Insig: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

  • 8

Elmari Rautenbach vertel vir Naomi Meyer van Insig – in ou en nuwe gedaante.

Elmari, ek het nou net na jou inspirerende onderhoud rondom die nuwe Insig op Kwêla gekyk:

Kom ons begin voor: Wanneer het die eerste Insig – in sy ou gedaante – verskyn?

Die eerste uitgawe het in 1987 verskyn, met Piet Muller as die redakteur. Die storie lui glo daar het moeilikheid gekom tussen die Nasionale Boekhandel, ‘n filiaal van die Nasionale Pers, , wat in daardie stadium die tydskrif Standpunte geldelik ondersteun het, en Standpunte se destydse redakteur, André P Brink, weens Brink se politieke oortuigings. Die steun is onttrek en in 1986 het die tydskrif gesluit. Omdat daar toe ’n gemis was aan ’n tydskrif wat ’n platform sou wees vir diverse menings uit Afrikaanse geledere – veral rondom boeke en skrywers – en om as teenwig te dien vir Huisgenoot, wat toe as ’n populêre tydskrif geposisioneer was, is Insig deur die direksie gestig. Die ander mooi storie is dat die Britse menings- en kultuurtydskrif Spectator geesdriftige lesers gehad het in die vorm van Die Burger se Vic Holloway en Kerneels Breytenbach, wat dit elke keer van Jane Raphaely gekry het wat dit op haar beurt per pos uit Engeland ontvang het. Ook Ton Vosloo was ’n groot Spectator-aanhanger. Toe kry Willem Wepener die opdrag om ’n voorlegging by die direksie te doen oor sou daar ’n Afrikaanse tydskrif wees wat geskoei is op die Spectator-model, watter inhoud sou daarin wees? Maar ek praat onder korreksie. Soos alle joernaliste hou ek van ’n goeie storie!

Breyten Breytenbach voor die hof in Pretoria, 1977 (foto verskaf)

Hierdie uitgawe moes ’n opwipweergawe wees, ’n byeenbring van die lekkerste stories. Jy noem ’n paar van die hoogtepunte wat jy self onthou, soos Erns Grundling se artikel rondom die jeugweerbaarheidskamp. Het jy, toe jy begin soek het na hoogtepunte, deur ou tydskrifte geblaai, of staatgemaak op jou geheue, of met vorige medewerkers gesels? Wat was jou navorsingsmetode, as mens dit so kan noem? En as jy met ander medewerkers gesels het, het hulle soortgelyke stories onthou? Was julle dus saam in dieselfde droom, as 't ware?

My vertrekpunt was letterlik mense – ek het van Johannesburg tot Kaapstad koffie- (of wyn!-) afsprake gemaak en mense, veral jongeres, uitgevra oor wat hulle van Insig onthou en wat hulle in ’n nuwe Insig sou wou sien. So ver ek gegaan het of in kontak met mense was, het ek dieselfde gevra. Interessant hiervan was die oorweldigend positiewe reaksie op die moontlikheid van ’n herverskyning, wat ’n mens moed gegee het, maar ook die persoonlike herinneringe.

So het Gielie Hoffmann as skoolkind vir sy ma gesê sy moet vir hom op Insig inteken en elke maand het hy gewag dat die tydskrif op die plaas aanland. Antoinette Louw, die aktrise, was ’n student op Bloemfontein toe haar eerste artikel in Insig verskyn het. Danie Langner van die FAK vertel hoe sy pa hulle drie seuns Insig laat lees het en dan moes hulle een artikel kies en dit met hom bespreek. Charl Edwards, ons kunshoof, was as skoolkind op Westerford in die Kaap en het Insig-eksemplare versamel – letterlik; en hy het die bokse met al die tydskrifte daarin steeds in sy woonstel! (Anton Sassenberg, wat die laaste jare die uitleg behartig het, was trouens sy inspirasie om ontwerp te studeer.)

Met al dié inligting was die volgende stap om by die ou stories uit te kom. Dit sou die grondslag, die springplank vir die res van die tydskrif verskaf. En soos ek in my redakteursbrief skryf, was daar soveel hoogtepunte wat onmiddellik uitgespring het.

Hiervan was: Van Zyl Slabbert se faks van Londen se lughawe gestuur, met ’n pen op ’n nagvlug oor Afrika geskryf, sy nooit vertelde, persoonlike weergawe van die aanloop tot die ikoniese 1987-Dakar-beraad (as Caxton-voorsitter wen hy, ironies, daardie jaar die prys as Joernalis van die Jaar); Kirby van der Merwe wat Winnie Madikizela-Mandela ompraat om die dogter van haar Afrikaanse weldoener tydens haar jare in huisarres op Brandfort weer op dié dorp te ontmoet; Dine van Zyl se stuk oor Jonas Savimbi wat vir haar in die Angolese bos Beethoven speel; Karin Brynard, wat op ’n reënerige aand met Fred van der Vyver se pa gesels en ’n stúkkende man ontmoet; Erns Grundling, wat die Volksbrandwag se oorlewingskamp vir die jeug in Limpopo bywoon en ’n paar gawe ooms en tannies ontmoet wat hom yskoud laat ...

En wat ék nie kon onthou nie, kon ander help onthou. Die probleem was daar was weinig van hierdie stories se papierweergawes waarop jy sommer jou hand kon lê. Daar is geen argief by Media24 vir Insig nie. Ditto die foto’s. Digitale foto’s was nog ’n nuutjie – foto’s is meestal op film geskiet. Ons sou die fotograwe moes vra. En dis waar die eerste “span” enorm baie gehelp het. (Erns het later van Insig se “aflosspan” gepraat.)

Anton Sassenberg sou die uitleg doen (hy moes later onttrek weens werkdruk) en saam met Annelize Visser het ons drie begin raap en skraap om ou tydskrifte bymekaar te kry en te begin lees. Toe die Woordfeesprogram begin druk op my plaas, was Annelize die een wat in die Nasionale Biblioteek in Kaapstad die argiefversameling van Insig – een van enkeles landwyd wat ons kon opspoor, maar waar jy niks mog uitneem nie – gaan deurblaai het. (Daar word sy toe amper uitgegooi omdat die bibtannie op haar afkom waar sy sit en artikels afneem het met haar selfoon, maar hoe anders sou ons dit kon laat oortik?) Dis ook hulle twee wat eerste help dink het aan ’n struktuur.

Die “tweede” span wat ingeval het toe hulle weg is, was Erns, Aletta Pretorius-Thiart as teksredakteur en Charl as kunshoof. En soos ons al hoe meer met die ou kopie gewerk het (almal tussen hulle ander projekte deur), het ons begin sien hoeveel van die ou stories ’n vonk vind in ’n nuwe onderwerp – die stukkende pa tóé en vandag se stukkende mans. Ons het begin agterkom hoe relevant baie van die vorige skrywes was; watter brûe na die nuwes gebou word oor ras heen, oor kleurgrense, generasies, selfs landsgrense. Dis of die proses heeltemal sy eie dinamiek begin ontwikkel het – een wat ons meegesleur het tot letterlik die dag waarop die tydskrif drukkers toe is.

Charl Edwards teken Insig by die drukkers af (foto verskaf)

Uit kunsjoernalistieke oogpunt: Wanneer weet jy is ’n storie groot en moet dit groter word (ek dink hier aan die ware Poppie Nongena, en Francois Smith op haar spoor, en dan ook Christiaan Olwagen wat die film maak)?

Ons het heel eerste ons beste artikels uit die ou Insigte versamel – en daar was báie. Te veel om in te sluit. Daarna het ons begin sny deur dié te kies wat ’n opvallende nuushoek het, ’n paar eenkant geplaas wat só goed is jy kan dit as ’n oomblik in tyd aanbied, soos Marlene van Niekerk se “Die post-moderne viskoekie” (Waar anders vind jy in elk geval ’n paragraaf soos “Die pièce de résistance was ’n sjokoladekoek met platgewelfde sjokoladevinne wat tussen die drie lae uitgestaan het. Dit was ’n koek met ’n naam (die lot van alle koeke op balle): Die Loeloeraai.”), en uiteindelik was daar die ou stories waar ’n nuwe storie hom later, of toevallig aangemeld het, soos MC Botha se destydse soektog na Karel Schoeman op Trompsburg.

Dié besoek, waar die dorpsbibliotekaresse bloedrooi bloos en erken sy weet glad nie waar Karel Schoeman woon nie en MC uiteindelik deur sy toe venster loer, het aanvanklik aanleiding gegee tot Willem Landman se insiggewende artikel oor bystandsdood en die twee belangrike hofsake vanjaar. En toe bel die joernalis Hannelie Booyens my en sê sy is inderdaad gediagnoseer met motorneuronsiekte, dieselfde wat Joost van der Westhuizen gehad het, en ek vra haar of sy kans sien om eksklusief vir ons te skryf oor die aanloop tot die diagnose, daardie dag en hoe dit is om met dié wete saam te leef. Die resultaat is ’n eerlike, hartseermooi artikel wat ons kon afsluit met die aankondiging van ’n trust waar mense kan bydra tot haar toekomstige mediese koste.

Op dieselfde wyse het ’n ou artikel deur Merwe Scholtz ’n unieke meevaller opgelewer: oor hoe hy Breyten Breytenbach in 1982 in die geheim by Pollsmoor gaan oplaai het nadat die regering hom onverwags vrygelaat het – twee jaar vóór sy vonnis van nege jaar vir terrorisme sou verstryk. Eers het Breyten vir Erns, wat die oorspronklike storie vir hom gestuur en gevra het of hy repliek wil lewer, laat weet hy was nie daarvan bewus nie en toe, binne ’n dag, stuur hy ’n verstommende “antwoord” van 4 500 woorde. Hierin vertel hy van sy lewe in die tronk – sy graze (kos), sy tronkgenote met name soos Shorty, Dougy en Don Espejuele, maar veral die 48 uur daarna met die son te skerp, ’n tafel met skaapboud en silwereetgerei te oorweldigend, en sy pa se verskrompelde lyf in sy arms te lig ...

Seymour, by haar ma Ronelda Kamfer (prent verskaf)

Waar was Afrikaans toe Insig destyds verskyn het – wie het dit gepraat, en hoe lyk dit nou anders? (Of eenders?)

Ek luister Spoegwolf terwyl ek hier skryf. En ek onthou hoe ons kommentaar gelewer het met die deurblaai van die ou tydskrifte hoeveel stories daar was oor Afrikaanse musiek wat méér was as net groot en lekker. Soveel name wat nou deel is van die hoofstroomkultuur was toe die jong turke. Karen Zoid was ’n groentjie, Chris Chameleon het soos ’n missiel geland met sy eerste Ingrid Jonker-album, Valiant Swart het blues in Afrikaanse terme herontdek (lees ook sy storie wat afspeel in ’n kroeg in die New Orleans van vóór Orkaan Katrina), Fokofpolisiekar het nog in ’n kombi getoer, Johnny Clegg kon trots vertel hoe sy eerste Afrikaanse liedjie geïnspireer is. Daar was ’n opgewondenheid oor wat in die industrie aan die gebeur was; dit het die grondslag gelê vir vandag se Spoegwolf en kie. Die groot opgewondenheid nou is oor Afrikaanse flieks, wat in die afgelope paar jaar, met Christiaan Olwagen aan die voorpunt, die spreekwoordelike ligte uitskiet.

Die grootste verskil egter as jy oor 20 jaar terugkyk na Afrikaans is sekerlik die verkleining van die taal se status as amptelike taal – in die handel, skole en universiteite veral, en die debatte daaroor. En met die koms van sosiale media, die hoeveelheid bekgevegte wat oor Afrikaans aanlyn gevoer word – soms ongelukkig op die grofste maniere denkbaar.

In 2004 skryf Eben Venter ’n artikel oor sy bittersoet verhouding met sy taal wanneer hy ná 17 jaar in Australië terugkom om sy siek pa by te staan in die Karoo. Hy skryf oor sy liefde vir Afrikaans versus sy ongemak met waarmee dit sinoniem is, die onrustigheid onder Afrikaanse mense, maar soos net hy kan: “Die sin van my terugkeer. Sal ek my swag moet oprol om maar weer onder die eucalyptusse te gaan tent opslaan? Tot tyd en wyl? My Australiër-Karoo-basterhart verder verskeur? Baster-hartebees wat hylkwyl, homself met selfopgelegte migrasie wil folter, klits in die kous, tieptol, rondomtalie o gats, hier foeter hy nog uit, draai hom eerder toe in sy Afrikaanse tjalie, koud maar nie oud, noem maar op, tel maar af tot in die korte ewigheid toe amin, ja amin.”

In Insig 2019 antwoord jong bruin Afrikaanse skrywers, soos Lynthia Julius en haar sussie, Sisca, Chase Rhys en Ricardo Arendse deur te skryf in die Afrikaans waarin húlle tuis voel, en voel Ricardo vry om Eben se artikel op te volg met een wat hy afsluit met “Nee, ek is ’n taaltsotsi wat die reëls minag. Wat skryf soos hy praat – plat, hard en lelik.

Ek is die ghoema-trom en die kokerboom wat soos ’n halweman tussen die rotstorings van Namakwaland regop staan.

Ek is die plat-ysterklip van die Karoo. Ek is die duin in Mitchells Plain waaronder drome, trane en lywe begrawe word.

Ek is Jager Afrikaner van Winterhoek.

Ek is die kameeldoringboom in die Kalahari waaronder Ou Makai en Regopstaan Kruiper se geeste dwaal. En ná hulle die tronke vir ons gebou het, is ek Rooiland, die bees op wie se vel die wet staan.

Ek is al hierdie, net nie Afrikaans nie.”

Lees jy ’n ander of eenderse politieke landskap in die ou Insigte waarna jy gekyk het as vandag?

Die grootste verskil politiekgewys vir my is die toenemend luider en vreeslose stemme wat uit die geledere van ondersoekende joernaliste oor alle spektrums heen begin opklink het. Veral in boekvorm. In 2011 verskyn Mandy Wiener se Killing Kebble – An Underworld Exposed. Hiermee skyn sy die lig op die eerste kraak in staatskaping, al was die woord toe nog nie eens gebruik nie. Daily Maverick skop in 2009 af, amaBhungane in 2010, News24 en Netwerk24 se ondersoekende spanne word gevorm, waar Adriaan Basson, Pieter du Toit en Pieter-Louis Myburgh hulle staal wys.

Pieter-Louis maak opslae met sy boek The Republic of Gupta – A Story of State Capture in 2013; Redi Tlhabi se Khwezi en Jacques Pauw se The President’s Keepers – Those Keeping Zuma in Power and out of Prison laat honderde mense in 2017 toustaan vir die bekendstellings terwyl die regeringsdreigemente instroom. Pieter-Louis se onlangse boek, Gangster State – Unravelling Ace Magashule's Web Of Capture, word deur opruiende Ace-ondersteuners opgeskeur.

Dit is nie soort stories wat ’n maandtydskrif kan pak nie, maar jy kan wel kommentaar lewer, of “lang bene” vind deur na ’n fenomeen te kyk.

Vir die 2019 Insig was die groot vraag wat sluit ons in. Die 80’s en vroeë 90’s se volledige stelle tydskrifte was (vir ons) onbekombaar en met net twee mense in die destydse “span” haas onmoontlik. Ook sou dit in vergelyking met die later jare se tydskrifte ’n geval wees van appels en pere vergelyk – die styl het te veel verskil. Daarom het ons besluit om van 1999 af te werk – toe die tydskrif meer van ’n leefstylrigting begin inslaan het as ’n menings- en leefstyltydskrif. Ons kon ook werk met ’n spesifieke tydperk: 1999 tot 2019 – 20 jaar.

Só kon ’n persoonlike onderhoud met Brett Kebble in 2003 in sy Bishopscourt-herehuis wys watter voorbeeld dié mynmagnaat, met sy landsvlag-gedrapeerde doodskis en die ANC Jeugliga as draers, vir vandag se Guptas en Watsons, en selfs Markus Jooste stel met sy filosofie van “steel is sake doen”. Anneliese Burgess bekyk die fenomeen van Kebble-isme en hoe dit vandag uitspeel, en Rob Rose gee nuwe insig oor watter teelaarde daar was vir die opkoms van ’n Markus Jooste.

’n Gesprek met Gerrie Nel, ’n vorige hoof van die Skerpioene en vandag privaat vervolger, resoneer met ’n gesprek met Bulelani Ngcuka, ook ’n vorige Skerpioene-hoof en die man wat Gerrie trouens as jongeling in einste daardie kantoor bevorder het. ’n Onderhoud met ’n jong Fikile Mbalula wys die druk wat op jong swartmense geplaas is deur die drome van hulle ouers, terwyl die etlike artikels oor die N. Kerk en veral sy gay-politiek vooruit wys na die twee hofsake wat sy lot daaroor sou bepaal.

Een belangrike verskil tussen 1999 en 2019 is die feit dat sosiale media nie daardie tyd bestaan het nie. Facebook is oopgestel vir “enigeen ouer as 13 en met ’n geldige e-pos adres” in die jaar wat ek weg is by Insig – 2006, Twitter kort daarna. Met die publikasie van Erns se “Kent gij dat volk”, oor sy tyd in ’n regse jeugkamp in Limpopo, is die kinders se kru verwysings na swart mense net so aangehaal. Vandag, waar so ’n artikel digitaal gedeel kan word, doen jy dit gewoon nie.

Waarom nou, 12 jaar later, ’n nuwe Insig?

Die idee was dié van ons uitgewer, Minette Ferreira, wat aan die stuur staan van die leefstylpublikasies by Media24. Ons het saam gewerk by Rapport, toe sy uitgewer van die koerante was en ek Rapport se tydskrif My Tyd behartig het. Die tydskriflandskap het aansienlik verander, maar in die afgelope jaar het dit begin lyk of nis- of spesiale publikasies goed vaar. Boonop het mense nooit ophou vra oor die moontlikheid dat Insig weer sou verskyn nie.

Haar aanvanklike idee was ’n pop-up, of opwipuitgawe, waarin die beste artikels van Insig sou wees as toonbeeld van uitstekende Afrikaanse joernalistiek in die verlede. Maar die feit dat die tydskrif 12, en nie 10 of 20 jaar gelede nie toegemaak is, het so ’n “huldeblyk” problematies gemaak. Daarom die besluit om dit ’n kombinasie te maak van oud en nuut – twee helftes, netjies verdeel. Maar die tydskrif het toe sélf anders besluit!

Wie is hierdie Insig se ideale leser?

Sy ideale leser is Afrikaanssprekend, maar voel tuis in die wyer Suid-Afrika; dis iemand wat nuuskierig is oor wat om hom aangaan – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd; wat belangstel in mense en ander menings; vir wie dit belangrik is om oplossings te vind vir die land se probleme en aktief daaraan meedoen; wat belangstel in boeke en veral in lees, en plesier vind in die taal, sy kultuur en hebbelikhede; wat kreatiwiteit kan raaksien en waardeer; en wat ‘n gesonde sin vir humor én ironie het.

Vertel iets van die medewerkers aan hierdie nuwe Insig, as jy wil, en van hulle nuwe stories.

Baie is al hier bo genoem, maar ’n paar ander was eerstens Daniël du Plessis, die kunstenaar agter die strokiesprent “Jorik+Jakkals”. Toe ons sit met hoe om Erns se artikel oor sy besoek aan die Volksbrandwag se jeugweerbaarheidskamp in Limpopo van 2005 op te volg so kort voor die verkiesing, het ons ons vasgeloop in een van die dilemmas van die nuwe Insig: Joernaliste is deesdae só dun gesaai by hulle werk, hulle het nie tyd vir ekstra werk nie, of vryskutte werk aan soveel projekte gelyk dat hulle nie tyd het vir ekstra werk nie. Boonop moet jy iemand kry wat sy storie ken.

Dit was Charl wat met die voorstel gekom het dat ons iemand vra om die storie as ’n strokie te doen. Ek het met Marianne Thamm van Daily Maverick gekoukus, navorsing gedoen en vir Daniël opdrag gegee. Dit was op sy beurt sy voorstel om die strokie te doen in die vorm van ’n advertensie vir ’n regse jeugkamp waar jy allerhande vaardighede kan leer (onder meer memes maak en vrees stook) en dit uiteindelik aan te bied as die agterblad van ’n tydskrif.

Ronelda S Kamfer en Jackie Nagtegaal het al twee hulle ma’s verloor. Hulle het elk ’n dogter van min of meer dieselfde ouderdom, en ek wou na aanleiding van ’n uittreksel uit Jackie se Daar’s vis in die punch, waar sy oor “mothering” skryf, hoor hoe ’n ma deesdae ’n meisie in die era van #MeToo grootmaak. Die een het ’n gedig geskryf, die ander ’n liriese brief aan haar meisiekind vir wanneer sy 20 is.

Ivor Price se pragbydrae oor sy oupa, aan wie nie minder nie as vier medaljes tydens die Tweede Wêreldoorlog toegeken is, maar wat dit nooit in sy lewenstyd van die regering ontvang het nie, wel ’n fiets, het ek raakgelees in ’n manuskrip wat hy aan sy uitgewers voorgelê het. Dit het gepas by ’n ou artikel wat Toast Coetzer geskryf het ná sy eerste besoek per posboot aan St Helena, lank vóór die lughawe, en sy gewaarwording van hoe bitter eensaam die ou Boere-krygsgevangenes daar moes gewees het met ’n uitsig oor net swart vulkaniese rots en blou see ...

Frederik de Jager het ’n filosofiese dinkstuk oor onskuld geskryf na aanleiding van die ontstemmende portret van Wouter Basson deur Henk Rossouw (deesdae die jongste professor in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Louisiana in Amerika), terwyl Johannes de Villiers ’n inspirerende artikel geskryf het oor hoe die eintlike revolusie die afgelope paar jaar in kerkpolitiek nié die gay-kwessie is nie, maar wel ’n beweging na stiltetyd, en hoe selfs NG Kerke dié praktyk deesdae toepas.

Dan praat ek nie eens van Dominique Botha se elegiese “road trip” in ’n ou geel Rolls op soek na Rian Malan wat deesdae buite Vanwyksdorp met tamaties boer nie ...

Dink jy daar is ’n behoefte aan goeie Afrikaanse kunsjoernalistiek? En sal mense daarvoor betaal?

Ek dink daar is ’n behoefte aan kunsjoernalistiek wat goed geskryf is en wat nie ’n templaat volg nie. Koerantjoernaliste spook, maar hulle plek is beperk; digitale joernaliste spook, want hulle tyd is min. Om op ’n skerm te lees het sy voordele – ek begin elke dag deur ’n klomp nuusbriewe en aanlyn nuus te lees. Maar soms het ’n mens die stiltetyd van ’n Johannes nodig om met leesstof van die beste gehalte en wat mooi en kreatief aangebied is in die hand te sit. Geen skerm kan daardie tasbare ervaring ewenaar nie. Of mense daarvoor sal betaal? Die antwoord is so wyd soos die Heer se genade ... Ek wil graag so glo, ja. Die verkope van gedrukte boeke styg wêreldwyd die afgelope vyf jaar al, hier ook. By kunstefeeste, soos Woordfees, kan ek sien hoe mense bereid is om vir iets van goeie gehalte te betaal. Kom ons hoop?

  • 8

Kommentaar

  • Anna-marie Venter

    Ek het my oë al seer gekyk, maar kry nêrens 'n Insig te koop nie. Ek het na die onderhoud op RSG geluister en van toe af soek ek my gunsteling tydskrif. Ek bly in Rustenburg, het ook al in Pretoria gesoek. Sê asb waar.

  • Thersia Craven

    Ek is só opgewonde om te weet INSIG is terug. Waar soek ek in my dorp (Bethlehem in die Oos-Vrystaat) daarna?

  • Julle sal my nie glo nie ... Ek woon in die Noord-Weste van Namibia, 450km noord van Windhoek op 'n BAIE klein plekke. En daar staan Insig op die enigste winkel se rak. Dit smaak my dit was Krismis! Die lekkerste lekker ooit! Ek kon nog van die artikels onthou van 10 jaar gelede. Ek betaal met graagte!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top