Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "The day Madiba died"

  • 0

The day Madiba died: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


’n Goeie keuse vir ’n verhaaltema, veral omdat oudpresident Mandela se dood nog vars in die geheue is – die verhaal is “current”, soos die Engelse sê. Die assosiasie met die refrein “The day the music died” uit “American Pie” vorm ’n interessante subteks, en dit word netjies geïntegreer deur middel van die verskillende aanhalings uit liedjies.

Die verhaal is ’n treffende voorbeeld van hoe die “groot wêreld” teenoor die “klein wêreld” gestel word, die universele teenoor die persoonlike. Terwyl ’n gebeurtenis van wêreldbelang die aandag oorheers het, was daar op 5/6 April 2013 ook “klein”, gewone mense wat persoonlike trauma beleef het, maar hulle skok en hartseer is as’t ware verswelg deur die groter en “belangriker” rouproses.

Jy werk slim met jukstaposisie: die ek-verteller se pa en die ikoniese oudpresident. Die nuus dat kanker by sy pa gediagnoseer is, is vir die ek-verteller die uitstaande gebeurtenis van daardie dag, nie Madiba se dood nie (hoewel hy probeer om laasgenoemde as hartseer te beleef soos die mense om hom via die media doen). Die nuus oor sy pa is wat hom die eerste keer laat huil, want die persoonlike weeg vir mense swaarder as gewigtige sake in die buitewêreld.

Hierdie verhaal het baie potensiaal, maar dit kort nog werk. My eerste aanbeveling is dat jy die lyfgedeelte van die verhaal in die historiese presens vertel en nie in die verlede tyd nie. Die historiese presens in Afrikaans is eintlik ’n wonderlike ding; dis soepel en vlugvoetig in vergelyking met die verlede tyd, wat ’n storie uitgerek en gedrae laat voel, asof die gebeure indirek beleef word. Anders gestel: die historiese presens gee ’n onmiddellikheid aan die vertelling, ’n gevoel van nóú.

Hoewel die hele verhaal ’n terugblik is en die verlede tyd streng gesproke nie verkeerd is nie, is die gebruiklike vertelstyl in Afrikaans dat jy in die verlede tyd begin vertel (soos jy hier doen), en sodra die plasing in tyd by die leser gevestig is, slaan jy oor na die gemakliker historiese presens. Die oorgang sal dus só lyk:

Maar daardie dag het heel anderste afgespeel as wat ek ooit sou kon dink. (skrap het).

Die aand (nie nag) van 5 Desember stuur my pa vir my ’n SMS.

My verdere aanbeveling is dat jy subtiele verwysings inbou ter voorbereiding van die klimaks van die verhaal (die nuus van die pa se gevorderde kanker). Byvoorbeeld dit noem dat die verteller ’n tyd lank al onrustig voel oor sy pa se gesondheid, maar dit weggeredeneer het. Dat hy deur die loop van die dag telkens wonder oor die uitslag van die doktersbesoek, maar dan die gedagte onderdruk. Die pa se storie en Madiba se storie loop as’t ware parallel, dis soos twee woldrade wat om mekaar vleg, maar die pa se draad moet sterker uitgebring word – vir die verteller is die nuus oor sy pa immers erger as die nuus oor Mandela se dood.

Daar is nog kleiner dinge in die verhaal wat aandag moet kry, maar ons sal in die tweede verslag daarna kyk.

 

Lees die eerste weergawe van The day Madiba died

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top