Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "The day Madiba died"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


The day Madiba died

Jare lank het mense bespiegel oor hoe dit sou afspeel. Die nag van die lang messe. ’n Blanke volk wat deur hul swart medelandsburgers uitgemoor en verkrag word, met die wit pasgeborenes se koppe wat teen die dik rubberbande van viertrekmotors papgeslaan word. Traktaatjies het ons gewaarsku oor die naderende onheil. Wees paraat broeders en susters. Wees op julle hoede medeuitverkorenes. Tref voorsorg geliefde stormjaers.

As ek omdraai, skiet my. As ek val, wreek my. As ek storm, volg my.

Die konserwatiewes het in die geheim taakmagte versterk en kerse en KOO-blikkieskos opgegaar in ondergrondse skuilings. Die liberales het hulleself probeer sus deur te glo dat sulke geweld onwaarskynlik is. Blote wolhaarstories. Want as dit wel sou gebeur, sou dit die einde van Suid-Afrika beteken. Binne sekondes sou die land internasionale opspraak maak, met alle bande wat onmiddellik verbreek sou word. En dan is die land presies waar hy veertig jaar terug was.

Die meerderheid was dit egter eens: dit sou ’n ingrypende dag in ons land se geskiedenis wees. Bekendes van oor die wêreld heen sou hulle onmiddellik na die land haas: Oprah Winfrey, die Dalai Lama, Barack Obama, Bono, Koningin Elizabeth, Pous Francis, en miskien selfs Charlize Theron. Die hele land sou ongetwyfeld tot stilstand kom, met daardie dag wat in die toekoms as nasionale vakansiedag gehuldig sou word.

Maar daardie dag het toe heel anders afgespeel as wat ek my ooit sou kon voorstel.

Die aand van 5 Desember stuur my pa vir my ’n SMS:

Nou net op die nuus gehoor Mandela se familie kom bymekaar by sy huis. Dit gaan blykbaar baie sleg met hom. Ek sien môre spesialis in PTA. Lief vir jou.

Dit is net ná 19:30 en hy is waarskynlik voor die televisie vasgenael met die aand se gebruikte eetgerei lui eenkant toe gestoot op die koffietafel. Ek staan buite my tuinwoonstel en rook en wonder hoe om op sy boodskap te reageer. Is dit bloot net nog een van die vele gerugte oor Mandela se toestand wat die volk in onsekerheid laat? Miskien moet ek histeries reageer met iets soos: O fok! Die kak gaan spat! Ek pak gou my tas en kry my paspoort, kry Pa oor ’n uur by die lughawe, of moet ons eerder een van die naaste grensposte probeer? Of miskien ’n geskokte reaksie, soos: Nee! Dit kan nie wees nie! Ons moenie vrees nie, die Here sal hom nog lank vir ons spaar. Ten spyte van ’n duisend dinge wat deur my kop flits, jare se ingeburgerde vrees deur ekstremiste en paranoïkusse, stuur ek die volgende boodskap terug:

Ai tog. Dalk sal hy dan uiteindelik tot ruste kom. Sterkte vir môre. Dink aan Pa. Laat weet van uitslae. Lief vir Pa.

Die bure braai vleis en anderkant die muur kan ek hulle gelag en gesels hoor. Dit is vertroostend en verbreek die angswekkende stilte van die verlate erf. Ek is alleen op die erf. Ek skiet my sigaretstompie onder een van die struike in, stap my woonstel binne en sluit onmiddellik die veiligheidshek agter my. Ek sit op die bank en ervaar absolute verlorenheid. Afgematheid. My finale punte is by die sekretaresse ingehandig en ek het geen werksverpligtinge meer nie. Ek begin terugdink aan die jaar wat so te sê op sy rug is. Dit was ’n besige jaar. ’n Jaar wat, Goddank, vol voorspoed was. Daar was die verhuising Johannesburg toe. Die uiteindelike onafhanklikheid van op my eie twee voete te staan. Die nuwe werk. Daar was die klasse aanbied; studiehandleidings skryf; vraestelle opstel en merk; honneursstudente begelei in hulle navorsing; as keurder vir literêre pryse optree; gemeenskapsprojekte; romans resenseer. Daar was die voltooiing van my meestersgraad. ’n Maandlange verblyf in België en Nederland as uitruilstudent. Die publikasie van my eie skeppende werk. ’n Besoek aan Kaapstad vir die boekbekendstelling. Baie nuwe vriende is gemaak. ’n Paar ou vriende is verloor. Meteens is daar niks van die jaar oor nie. My dagboek is skielik leeg en daar is geen lyste teen my muur geplak met afgehandelde sake wat ek tevrede kan afmerk nie. Al wat nou oor is, is die onrustigheid oor Pa wat sukkel met sy gesondheid. Prostaat.

Ek sluk vier pynpille ten spyte van die waarskuwing op die voubiljet. Ek klim in die bed en druk die koel lakens vas teen my vel. Terwyl ek insluimer kan ek sweer dat ek van veraf die bedwelmde ritmes van Afrika-tromme hoor. Nader en harder, nader en al hoe harder. Tot ek aan die slaap raak.

My kop voel dik en swaar toe ek die volgende oggend wakker word. Dit is reeds ná 08:00. Ek staan op, vat ’n sigaret en gaan buite toe om die nuwe dag te trotseer. Die eerste trek van die sigaret laat my longe brand. Ek kyk na my selfoon. Een Whatsapp-boodskap, drie BBM-boodskappe, vier Facebook-kennisgewings en een SMS. Ek begin by die SMS. Dis van my Pa:

Nou net op die kombuisradio gehoor Mandela is dood.

Die boodskap is in die vroeë oggendure om 00:17 gestuur. My eerste instinktiewe reaksie is verligting. Verlig dat die nag van die lang messe toe nie plaasgevind het nie? Verlig dat hy nou uiteindelik tot ruste kan kom?

Ek is skielik bewus van die ongunstige weer. Die dag is grys, bewolk en koud. Ek skiet my sigaretstompie onder dieselfde struik in en gaan word behoorlik wakker onder die stort. Aangetrek en gereed vir die dag wat geen beloftes inhou nie, sluk ek my roosterbrood saam met ’n koppie koffie af. My oë is op die televisieskerm gerig. Al vier die SAUK-kanale beeldsend dieselfde nuus. Huldeblyke van skok en ongeloof stroom in. Dokumentêre programme vertel weer die onreg van apartheid en die dapperheid van die struggle. Beelde van Robbeneiland en ’n triomfantelike Mandela en Winnie met hul vuiste omhoog.

Ek skakel my skootrekenaar aan en teken in op my Facebook-blad. Bykans elke derde Facebook-vriend betoon meegevoel, met die duidelike behoefte om deel te wees van hierdie geskiedkundige dag. Sommige Facebook-vriende laai foto’s van waar hulle saam met die groeiende massa roubeklaers voor Mandela se Houghton-huis versamel om kerse te brand en kranse met briefies neer te lê. My selfoon lui.

“Hallo Pa. Hoe gaan dit?”

“Nee, geen klagtes nie, my seun. En daar by jou?”

“Gaan ook goed dankie. Ek het pa se boodskap vanoggend gekry. Dis eintlik baie hartseer. Ek is juis besig om met ’n halwe oog na die programme op die televisie te kyk.”

“Ja, as dit jou tyd is, is dit jou tyd,” sê my Pa. “Ek bel net gou om te sê dat ek al halfpad op pad Pretoria toe is.”

“Baie sterkte Pa. Laat weet asseblief wat sê die spesialis sodra Pa tyd kry.”

“Sal so maak. Geniet jou dag en lief vir jou.”

“Dankie, lief vir Pa ook.”

Ek ry doelloos deur die strate. Geen sperdatums wat nagekom moet word nie. My motor neem my na Parkhurst, Greenside en Melville, maar die verbysterende energie, so eie aan hierdie voorstedelike buurte, is nêrens te bespeur nie. Die strate is vol mense, maar die nasie is in rou. Ek skakel die motorradio aan en steek nog ’n sigaret aan. Op 94.7 Highveld Stereo kondig die omroeper aan dat die radiostasie vandag deur die luisteraars beheer word – hulle kan bepaal watter liedjies gespeel word. Die bekende opgewektheid in sy stem ontbreek. Luisteraars bel met versoeke, opgedra aan die gestorwe oud-president en sy familie. Die dag word al hoe gryser en in die verte dreig onweerswolke met beloftes van reën.

Rashnie Maharaj van Randburg bel en versoek Luther Vandross se “Dance with my father again”. Ek rol my oë en vat nog ’n trek van my sigaret. Ek verpes die liedjie. Ek vind dit heeltemal té sentimenteel. Ek wonder hoe dit met Pa by die spesialis gaan.

“I dedicate this to our father of the nation. Tata Madiba, thank you for fighting for a beter future for us all,” sê ’n verdrietige Rashnie.

By die verkeerslig val die koerantverkopers my nie soos gewoonlik lastig en probeer my nie oortuig om die dag se jongste verslaggewing oor misdaad, korrupsie en moord te koop nie. Hulle beweeg eerder stil tussendeur die motors, met die boonste koerant van die vasgeknypte stapel se voorblad wat halflyf teen hul hang. Die voorbladnuus is egter duidelik: ’n kenmerkende Madiba-hemp duidelik sigbaar.

Nog ’n luisteraar bel en versoek Johnny Clegg en Savuka se “Scatterlings of Africa”. Ek voel hierdie liedjiekeuse is meer gepas. Ek tik my vingers ritmies op die maat van die musiek teen die stuurwiel.

And I love the scatterlings of Africa / Each and every one / In their hearts a burning hunger / Beneath the copper sun.

Later dra Ayanda Dhlamini van Centurion Alicia Keys se “Try sleeping with a broken heart” aan die Mandela-familie op. Heeltemal onvanpas, dink ek en gee ’n snorklag.

“The whole nation will definitely be sleeping with a broken heart tonight, Ayanda,” troos die omroeper nadat hy die liedjie gespeel het.

Craig Evans van Krugersdorp bel in en versoek “African dream” van Vicky Sampson.

I hear the sound of distant crying / The darkness multiplying / The weary hearts denied.

Ek kry hoendervel, draai die venster toe en probeer die huil in my keel wegsluk.

Cos’ in my African dream / There’s a new tomorrow / Cos’ in my African dream / There’s a dream that we can follow.

Dit is te veel vir bloed en vlees. Ek stuur die neus van my motor in die rigting van my tuinwoonstel.

By my woonstel aangekom druk ek die knoppie op die afstandbeheerder wat die motorhek laat oopgly. Nog ’n bedroefde luisteraar is op die lug besig om sy bewondering vir Mandela uit te spreek. Ek is al klaar geïrriteerd. Ek weet dat as ek nou die televisie gaan aanskakel, dit dieselfde beelde van vanoggend gaan vertoon.

Net toe ek my motor onder die afdak wou parkeer, versoek ’n luisteraar Bright Blue se “Weeping” en dra dit op aan die hele Suid-Afrika.

En vir die eerste keer in my lewe hóór ek daardie liedjie. Vir die eerste keer in my lewe verstaan ek iets van die struggle en die protesoptogte.

It doesn’t matter now / It’s over anyhow / He tells the world that it’s sleeping / But as the night came round I heard it’s lonely sound / It wasn’t roaring it was weeping.

Ek haas my binne en pantser myself weer met diefwering, veiligheidshekke, alarmstelsel en noodknoppie. Ek drink twee pynpille en gaan lê op die bed. Ek probeer myself afsny van die sirkus wat besig is om buite en regoor die wêreld af te speel.

Teen laatmiddag skrik ek wakker. My kop voel nog dowwer as vanoggend. Terwyl ek buite rook, pla dit my dat ek nie deel is van die rouende volk nie. Ek rook klaar, grawe die ou stompies onder die struik uit en gooi dit in die vullisblik. Ek skakel my skootrekenaar aan en teken weer op Facebook in. Ek probeer dink aan iets oorspronkliks, iets relevant om met die sosiale media te deel. Ek kan aan niks dink nie. Ek tik maar die volgende:

Die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld. Sonder ’n Pas – Ingrid Jonker, “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga”.

Miskien te voorspelbaar. Te geyk. Binne enkele oomblikke stel Facebook my in kennis dat daar reeds vyf mense is wat van my soetsappige gesteelde huldeblyk hou.

Ek teken uit en skakel my skootrekenaar af. My selfoon se skerm flikker. Nog ’n SMS van my pa af:

Nou eers by huis. Sal môre bel as ek bietjie kalmeer het en vertel wat die spesialis sê. EK IS BAIE LIEF VIR JOU SEUNA.

Daardie aand het ek gehuil. Miskien selfs ’n bietjie oor Madiba.

 


 

Lees die eerste weergawe van "The day Madiba died"

Lees die eerste keurverslag oor "The day Madiba died"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top