Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Drie daggakoppies rook tesame"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Drie daggakoppies rook tesame

’n Drie-eenheid daggakoppies sit rondom ’n asbakkie op die vloer in ’n badkamer. Die lig in die badkamer vertoon dowwerig deur die rookwolk wat bo hul moeë hoofde hang. Dit laat dink aan ’n wolkkolom wat die drie dromers verberg, met bleek wange en dooie oë wat hul intellek misken. Die lywe van die daggakoppies is leweloos, moeisaam gestut teen die badkamermuur.

“Ons het ’n probleem,” sê hy met die swart staalraambril en vat ’n trek van die joint. “Ek dink ons benodig ’n intervensie.”

“Dit het ’n gewoonte geraak, outjies. Ek kan nie ’n aand onthou wat ons nie hoog was nie.” Die meisie met die swart Joy Division t-hemp vat die joint by hom aan.

“Lekker Skinner se teorie,” sê die een met die tatoeëermerke op haar regter boarm. “Jou omstandighede bepaal jou gedragsgewoontes.” Sy vat ’n laaste trek van die joint, staan langsaam op, en druk dit dan in die wasbak dood.

“Watse omstandighede?” vra hy.

“Ek wil dit net rook wanneer ons drie saam is,” sê die Joy Division-meisie.

“So ons kan nie meer vriende wees met mekaar nie?” vra die een met die getatoeëerde boarm.

“Nee, ons kan nie. Ons is sleg vir mekaar.”

“Fok jou!” sê hy en kom sukkelend orent terwyl hy strek om die badkamervenster oop te maak.

“Ag, haal tog net daai krultang uit jou hol,” sê die Joy Division-meisie. Sy staan op, maak die badkamerdeur oop en gaan sit Brian Molko se stem harder in die slaapkamer, van waar hy nasaal oor ’n persoon se smaak in mans ween en wroeg.

“Lyk meer gelukkig, seun, jy staan uit soos ’n emo met ’n seer klit,” sê die meisie met die tatoeëermerke. Sy tel haar skouersak van die vloer af op en haal ’n pakkie Zoo-koekies uit. “Mamma het koekies saamgebring,” sê sy en glimlag vertroostend vir hom.

“Ons moet nie als eet nie,” sê hy. “Ons moet vir later ook bêre.”

“Ek is nie meer twaalf nie, ek kan my hormone hanteer,” sê sy en gaan sit op die bad se rand.

“Wel, hulle kan nie sê ons het nie uithouvermoë nie. Ons hou uit met ons verslawing,” sê hy en begin ’n Zoo-koekie wellustig te eet, en vergeet om die krummels om sy mond af te vee. Hy gun homself geen verposing tussen elke nuwe koekie nie. Sy ken flap op en af terwyl hy vraatsig die versiersuiker van die koekie afwerk, met sy rooi gerookte oë wat verdwyn in die voue van sy wange wanneer sy mond oopgaap vir die volgende een. Die ander meisie, geklee in die Joy Division t-hemp, kom terug, maak die badkamervenster en deur weer toe, en gaan sit langs hom op die badkamervloer.

“Ek mis myself,” sê sy.

“Ek mis my lewe.” Die meisie met die tatoeëermerke vryf oor haar ingekleurde boarm.

“Fok jou lewe,” sê hy.

“Fok jou, jou knater!”

“Mens lewe net een keer, ons moet dit nie opfok nie.” Die Joy Division-meisie vryf haar rooi oë en smeer haar grimering. “Gaan gooi vir ons iets in om te drink. My keel is so droog, ek voel soos Amanda Strydom.”

“Gaan gooi julle in.”

“Nee, jy moet, ons het die koekies gebring,” sê die twee meisies byna gelyktydig.

“Ek sal later, ek rook net gou klaar,” sê hy en steek ’n sigaret aan.

“Ek het so baie swart aan ek weet nie wat is wat nie,” sê die meisie in die swart Joy Division t-hemp, en neem ’n trek van sy sigaret.

“Skattie, jy weet nie wie jy is nie,” sê die meisie met die tatoeëermerke en begin vir die Joy Division-meisie lag.

“Wat ook al.”

“Soms wonder ek of jy ’n patologiese leuenaar of net ’n moerse drama queen is,” sê hy vir die Joy Division-meisie.

“Dis die dagga, man. Julle weet mos,” sê sy.

“Hoog is nie ’n verskoning nie,” sê hy.

“Ag, kalmeer jy net vir my.” Die getatoeëerde meisie neem die sigaret by hom en vat ’n trek.

“Ja, raak net bietjie rustig, Pappa Beer.”

“Moet ons nog ’n sigaret skoonmaak?” vra die Joy Division-meisie.

“Wil jy nóg rook?” vra hy geskok.

“Hoekom nie?” sê die meisies weereens byna gelyk.

“Outjies, ek wil nie,” sê hy terwyl hy voel hoe sy wêreld stelselmatig begin draai.

“Ag toe nou, raak jy net vir my rustig, jongman.”

“Ek is nie soos meeste ouens nie,” sê hy en stut sy kop teen die badkamermuur.

“Nee hel, ons gaan nie nou diep en filosofies raak nie,” sê die meisie met die tatoeëermerke en staan op vanaf die bad se rand. “Polssnypoespoësie is só overrated.” Sy gaan staan voor die badkamerspieël en bekyk haar afgematte gelaat. “Jou probleem is jy is te onskuldig. Trek eerder uit jou baadjie, seuna.”

“Fok jou!” sê hy geïrriteerd.

“Fok jou!” Sy kom sit saam met hulle op die badkamervloer.

“Ons het ’n probleem, outjies,” sê hy.

“Ja, ons het,” sê die Joy Division-meisie. “Miskien is dit omdat ons almal se klere so styf sit.”

“Wat gaan ons doen?” vra hy en laat sak sy kop in sy hande. “Ek dink nie ek gaan hierdie akademiese jaar maak nie.”

“Jy sal. Jy sal slaag,” sê die meisie met die tatoeëermerke en druk die leë pakkie Zoo-koekies terug in haar sak. Sy besef dat nie sy of die Joy Division-meisie daarvan geëet het nie. “En volgende jaar begin alles dan weer van voor af.”

“Ag, Here,” sê hy met die swart staalraambril. “Nog ’n bliksemse skripsie!”

“Ek kan niks onthou van die akademie wat ons die jaar al gedoen het nie,” sê die Joy Division-meisie.

“Ek ook nie,” sê hy.

“Selfde hier,” sê die meisie met die tatoeëermerke. “All we’ve gained is weight,” sê sy en gluur hom aan.

“Ek is nie die ander een nie,” sê hy met die swart staalraambril.

“Wat?” vra die fronsende meisies.

“Jy is besig om ’n twak van jouself te maak,” sê die Joy Division-meisie.

Die drie-eenheid daggakoppies begin uitbundig lag.

“Ons is fuuuuuuucked,” sê hy met die swart staalraambril wanneer hy uitasem tot bedaring kom. “Dit gee my die thrills!”

“Dis soos Casper de Vries,” sê die getatoeëerde meisie. “Dis nie baie mooi nie, maar dis snaaks.”

“Ek besef nou net dat in ’n gay verhouding gaan een van die mans altyd stywer boudjies hê,” sê die Joy Division-meisie. “’Gays is basies net ouens wat nog op soek is na die klitoris.”

“Ek dink ek kry ’n angsaanval,” sê hy en begin traag sy bene wat slaap, omruil, sodat die gevoel van pins en needles opskiet tot in sy kop. “Het jy dalk vir my ’n Grandpa?” vra hy vir die getatoeëerde meisie.

“Ja, ek het. Hoeveel soek jy?” vra sy en begin in haar skouersak rondgrawe, terwyl sy al klaar vergeet het waarna sy op soek is.

“Gee my sommer drie. Ek kan my Grandpa’s hanteer,” sê hy en knipoog vir die Joy Division-meisie en vergeet van sy oorspronklike versoek.

“Ek dink iemand het aan die voordeur geklop,” sê die Joy Division-meisie benoud.

“Almal streef daarna om famous te wees,” sê die getatoeëerde meisie sonder om aandag aan die ander een se paranoia te skenk.

“Ek wonder soms: moet jy nie “iets” hê om hemel toe te gaan nie?” vra hy.

“Nee, fok. Ek sny nou sommer my polse met ’n The Corrs-CD,” sê die Joy Division-meisie.

“My oupa het laas week ontwaak vanuit sy middagslapie net toe daar ’n toneel op die televisie wys waar twee mans mekaar wellustig soen. Hy het opgewonde uitgeroep: “Byt hom, boetman!”

Die drie-eenheid beleef massahisterie van die gelag.

“Vir my volgende verjaarsdag soek ek ’n Fireball-koek,” sê die getatoeëerde meisie.

“Dis nou ’n koek wat ek sal lek!” roep die Joy Division-meisie.

Die drie-eenheid lag weer uitbundig. Die getatoeëerde meisie haal ’n sticky note en vulpen uit haar sak, waarop sy die omhulsel van ’n Choice-kondoom teken met die slagspreuk in blokletters onderaan die sticky note, Some protection is better than none.

“Kuns hoef nie reg te klink nie,” sê hy wanneer hy dit sien en begin om te giggel. “Die geheim is om te leer hoe om die kleur nege te ruik.”

“Don’t carry your heart on your sleeve,” sê die getatoeëerde meisie. “It will only get dusty.”

“Ek moet ophou rook,” sê hy en druk sy sigaret in die asbakkie op die badkamervloer dood. Onmiddellik steek hy nog ’n sigaret aan.

“Versigtig, seuna!” gil die getatoeëerde meisie. “Jy kan ’n skaap grill met daardie vlam!”

“Ophou rook is nie soos gewig verloor nie,” sê die Joy Division-meisie. “Aan die begin gaan dit nooit so vinnig nie.”

“Good things come to those who wait,” sê die getatoeëerde meisie.

“People who wait die too early,” sê hy.

“Stilte!” roep die Joy Division-meisie.

“Die tokkelos is hier,” fluister die getatoeëerde meisie en begin giggel terwyl sy haar mond met haar hand probeer toehou.

“Het jou ma nie gevra hoekom jy weer by my kom kuier het nie?” vra hy vir die getatoeëerde meisie.

“My verskoning is ons doen ’n taak.”

“Julle, ek voel glad nie lekker nie,” sê die Joy Division-meisie. “Ek sweer my een tand kry koud.”

“Wil jy ’n kombersie vir jou tand hê?” vra hy en lag saam met die getatoeëerde meisie.

“Soos wat ’n vrou kan staan en pis, so sal mans eendag kan baar,” sê die getatoeëerde meisie.

“Ek kan nie glo môre is weer Maandag nie,” sê hy.

“Every Monday is a mini Halloween,” sê die getatoeëerde meisie.

“Ek wou nog altyd ’n undertaker gewees het, maar ek wou nog nooit die kis gedra het nie,” sê die Joy Division-meisie.

“Jip, almal het daai iets wat net sê fok dit,” sê die getatoeëerde meisie.

“Solank jy net nie met ’n kartonbord op straat gaan staan en motoriste lastig val met hoe jy toe uiteindelik alles opgefok het nie,” sê hy.

“Ek het gister ’n bedelaar gesien wat onderaan sy bord beskuldigend geskryf het: Enjoy jour life,” sê die Joy Division-meisie. “Die f van life was egter onseker bo-oor ’n v gekrap.”

“Ek verpes sulke nonsens,” sê die getatoeëerde meisie.

“Soms word ek wakker nadat ek gedroom het dat ek ’n moerse voël het,” sê hy.

“Nee, sies,” gril die getatoeëerde meisie. “Ek ry geen voël nie, maak nie saak hoe groot hy is nie.”

“Toemaar, seuna, ons weet jy het ’n voorhand,” troos die Joy Division-meisie.

“Het nie alle ouens nie?” vra die getatoeëerde meisie.

“Koffie?” vra hy en stap kwaad by die badkamer uit.

Die volgende oggend kom vee en mop die bediende van die een met die swart staalraambril sy vuil badkamervloer. Sy gooi die drie daggakoppies se asbakkie-drome in die vullisblik, besmet met die oorskot van die realiteit. Sy maak die badkamervenster wyd oop en maak die badkamer skoon vir die volgende aand se rokery.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top