die 28-jarige Frederick J Botha het met sy kortverhaal “Please help, God bless” die langlys van ses vir die PEN International New Voices Award 2016 gehaal. PEN Afrikaans kon, soos alle van die meer as 100 PEN-sentrums wêreldwyd, twee jong skrywers (een manlik en een vroulik) tussen die ouderdom van 18 en 30 inskryf vir hierdie kompetisie.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat ’n kandidaat van PEN Afrikaans die langlys vir hierdie gesogte prys bereik. In 2015 was Carien Smith met haar kortverhaal “Likkewaan” op die langlys gewees.

Frederick J Botha is een van die draaiboekskrywers vir kykNET se sepie Getroud met rugby en ’n deeltydse dosent aan UWK se departement Afrikaans en Nederlands. Hy werk tans aan sy doktorsgraad in die Afrikaanse letterkunde onder leiding van Thys Human aan die NWU. Botha het in 2014 Human & Rousseau se Nuwe stories 3-kompetisie gewen met sy kortverhaal “The day Madiba died”.

PEN Afrikaans het Botha se “Please help, God bless”, saam met “SkugterDigter”, deur Lynné Schoeman, vir New Voices 2016 ingeskryf. Dié twee verhale is as wenners aangewys in ’n kompetisie wat PEN Afrikaans in November 2015 uitgeskryf het. Die inskrywings is deur Danie Marais (bestuurder van PEN Afrikaans), Anzil Kulsen en Izak de Vries gekeur. Sowel Kulsen as De Vries dien op die bestuur van PEN Afrikaans.

Vir deelname aan dié gerekende jaarlikse PEN International New Voices Award is Botha en Schoeman se kortverhale op PEN Afrikaanse se koste in Engels en Spaans deur onderskeidelik Marius Swart en Marta Behar vertaal.

PEN Afrikaans is dus saam met al sy skrywerslede verheug dat Botha se verhaal met sulke strawwe kompetisie hierdie langlys van ses gehaal het:

“Please Help, God Bless” deur Frederick J. Botha (PEN Afrikaans)
“In the Hearts of Green Birds” deur Robin Ganderton (Wales PEN)
“The Rat, and other poems” deur Stefan Kielbasiewicz (English PEN)
“Viertel-Neger” deur Julian Amankwaa (German PEN)
“Manifesto” deur Ioana Vintila (Romanian PEN)
“Dress, Rehearse” deur Laura Legge (PEN Canada)

Die kortlys van drie word binne die volgende weke bekend gemaak deur ’n internasionaal erkende beoordelaarspaneel waaronder die Vlaamse skrywer Annelies Verbeke, wie se roman Sleep! (2003) ’n internasionale topverkoper was, en die hoogaangeskrewe Kanadese skrywer, John Ralston Saul, wat tot verlede jaar die president van PEN International was. 

Die New Voices-toekenning 2016 sal op 28 September vanjaar by die 82ste jaarlikse PEN International-kongres in Ourense, Spanje, oorhandig word.

Die 2013-wenner van hierdie prys was PEN South Africa se kandidaat, Masande Ntshanga, wat intussen met sy romandebuut, The Reactive (2014), internasionaal opgang gemaak het. Sowel die publikasie- en filmregte vir dié roman is aan die Amerikaanse uitgewer Two Dollar Radio verkoop.

Vir verdere inligting, sien: http://www.pen-international.org/pen-internationalnew-voices-award/

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top