
Drie daggakoppies rook te same: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn
Wat werk?
Hoewel ek my bedenkinge het, is ek bereid om hierdie verhaal ’n kans te gee, omdat ek hoop dat dit ontwikkel kan word tot ’n goedgeskrewe stuk dwelmliteratuur. Dwelmliteratuur is ’n fassinerende subgenre wat (mits dit goed geskryf is) geweldig boeiend, ontblotend en brutaal kan wees.
Wat om te lees
- Dwelmliteratuur (kyk hier na die verskeidenheid): http://www.theguardian.com/society/2008/nov/16/drugs-history-literature
Waarom aan aandag te gee:
- Vergeet van die verkleingsvorm daggakoppies.
- Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
- Die wyse waarop die vertelperspektief (derdepersoon) aangewend word, skep probleme. Dit word ’n blote afsydige beskrywing van gebeure wat die leser nie in die verhaal intrek nie. Die leser is altyd ’n buitestander wat die drie karakters “aanskou” en die leser (grootliks) die sinnelose dialoog laat “afluister”. Dit kan effektief gebruik word as die verhaal selfs méér absurd, méér kripties, meer karikatuuragtig aangebied word, maar die skrywer kan ook oorweeg om ’n vertelperspektief aan te wend wat direk uit die dwelm-trip vertel.
- Die verhaal steun swaar op die dialoog – sinnelose daggakoppe-dialoog. Oortuigende dialoog “lees” en “klink” soos regte mense, maar is nie ’n direkte weergawe van “ware” gesprekke soos mens dit hoor as jy dit sou afluister en direk weergee nie. Hierdie klink net eenvoudig te veel na ’n regte gesprek wat bloot oorgeskryf is. Dit lees nie soos goeie verhaaldialoog nie.
- Kyk ook hoe die spreekbeurte afgewissel word en waak daarteen om aan die einde van elke spreekbeurt aan te dui, wie gepraat het en ’n beskrywing by te las. Soek die fyn balans tussen die wisseling en nodige beskrywings.
- Die dialoog raak al absurder na die einde toe, die insidente ook: die klop aan die voordeur (wat is die betekenis of beweegrede hiervoor? Dit dra nie by tot die gebeure in die verhaal nie). Die verdraaide uitdrukkings (bv. oor kuns; heart on your sleeve; Holloween) is nie snaaks, ironies óf intelligent nie. Wat dra dit tot die verhaal by?
- Meermale praat die meisies byna gelyktydig ... Niks is ooit toevallig in ’n verhaal nie – toeval het geen oortuigingswaarde nie.
- Die karakters (en die voortdurende beskrywings van die karakters, die Joy Divison-meisie, die een met die tatoeëermerk op die boarm, die een met die swartraam-bril) moet óf uitgebou word tot volronde karakters, óf meer karikatuuragtig aangebied word. Die beskrywings van die karakters is veel te lank en word te veel kere herhaal. Waarom nie net Joy Division, Tatoe/Tats en Swartraam [heroorweeg dalk] nie?
- Kyk na sinnelose stellings soos: “vergeet om die krummels van sy mond af te vee”, “verdwyn in die voue van sy wange”, “vryf haar oë en smeer haar grimering”, “Ag, kalmeer jy net vir my”, “Ag toe, raak jy nou net rustig vir my, jong man”, “klaar vergeet waarna sy opsoek is”. Die taalgebruik is by tye gewoon net swak en die beskrywings dra nie tot die verloop van die verhaal by nie.
- Die taalgebruik is nie konsekwent nie. Woorde soos “intervensie”, “outjies”, “boudjies” en “krultang” word saam met woorde soos “watookal”, “joint”, “fok”, “hol”, “klit”, “overrated” en “pins en needles” gebruik. Praat die karakters nou suiwer Afrikaans én Engfrikaans?
- ’n Verteller verraai homself deur die woordgebruik “moeë hoofde”.
- Na die einde toe begin die karakters al meer Engels praat – die verhaal begin dan met onoortuigende standaard Afrikaans. (Is die verhaal uit Engels na Afrikaans vertaal?)
- Wat is die rede vir die verwysings na figure soos Amanda Strysom, Casper de Vries en The Corrs?
- Die titel roep die “Drie kaalkoppe”-verhaal by die leser op. Dit skep dus vooraf verwagtinge vir die teks. Oorweeg weer die titel.
Lees die eerste weergawe van Drie daggakoppies rook te same
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

