
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Drie daggakoppe rook tesame
’n Drie-eenheid daggakoppe sit rondom ’n asbakkie op die vloer in ’n badkamer. Die lig in die badkamer vertoon dowwerig deur die rookwolk wat bo hulle hang. Dit herinner aan ’n wolkkolom wat die dromers verberg, met bleek wange en dooie oë wat hulle intellek misken. Die lywe van die daggakoppe is leweloos, moeisaam gestut teen die badkamermuur.
“Ons het ’n probleem,” sê die ou met die swart staalraambril en vat ’n trek van die joint. “Ek dink ons benodig ’n intervensie.”
“Dit het ’n gewoonte geraak.” Die meisie met die swart Joy Division t-hemp vat die joint by hom. “Ek kan nie ’n aand onthou wat ons nie hoog was nie.”
“Lekker Skinner se teorie,” sê die een met die tatoeëermerke op haar regter bo-arm. “Jou omstandighede bepaal jou gedragsgewoontes.” Sy vat ’n laaste trek van die joint, staan langsaam op, en druk dit dan in die wasbak dood.
“Watse omstandighede?” vra Swartraam.
“Ek wil net rook as ons drie saam is,” sê Joy Division.
“So ons kan nie meer vriende wees met mekaar nie?” vra Tats.
“Nee ons kan nie. Ons is sleg vir mekaar,” sug Joy Division.
“Fok jou!” Swartraam kom sukkelend orent. Hy strek om die badkamervenster oop te maak.
“Ag, haal tog net daai krultang uit jou hol.” Joy Division staan op, maak die badkamerdeur oop en gaan sit Brian Molko se stem harder in die slaapkamer, van waar hy nasaal oor ’n persoon se smaak in mans ween en wroeg.
“Lyk meer gelukkig seun, jy staan uit soos ’n emo met ’n seer klit.” Tats tel haar skouersak van die vloer af op en haal ’n pakkie Iced Zoo-koekies uit. “Mamma het koekies saamgebring.” Sy glimlag vertroostend vir hom.
“Ons moenie als eet nie,” sê Swartraam. “Ons moet vir later ook bêre.”
“Ek is nie meer twaalf nie, ek kan my hormone hanteer.” Tats gaan sit op die bad se rand.
Swartraam dink hy hoor ’n klop aan die deur. Dis die paranoia wat nou inskop, probeer hy homself gerusstel.
“Wel hulle kan nie sê ons het nie uithouvermoë nie. Ons hou uit met ons verslawing,” sê Swartraam en begin ’n Zoo-koekie wellustig eet. Hy vergeet om die krummels om sy mond af te vee. Hy gun homself geen verposing tussen elke nuwe koekie nie. Sy ken flap op en af terwyl hy vraatsig die versiersuiker van die koekie afwerk. Sy rooi gerookte oë verdwyn in die voue van sy wange wanneer sy mond oop gaap vir die volgende een. Joy Division kom terug, maak die badkamervenster en deur weer toe, en gaan sit langs Swartraam op die badkamervloer.
“Ek mis myself,” sug Joy Division.
“Ek mis my lewe.” Tats vryf oor haar ingekleurde bo-arm.
“Fok jou lewe,” sê Swartraam.
“Fok jou, jou knater!” verdedig Tats.
“Mens lewe net een keer, ons moet dit nie opfok nie.” Joy Division vryf haar rooi oë en smeer haar maskara. “Gaan gooi vir ons iets om te drink,” sê sy vir Swartraam. “My keel is so droog ek voel soos Amanda Strydom.”
“Gaan gooi julle in.”
“Nee jy moet, ons het die geld gegee om die koekies te koop,” sê Tats.
“Ek sal later, ek rook net gou klaar.” Swartraam steek lui ’n sigaret aan.
“Ek het so baie swart aan ek weet nie wat is wat nie,” sug Joy Division weer en neem ’n trek van Swartraam se sigaret.
“Skattie, jy weet nie wie jy is nie.” Tats begin vir Joy Division lag.
“Watookal,” vee Joy Division die belediging weg.
“Soms wonder ek of jy ’n patologiese leuenaar of net ’n moerse drama queen is,” beledig Swartraam terug.
“Dis die dagga man. Julle weet mos,” sê Joy Division.
“Hoog is nie ’n verskoning nie.” Swartraam voel hoe sweetdruppels op sy voorkop begin vorm. Hy verbeel hom hy voel naar.
“Ag kalmeer jy net vir my.” Tats neem die sigaret by hom en vat ’n trek.
“Ja, raak net bietjie rustig Pappa Beer,” sê Joy Division.
“Moet ons nog ’n sigaret skoonmaak?” vra Swartraam.
“Wil jy nóg rook?” vra Tats geskok.
“Hoekom nie?” sê Joy Division.
“Jissie, ek wil nie,” sê Tats.
“Ek is nie soos meeste ouens nie.” Swartraam druk sy sigaret dood en stut sy kop teen die badkamermuur.
“Nee, hel, ons gaan nie nou diep en filosofies raak nie.” Tats staan op van die bad se rand. “Polssnypoespoësie is só overrated.” Sy gaan staan voor die badkamerspieël en bekyk haar afgematte gelaat. “Jou probleem is jy is te onskuldig. Trek eerder jou baadjie uit, jongman.”
“Fok jou!” sê Swartraam geïrriteerd.
“Fok jou!” Tats kom sit saam met Swartraam en Joy Division op die badkamervloer.
“Ons het ’n probleem.” Swartraam raak ernstig.
“Ja ons het,” sê Joy Division. “Miskien is dit omdat ons almal se klere so styf sit.”
“Wat gaan ons doen?” vra Swartraam en laat sak sy kop in sy hande. “Ek dink nie ek gaan hierdie akademiese jaar maak nie.”
“Jy sal. Jy sal slaag.” Tats druk die leë pakkie Zoo-koekies terug in haar sak sonder om te besef dat nie sy of Joy Division daarvan geëet het nie. “En volgende jaar begin alles weer van voor af.”
“Ag, Here,” sê Swartraam. “Nog ’n bliksemse skripsie!”
“Ek kan niks onthou van die werk wat ons al gedoen het nie,” sê Joy Division.
“Ek ook nie,” sê Swartraam.
“Selfde hier,” beaam Tats. “All we’ve gained is weight.” Sy gluur Swartraam aan.
Swartraam tel die leë Energade-bottel van die vloer af op. Hy hou die bottel horisontaal met die oop gat van die bottel na hom gerig. Hy haat dit eintlik om joints te rook. Dis soveel beter met die bong, maar Tats kla altyd dit brand haar keel. Hy sit bietjie dagga bo-op die klein silwer steel wat in die bottel se kant ingedruk is. Toe vat hy sy aansteker en steek die dagga aan die brand. Dit doen hy terwyl hy die choke, die oop gaatjie wat hy aan die bottel se kant gemaak het, toedruk. Hy druk sy lippe teen die oopkant van die bottel en neem ’n diep trek. Hy lig sy vinger van die choke af. Wanneer sy longe vol is, verwyder hy vinnig die bottel, druk die gat waar sy mond was toe, en gee dit vir Joy Division aan. Daarna blaas hy die rook stadig uit. Hy besef dat hy die laaste van sy dagga opgerook het. Hy sal môre nog moet kry.
“Ek is nie die ander een nie,” sê Swartraam.
“Wat?” vra Tats.
“Jy is besig om ’n twak van jouself te maak,” sê Joy Division nadat sy ’n trek geneem het en die bottel op die vloer neergesit het toe Tats beduie sy wil nie meer rook nie.
Swartraam en Joy Division begin uitbundig lag.
“Ons is fuuuuuuucked,” giggel Swartraam tot hy uitasem tot bedaring kom. “Dit gee my die thrills!”
“Dis soos Casper de Vries,” sê Tats. “Dis nie baie mooi nie, maar dis snaaks.”
“Ek besef nou net dat in ’n gay-verhouding gaan een van die mans altyd stywer boudjies hê,” sê Joy Division. “Gays is basies net ouens wat nog opsoek is na die klitoris.”
“Ek dink ek kry ’n angsaanval.” Swartraam begin sy slapende bene omruil. Die gevoel van pins en needles skiet op tot in sy kop. “Het jy dalk vir my ’n Grandpa?” vra hy vir Tats.
“Ja. Hoeveel soek jy?” Tats begin in haar skouersak rondgrawe, maar vergeet waarna sy op soek is.
“Gee my sommer drie. Ek kan my Grandpas vat.” Swartraam knipoog vir Joy Division, vergeet van sy oorspronklike versoek en roep benoud uit: “Ek dink iemand het aan die voordeur geklop!”
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop,” fluister Joy Division.
“En as iemand my stem hoor en die de-ur oopmaaaaaak,” sing Tats.
“Wat de hel?” vra Swartraam en steek angstig nog ’n sigaret aan.
“Ja, jou nar! Dit staan iewers in die Bybel,” sê Joy Division.
“Ek dink dis ook ’n ou CSV-liedjie,” skerm Tats.
“Almal streef daarna om famous te wees,” verander Joy Division die onderwerp sonder om aandag aan Swartraam se paranoia te skenk.
“Ek wonder soms: moet jy nie “iets” hê om hemel toe te gaan nie?” vra Swartraam en vergeet van die klop aan die deur.
“Nee, fok. Ek sny nou sommer my polse met ’n CD van The Corrs,” sê Joy Division. “My oupa het laasweek wakkergeword ná sy middagslapie net toe die televisie wys hoe twee mans mekaar soen,” vertel Swartraam. “Hy het opgewonde uitgeroep, Byt hom, boetman!”
Die drie-eenheid beleef massahisterie.
“Vir my volgende verjaarsdag soek ek ’n Fireball-koek,” sê Tats.
“Dis nou ’n koek wat ek sal lek!” roep Joy Division.
Die drie-eenheid lag weer uitbundig. Tats haal ’n sticky note en ’n Bic-pen uit haar sak en begin ’n Choice-kondoom teken met die volgende slagspreuk in blokletters bo die kondoom: Some protection is better than none.
“Kuns hoef nie reg te klink nie.” Swartraam probeer intelligent klink wanneer hy dit sien maar begin om te giggel. “Die geheim is om te leer hoe om die kleur nege te ruik.”
“Don’t carry your heart on your sleeve,” sê Tats. “It will only get dusty.”
“Ek moet ophou rook.” Swartraam druk sy sigaret in die asbakkie op die badkamervloer dood. Onmiddellik steek hy nog ’n sigaret aan.
“Versigtig jong!” gil Tats. “Jy kan ’n skaap grill met daai vlam!”
“Ophou rook is nie soos gewig verloor nie,” sê Joy Division. “Aan die begin gaan dit nooit so vinnig nie.”
“Good things come to those who wait,” voeg Tats by. “People who wait die too early.”
“Stilte!” roep Swartraam. En fluister dan: “Iemand klop aan die deur.”
“Die tokkelos is hier,” grom Tats. Sy begin giggel en hou haar mond met haar hand toe. Swartraam kan sweer hy sien hoe ’n boog blinkers daaruit stroom.
“Ek dink iemand het die dagga gelace,” sê Swartraam bekommerd.
“Nee, man. Dis net goeie shit, dis al,” skater Tats. “Northern Lights.”
“Ek verkies White Widow,” sê Joy Division. “Californian Skunk is ook nie te sleg nie.”
“Het jou ma nie gevra hoekom jy weer by my kom kuier het nie?” vra Swartraam vir Joy Division.
“My verskoning is ons doen ’n taak,” knipoog Joy Division.
Tats sit haar hand op haar kakebeen: “Julle, ek voel glad nie lekker nie. Ek sweer my een tand kry koud.”
“Wil jy ’n kombersie vir jou tand hê?” vra Swartraam en lag uitbundig saam met Joy Division.
“Soos wat ’n vrou kan staan en pis, so sal mans eendag kan baar,” sê Joy Division.
Swartraam verloor homself vir enkele minute in die absolute stilte van ’n slaapdroom. Toe hy weer in die realiteit ontwaak, sien hy hoe Joy Division een van sy sigarette vir haarself aansteek. Net voordat sy die sigaret wil dooddruk, tel sy die asbakkie op en sit dit op haar regter bobeen wat bo-oor haar linkerbeen gekruis is. Sy mik skeef en druk die stompie sissend teen haar bobeen dood. Swartraam sien hoe die brandmerk deur haar skinny jean skroei tot op haar vel. Joy Division kyk Swartraam sonder enige emosie in die oë.
“Ek kan nie glo môre is weer Maandag nie,” sê Swartraam verward. “Every Monday is a mini Halloween,” en sien in sy verbeelding hoe hy met sy oë lirieke uit ’n Damien Rice-liedjie op Tats se rug tatoeëer. Hy hoor weer die klop aan die deur.
“Sjoesj! Het julle die klop gehoor?” vra Swartraam dringend maar word geïgnoreer.
“Ek wou nog altyd ’n undertaker gewees het, maar ek wou nog nooit die kis gedra het nie,” sê Joy Division. Haar bloedrooi naels brand Swartraam se oë.
“Jip, almal het daai iets wat net sê fok dit,” protesteer Tats.
“Solank jy net nie met ’n kartonbord op straat gaan staan en motorbestuurders lastig val met hoe jy toe uiteindelik alles opgefok het nie,” waarsku Swartraam. Hy voel hoe sy borskas yskoud begin raak. Sy ooglede raak swaar en sy tong begin hipersensitief prikkel.
“Ek het gister ’n bedelaar gesien wat beskuldigend op sy bord geskryf het, Enjoy jour life,” vertel Joy Division. “Die f van life was onseker bo-oor ’n v gekrap.”
“Ek verpes sulke nonsens,” sê Tats. “Ek het nou so erg munchies, ek eet sommer my regterbeen.”
“Soms word ek wakker nadat ek gedroom het dat ek ’n moerse voël het,” sê Swartraam. Hy wonder of dit sy maag of miskien Tats is wat so grom.
“Nee, sies,” sis Tats. “Ek ry geen voël nie, maak nie saak hoe groot hy is nie.”
Swartraam verbeel hom dat hy ’n swart kat op die vensterbak sien sit. Die kat rek sy bek in ’n miaau en Swartraam hoor: “Hallo!”
“Toemaar, ons weet jy het ’n voorhand,” grinnik Joy Division.
“Het nie alle ouens nie?” bulder Tats.
Swartraam besef dat Tats op ’n druppel water net soos Natalie Portman lyk.
“Koffie?” vra hy en voel hoe kolonies miere onder sy vel krioel. Verwilderd stap hy by die badkamer uit in ’n poging om van die malligheid te ontsnap.
In die kombuis skakel hy die ketel aan. “Ontspan, dis net ’n bad trip, dis al,” probeer hy homself troos. Toe hy omdraai om die koppies uit die kas te haal, kan hy sweer hy hoor die voordeur oopgaan. Toe hy die kasdeur toemaak en omdraai, sien hy dit. In die hoek van sy oopplanleefarea-woonstel, daar waar sy boekrak gewoonlik is, staan Humpty Dumpty. ’n Eierman met ’n kort koningsblou chino, ’n ingesteekte wit kortmou knopieshemp en bruin kruisbande. Op sy Eiermankop is daar ’n bruin koddige hoedjie. Eierman glimlag salig soos wat hy stadig na Swartraam aanstap. Wanneer Eierman voor Swartraam staan, steek Eierman sy hand aan sy kort eierarmpie uit en neem Swartraam se hand.
“Ek is die Messias,” sê Eierman. “Al wat jy moet doen is om te glo. Dis genoeg.”
Eierman stap voordeur toe. Net toe hy die deur begin oopmaak, skiet iets van buite deur die deur. Drie koeëls ontplof deur Eierman. En net voordat Swartraam koes, word hy verblind deur die skerp wit lig wat vanuit Eierman se koeëlgate stroom met die skrapnel wat hom tot op sy knieë dwing.
Lees die eerste weergawe van "Drie daggakoppe rook tesame"
Lees die eerste keurverslag oor "Drie daggakoppe rook tesame"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

