
Boekomslag: Breytenbach Sentrum
Joan Hambidge op 70
Huldigingsrede, Tuin van Digters, 11 September 2026
In hierdie “Oop boek”-bydrae tree Karen de Wet met Joan Hambidge se poësie in gesprek.
I
Met ’n kniebuiging na Asindeton, Joan Hambidge se bundel uit 2024, sit ek graag hierdie huldigingsrede, op haar 70ste verjaarsdag opgedra aan haar by die Tuin van Digters, ook asindeties in:
Groter as lewensgroot. Onblusbare energie, flink skrywerspen, ruim brein, vlymskerp intellek, uitdagende ondersoeker, gerekende resensent, rustelose nomaad, meedoënlose opstuurder, mededeelsame skryfkunsmentor, bedrewe studieleier – klein hartjie, gul skaterlag.
Joan Helene Hambidge. Joan 70.
Nie met ’n kredo nie, maar met ’n matriks, ’n indeks, en in die verstekmodus van visums, kom sy na die Afrikaanse poësie. Soos uiteenlopend in vele selfrefleksiewe gedigte in haar oeuvre geïllustreer staan:
Ek is
my parenteses
my aanhalings veelvuldig
my medaljes sertifikate en so meer
min of meer
ek is my dubbelpunte
verswygings verdraaiings verbye
vertolkings en versmagtings
meer of min
verliese verdriete verlatings
ballades vrye verse sommer die hele boksemdais
kommas kommapunte en so meer
ek min nie meer meer nie min
nie in iets nes ’n gedoemde sonnet
of iets wat ruik nes ’n ek-is-dalk-hier
(Amberkamer, bl 223)
Matriks
Ek is ek is op
my eie sofa
my eie analis
luisterend
na die analisant
vis na klarigheid
Ek is ek is
op soek na stilte
dansend derwies
Rumi in ’n sirkel
Ek is ek is
op weg van pyn
mis-
lukking
ingeslukte woorde
my tong uitgesny
Ek is ek is
op pad om te sien
hoe die digkuns se matriks
die gietvorm
moedervorm
deur letterparades
van die Ek
ontset word
(Amberkamer, bl 124)
Dames en here, so in September, en juis by die Breytenbach Sentrum, stel ek u vanaand graag voor aan die digter met die La Coste-hemp, die Mont Blanc-pen en die ongeduld met dubbelpraat. By ’n swierige geleentheid waar Joan betrokke is, moet jy uitkyk, soos Fourie Botha sê: Iewers sal daar ’n krokodilletjie in gouddraad op ’n lapel geborduur pryk.1
’n Kollega deel onlangs hierdie staaltjie met my – vir die reine waarheid. Dit was tydens ’n skemeronthaal op Naspers se befaamde dak. Joan is lid van daardie uitgewerstal; sy is teenwoordig as skrywer. ’n Persoon wat in TV werk, maak met haar praatjies. “Mevrou, is jy ’n skrywer, uitgewer dalk?” vra sy. En nou weet ek nie of hier nog iemand in die gehoor is wat Cobus Robinson se radiostem uit my kinderdae met Skote Petoors kan onthou nie, die Afrikaanse Radio-weergawe van Twenty questions of so, maar ek dink die antwoord moet min of meer só klink: “Ek – is – ’n – dig – ter, ’n dig – ter.” Maar Joan sê sedig, in daardie ruim operastem: “Nee, ek is ’n balletdanser.”
Dames en here, meneer die seremoniemeester, Danie Marais, die voorsitter van die direksie van die Breytenbach Sentrum, mnr Louis Duvenage, die uitvoerende bestuurder en feesorganiseerder, André Terblanché en die kurator van die 13de Tuin van Digters, Bibi Sippers ... goeienaand.
In haar poësie skryf Joan Hambidge heelwat oor 9/11, die ramp van die tweelingtorings in New York. Waaroor sy minder skryf, is dat dit ook haar verjaarsdag is. Baie geluk, Joan! En baie welkom aan jou as eregas, die digter wat in hierdie jaar, 70 jaar ná jou geboortedag aan die begin van die lente in die Noord-Kaap, by die Tuin van Digters gehuldig word.
Om aan die woord te kan kom oor Joan Hambidge is bepaald ’n voorreg, maar inderdaad ook ’n uitdaging. Mens moet diep asemhaal en, wel, op jou tone dans. Op pointes, en garde en op soek na die patrone van die pointillis2 in haar oeuvre.
Die een sy van die januskop
kyk terug na wat was;
die ander vooruit
na wat woorde kan vermag.
(Amberkamer, bl 41)
Die probleem wat opduik wanneer mens Joan Hambidge, skrywer, digter, romansier, reisiger, reisskrywer, rubriekskrywer, polemikus, kritikus, literatuurteoretikus, postmodernis en nog wat, bekend wil stel, is dat waar sy nie self reeds alles gesê het nie, iemand anders dit al goed gedoen het. Die lys oorsigte en bestekopnames oor en aan die hand van Hambidge se oeuvre is nogal lank,3 en daarby kan die aansienlike korpus tekste wat die resepsie van haar digoeuvre verteenwoordig, gevoeg word. Een manier om Hambidge se bydrae te belig, is om haar in en deur haar poësie bekend te stel, die poësie aan die woord te stel.4
Die net van Hambidge se poësie span wyd, van ekfrastiese verse tot elegieë, van parodieë en palinodes tot portretgedigte en ars poeticas. In elke Hambidge-bundel is daar iewers ’n intertekstuele verwysing, of ’n uitgebreide digterlike gesprek; in haar gedigte ’n durende ondersoek na die aard en kuns van die poësie. Vir hierdie geleentheid het Laurinda Hofmeyr ’n toonsetting gemaak van die “Ars poetica” in Meditasies – die een waarin die spreker-digter al vlugtende weg van eensaamheid en pyn gedryf word na
hierdie klein brose ding,
genaamd ’n gedig ...
Die digter sal as “eenling”, sê die gedig, die pyn-geïnduseerde gom van bome sny, sodat daardie gom, deur ’n moeisame, langsame proses tot gefossileerde hars kan vorm, die ligdeurdrenkte amber van die gedig.
Ars poetica
Stilte, eensaamheid
dryf haar van geboorte af
van wieg tot kis:
soekend na ’n ander
se aanraak of troos.
Op verskeie reise,
vlugtend van om verlaat-te-wees,
weg van pynlike ervarings,
terug tot in ’n andersoortige kissie:
hierdie klein brose ding,
genaamd ’n gedig,
nes die amberkamer
in die Catherine-paleis.
Te vertelle,
eenling is jy gebore,
en só sal jy die gom
van die bome sny.
(Amberkamer, bl 122)
II
Joan Hambidge is al beskryf as flambojant,5 ’n normdeurbreker en grensoorskryder, en iemand met ’n aggressief kritiese ingesteldheid en vlymskerp intellek. Polemies, omstrede en selfs strydlustig.6 As l’enfant terrible van die Afrikaanse letterkunde, onkonvensioneel en konfronterend.7 ’n Stormvoël.8 ’n Steurvis.9 Afgesien daarvan dat stormvoël en steurvis so mooi klink, kom die metafore goed te pas. Die beskrywing “stormvoël” is Petra Müller se vinding, byna 20 jaar gelede, wanneer sy skryf oor Koesnaatjies vir die proe:
Joan Hambidge speel in ons lettere tans die rol van die kwajong, die breker, die raasbek, die grensoorskryder […] As daar al ooit ’n stormvoël was, is dit sy. Maar sy bedryf ook […] die “ligtende erns” – ’n noodsaak in ons somber omtes.10
As gevolg van Müller kan mens nie meer eerste opmerk dat Joan Hambidge ’n rara avis is nie – sy ís; en ook nie eerste opmerk dat sy eksoties en produktief is soos daardie eweneens rare, prehistoriese, lewendefossielvisse wat kaviaar produseer nie – want dit weer was Johann de Lange se beskrywing in ’n gedig uit 1990 in Wordende naak:
Sy is ’n steurvis:
bundels en verse
puil uit haar buik,
die geilste kaviaar.
Tien jaar later, in Lykdigte wat in 2000 verskyn, antwoord Hambidge hierop met “Versugting” (Amberkamer, bl 39):
Versugting
Ek wens ek kon nog poësie soos ’n charlatan bedryf!
Hoe mis ek nie my eertydse gehoer met dié bedryf!
Hoe verse uit my spoel: swart ink uit ’n vis,
ryk kaviaar uit ’n beloega.
Reis na reis het ek in gedigte gekarteer,
in woorde opgevang elke slopende liefdeservaring.
En min my gesteur aan aanwysings soos:
’n oortollige byvoeglike naamwoord
kan die gedig doodmaak; of: te veel afduik
in die onbewuste kan die muses ontwrig.
Boonop verse vóór ervarings
uitgefok. So slu soos die houtjie
van die galg. Iets soos die kluitjie in die riet.
Nog minder gehoor: digter hou jou by jou lees!
Bly privaat, weg van blootstelling
of die pers se uitflap, uitpraat, uitbraak.
Nou spoel ek weerloos terug in my verse.
Is dit ál wat my beskerm
teen die laaste afgrond, teen die groot ongelyk:
teen hierdie ondraaglike, onsêbare,
onnoembare ding genaamd:
die lewe.
III
Statistiek in die poësie is gevaarlik, want alles hang af van hoe jy tel. Ek is ’n voorstander van inklusiewe en holistiese beskouings, die hele prentjie. As mens Hambidge se poësie-oeuvre bekyk, waarvoor ons haar vanaand hier huldig, is dit nou die 42ste jaar waarin sy digbundels publiseer: van Hartskrif in 1985 tot Orfeus in die buitenste ruim in 2026. En dan tel dit baie mooi op tot 30 bundels – 15 uit die 20ste eeu (1985–2000 Hartskrif tot Lykdigte) en 15 (wel, tot dusver) in die 21ste eeu (2002–2026, Ruggespraak tot Orfeus in die buitenste ruim). Die indeling wat die gedigte tussen twee eeue verdeel, is nie somaar speletjies met getalle en lukraak nie. As mens die bundels en die gedigte beskou, kan ’n duidelike ratverandering in die oeuvre bespeur word rondom Lykdigte, wat boonop verskyn in die jaar 2000, die jaar van soveel oorgange en veranderinge, ook wat die Afrikaanse poësie betref.
Ek het verwys na inklusiewe benadering. Hambidge, “aartspostmodernis wat sy is”,11 het twee bundels laat verskyn wat in een band gebind is tesame met ’n ander teks – “hibriede boeke” noem sy dit: die dubbeldoor-roman-digbundel Palindroom / Koesnaatjies vir die proe: speelse, spulse en stukkende verse en die pas verskene deelpublikasie met Johann Lodewyk Marais, In memoriam Johann de Lange. Die versameling verse in hierdie boeke is bundels uit eie reg – elk met ’n eie titelblad en ’n volledige stel gedigte, en vertoon telkens kenmerke van eenheidsdigbundels. Dit behoort ’n regmatige plek in te neem as deel van haar poësie-oeuvre, as volwaardige bundels beskou, en só getel te word. ’n Ander bundel wat ’n hibriede aard vertoon, is Visums by verstek, wat om die helfte reisverse uit vorige bundels en nuwe reisverse bevat. Waarskynlik as gevolg van die subtitel, wat die bundel beskryf as ’n “keur” uit Hambidge se reisverse, word Visums by verstek dikwels ter wille van die helfte van die gedigte wat reeds elders gebundel is, as ’n versameling beskou en nie as ’n digbundel en deel van haar oeuvre digbundels getel nie. In The coroner’s wife, die antologie met Hambidge-gedigte in Engels vertaal, word Visums by verstek wel aangedui as ’n bundel waaruit verse opgeneem word. Dit is ook die geval met Amberkamer, terwyl mens ook moet onthou dat Visums by verstek die ATKV Poësieprys vir 2012 ontvang het.12
Dit is tipies Hambidge om reëlmaat te ontduik, konvensie om te keer, ook deur bundels te publiseer wat só ’n dubbelaard het dat dit nie net op een manier beskryf hoef te word nie, op net een plek hoef in te pas in die legkaart van haar poësie en oeuvre nie. Hambidge is natuurlik ook meester van die ingebedde gedig, om voorlopig so daarna te verwys. Merendeels vorm ’n nuwe gedig deel van die rubrieke en huldigings, die perspektiewe op die digkuns wat sy skryf; of laat sy gedigte deelneem aan haar romans, soos in Kladboek, waarin verse soos korente in die teks opduik. Hierdie verspreide gedigte, moontlik ook geleentheidsgedigte, en verder ook tydskrif- en podiumgedigte wat op verskillende tye op onder andere LitNet en Versindaba, en in Literator en Tydskrif vir Letterkunde verskyn het, of op Hambidge se blog, Woorde wat weeg, behoort nog nagegaan te word: op soek na die ongebundelde Hambidge.
Terwyl Kladboek nou ter sprake gekom het, ’n kort kanttekening oor Hambidge se romans midde-in ’n huldiging vir haar poësie-oeuvre: In Oktober sal daar nog rede en geleentheid wees om Hambidge geluk te wens. Ná die drieluik- satiriese romans wat reeds uit haar pen verskyn het,13 was Kladboek die tweede roman, ná Die judaskus en voor Stasies, van ’n vierluik14 wat binnekort voltooi word wanneer Hart sonder hawe in Oktober as die sluitroman verskyn.
Ná hierdie kort motivering ten gunste van ’n inklusiewe telling van Hambidge se digbundels kan ons ’n verdere blik op haar oeuvre kry via getalle.
In Joan Hambidge se poësie-oeuvre van gebundelde gedigte verskyn daar in die 20ste eeu min of meer 736 gedigte, en 993 gedigte in die 21ste eeu.15 Maar in haar vroeëre oeuvre, soos ek dink mens met reg na haar gedigte uit die 20ste eeu kan verwys, en waaroor die resepsie en literatuurgeskiedenisse goed verslag lewer, was daar fisies minder tyd om in te dig: net 15 jaar, terwyl ons nou al verder as ’n kwarteeu diep ná 2000 is. Die vroeëre Hambidge se bundels was dunner, die gedigte korter. Soos Antjie Krog in Lady Anne skryf: “my poësie blink soos ’n voormalige hoer / langs die slimline mannekyne uit Palinodes.”16
En alhoewel Hambidge reeds vanaf die begin van haar digterskap ’n belangstelling in die reeksvers toon, word dit al hoe meer ’n verstegniese kenmerk van haar gedigte ná 2000. Met dikker bundels en aansienlik langer gedigte oor meer jare is dit verstommend, as mens dan moet tel, hoe konstant haar produksie as digter, afgesien van al haar ander skryfwerk, gebly het: in die 20ste eeu ’n gemiddeld van 46 gebundelde gedigte per jaar, en ná Lykdigte ongeveer 40 gedigte per jaar. Deur die afgelope vier dekades, dus, nagenoeg 1 750 gedigte. Inderdaad, soos sy vroeg in haar oeuvre in Palinodes (1987) skryf:
Ek lewe met ’n drif
ter wille van dié skrif –
omrede die durende
koors genaamd poësie.17
Ek het dit oorweeg om die 30 Hambidge-digbundels se rakspasie te meet teenoor die rakspasie van sê maar Breytenbach, waar ons so digby 16 September in die Breytenbach Sentrum nogmaals ’n digtersfees kan hou. Mens sou dieselfde kon doen met Eybers, met Cussons, met Krog, met Boerneef, Uys Krige, TT Cloete, DJ Opperman, NP Van Wyk Louw. Almal digters met wie Hambidge in gesprek tree, en wie se ars poeticas sy ondersoek. Die huldiging van ’n digter gaan egter tog nie oor hoevéél nie, maar oor hoe góéd, hoe sinvol, hoe suksesvol, met watter bydrae, watter impak. Waar vibreer die web, hoe brei die sisteem van die poësie uit, die literêre veld? Peter Blum word gereeld deur Hambidge opgeroep as gespreksgenoot, maar sy rakspasie tel onder dié wat die heel smalste is. Hierteenoor kan mens dink aan Daniel Hugo, ook ’n besonder produktiewe digter met minstens 18 digbundels sedert die tagtigerjare, ’n meester van kwatryne en die speelse vers, en eweneens ’n bedrewe parodis. In die paradigma van Hambidge as digter geïnteresseerd in die postmoderne, in die literêre sisteem en gesprek, is die interessanter vraag liefs: Op wie (se teks) reageer daardie digter se gedigte, met wie word in gesprek getree, watter digters voer met haar gesprek? Hoe graag lees ons die gedigte? Lykdigtebyvoorbeeld was ’n besonder gewilde bundel waarvan meer as een drukoplaag uitverkoop het. Tog kan die impak van die omvang van die oeuvre nie buite rekening gelaat word nie.
IV
Gedigte oor jeugherinneringe kom verspreid in Hambidge se oeuvre voor. Opvallend van hierdie gedigte is dat die gebeure en belewenisse meestal verbande toon met temas wat later tipies van haar digterskap sou word. In “Nogmaals Lot se vrou” (106) byvoorbeeld word drie jeugherinneringe beskryf, en die metapoëtiese kommentaar hierop hou verband met temas wat later in die oeuvre sou ontwikkel. In een so ’n gedig word ’n herinnering aan ’n efemere ervaring beskryf wat tydens die belewing daarvan nog nie deur die jong kind onder woorde gebring kon word nie, maar wel verstaan is. Die beskrywing van “gryswordende” bome, die gewaarwording dat verganklikheid, tydelikheid en verlies immer teenwoordig is, en ook die oomblik van memento mori in die waarneming dat die “winterstof […] soos ’n teregwysing” is, suggereer ’n vroeë bewustheid van kunstenaarskap nog voor die vermoë verwerf is om woorde daaraan te gee.
’n Derde terugflits,
meer dwingend, op die droë loop van ’n rivier,
vasgevang in iets onnoembaars
met die geur van gryswordende populierbome
en winterstof wat soos ’n teregwysing oor alles sproei:
te jonk vir woorde, reeds oud genoeg vir verstaan.
(Nogmaals Lot se vrou, Amberkamer, bl 106)
’n Soortgelyke beskrywing van hoe vroeg die besef van digterlike vermoë herken word en hoe ingrypend dit beleef word, spreek uit “Aljander, aljander so deur die bos”, (Amberkamer, ble 55–6):
Ek onthou die presiese oomblik
toe hierdie proses
my besoek het. Wag.
Eerder toe
iets in my oopgemaak het
soos ’n hek op ’n begraafplaas
met ou stene vol mos en ligene.
Jy ontvang dit, jy soek nie daarna nie,
soos Neruda getuig,
op ’n dag wat die aarde oopmaak,
die wolke oor die aarde soos ’n oordeelsdag
vir een klein oomblik stilstaan,
die oseaan langer as gewoonlik vloed,
kom dit na jou. Soos ’n boodskap.
Jy sien die mos teen die mure
en ruik die gom van sipresse.
Jy vrees nooit weer die dood nie,
is nie bang vir die donker nie.
Jy is altyd laat vir etes [...]
Dis die kainsmerk,
die vloek van heldersiendheid,
die twee keer beleef,
die dieper kyk na woorde
wat heilige betekenisse dra.
Dit was ’n gedig oor eensaamheid
op ouderdom vyftien
en na vele reise, liefdes, wetes
keer ons altyd terug
na daardie eerste, primordiale vers:
“Die verlange passer vannag in my …”
So het dit alles begin. Presies net so.
’n Ander tema wat opmerklik reeds in gedigte oor jeugherinneringe voorkom, is ontluikende liefde, en daarby die pyn van verwerping en anderheid. In “Dial L for Love” moet die spreker, nog op skool, die emosionele trauma van onverklaarde en onbeantwoorde jong verliefdheid alleen en in stilte verduur. Daar is geen vertrouelinge nie, aangesien die vriendinne nie in die juffrou belang stel nie, maar in haar verloofde:
My eerste liefdesobsessie
in standerd ses
soos gister se onthou:
die wiskundejuffrou
met haar Mona Lisa-glimlag,
haar passievolle allure,
die meisie-van-die-LO-onnie. [...]
Maar my juffrou wis
van niks, wyl sy meetkundige formules
verduidelik. Ek begryp alles van die algebra
van haar borste, die formules van hartstog
op die swartbord.
Ek leer al die tabelle net vir haar.
Dra haar tas smiddae na die koshuis.
Saans sien ek hulle stap oor die rugbyveld
en toe ons hoor hulle gaan trou,
treur ek oor haar. My vriendinne
snak oor hom: hul eie dr Serfontein. [...]
(Amberkamer, ble 56–7)
Soortgelyk is die coming of age-eksperimente en die interaksie met ’n ma in “Dorothy Parker onthou” (Amberkamer, ble 148–9):
I Sy wag my in
Sy wag my in
in haar geblomde kamerjas
ek wag op ’n tongloesing
maar sy sê niks
oor my hele nag op parool
onder ’n jongeling se soekende tong.
Ons vry met mekaar
in ’n boksie BMW
die vensters
dig gesluit.
Ek vermy haar oë
konsentreer op die oomblik so pas uit
my arms vrygelaat.
Die sifdeur klap
’n tronkdeur
agter my toe.
Haar oë blits
moenie-die-deur-klap-nie …
II Voor die spieël
Sy kyk na my,
sit voor haar spieëltafel,
borsel in die hand.
Ek sien myself verklein,
half uitgesny. Amper
nes my suster
se papierpoppe. Voel
haar deurtastende blik,
terwyl ek toekyk hoe sy
haar swart hare terugborsel.
Die kamer gestuif in Blue Grass-parfuum.
“Ek hoor,” sê sy, “dat jy vuur maak
in die veld.” Die ómgekeerde lens
van die Coke-bottel waaronder ’n sprinkaan
spartel soos iets uit Openbaring
waaroor die dominee so graag preek,
laat die kamer nou in ligte laaie staan.
“En,” voeg sy by, “jy moet ophou vloek.”
Tel jou seëninge, ja tel hul een vir een.
Gelukkig weet sy nie van die ánder besoekings:
van al die vlam en vuur,
tongsoene, verkennings
en ’n grootmensfilm met ’n vrouebors
onder ’n speurende kamera
se close-up.
Hiermee word Joan Hambidge die eerste digter in Afrikaans wie se gedigte oor skool- en jeugervarings die stem van jong lesbiese vroue verteenwoordig. Dit vorm ’n pendant vir heteronormatiewe genderidentiteit in Afrikaanse gedigte oor skooldae, wiskundeklasse en jeugliefde. Die isolasie en pyn, die eenlingskap ingegee deur anderheid, en daarby jeugdige ervarings van ontluikende seksualiteit, begeerte en erotiek tussen vroue soos wat dit uit gedigte oor jeugervarings blyk, is normdeurbrekend. Dit is terselfdertyd ook goeie verse, waarin uiteenlopende tegnieke en digterlike aanslag gebruik word – met ook die “speelse, spulse en stukkende verse” van Koesnaatjies, as ’n redelik onderskatte bundel, ’n wesenlike bydrae tot (vroeë) lesbiese verse in die Afrikaanse poësie. Later sal die tema van liefde en verlies tussen vroue, “liefde só / verbeeld: ♀♀”,18 en ook die politiek van genderidentiteit integraal tot Hambidge se oeuvre bly.
Die durende pyn beleef oor anderheid wat aan die spreker opgedring word, haar lewe deurdring, is ook ’n tema wat uit verse oor jeugherinneringe op die voorgrond tree, en wat met verse oor verlies en melancholie in ’n later lewenstadium in verband gebring kan word. Die vooropstelling en verwoording van die sosiale impak hiervan op mense se lewens is net so deel van die normdeurbrekende as wat liefdes- of erotiese verse is. “Om jou vraag te beantwoord” (uit En skielik is dit aand) is een voorbeeld:
Altyd buite,
uit pas, misverstaan,
in iemand se “swart boekie”.
Nie genooi nie. Oorgesien.
Verlaat. Geïgnoreer.
Beskuldig. Verrinneweerd.
Soos ’n onbegryplike wiskunde-formule.
’n Swart bord vol hiërogliewe.
[...]
’n Lewenslange wete oor die hartlandskap;
hiervoor van kleinsaf nie opgewasse of uitgeknip nie.
So ’n kind was ek.
V
Hambidge se poësie is al dikwels opgelet vir die verlies en melancholie, maar net so dikwels vir hoe behendig die digter opstuur en debunk, hoe vernuftig sy kan parodieer en pasticheer. Dit is goed moontlik om mens jou ’n versamelde Hambidge-reeks voor te stel waar prominente en terugkerende temas in Hambidge se werk in verskillende bande versamel staan. Ons het reeds die kiem hiervan gesien in bundels soos Palinodes en Gesteelde appels wat modelle kan wees vir ’n versameling van Hambidge-parodie en -pastiche; of in Lykdigte: Hambidge se elegieë en in memoriams. Stel jou verder voor: Die liefdesgedigte van Joan Hambidge; Die Groot Hambidge Portretgedigte-boek; Die Hambidge Verseboek van Digters; Hambidge se familiefigure as beeldmateriaal ...
Samestellers van sulke versamelings sal wel hulle voetwerk moet ken – by Hambidge is reisgedigte ars poeticas, ook liefdesgedigte; is elegieë huldigings en portrette en ekfrastiese verse, soos wat ekfrastiese verse ars poeticas is – die nie-enkelvoudige, onkategoriseerbare matriks van Hambidge. Net één so ’n gedig met vele tematiese gesigte, en kommentaar op verhoudings, bestaande gedigte én die kunsteoretiese, op liefde en lewenskeuses, én met ’n ironiese inspeling op een van die maskers19 van die biografiese digter Hambidge wat in die gedig met Odusseus geïdentifiseer kan word, is “Odusseus raak moerig” – frustrasie, vrees, woede en opstuur, geliefde en lieg, woorde weef en herweef, die verlange na reis én tuis, die klassieke vers gebruik vir kommentaar op sosiale media en die onmiddellikheid van die internet, kom alles hier aan die bod:
Odusseus raak moerig
O Penelope
jy moenie dink ek weet nie
hoe jy saans die breiwerk
van ons verhouding
op e-pos
voor al jou vriende
uittrek nie
en stories spin
oor my en jou
klik klik klik
in die kuberruim
en flink begin planne beraam
om ’n nuwe vryer of wat
in te ryg
terwyl ek op my alleenreis
vaar.
Iets waarna streng gesproke nié binne die bestek van ’n huldigingsrede vir Joan Hambidge die digter val nie, is die libretto wat sy as opdragwerk geskryf het vir ’n kort opera, met die titel “Anti-Laius” en wat rondom 2015/16 met vier opvoerings deur die Universiteit van Kaapstad se Musiekskool op die planke gebring is. Hiermee word Hambidge een van ’n baie klein groepie digter-skrywers wat die libretto van ’n opera in Afrikaans aandurf. Die teks vir “Anti-Laius” is beskikbaar op Versindaba, en een van die elegieë wat in Amberkamer opgeneem is, “Dies Bildnis ist bezaubernd schön: Deon van der Walt”, kom in librettoformaat hier ter sprake – nog ’n voorbeeld van hoe Hambidge dieselfde en soortgelyke materiaal en gebeure, in herinkledings (in die woorde in hierdie gedig) “nuwe lewe gee aan”, via verskillende genreformate laat gestalte kry.
Dies Bildnis ist bezaubernd schön: Deon van der Walt
Die stem soos die woord
word nooit doodgemaak nie. Vanaand,
soveel jare na jou afreis,
klink jou stem steeds hélder op. Asof
jy roep na ons, vir begrip en navraag oor
jou ontydige dood. Dit was ’n anderste vadermoord:
anders as wat Freud meen,
word Oedipus verslaan.
Ek het jou skrams geken: as jongeling
betower jy met jou vertolkings van Mozart,
en een aand, iewers in Kalkbaai,
by ’n ete vol innuendo en spanning, troef
jy almal met ’n hoogste noot vir ’n verjaarsdagparty,
die tafel neffens ons. Hoe sou húlle ooit
kon raai dat dit dié sanger van formaat was
wat saam “Happy Birthday to You” vertolk,
nes Anne Sofie von Otter, pas toe jou sangmaat,
nuwe lewe gee aan “The Day Before You Came”.
Nou sing jy vir my op YouTube
betowerend mooi,
wyl foto’s van jou stadig en afgemete
iets van jou ware aard verraai.
Ek kyk in jou sagte oë
wonder of jou sagte mond
sou uitroep,
protesteer,
oor die onreg jou aangedoen.
Dit is, dit is alles so
betreurenswaardig
dat jy nie meer in lewende lywe,
maar net vir ’n tafel in die hemel, moet sing.
(Amberkamer, ble 115–6)
Ons luister nou na Laurinda Hofmeyr se toonsetting van die Hambidge-gedig “Alice Miller revisited”, waarby ook “Herfs” van NP Van Wyk Louw betrek word – met Louw die digter op wie se openingsgedig in sy Nuwe verse Joan Hambidge se eerste gedig in haar debuutbundel inspeel.
Alice Miller revisited
VWL
Die dag treur in goue akkerblare,
tot in die kelders van onthou.
Die troostelose dag draai en draai
soos ’n lendelam, geroeste windpomp.
Laat alles val wat seermaak of verbrou,
ook die stamelinge van so ’n omdraai.
Die woedes, verliese, afwysings,
en godweet, dít wat roep om verswyging.
O gode van my jeug: Camus en Sartre,
deur Boeddha terúg tot by daardie Iets.
Wis elke afdraaipad of misverstand uit.
Die dag treur in goue akkerblare,
immer in die kelders van vergeet.
(Amberkamer, bl 107)
In hierdie huldiging is dit nie gepas om verder uit te wei oor Hambidge en die Afrikaanse poësie, as kanoniseerder en gekanoniseerde nie, maar hopelik sal liefhebbers van die poësie ook na hierdie afdeling in die inleiding van Amberkamer, die versameling van Hambidge uit die 21ste eeu, verder hieroor lees. Die drukkersink is nog nat, en dit kon net verskyn met die samewerking en instemming van al agt die uitgewers van Hambidge se poësie,20 die borgskap van die SA Akademie, en die span by Nicol Stassen se Protea Boekhuis: die monnikewerk van Joan-Marí Barendse, die uitgewersredakteur, die bandontwerp van Hanli Deysel en die noukeurige proefleser Anzette Williams.
Ek het begin deur by Hambidge te leen en na Asindeton te verwys. Vergun my dan om, in herkenbare Hambidge-styl, met “L’envoi”af te sluit.
L’envoi
Veels geluk met jou verjaarsdag, Joan Helene Hambidge. Maar bo alles: van harte, harte, harte bedank – vir alles. Vir Koning van Harte én vir Skoppensboer. Deur al die jare. Vir wat jy vir ons almal in jou denke oor poësie, in en deur jou poësie, gedoen het, oopgemaak het: deure, vensters, insigte, vergesigte – gedigte.
Dankie vir jou woorde.
Mag jou gedigte ewig lesers beërf.21
Gebed om die gebeentes
O digterlike vaders wat woon in bloemlesings,
gepasticheer, geparodieer, gepersiflage u naam,
laat ons u nogmaals lees in ander vorme
soos in die oorspronklike, nes in die afskynsels;
gee ons vandag ons inspirasie,
vergeef ons die blatante plundering
en misdoen in die skoene van die grotes.
Laat kom ons nie in versoeking,
met ’n sekel of simbaal
of papegaai-eggo’s,
want u bly die grootste én die sterkste
al is kuns so boos,
u het ’n Eiendoms Onbeperk,
u is gesteenbok en gepoolsee,
u is die suiwerste wiskunde,
u ’n volledige, finale allotroop.
Vir ewig en ewig, amen,
vir ewig en ewig, amen.
(Amberkamer, bl 129)
Karen de Wet
Universiteit van Johannesburg
11 September 2026
Eindnotas
1 Effe aangepas uit Fourie Botha (2020) se essay “Pous Johanna” in Stilet, 32(1&2):187.
in iets soos ’n onvoltooide droom:
pointillisties
staan ’n vrou met ’n parasol
droomverlore verkwiste droom
al Sondagende verewig
in hierdie skildery,
terwyl ek
kliek op Format / paragraph
om die gedig
in enkelspasie
perfek op te vang,
al bly betekenis
ontglip
Uit: “Seurat: Un dimanche après-midi à l’Île de la Grande Jatte”, Asindeton, bl 87
3 Afgesien van die inskrywings op sowel die Afrikaanse as die Engelse Wikipediaen die ATKV-LitNet Skrywersalbum verskyn in 2020 ’n Festschrift as ’n spesiale uitgawe van Stilet, met die titel Joan Hambidge: ikoon, ikonoklas. JC Kannemeyer skryf in sy literatuurgeskiedenisse oor haar werk. Die skrywersprofiel oor haar oeuvre in Perspektief en profiel 2 (2016) verskyn in twee dele, versorg deur Henning Snyman (1985–1995) en Neil Cochrane (1997–2013). Haar werk word ook ingesluit in die poësie-oorsigte in Perspektief en profiel, in 1999 deur Helize van Vuuren en in 2016 deur Bernard Odendaal, soos wat dit ook deel is van Annemarie van Niekerk (1999) se hoofstuk oor vroueskrywers in Perspektief en profiel. Sy word ook opgeneem in Van Beek en Van Niekerk (2019) se My mother’s mother’s mother. Sien ook die nawoord tot vorige versamelings deur Hambidge in Die buigsaamheid van verdriet: ’n honderd of wat gedigte van Joan Hambidge (2004) en The coroner’s wife: poems in translation (2018). Kyk verder ook die inleiding tot Amberkamer: “Die amberkamer van Joan Hambidge se poësie” (De Wet 2026).
4 By Tuin van Digters se huldigingsgeleentheid het Nina Swart die gedigte voorgelees en Laurinda Hofmeyr het haar twee splinternuwe toonsettings van Hambidge-gedigte, “Ars poetica” (uit Matriks en die titelgedig vir Amberkamer, bl 122) en “Alice Miller revisited” (bl 107 in Amberkamer), die intertekstuele gesprek met NP Van Wyk Louw se “Vroegherfs” gesing.
5 Hennie Aucamp oor Hambidge se resensies: “’n polemiese en soms flambojante aanslag”. Aangehaal deur Reinhardt Fourie in Stilet, 32(1&2) (2020).
6 Kyk Stilet-eindredaksiehuldeblyk, Thys Human in Stilet, 32(1&2) (2020).
7 “Every literature has one – in her younger years l’enfant terrible of the Afrikaans literature was undoubtedly the prolific poet, literary theorist, columnist, blogger and academic Joan Hambidge. In comparison to the rather courteous Afrikaans intellectual culture, both as writer and as critic, she has been unconventional in her confrontational style. Some colleagues and readers appreciate her directness as a breeze of fresh and honest literary air; others have become fervent Hambidge opponents. But Hambidge is not to be curtailed.” Uit “Poetry as voyage: Joan Hambidge” in My mother’s mother’s mother (Van Beek en Van Niekerk 2019:821).
8 Petra Müller oor Koesnaatjies in Rapport, 5 September 2008: “Joan Hambidge speel in ons lettere tans die rol van die kwajong, die breker, die raasbek, die grensoorskryder […] As daar al ooit ’n stormvoël was, is dit sy. Maar sy bedryf ook […] die ‘ligtende erns’ – ’n noodsaak in ons somber omtes.”
9 “Vakansiebrief” in Wordende naak, De Lange (1990).
10 Petra Müller (2008) in “Verskillende tydings uit Lesbos”, Rapport, 5 September.
11 Fourie Botha (2020) in “Pous Johanna”, Stilet, 32(1&2):186.
12 Kyk verder afdeling IV, “Oeuvre: vier dekades van gedigte” in die inleiding tot Amberkamer, “Die amberkamer van Joan Hambidge se poësie” (De Wet 2026).
13 Swart koring (1996), Die swart sluier (1998) en Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het (2001).
14 Die judaskus (1998), Kladboek (2008), Stasies (2023) en Hart sonder hawe (2026).
15 Dit is tot op datum, 15 September 2026.
16 Uit “pleidooi om bevryding” in Lady Anne (1989), bl 68.
17 Laaste strofe van “Poetry is a destructive force”.
18 In “Ballade”, Die anatomie van melancholie (1987).
19 “Hambidge sal vir jou verduidelik dat die persona, veral dié van ’n skrywer en openbare kommentator, in elk geval fiksie is. ’n Masker word ’n gesig.” Fourie Botha (2020) in Stilet 32(1&2):187.
20 Alfabeties: Genugtig!, HAUM-Literêr, Human & Rousseau – nou ’n druknaam van Jonathan Ball Publishers, Imprimatur, Juta, Perskor, Protea Boekhuis en Tafelberg – nou ’n druknaam van Jonathan Ball Publishers.
21 “Wanneer ’n digter sterf mag sy gedigte tog ’n ewige leser beërf”, Amberkamer, bl 102.

