Oop boek: Bloei en blom – ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

  • 0

Foto van Elmari Rautenbach: Naomi Bruwer; boekomslag: Flyleaf Publishers

In hierdie “Oop boek”-bydrae tree Karen de Wet met Elmari Rautenbach in gesprek oor ’n besonderse koffietafelboek waarvan Elmari redakteur was.

Bloei + Blom. Flyleaf. 2025. ISBN: 978-1-928446-989

(Hoofborge: Atterbury Trust, saam met Bloudruk Media, Pallidus, Fledge en Remgro.)

1.

K: Elmari, dit is besonders om ’n slag vrae te kan stel aan die persoon wat haarself as ’n boekjoernalis beskryf, maar wat altyd te vinde is aan die stuur van projekte waar daar woorde is – as dit nie die Woordfees is nie, is dit ’n biografie oor die legendariese fynkok Peter Veldsman, en toe, in 2025, ’n swaar volkleur boek (praat mens nog van folioformaat?). ’n Boek wat pas weer in die kollig gekom het in die eerste episode van Danie Marais se Boekmerk-reeks.

E: Hi Karen, ’n mens kan sekerlik nog die woord “folio” gebruik vir ’n eksklusiewe grootformaatboek, veral ’n weelderig geïllustreerde hardebanduitgawe soos Bloei + Blom. Vir my is dit eintlik ’n veel mooier beskrywing as “koffietafelboek”, veral oor die gesofistikeerde, klassieke klank daarvan.

2

K: 2025 sal in Afrikaanse geledere onthou word as ’n jaar van projekte en vierings om die 100 jaar te gedenk wat verloop het sedert 1925 toe Nederlands, as een van die twee amptelike tale in die destydse Unie van Suid-Afrika, deur Afrikaans vervang is. Deur die loop van 2025 en al die inisiatiewe en projekte is mens dikwels herinner aan die aktiwiteite en bestekopnames in Afrikaans ná 1994 en rondom die millenniumwending. Bloemlesings soos Poskaarte, SA in poësie/poetry en Die Afrikaanse poësie in 1 000 en enkele gedigte het verskyn, en ook versamelings kortverhale soos Eeu en Dogters van Afrika. In 2025 word peilings gehou oor die “100 beste boeke” in Afrikaans (Rapport en Maroela Media). Kwaailappies, ’n kinderboek oor die geskiedenis van Afrikaans, verskyn, en te veel vierings en projekte om te noem.

En toe verskyn Bloei + Blom. So, met die subtitel: “’n viering van Afrikaans”.

Die collage foto’s op die bemarkingstuk lyk soos ’n Wie’s wie-vasvra: twee dosyn digters, sakemanne, aktiviste en akteurs, divas, ’n hartspesialis, ’n TV-nuusleser, ’n swemster, ’n balletdanser, Tannie Evita ...

Hoe ontstaan so ’n “liefdesbrief”, hoe word dit ’n koffietafelboek?

E: Die boek is die breinkind van Nataniël en ’n klein groepie kreatiewe mense in sy binnekring. Maar die oorspronklike idee vir so ’n “liefdesbrief” in boekvorm, soos jy dit so mooi beskryf, het by die bekende Suid-Afrikaanse musiekkunstenaar, vervaardiger en kultuurentrepreneur Matthys Maree ontstaan. Matthys is een van die sleutelfigure agter die Fairtree Atterbury-teater en werk al jare lank saam met Nataniël. Hy het gewonder of ’n mens nie met ’n boek oor die afgelope 100 jaar die baanbrekerswerk van 100 Afrikaanssprekendes kan vier nie. Juis omdat so iets nie bestaan nie.

Maar dit moes mooi wees, luuks en inspirerend.

Met dié gedagte as vertrekpunt het Matthys, Nataniël en ’n handvol ander mense, onder wie die uitgewer Ingeborg Pelser van Flyleaf en die joernalis Diane de Beer, bymekaargekom en idees begin rondskop. Een ding was van die begin af ononderhandelbaar: Dit moes ’n boek wees wat sou hou, met goeie papier en pragtige foto’s. ’n Boek wat jy sou wou besit, maar ook een waarna jy oor en oor sou wou terugkeer vir die inhoud.

In sy voorwoord vertel Nataniël dat sy een visuele verwysing “soos Vogue” was!

Maar waar begin jy met so iets? Dit was bykans oorweldigend. Hoe meer name genoem is, hoe meer het bygekom. Daarom het die idee redelik gou ontstaan om ’n webwerf, dieboek.com, te skep waar mense kon stem vir wie hulle graag in die boek sou wou sien.

Die volgende uitdaging was: Wie skryf oor wie? Die idee was van die begin af dat dit intieme portrette moes wees, nie bloot Wikipedia-klone nie. Daarom is kennisse, familielede en kollegas van die mense op die lys genader – enigiemand wat op die een of ander manier ’n persoonlike verbintenis met die betrokke persoon gehad het.

Die probleem was natuurlik dat nie almal noodwendig goed kon skryf of die konsep van ’n maksimum woordtelling van 800 verstaan het nie. Boonop het daar telkens nuwe name bygekom namate mense genader is om oor iemand te skryf. Kort voor lank het die oorspronklike afsnypunt van 100 name spreekwoordelik in die truspieël verdwyn!

Iewers moes iemand dus die kopie begin skaaf om seker te maak elke bydrae is op standaard én pas binne die ruimte wat daarvoor beskikbaar was. En iemand moes help besluit wie van die vinnig groeiende lys voorstelle vir legendes, bekendes en mavericks wat ingesluit moet word, uiteindelik wél sou kon in en wie misgekyk is.

Dis op dié punt waar ek bygekom het.

3

K: Of mens nou een van daardie nuuskierige leesgieriges is wat enige plek oopslaan en rond en bont blaai, of nie: Die ontwerp van die boek is asemrowend goed beplan. Dit nooi mens uit om proe-proe te lees, te verken, maar dit kan inderdaad ook van voor tot agter gelees word, al is daar geen A–Z-, of 0–200-, of 1925-tot-nou-ordening nie.

Die inhoudsopgawe bevat meestal eiename, soms in pare (Gawie & Gwen Fagan, Ronelda Kamfer & Nathan Trantraal, Mof Myburgh & Frik du Preez), maar ook onderbreek deur ’n paar inskrywings in vetdruk, groeperings – ’n mens sien byvoorbeeld Opera-divas, Die Sestigers, Boere, Fietsryers, Sakereuse, en nog ’n paar.

Die bemarkingspreuke lui: “200+ uitskieters, 70 bydraers, 1 taal”. En brei dan uit met woorde soos “uitvinders en entrepreneurs”, “botaniste en boere”, “mense wat onopsigtelik, of skouspelagtig” grense verskuif het.

Net om by die keuses uit te kom van watter “legendes, bekendes en mavericks” ingesluit kon word, en dan ook die uitdaging oor hoe om die materiaal te organiseer en aan te bied, moes ’n uitdaging en ’n reis gewees het. Hoe het julle te werk gegaan? Hoe het jy as redakteur alles bymekaargehou, by mekaar laat uitkom?

E: Die woord “redakteur” op die titelblad is hier ’n báie breë term! J Bloei + Blom was in alle opsigte ’n spanpoging, en ek gebruik nie die woord sommerso nie.

Teen die tyd dat ek bygekom het, was dit hoofsaaklik ek en Ingeborg Pelser wat direk met die boek se inhoud gewerk het – die teks, foto’s en bladplan. Die subredakteur, Anita van Zyl, het in die laaste paar maande ’n leeueaandeel aan die afwerking gehad, terwyl Nataniël in daardie stadium veral die visuele inspirasie verskaf het – onder meer met sy drie visuele “opstelle” oor die vroue wat hy sy “muses” gedoop het: Marion Holm, Tracey-Lee Oliver en Anna Davel. Vir hom versinnebeeld hulle die eienskappe van die baanbrekers in die boek: vreesloos, vegtend, vurig. (Op ’n manier was hy self die vierde muse, in sy bloedrooi tangorok ...) Matthys het weer met begrotingskwessies gehelp.

Maar wat die suiwer woord betref, was ek die redakteur. Op die ou end is elke woord in die boek deur my hande. Soms moes ek ’n bydrae feitlik van voor af oor- of byskryf; soms was ’n ligte redigeerhand genoeg. Ander kere moes ek bloot deurlees en seker maak dat al die feite en naamspellings korrek is. En waar ons nie ’n skrywer kon vind nie, moes ek soms self vinnig iets skryf of saamstel.

Tot vandag toe dink ek dit was een van die opwindendste projekte van my lewe. Net daardie volgehoue adrenalien!

Om alles bymekaar te bring was ek en Ingeborg letterlik dag en nag in kontak – soms selfs oor kontinente heen. Sy moes op ’n lank beloofde besoek Duitsland toe gaan, en ek het reeds bespreek om by ons kinders in Engeland en Amerika te gaan kuier. Maar ons het eenvoudig aangehou werk. (WhatsApp was ’n lewensredder.) Daar was letterlik géén tyd om te mors nie. Die borge se geld was op die spel, die drukkers was reeds bespreek, en as ons die spertyd misgeloop het, sou alles dubbel so duur geword het.

Ons moes dus deurentyd soos een werk en vinnig saam besluite kon neem. Moet ’n nuut voorgestelde naam bykom? Of ’n genre of lewensfeer waarvan ons vergeet het? (Fietsry was een.) Is daar plek? Waar gaan dit inpas? Beteken dit ons moet iewers anders sny, en wat doen dit aan die bladplan? Wie gaan skryf, en waar kry ons foto’s? En wat is Plan B as Plan A nie uitwerk nie? (Plan B was nogal dikwels op ons agenda ...)

Gelukkig het ek oor baie jare in die tydskrifwêreld, en later by die Stellenbosch Woordfees, ’n lang kontaklys van Afrikaanse bekendes, skrywers, joernaliste en fotograwe opgebou. Ingeborg het weer haar eie netwerk deur haar jare in die uitgewerswese gehad.

Soms was ek toegegooi onder kopie en het Ingeborg meer haar oog op die geheelprentjie gehou. Ander kere het ek weer die langlys dopgehou terwyl sy “op jag” was na foto’s. En jag was dit beslis! Want soveel van daardie ou foto’s is deesdae onbekombaar, of intussen vernietig, of bestaan net in private albums met ’n gehalte wat te swak is om in ’n boek te herdruk. Daarom sou van daardie soektogte soms weke duur en selfs persoonlike besoeke aan argiewe noodsaak.

Dit was amper ’n organiese manier van werk – vloeibaar, met ’n bladplan wat voortdurend verander en aangepas moes word. Amper angswekkend by tye. Jy het pas ’n hele nag daaraan bestee om 2 000 woorde tot ’n sinvolle 800 te verkort, met al die noodsaaklike inligting steeds daar én ’n storie wat lekker lees, en dan moet dit nóg korter.

Of Ingeborg het pas ’n wonderlike kleurfoto opgespoor, of ’n tot dusver onbekende swart-wit foto wat sy bitter graag groter wou gebruik as wat ons beplan het. Dink maar net aan die lieflike kat-en-keramiek-foto van Hylton Nel, die dansfoto-ensemble van Johaar Mosaval, die argieffoto van Nomsa Nene as die eerste swart Poppie Nongena op die verhoog, of die uitbundige Karooverekarnaval.

Dan moes die hele bladplan weer omgedolwe word!

4

K: As mens nou wel die boek “van voor af” begin, plegtig oopslaan, is die eerste kennismaking met die binnekant van die boek soos ’n uitklophou: ’n Anton Kannemeyer van die Swartbergpas stroom oor die linkerkantste vollengte bladsy tot op die volgende een, en in die wit gedeelte daarnaas, staan die boek se intreewoorde, wat soos ’n motto lees. Dit is geneem uit Adam Small se Kitaar my kruis, en soos wat die bekende reëls oopvou, kan mens jou kwalik ’n meer gepaste vers vir hierdie projek voorstel:      

 nou vrinne
    die Here het gabring
    aan my sy wonnerwerke oek so
    hy het gavra wat’s in my hand
    en vrinne
    in my hand was my kitaar

 kô lat ons sing.

Is die boek iets van ’n wonderwerk, soos die mense waaroor dit handel se prestasies? Is dit terselfdertyd bedoel as inspirasie? Met al die wonderlike prestasies en die bewyse van hoe beperkinge oorstyg is? Uiteraard is die boek ’n huldeblyk, maar as dit ook ’n oproep? Aan almal in Afrikaans wat na hulle hande kyk, ’n kitaar vind, en sing? Dié wat reeds het, en dié wat nog kan?

E: Jy som dit baie mooi op. Vir my lê dit alles opgesluit in daardie enkele strofe uit Adam Small se “Kô, lat ons sing”, en die besondere energie wat dit saam met Anton Kannemeyer se fyn, handgekleurde ets van die Swartbergpas skep. Dis ’n landskap wat hy in die destydse uitstallingskatalogus as “buitengewoon boeiend” beskryf, “vol merke en emosie”.

Dié twee blaaie is redelik na aan die spertyd gefinaliseer. Ingeborg het op die ets afgekom, en vir ons albei was dit onmiddellik die ideale visuele pouse tussen die inleiding en voorwoord en die eintlike inhoud van die boek. Net so, ’n dubbelblad sonder enigiets daarby.

Maar die buitengewone formaat van die boek het ons planne befoeter. Die afbeelding kon net oor sowat driekwart van ’n bladsy strek voordat dit aan gehalte sou inboet. Dit het ons met ’n groot oop ruimte gelaat. Wat ook al daar moes kom, sou visueel in balans met die ets moes wees, maar ook dieselfde trefkrag hê. Anders sou dit eenvoudig nie werk nie.

Vir my was iets uit ’n gedig die antwoord. Ek het begin lees met ’n vae idee van wat ek soek. Een gedig het amper gepas, maar nie heeltemal nie. En toe, terwyl ek weer deur die inhoudsopgawe blaai vir inspirasie, tref dit my: Adam Small.

Ek dink dis die piëteit van daardie vers wat ’n mens eerste tref. Die verwondering waarmee na die “wonnerwerke” om ons verwys word. Die eenvoud van die Kaaps, een van Afrikaans se oudste variante. En uiteindelik die oproep om die skoonheid wat ons elke dag om ons ervaar, te vier met wat ons ook al tot ons beskikking het – al is dit net ’n kitaar.

Vir my vat daardie enkele strofe die inspirasie agter die boek, die doel daarvan én die eindproduk saam. Ek kan dit tot vandag toe nie saam met daardie prent sien sonder om bewoë te raak nie.

5

K: Die bedankings noem “’n leërskare mense” betrokke by die boek. Daar is nie ’n lys van die skrywers wat bygedra het nie, maar die name volg wel aan die einde van elk van die bydraes, met meer as 200 bydraes en net meer as 70 bydraers. Die inleiding suggereer boonop dat die boek binne “net meer as ’n jaar” beslag gekry het. ’n Yslike taak, en binne so ’n kort bestek dalk selfs ’n kordaatstuk.

Hoe doen mens dit met so ’n klein span deur wie se hande en onder wie se oë die materiaal moet gaan, wat moet werf, en kies en keur en toestemming vind en ongewone foto’s soek – alles binne net meer as ’n jaar?

E: Die klein span en die beperkte tyd waarin ons dié enorme projek moes afhandel, het my veral twee dinge laat besef.

Die eerste was hoe moeilik dit geword het om feite na te gaan. Ek het dit met elke artikel gedoen, maar met fopnuus en KI het dit ’n moeras geword waardeur jy moet waad. ’n Goeie voorbeeld was toe ek op ’n hele storie afkom oor waar en wanneer die aktrise en filmregisseur Katinka Heyns en die skrywer Chris Barnard, wat later met mekaar getroud is, mekaar die eerste keer ontmoet het. Maar toe ek dit vir hulle seun Simon, wat ook die artikel omtrent hulle in die boek geskryf het, aanstuur om na te gaan, sê hy dis ’n totale verdigsel! Die ware verhaal was heeltemal anders. Geen wonder tydskrifte soos The New Yorker het ’n voltydse afdeling vir feitekontrole nie.

Dit was juis dié proses van herskryf, korrigeer en feite nagaan wat my by my tweede gewaarwording gebring het: hoe goed ons veteraanjoernaliste is, en wat ’n plesier dit is om met hulle saam te werk.

Heelparty bydraes is geskryf deur mense wat nie noodwendig ervare skrywers is nie, maar juis daarom ’n vars, persoonlike element na die boek kon bring: verrassings uit gesprekke oor die jare, of herinneringe aan ’n veelseggende oomblik waarvan niemand anders geweet het nie.

Maar omdat die boek ’n huldeblyk aan ’n eeu se Afrikaanse grensverskuiwers moes wees, was daar sekere boksies wat elke bydrae móés afmerk – of dit nou 400 woorde vir ’n enkelblad of 800 vir ’n dubbelblad was. Eerstens moes die persoon op ’n pittige manier bekendgestel word, want nie almal weet noodwendig wie iemand is of was nie. Terselfdertyd moes die leser iets van die mens agter die naam leer ken, dalk deur ’n staaltjie. Dan moes daar vertel word hoe die persoon in sy of haar sfeer of loopbaan beland het, en uiteindelik wat die besondere prestasie of bydrae was wat sy of haar plek in die boek regverdig.

’n “Tall order” vir enige skrywer, veral iemand wat nie sy tande in die joernalistiek gesny het nie.

Om al hierdie elemente in die beskikbare ruimte te laat pas, was my hooftaak. Maar dit was soms ’n ondankbare een. Dit het my opnuut laat besef hoeveel respek ek het vir mense soos Kerneels Breytenbach, Ingrid Jones, Bun Booyens, Rachelle Greeff, Emile Joubert, Heindrich Wyngaard, Francois Smith, Elsa Kruger, Marguerite van Wyk, Kirby van der Merwe, Melvyn Minnaar, musiekskrywer Deon Maas en sportskrywers Colin Hoffmann, Tinus van Staden en Louis de Villiers. Vir hulle is die heen-en-weer van kopie, met veranderinge, voortdurende vrae en voorstelle, eenvoudig deel van die proses. Hulle werk saam, en op die ou end lewer hulle steeds die wonderlikste kopie.

Lees maar net die fantastiese stuk oor ons eerste Olimpiese fietsrykampioen, Rudolph Ludewyk Lewis, oftewel Okey, wat in 1912 met net sy fiets en ’n myntrommeltjie met een broek, twee hemde en ’n paar rolle sokkies op die skip geklim het vir die drie maande lange tog oor die Atlantiese Oseaan na die Spele in Stockholm. Jy kan die storie nie opmaak nie, soos die oumense sou sê!

Of, om by sport te bly, Bun se skrywe oor die kwasterige Danie Craven en sy gebed in Engels tydens ’n dinee vir die Springbokke in die luisterryke Blenheim-paleis in Oxfordshire. Hy sluit af met ’n waarskuwing in Afrikaans oor wat sal gebeur as “een van julle bliksems selfs net ’n teelepeltjie hier steel” ...

Tant Grietjie: foto verskaf deur die uitgewer en verskyn met toestemming van Media24

En dan is daar natuurlik die weergalose Tant Grietjie van Garies, met haar pienk frillekappie en spitsvondighede soos “Ek’s ouer as my tanne en net so oud soos my hanne” en “Lekker ou Jan”. Dis met haar dat die boek afsluit voordat Nataniël die laaste woord kry.

6

K: Eers het ons geskilderde agtergrondsdoeke en toe ontwerpte filmstelle gehad, voordat plekspesifieke, op ligging verfilming oorgeneem het, en nou wens mens byna die era van filmstelle ontwerp en bou terug om uitgespaar te word van KI-gegenereerde en daarom bewustelik uit fokus gestelde agtergronde waarteen opnames van akteurs geplaas word.

In die era van digitale en gegenereerde alles, hierdie boek! Verkoop die boek? ’n Koffietafelboek, ’n Afrikaanse koffietafelboek, stylvol ontwerp en uitgelê, en luuks uitgegee. Is daar eweknieë hiervoor in ander tale? ’n Eeu van Walliese prestasie en uitsonderlikes, sê maar?

ER: Bloei + Blom verkoop, maar dis ’n luukse, grootformaathardebandboek met meer as 250 foto’s, die meeste volkleur, en dus nie goedkoop nie. En ons almal weet hoe dit in 2026 met die ekonomie gaan. Beursies is maar platter.

Wat wel in die boek se guns tel, is dat dit mooi is, vrolik en tydloos. In Nataniël se woorde, met “mense wat lyk en klink asof hulle van die bladsye af kan uitspring en saam partytjie hou oor die taal wat hulle almal praat en die prestasies wat hulle behaal het, met Afrikaans as gemene deler”.

In ’n wêreld waar alles vinniger, korter en meer vervlietend word, het ons met Bloei + Blom eintlik presies die teenoorgestelde probeer maak: iets waaraan jy tyd wil bestee, waaroor jy kan streel, wat jy kan optel, ruik, neersit en weer optel, en wat oor twintig jaar steeds op jou boekrak sal staan. Dis ook nie noodwendig ’n boek wat jy net vir jouself koop nie. Dis die soort wat jy vir iemand wil gee, en wat hopelik van een geslag na die volgende aangegee sal word.

Ek dink graag aan die bydraes as ’n soort Polaroid-foto van elke persoon: nie ’n volledige lewensverhaal nie, maar ’n oomblikopname van wie iemand was, wat hom of haar besonders gemaak het en waarom dié persoon as ’n baanbreker onthou behoort te word. En hopelik maak dit jou nuuskierig genoeg om verder te gaan lees.

Of daar ’n vergelykbare boek in Wallies of ’n ander taal bestaan, weet ek ongelukkig nie. Maar ek sou bitter graag so iets wou sien!

7

K: Bloei + Blom het, soos jy reeds genoem het, ’n eie webwerf, dieboek.com, waar “die boek” gekoop kan word en met mooi volkleur snitte van dubbelblaaie (Laurika Rauch, Rassie Erasmus, Errol Arendz, Deon Meyer, Verna Tannie Liewe Heksie Vels) wat verbyskuif. Daar is ook ’n lusmaker, en blakerteks van resensies uit Huisgenoot en Die Burger.

Mariana Malan meen: “Afrikaanssprekendes is nog nooit so gevier nie ... Weg is die vooropgestelde idees van stoer en ernstig, van koppig en heel dikwels dwarstrekkerig. Hier is ’n klein skeppie uit ’n groot poel van mense wat oor grense heen presteer het en dinge laat gebeur het, alles in Afrikaans.”

En in Klyntji skryf Andréa Müller: “Hiér is dit uiteindelik. Die tipe tentoonstelling van ’n diverse taalgemeenskap waarin die som van individue se suksesse die diep voetspoor van hulle gemene deler – die taal Afrikaans – sonder ’n skreiende politieke agenda vasvang.”

Was die deurbreek van stereotipes, die terugbring in die eietydse geheue van uitsonderlike mense en gebeure, van wat bereik is en kan word, ’n fokus van die boek, iets wat julle in die oog gehad het? Is daar dalk ook iets ingemeng van “lest we forget”, sodat ons nie vergeet nie? So met die 21ste-eeuse belangstelling in lewende argiewe; en in hierdie dae waarin mens maklik tekens van bestendiging en argivering sien, of nié. Ek dink aan Nuuseum (https://nuuseum.media), aan NALN, aan kunsgalerye en -museums, aan spesiale dokumentversamelings wat uit hulle nate bars. Is Bloei + Blom ’n soort ensiklopediese bron, ’n eklektiese vaslê van geskiedenis van uitnemendheid, van saakmakers?

E: Een faktor wat beslis ’n rol gespeel het in die samestelling van die boek as ’n huldeblyk aan ’n eeu se baanbrekers, is hoe die politiek oor daardie honderd jaar verander het, veral wat bruin mense en Afrikaans betref. Daarom praat ons doelbewus van “Afrikaanssprekendes” en nie bloot van “Afrikaners” nie.

Gedurende die harde apartheidsjare is bruin mense van soveel geleenthede uitgesluit. Hulle kon byvoorbeeld nie vir nasionale sportspanne gekies word of vir sekere poste aansoek doen nie. Hulle is boonop bespot oor die manier waarop hulle gepraat het en is dikwels verkleineer.

Iemand soos Johaar Mosaval, wat as kind in Distrik Ses Afrikaans gepraat het en later as senior hoofdanser van die Britse Royal Ballet die verhoog met Margot Fonteyn en Rudolf Nureyev gedeel het, het verengels om te kon doen waarvoor hy gebore was. En tog was sy laaste woorde, volgens ’n vriendin, ’n versugting – in Afrikaans – na “lekke’ kos” en “lekke’ warme tea”. Die sopraan Virginia Davis sê sy en Sidwill Hartman moes professioneel harde bene kou, “maar dié wat ons voorafgegaan het, moes die land verlaat om loopbane te hê”.

Cass Abrahams: foto verskaf deur die uitgewer, fotograaf - ©Tobie Murphy

So ja, dis inderdaad die verhale van mense soos hulle, die rugbyspeler Errol Tobias, die Kaap-Maleise kospionier Cass Abrahams, die fynkok Reuben Riffel, die digter Adam Small en David Samaai wat stereotipes aan skerwe laat spat het en as inspirasie dien. Samaai het in 1949, op ’n skrale 21, die eerste swart Suid-Afrikaanse tennisspeler én waarskynlik die eerste swart speler ter wêreld, geword wat op Wimbledon se grasbane kon afslaan. En dit nadat hy op ’n tuisgemaakte “baan” van sy pa in die Paarl leer speel het.

Om hierdie verhale weer onder mense se aandag te bring, is deel van die ontdekkingstog wat Bloei + Blom uiteindelik geword het.

Die jonger geslag weet waarskynlik nie meer wie mense soos dr Nan van Heerden, Suid-Afrika se eerste vroulike ginekoloog, of Maggie Laubser, ’n voorloper van die impressionisme, was nie. Hulle ken dalk die name van dr Christiaan Barnard, die staatsman Jan Smuts, of die akademikus Richard van der Ross. Maar hoeveel weet hulle van die mense ágter die name, of presies hoe groot die impak van hul prestasies was?

En wat van die name wat buite sekere kringe feitlik onbekend is? Soos die uitvinder Aubrey Kruger, die man agter die dolos wat ons hawens beskerm. Of die visuele kunstenaar Igshaan Adams, wie se unieke weefinstallasies die informele voetpaadjies volg wat mense daagliks tussen Bonteheuwel-stasie en Epping uittrap – en daarmee kunsfynproewers van Chicago tot Stockholm lok.

Almal mense wat naam gemaak het deur iets uitsonderliks te doen. Wat nuut gedink het, of groot gedroom het.

Soos die Namibiër Japie van Zyl, wat as 12-jarige grootoog na Neil Armstrong se eerste tree op die maan op ’n sneeuerige TV-skerm kyk, en besluit: Eendag is die ruimte mý kantoor. Hy is betreklik jonk oorlede, maar as toonaangewende Nasa-ruimtewetenskaplike het hy só ’n merk gemaak dat daar vandag ’n krater op Mars is wat sy naam dra, ’n miniplaneet én ’n straat in Outjo, die dorp in Namibië se Kunene-distrik waar hy grootgeword het.

Ek sou dit nie ’n ensiklopedie noem nie, want daarvoor is die keuse van mense te subjektief en die bydraes te persoonlik. Maar dis beslis ’n soort lewende argief – een wat jou nie net herinner aan wat mense vermag het nie, maar jou ook laat kennis maak met mense van wie jy dalk nog nooit gehoor het nie.

En elke bladsy in Bloei + Blom bevat ’n soortgelyke verstommende verhaal.

8

K: Die projek van die boek, wat dit bied, herinner my aan die opwipuitgawe van Insig bymekaar gehaal uit argiewe wat vyf jaar gelede, einde 2019, verskyn het en wat mense in ’n kruidenierswinkel kon aankoop – Checkers, met hulle Afrikaanse advertensies op elektries aangedrewe koelvragvervoer (koelvervoer?). Daardie Insig was ook ’n soort geskenk aan lesers, boekliefhebbers, en Afrikaans. En dit was ook Elmari Rautenbach wat die dryfkrag agter daardie projek was. In ’n onderhoud met Naomi Meyer deel jy kosbare kleinode oor die keuses uit die argiewe en al die nuwe stemme wat aan die woord kon kom.

Miskien is daar selfs ’n gunstelingprofiel, -foto of -oomblik, onder al die stories en bydraes oor die uiteenlopende mense in die boek waaroor jy iets wil sê? Pioniers? Is Bloei + Blom ’n boek oor pioniers?

E: Daar is min projekte waaraan ek gewerk het wat my soveel plesier verskaf het. Maar ook min wat my so bewus gemaak het van die verantwoordelikheid wat ek teenoor die boek én die besondere mense oor wie dit handel, gehad het. Ek wou aan elkeen reg laat geskied. Daarom was ek soms onverbiddelik oor wat in die kopie moes wees en die standaard waaraan elke bydrae moes voldoen.

Antjie Krog het eenkeer oor skryf gesê jou grootste verantwoordelikheid lê by die teks. Dis waarmee ek my getroos het.

Miskien het my plesier ook daarmee te doen gehad dat ek ná jare waarin ek hoofsaaklik in Engels geskryf het, skielik weer tot by my elmboë in Afrikaans besig was. Ek het opnuut besef hoe mooi Afrikaans is, hoe beskrywend en plasties die taal kan wees. Hoe dit kan plooi na gelang van elke skrywer se stem en styl, maar ook hoe woorde en segswyses iets van die mens én die era waaroor geskryf word, kan oproep.

Louis Leipoldt in sy kombuis: foto verskaf deur die uitgewer en verskyn met vergunning en toestemming van die Universiteit van Kaapstad se spesiale versameling

Ek dink byvoorbeeld aan Wolfgat se Kobus van der Merwe se artikel oor sy kosheld, die Renaissance-mens, kok, mediese dokter en digter C Louis Leipoldt – waarskynlik een van my grootste verrassings. Dit was Ingeborg se ingewing om hom te vra en, boeta, het hy nie ’n juweel van ’n stuk gelewer nie! Kompleet met jeugherinneringe, aanhalings uit Leipoldt se Kos vir ’n kenner en verstommende biografiese besonderhede. Soos Leipoldt se ervarings as mediese student en skottelgoedwasser in die kombuis van die Savoy-hotel in Londen, en sy ontmoeting met die beroemde Franse fynkok Auguste Escoffier, vir wie hy toe sommer waterblommetjiebredie kook. Die artikel word boonop perfek geïllustreer deur ’n foto van Leipoldt wat in die kombuis van Arbury, sy huis in Kenilworth, met sy kok staan en gesels.

Dan is daar Francois Smith se Vrystater-tot-Vrystater-stuk oor Antjie Krog, wie se ma nes sy eie vurige Oos-Vrystaatse ma gelyk én geklink het. Aan die hand van haar onlangse Binnerym van bloed, oor die verhouding tussen ’n skrywersdogter en haar skrywersma, kom hy tot die slotsom dat Antjie skryf “omdat sy de moer in is”.

Of Deborah Steinmair se portret van Jeanne Goosen, kompleet met die AWB-bure wat die gordyne afwerend toepluk wanneer Jeanne kaalvoet in die maanlig begin dans, met die hond wat besete en hap-hap op sy agterpote agterna dans.

Fransjohan Pretorius roep weer Christiaan de Wet se effense lispel helder voor die gees wanneer die stoere Boeregeneraal met die aanvang van die Boere se aanval op Roodewalstasie in 1900 teleurgesteld vir die kanonnier sê: “Hy ith in thy moer in mith.” Gelukkig bewys sy verkyker hom verkeerd.

En dan skep Sandra Prinsloo een van die vermaaklikste portrette nóg – en een van my ander gunstelinge in die boek – van die fliekpionier Jamie Uys, wat sy die eerste keer persoonlik op die stel van The gods must be crazy leer ken het. Elke keer wanneer sy hom sou vra wat volgende gaan gebeur, sou hy nadenkend opkyk na die blou Bosveldhemel en saggies prewel: “Ja, dis ’n baie goeie vraag ...”

En dis maar ’n handvol voorbeelde. Dit is juis hierdie soort skryfwerk wat my laat besef het hoe bevoorreg ek was om aan hierdie boek te kon werk.

K: Jou beskrywings is durende lusmakers! As iemand nog gewonder het of hierdie boek in ’n (groot) Kerskous kan pas ...!

9

K: Elmari, baie dankie. Vir soveel interessante inligting oor hierdie, in jou woorde, weelderige boek. So onderhoudend, mens is meegevoer!

Sal ons die gesprek afsluit met iets oor die titel – wat so ’n uiteenlopende oes bymekaar moes snoer. Die gebruik van die plus-teken in plaas van en, of in plaas van ’n ampersand, trek onmiddellik die aandag – waarskynlik meer as wat ’n uitroepteken sou. Dit is nogal opvallend hoe diakritiese tekens, of dit nou deur ontwerpers of digters is, teks binnesluip. Wel, waarskynlik meer deurdag as sluip, dalk meer ’n kwessie dat hierdie tekens teks binnegenooi word, met betekenis daaraan opgehang. Johann de Lange het in sy laaste bundels net ampersand in sy gedigte gebruik, geen en’e nie. In Fourie Botha se Kolam word die solidus doelbewus betekenisryk aangewend. Waarom die keuse vir Bloei + Blom? Is die idee dat mens die woorde weerskante van die plusteken bedink? Bloei soos in lente, soos in gedy, floreer. ’n Bloeitydperk – die afgelope eeu? Tot nou, en in Blom? Is dit wat mens uit die titel as aankondiging vir die boek kan aflei? En dalk is daar by die suksesverhale ook ’n suggestie van bloedsweet in?


E: Jy is heeltemal reg. Die titel moes iets sê van ’n eeu se groei en ontwikkeling, van die eerste bloeisels tot die volle blom. Van mense met talent en potensiaal wat, soms ondanks geweldige struikelblokke en heelwat bloedsweet, daarin geslaag het om iets uitsonderliks te vermag.

Maar daar was ook die gedagte dat die boek nie net terugkyk op ’n eeu se prestasies nie. Daar is steeds nuwe talent wat ontluik, nuwe idees wat vorm aanneem en mense wat op onverwagse terreine begin blom. Die titel moes dus iets van die verlede én die toekoms vasvang.

Die plusteken was ’n doelbewuste keuse. Dit gee ewe veel gewig aan die twee elemente van die titel, eerder as om die een bloot op die ander te laat volg. Maar dit was ook net ’n besonder mooi ontwerpelement op ’n voorblad wat sê minder is meer.

En miskien is dit juis die lekkerte van die titel: dat dit ruimte laat vir elkeen om iets van sy eie daarin te lees.

Verwysings

Afrikaans.com. 2025. Nuuseum loods die grootste digitale argief in Afrikaans. https://afrikaans.com/2025/12/02/taalnuus-nuuseum-loods-die-grootste-digitale-argief-in-afrikaans.

LitNet Akademies-NALN Katalogus. LitNet. https://nalnkatalogus.litnet.co.za.

Malan, M. 2025. “Dis luuks, dis kuns en dik genoeg om ’n inbreker mee te slaan.” Netwerk24, 19 September. https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/dis-luuks-dis-kuns-en-dik-genoeg-om-n-inbreker-mee-te-slaan-20250918-0763.

Müller, A. 2025. Bloei + blom: Afrikaans vir die fynproewer verpak. Klyntji, 1 Desember. https://klyntji.com/joernaal/2025/12/1/bloei-blom-boek.

Nuuseum. S j. https://nuuseum.media.

Rautenbach, E (red). 2025. Bloei + blom: ’n viering van Afrikaans. Pretoria en Kaapstad: Bloudruk Media.

Veldsman, P en E Rautenbach. 2016. Wat die hart van vol is: herinneringsreise van ’n fynkok. Kaapstad: Penguin Books.

Vriende van NALN. S j. https://www.facebook.com/vriendevannaln.

Lees ook op LitNet

Bekende in boekkringe nou deel van US Woordfees

Lesersindruk: Bloei + Blom

Insig: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

Lesersindruk: Wat die hart van vol is deur Peter Veldsman met Elmari Rautenbach

Oop boek: Joan Hambidge op 70

Oop boek: Gesprek met Frederick Botha oor Seuns weet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top