Onsigbares en gelukkige eindes: ’n gesprek tussen PJO Jonker en Hennie Aucamp

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Dit gebeur dat wanneer ek ’n verhaal begin lees, ek wonder of daar ’n gelukkige einde gaan wees. Ek weet van iemand wat eers die laaste paragraaf lees voordat sy ’n roman begin lees. Dalk dink ons ook dat ’n goeie mens ’n gelukkige einde verdien en andersom, maar so werk dit helaas nie in hierdie lewe nie.

Die karakters in ’n verhaal lei die leser dikwels ook tot selfondersoek en jy meet jouself aan die karakters. Dit is nie noodwendig die bedoeling van die skrywer dat dit so moet wees nie, en ek het ’n broertjie dood aan verhale wat prekerig is. Vir my gaan ’n goeie verhaal bloot oor menswees, sonder om ’n oordeel uit te spreek. Met die lees van die volgende twee uiteenlopende verhale het ek nie ’n gevoel van prekerigheid ondervind nie, maar aansporing tot selfondersoek was daar beslis.

Ek het glad nie geweet wat om te verwag toe ek Die onsigbare deur PJO Jonker begin lees nie. Koos Kombuis het die roman hoog aangeprys, maar het niks oor die inhoud verklap nie. As ek vooraf geweet het die verhaal speel af in ’n plaasmilieu, sou ek dalk nie die boek gekoop het nie. Ek hou van stadstories, maar gelukkig het ek na Koos Kombuis geluister en die boek gekry.

Die skrywer is óf self ’n boer óf het baie navorsing gedoen oor sy onderwerp, want gedeeltes van die boek lees amper soos ’n handleiding vir ’n boerdery Die beskrywing later in die roman van die onderwêreld van Kaapstad word egter net so oortuigend gedoen as die doenighede op die plaas. Ek het  sommer na ’n paar bladsye se lees besef dat Jonker ’n skrywer van formaat is, iemand wat weet hoe om met beelde en woorde te werk en karakters kan skep soos min.

Aangesien die fokus van hierdie lesersindruk nie op die verhaal self is nie, gaan ek net baie kortliks iets oor die storielyn sê. Die hoofkarakter is Jada, wat na die tragiese afsterwe van sy ouers die bedrywighede op die plaas moet oorneem. Jada kom tot bekering  en verander geleidelik in ’n soort Jesus-figuur daar in sy omgewing, waar hy hom oor al die armes ontferm, of hulle hulle sout werd is of nie. Ek self is ’n menssku semikluisenaar en kan net my hoed afhaal vir barmhartige Samaritane soos Jada.

Teen die middel van die boek verskuif die aksie na Kaapstad, waar Jada vir ’n paar dae ’n konferensie moet bywoon.  In Kaapstad ontmoet hy ’n vrou en in sy onskuld besef hy aanvanklik nie dat sy ’n prostituut is nie. Hy kom weer af op haar in ’n straat in ’n erg beseerde en bewustelose toestand en neem haar terug plaas toe. Op die plaas versorg sy getroue huishulp, Anys, haar en sy herstel fisiek, maar nie heeltemal geestelik nie. Jada besef dat hy verlief is op die vrou wie se naam hy nie eers ken nie, maar op ’n dag verdwyn sy skielik weer.

Teen die einde van die verhaal lyk dit of Jada ook sy plaas gaan verloor, maar met die lees van die laaste bladsye besef die leser dat daar ’n wonderwerk gebeur het. Ek is altyd skepties oor gelukkige eindes, maar soos in die verhaal van Jesus, is dit Jada wat opstaan uit sy geestelike dood – Jada wat teen die einde soos ’n hopelose onsigbare gevoel het.

“Op moedverloor se pleine” kom uit Hennie Aucamp se bundel Volmink en speel af op ’n plein in Athene genaamd Sintagmaplein, en dit klink soos ’n plek waar ek self vir ure sou kon sit net om die mense dop te hou.

Ek verwag selde ’n gelukkige eindes van Hennie Aucamp, maar dié verhaal het nie net ’n gelukkige einde nie, maar dalk ook ’n goeie einde.

Anders as die edele jong boer Jada, is die hoofkarakter in Aucamp se kortverhaal ’n selfgesentreerde hedonis wat net soms  lyk na ’n “verloopte heilige” wanneer hy sy roomkleurige pak aan het en Nietzsche sit en lees. Hy is ’n baie ou man wat sy dae en amper die helfte van sy nagte op Sintagmaplein verwyl tot wanneer die bediening by die restaurant snags ophou.

Die ou man voel ook al meer soos ’n onsigbare, maar om ’n heel ander rede as Jada. Hy het té veel geniet en dus al sy gesigte opgebruik, totdat net ’n masker oorgebly het. Op die plein sit hy en “slobber” oor pornografie, en selfs op sy ouderdom is hy nog steeds behep met uiterlike skoonheid, maar hy word nie meer raakgesien nie. Hy skryf briewe aan homself as versekering dat hy nog lewe; dis nog net sy oë wat rusteloos bly, en soms is daar nog ’n moeë glimlag wanneer hy ’n mooi man of jong seun gewaar.

Hennie Aucamp lê ’n versie voor aan die ou man op die plein:

Aan ’n jong Griek

Ek was selde alleen op my reis
tot ek jou ontmoet het.
Jou onbereikbaarheid
(ook in die bed)
het mý onklaar laat word;
maar as draer van die skoonheid
bly jý onaangetas:
laat ander met die eensaamheid.

Die ou man het al hoe meer begin drink en sy pornografie en Nietzsche by sy hotel gelaat. Dikwels het hy ook aan die slaap geraak, en een nag het hy nie weer wakker geword nie. Anastatos, een van die kelners, het hom vroeg die volgende oggend daar aangetref, half versteek agter ’n potplant. Sy gulp was oop en jy kan sê hy het sy hand aan sy eie lewe geslaan, skryf Hennie Aucamp. Anastatos bewys toe sy laaste eer aan die ou man deur sy gulp versigtig toe te rits, “asof die ou man vasgevang kan word, nog seer kan kry”.

Titel: Die onsigbare
Skrywer: PJO Jonker
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624095422

Titel: Volmink
Skrywer: Hennie Aucamp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 0624016765

Lees ook:

Om Bibi Slippers in Gqeberha te vind: ’n lesersindruk van Soekenjin

Vyf vrae aan Albert de Vos oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke by die KKNK

In gesprek met Kleinboer oor die kosmos en sy bundel erf en elders

Die onsigbare: ’n onderhoud met PJO Jonker

Die laaste soen

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top