Nuwe Stories 3: Onderhoud met Frederick Botha

  • 0
Frederick J Botha

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Draalnoot vir ’n janfiskaal by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Frederick J Botha se verhaal "The day Madiba died" is bekroon as wenverhaal van verjaar se kompetisie.

Wat was die inspirasie agter jou verhale wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

"Antie en die engel" is losweg gebaseer op ’n ware storie wat ek lank terug gehoor het by ’n weldoener wat ’n ou vrou langs die pad opgelaai het, waar sy te voet op pad was na die naaste winkel om kruideniersware met haar laaste bietjie geld te gaan koop. Hierdie moderne storie van die barmhartige Samaritaan het my bygebly en gevra om geskryf te word. Die kreatiwiteit het egter oorgeneem en die storie het ’n lewe van sy eie aangeneem!

Ek het as eerstejaarstudent kennis gemaak met Jan Rabie se ikoniese kortverhaal, "Drie kaalkoppe eet tesame". Vandag doseer ek self letterkunde, en is hierdie verhaal van Rabie steeds een van my gunsteling-kortverhale om met my studente te behandel. Hierdie kortverhaal van Rabie het sodoende as inspirasie vir my verhaal, "Drie daggakoppe rook tesame", gedien. Die slot van my verhaal speel verder ook in op die slot van nog ’n verhaal deur ’n Sestiger: André P Brink se "Dertien". My kortverhaal dien as tipe dankbetuiging vir die invloed wat die Sestigers op die Afrikaanse letterkunde gehad het.

Die inspirasie agter "The day Madiba died" is vanselfsprekend die afsterwe van oudpresident Nelson Mandela en Suid-Afrikaners se uiteenlopende reaksies daarop, maar in die besonder veral een spesifieke reaksie. Dit was vir my opvallend hoe oudpresident Nelson Mandela se dood in die daaropvolgende dae byna alles in die wêreld verswelg het, met gewone mense se hartseer en verlies wat op die agtergrond geskuif was. Daarom wou ek die sogenaamde "groot wêreld", oftewel die universele, teenoor die "klein wêreld", of die persoonlike stel.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

In 2013 het ek aan die Nuwe Stories 2-kortverhaalkompetisie deelgeneem, waar die skawingsproses slegs deur middel van terugvoer via e-pos geskied het. Dit het die hele afrondingsproses baie uitdagend gemaak, aangesien dit ’n tipe digitale skryfskool sonder enige menslike interaksie was. Ons het hierdie jaar weer elektronies terugvoer ontvang om aan ons kortverhale te slyp, maar daar is ook twee werkswinkels aangebied: een in Pretoria en een in Kaapstad. Tydens die werkswinkel in Pretoria, wat deur Leti Kleyn aangebied was, het ons die geleentheid gekry om ons kortverhale te bespreek en idees onder mekaar uit te ruil. Ons was ook daaraan herinner hoe kortverhale werk en wat die skryf van ’n goeie kortverhaal behels. Die persoonlike interaksie tydens hierdie werkswinkel het die afronding van die kortverhale baie makliker gemaak aangesien ons ’n geleentheid gebied is om te gesels oor ons kortverhale en sodoende die kans gekry het om sekere aspekte daarvan deeglik te deurdink.

Suzette Kotze-Myburgh en Leti Kleyn se raad en kommentaar het die skawingsproses vir my ’n tipe ontdekkingstog gemaak – ’n opwindende proses waartydens ek nie net my kortverhale asof van nuut af ontdek nie, maar ook asof ek begelei word om my eie skrywerstem te vind. Behalwe vir die hulp van hierdie twee wonderlike keurders, het die volgende kritiese lesers ook gehelp met verdere skaafwerk: Dr Karen de Wet, Jo Prins, Réney Warrington, André Krüger, Ryno Eksteen en Bibi Burger.

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

Om te gaan sit en skryf. In daardie opsig is ek ’n baie lui en ongedissiplineerde skrywer. Ek sal vir dae, maande, selfs weke met die idee in my kop rondloop en die kortverhaal van hoek tot kant deeglik deurdink, maar die grootste uitdaging is steeds om myself voor my skootrekenaar te kry en net eenvoudig te begin skryf. Ek is sekerlik ’n meester as dit by die uitdink van verskonings kom, maar ek probeer die doseerwerk aan die universiteit, my doktorsgraad en my kreatiewe skryfwerk balanseer.

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

My woon- en werksomgewing het ’n tweeledige invloed op my. Mens sou dink dat ek as dosent by die universiteit slegs inspirasie vir akademiese skryfwerk uit my werksomgewing sal put, maar ek put eweveel inspirasie daaruit vir my kreatiewe skryfwerk. Johannesburg het ’n groot invloed op my skryfwerk en bied meer as genoeg insidente waaruit ek inspirasie kan put. Hiermee bedoel ek nie dat ek oor die stad skryf nie: my skryfwerk begin altyd by ’n idee/inspirasie wat mense, gebeurtenisse en situasies is. Die kosmopolitiese Johannesburg bied genoeg mense met ’n klomp stories. Die keersy van die munt is natuurlik dat mens nogal vasgevang kan word in hierdie doellose en konstante gejaag in die stad, wat daardie dissipline om te gaan sit en skryf nog moeiliker maak.

Wat lekker van Johannesburg is, is dat hier totale anonimiteit is – wat natuurlik die perfekte geleentheid skep om as skrywer ’n tipe kluisenaarsbestaan te voer en bloot af te loer en af te luister. Jy is baie bewus van al die ander mense om jou, maar julle is glad nie deel van mekaar se lewens nie. Verder put ek ook inspirasie uit musiek, films, en veral lees.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

"Skryf is ’n perversie, ’n swak gemaskerde omgang met eie begeertes" – Willem Anker (Uit: Siegfried).

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

Die kortverhaalbundel Alfabet van die voëls deur SJ Naudé.

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Op die oomblik lees ek Willem Anker se lankverwagte roman, Buys. Henry Jack Cloete se opwindende debuutroman, Draalnoot vir ’n janfiskaal, is my gunsteling- Afrikaanse boek wat die afgelope twee jaar verskyn het (miskien saam met Nathan Trantraal se digbundel, Chokers en Survivors).

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Ek is tans besig om aan my debuut-kortverhaalbundel te werk met die eerste weergawe wat hopelik volgende jaar voltooi sal wees. Ek probeer die skryf daarvan balanseer saam met die skryf van my doktorale tesis. Eendag sal ek ook my hand aan ’n roman, ’n toneelstuk en ’n filmdraaiboek wil waag. 

 

Lees die tweede weergawe van "Antie en die engel"

Lees die tweede weergawe van "Drie daggakoppe rook tesame"

Lees die tweede weergawe van "The day Madiba died"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top